Beste Angus
Sjoe maar dis moeilik om met julle ouens te praat wat so tangensiaal afskiet. Ek kan nie anders as om te dink julle lees slordig nie want, soos ek al gesê het, die alternatief, dat julle is onderduims is, is vir my moeilik om te aanvaar.
Byvoorbeeld: Jy sê as ek nié die taalpuris was soos ek beweer nie dan sal ek “ … mos nie omgee vir so ʼn Engelse woord of twee binne Afrikaanse konteks nie ...” Heeltemal reg; ek gee nie om vir so Engelse woord of twee nie, ek dink selfs ‘n Engelse teks het so af en toe ‘n woord of twee Afrikaanse woorde in. Daar is egter so iets soos graadverskil; woorde soos ‘sideboard’, ‘heater’ en ‘tape’ kom wel hier en daar voor maar dis ‘n ander saak wanneer, op gereelde basis, Engelse woorde só volop is dat mens Engels magtig moet wees om die teks te verstaan (soos jy self ook al erken het).
Jy sê ek “gaan al maande gal af oor iemand ‘usually’ gebruik het.” Jy jok Angus, ek het gekla oor die hele sin “usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle”, gaan kyk maar in die argief. Ek het tog al dikwels na hierdie sin verwys as die ‘gewraakte sin’; as ek oor ‘usually’ alleen gal gebraak het, soos jy beweer, sou ek mos van die ‘gewraakte woord’ gepraat het of hoe? Ek hoop maar dit is gebrek aan begrip, of slordige lees, wat jou hierdie stelling laat maak het (want die alternatief is te afgryslik om te bepeins).
Jy is oneerlik om te beweer ek ‘verpes’ Kaaps want ek het nooit so iets gesê nie. Wat ek wel gesê het is dat daardie manier van praat nie Afrikaans is nie (soos jy in latere briewe van jou mee saamgestem het) en iets wat nie Afrikaans is nie kan godsonmoontlik Afrikaans verryk, wat nog red. Trouens, dit is so vol Engels dat dit Afrikaans verarm en, sou mens Afrikaans koester, soos Dirk aanbeveel, dan sal jy jou daarvan weerhou om so te praat en/of hierdie soort taal te verdedig. Dis mos logies, hoe kan iets wat halfpad Engels is, Afrikaans red of verryk?
Verder, iets wat nie Afrikaans is nie kan ook nie ‘n variant van Afrikaans wees nie. So, my stelling dat ek (soos alle Afrikaanssprekendes maar) streeksaksente en -segswyses interessant vind word nie “onder die mat” gevee soos jy my van beskuldig nie.
Jy raak redelik onthuts oor ek, volgens jou, voort sou storm met my “ ... gegorrel ... sonder om enigsins iets wat [jy] of Dirk sê in ag te neem.” Ek sou my “ ... behoorlik daaraan ...[afvee], en voort [gaan] om [my] siening, soos gesien deur [my] gekleurde bril, te propageer.” Genade. Angus, jy raak eintlik ad hominim van boosaardigheid, nie eintlik jou aard nie. Methinks the lad doth protest too much.
Dit is mos nou nie ‘n argument nie; ek kan mos nou netsowel sê jy en Dirk stoom voort; julle neem nie in wat ek vir julle sê nie. Dit sal absurd wees. Ek het elke keer nog redes gegee vir wat ek sê en as daardie redes nie water hou nie wys my dan daarop. Maar nou dat jy so praat; ek dink werklik julle is die ouens wat voorstoom met dieselfde, ongeldige argumente.
Byvoorbeeld: Julle hou aan met die moedertaalstorie: Die kind leer dit (Kaaps) aan moedersknie en dus is dit sy moedertaal. Dirk se voorbeeld van die Skot wat ‘I sez’ en ‘you sez’ aan moedersknie geleer het is ‘n goeie analoog (vir die teengestelde van julle argument) – hy leer verkeerde Engels omdat sy ma verkeerd praat. Die Engelse gaan dit nou nie as ‘n verrykende en interessante variant van Engels beskou en die BBC kry om omroepers aan te stel wat hierdie ‘variant’ praat nie want dit is gewoon verkeerde Engels. Net so maak die feit dat ‘n kind ‘n mengsel van Afrikaans en Engels leer dit nie ‘n variant van Afrikaans nie, want dit is nie eers Afrikaans nie (soos jyself ook sê).
Nog ‘n voorbeeld: Jy hou aan dat ek my ‘afvee’ daaraan dat ‘n kleuter nie Engels of Afrikaans hoef te ken om sy moedertaal te verstaan nie. Ek weet, ek het dit nooit gesê nie so dis totaal irrelevant. Wat ek wel gesê het is dat, as iemand ‘n mengeltaal praat, jy twee (of meer) tale moet ken om dit te verstaan. As die kleuter net mengeltaal ken omdat dit al is wat hy hoor is dit nie te sê dat daar nie so iets soos ‘n mengeltaal is nie; hý hoef nie twee tale te ken nie maar enigiemand wat iets uit daardie manier van praat wil vertaal in, sê Yslands, moet Afrikaans en Engels ken.
Is dit so moeilik om te verstaan?
So jou aanhoudende betoog dat mens nie twee tale hoef te verstaan om mengeltaal te verstaan nie is gewoon verkeerd. Die ou wat aan moedersknie verkeerd geleer het verstaan dit wel maar die feit bly bestaan dat, as taal X met taal Y vermeng is, moet jy X en Y magtig wees om dit te verstaan. As jy die paar Spaanse woorde wat jy ken in ‘n sin gebruik as jy met my praat gaan ek nie verstaan wat jy sê nie want ek ken nie Spaans nie. Een of twee woorde ja, dit kan ek miskien uit die konteks aflei maar 36% van die woorde, soos in die gewraakte sin, sal ek nie ‘n idee hê wat jy sê nie.
Jy sê dit het nog nooit gebeur dat een taal ‘n ander taal geword het nie. Mag so wees maar dit het al baie gebeur, en is steeds besig om te gebeur, dat een taal ‘n ander taal vervang het. Met Afrikaans wat nou ‘n heksejag van, onder andere, owerheidsweë ondervind, en nog so min deur ‘n groot gedeelte van sy sprekers gekoester word, is die vermenging met Engels ‘n stap in die rigting van totale vervanging deur Engels. Dit is alreeds besig om te gebeur want daar is al baie verengelsde Afrikaners en Afrikaanses.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek weet nie van tangensiaal nie. Ek skiet maar linguaal.
Groete,
Angus
Beste Jan,
Volgens die trant van jou brief, sien ek jy wil nie hou by slegs die onderwerp, nl taal nie. Jy wil hê ons moet ook oor en weer beskuldigings rondslinger. Nou goed, ek is game daarvoor.
Jy beskuldig my daarvan dat ek όf slordig lees, όf onderduims is. Die bewys wat jy daarvoor gee, het egter niks te make met όf slordige lees όf onderduimsheid nie. Jy sal duideliker bewyse moet lewer, want jou bewys onder “Byvoorbeeld" is maar vaag; dit het eintlik niks met slordig lees/onderduimsheid te make nie. Ek weet nie van watter “teks” jy praat wat, soos jy dink, een of twee woorde Afrikaans in het nie. “Teks” is geskrewe taal, en ons is besig met taal wat “gebesig” word, om jou woorde aan te haal. Van watter “graadverskil” praat jy? Sal ʼn spreker van ʼn taal hierdie “graadverskil” kan meet terwyl hy gesels en watter instrument gebruik hy nogal? Wat gaan dit hom in elk geval baat as hy dalk die graadverskil ken?
As jy beweer dat ek al erken het dat ʼn mens Engels “magtig” moet wees, om ʼn teks te verstaan waarin Engelse woorde voorkom, is jy heeltemal begriploos. Jy verstaan nie my argument nie en ek glo jy sal dit nooit kan verstaan nie. (Waarom ek nog probeer verduidelik, weet ek ook nie.)
Laat ek egter weer probeer. Kaaps se woordeskat is grotendeels Engels en Afrikaans. Die persoon wat nie Kaaps ken nie, sal dit nog op ʼn manier kan verstaan as hy Engels en Afrikaans ken. Iemand wat nie Nederlands kan praat nie, kan dit nogal so effens verstaan met sy kennis van Afrikaans en Engels. Die persoon wie se moedertaal Kaaps is, hoef nie Engels en Afrikaans te ken om sy taal (Kaaps) te kan verstaan en praat nie. Hy leer nie sy taal deur Engels en Afrikaans nie, hy leer dit direk van sy ouers, soos wat enigiemand sy moedertaal aanleer.
Nog iets waarvoor jy begriploos is, is dat dit nie nodig is om ʼn taal “magtig” te wees om van sy woorde se betekenisse te ken nie. Die hoorder van jou gewraakte sin “usually as ek vir myself goals geset het, achieve ek hulle”, hoef nie Engels noodwendig “magtig” te wees om dit te verstaan nie. Hy hoef maar net die betekenisse van die betrokke woorde te ken. Daar in die Vrystaat skop die klein seuntjies goals met ʼn tennisbal tussen twee klippe deur, terwyl hulle nie eens Engels kan verstaan nie.
Bokant jou vuurmaakplek is ook die begrip: ooreenkoms tussen spreker en hoorder. Niemand sal sommer sê: “Usually, as ek vir myself goals geset het, achieve ek hulle” as hy weet die hoorder sal nie verstaan nie. As die hoorder dan nie verstaan nie, sal hy dit mos te kenne gee met “Ekskuus?” of “Pardon?” Die spreker sal dan sy sin anders stel. Die hoeveelheid vreemde woorde maak geen verskil nie, behalwe dat die hoorder ʼn groter woordeskat moet hê.
Ek het “usually” alleenlik as voorbeeld vir baie genoem; ek wou nie al die woorde wat vreemd is, insluit nie. In vervolg sal ek maar vir ʼn halwe begryper of onbegryper alles volledig uitspel. Deur net “usually” te noem het ek bedoel “usually as ek vir myself goals geset het, achieve ek hulle”, maar bo en behalwe dit het ek alles wat aan Engels ontleen is, bedoel.
Kaaps is nie daar om Afrikaans te verryk of te red nie. Dit is die moedertaal van baie mense en kan onafhanklik van Afrikaans of Engels of enige ander taal bestaan. Soos enige ander taal kan dit linguisties bestudeer word. Bo alles, dit bestaan, en nie ek of jy kan dit verhoed of vernietig nie. Dit kommunikeer makliker as “suiwer Afrikaans” en het ʼn groter woordeskat as “suiwer Afrikaans” want dit put uit beide Engels en Afrikaans. Wat gebeur in Kaaps het niks te make met Afrikaans nie, so ek kan nie sien waarom jy beswaar maak teen die Engelse woordeskat daarin nie. Dis mos nie jou taal nie?
As ek sê Kaaps is die moedertaal van baie mense aan die Kaap, dan noem jy dit ʼn “moedertaalstorie”. So gestel, wil dit vir my lyk asof jy dit ontken dat Kaaps die moedertaal van iemand kan wees. Verduidelik dan asseblief die volgende: ʼn man en vrou, wat albei Kaaps praat, trou. Hulle kinders leer om te praat. Watter taal, dink jy, leer hulle praat? As hierdie taal nie hulle moedertaal is nie, wat sou jy dit noem? Onder moedertaal verstaan ek die taal wat jy as kleuter eerste leer praat het: jou eie taal. Wat verstaan jy daaronder?
Groete,
Angus