Beste Angus
Jy sê jy het aan my ‘bewys’ dat ‘sondebok’ nie verkeerdelik gebruik word nie (reaksie op my bewering dat, as mense aanhoudend verkeerd praat, dit naderhand in die woordeboek so opgeneem word en dan voortaan as korrek beskou word). Jy’t niks bewys nie; die teendeel is waar. Jy het mos nou gesien in die HAT word ‘sondebok’ aangegee as wat in Engels as ‘culprit’ vertaal sou word in plaas van ‘scapegoat’ wat die eintlike (ou) korrekte betekenis is. ‘Belhamel’ is dus wat die Engelse as ‘culprit’ sou vertaal maar deur langdurige verkeerde gebruik het ‘sondebok’ toe geword wat in Duits as ‘Anstifter’ of in Engels as ‘culprit’ vertaal kon word.
Ek is jammer ek het jou deurmekaar gemaak met ‘rondgegooi’. ‘n Ander manier om dit te sê sodat jy dit beter kan verstaan is miskien ‘wat ter sprake gekom het’. Woorde wat ter sprake gekom het was die verkeerde gebruik van ‘braaf’ as ‘dapper’ en ‘huidiglik’ in plaas van ‘huidig’, ‘tans’ of ‘teenswoordig’ of selfs ‘nou’. En soos jy sê, ‘huidiglik’ word so baie verkeerd gebruik dat dit ook in die woordeboek as korrek aangegee gaan word – presies wat ek sê; deur langdurige verkeerde gebruik word dit naderhand in die woordeboek opgeneem en as korrek aanvaar.
Wat ‘establishment’ betref is jy reg; ek was verkeerdelik onder die indruk dat dit ’n leenwoord is want, soos jy aan my uitgewys het, hy kom slegs in Engelse woordeboeke voor en kan dus godsonmoontlik ’n Afrikaanse woord wees. Dieselfde geld dan ook vir woorde soos ‘goals, ‘set’ (a goal), ‘achieve’, ‘usually’, ‘establish’, ‘relationship’, ‘vendor’ ens; komende uit die sinne wat ek aan jou gewys het as voorbeelde van baie swak Afrikaans. Volledigheidshalwe gee ek hulle maar weer: “Usually, as ek vir my goals geset het achieve ek hulle” en “Jy moet ‘n relationship establish met die vendor”.
Ek weet nie presies wat jou probleem ten opsigte van losskryf en vasskryf is nie, want jy praat heel kundig van samestellings en tog het jy op ’n stadium gekla oor die ‘lompheid’ van vasskryf (ek het nog vir jou ’n foto geplaas van ’n lang Duitse woord om te wys hulle is nie gepla daarmee nie). So wat sê jy nou eintlik? Moet jy samestellings vas skryf maar, indien dit vir jou lomp lyk, kan jy dit maar los skryf? Jy karring ook gedurig met ‘geel wortel’ en ‘geelwortel’. Dis maklik, ‘geel wortel’ is ‘n wortel wat geel is maar ‘geelwortel’ is ’n soort wortel (jy kan selfs ’n rooi geelwortel kry maar nooit ’n rooi geel wortel nie). Weer eens ’n bewys van die verwarring wat ontstaan as mens sommer besluit jy skryf goed los.
Ook pla die begrip een-begrip-een-woord jou. Jy sê ‘die man eet kaas’ is ook een begrip en jy hou aan met hierdie idee ten spyte van die feit dat ek jou gewys het die Afrikaansonnie kon tog nie dink ‘diemaneetkaas’ is geldig nie. As jy die spelreëls lees behoort hierdie begrip vir jou duidelik te word.
Ek sien jy het nog nie die begrip ‘leenwoord’ onder die knie nie. ’n Leenwoord is ’n woord wat een taal uit ’n ander oorneem om ’n begrip te beskryf waarvoor die betrokke taal nie ’n gepaste woord het nie. ‘Voetstoots’ is byvoorbeeld ’n leenwoord in Engels vanuit Afrikaans. Die gebruik van Engelse woorde in Afrikaans is dus nie leenwoorde nie, dit is bloot hoe iemand praat wat Afrikaans nie goed magtig is nie.
Ek sien ook jy’t steeds ’n probleem met wat die onderwerp nou eintlik is. Laat ek dit weer stel: Dit is ’n teenstrydigheid dat woordeboeke, wat geraadpleeg word vir korrekte taalgebruik, woorde opneem wat verkeerd gebruik word sodat hierdie woorde dan voortaan as korrek gesien word.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek dink jou probleem met sondebok/belhamel is dat jy dink ʼn belhamel is ʼn ‘culprit’. ʼn Belhamel is die leier van ʼn groep, ʼn bende, nie ʼn skuldige nie.
Dit is so dat in enige taal daar woorde aanvanklik verkeerdelik gebruik word, en dat die verkeerde gebruik naderhand die regte gebruik word. Wat ek teen woordeboekmakers het, is dat hulle dit nie so gou insien nie en dat hulle traag is om die nuwe gebruik van die woord op te neem. Die HAT moes al lankal nog ʼn betekenismoment bygevoeg het by sondebok, nl. 3. Skuldige, beskuldigde, oortreder. Dit is mos hoe Afrikaanssprekendes dit ook gebruik. Dit is selde dat iemand ʼn sondebok genoem is omdat hy onskuldig is, maar die blaam moet dra.
Die woord ‘huidig’ bestaan eintlik nie. Attributief is dit huidige (omstandighede). Die generatiewe kenmerk van taal kom nou na vore en skep ‘huidiglik’, sodat ons kan sê: “ Die paaie is huidiglik onbegaanbaar.” Woordeboekmakers behoort wakker te skrik en die woord op te neem. (Ek verkies ‘tans’, maar wie is ek nou om vir Afrikaanssprekendes voor te skryf hoe hulle moet praat!)
‘Establishment’ is ʼn leenwoord, en behoort deur die woordeboekmakers opgeneem te word. Wat jy swak Afrikaans noem, word die moedertaal van die nageslag. Moet nie vergeet dat die swak Nederlands van die verlede die Afrikaanssprekende se moedertaal geword het nie. Diegene wat gekla het oor die swak Nederlands, is lankal dood, en ons kom goed klaar met Afrikaans. Daar is nie ʼn taal in die wêreld wat nie gedurig besig is om te verander nie. Ouer tale doen dit net stadiger, sodat jy dit nie juis kan agterkom nie.
Ek het absoluut geen probleem met los- en vasskrywe nie. Ek het nog nooit as te nimmer gekla oor lompheid nie. Ek het net melding daarvan gemaak dat die spelreëls van lompheid praat wat op verskillende maniere oorkom kan word. Natuurlik kan jy ʼn rooi geel wortel kry. Bring vir my ʼn geel wortel, en ek wys jou hoe ʼn mens hom rooi kan verf.
Jou (of is dit nou jou Afrikaanse onderwyser) se spelreël van een-betekenis-een-woord val plat met ‘geelwortel’ en ‘geel wortel’. Die spelreëls (koop tog vir jou die boekie) sê duidelik samestellings word aanmekaar geskryf: ‘geelwortel’. Die spelreëls (koop tog vir jou die boekie) sê ook duidelik byvoeglike naamwoorde en selfstandige naamwoorde word los geskryf: ‘geel wortel’.
‘Die man eet kaas’ is een enkele begrip, maar word los geskryf, want die spelreëls bepaal dat afsonderlike woorde los geskryf word.
Ek weet presies wat ʼn leenwoord is. Die ou siening van ʼn leenwoord wat uit Noag se ark kom, is soos jy dit beskryf. Die moderne siening is dat enige woord wat aan enige taal ontleen is, is ʼn leenwoord. Ontlening is deel van enige taal se woordeskat. Die ander segmente is Oorerwing en Neologismes.
Ek het absoluut geen probleem met enige onderwerp nie. My probleem is, ek kry jou nie so ver dat jy my vraag beantwoord oor die ‘verkeerde woorde’ wat in woordeboeke opgeneem word nie.
Daarom vra ek weer: maak ʼn lys van woorde wat volgens jou verkeerdelik in woordeboeke opgeneem is. Teken presies aan hoe dit die woordeboek opgeteken is, en dui aan watter woordeboek dit is. Verduidelik ook waarom jy dink dat die woordeboek verkeerd is.
Groete
Angus
Beste Jan,
Ek lees nou weer die inleiding van jou skrywe. Jy is besig om alles te verdraai.
Ek het aan jou bewys dat die HAT (woordeboek) nie 'sondebok' en 'belhamel' as sinonieme aangee nie. (Gaan kyk maar weer!)
Afrikaanssprekendes gebruik 'sondebok' as sou dit 'skuldige' beteken.
Ek dink dis tyd dat woordeboeke wel hierdie gebruik opteken.
Groete,
Angus