Beste Angus
Jy is nou regtig besig om te skarrel. Ek het oorspronklik gewys op die anomalie wat betref woordeboeke naamlik dat woordeboeke gebruik word as riglyn vir korrekte woordgebruik maar terselfdertyd neem hulle woorde op wat deur genoeg mense verkeerd gebruik word. Jy’t toe op jou perdjie gespring – seker gedink ek is nie pk nie of so iets – en wou weet presies WATTER woorde sou nou verkeerd wees.
Plaas laat ek toe die storie vir jou as huiswerk gee, gee ek toe maar in en noem die woord ‘sondebok’ wat verkeerdelik gebruik word as beskrywend van die ou wat ’n moeilikheidmaker is; hulle gebruik dus ‘sondebok’ waar ‘belhamel’ meer van pas sou wees. Hiervan het jy toe ’n hele verhandeling gemaak oor sinonieme en wie weet wat nog. Die punt is daar ís woorde in woordeboeke wat in die volksmond ’n verkeerde betekenis gekry het. So wat jy ook al dink jy ‘bewys’ het, het niks met die onderwerp te doen nie.
Jy sê, in jou eerste paragraaf “ . . . volgens [my] gaan die bespreking oor hoe om leenwoorde uit te ken.” Nee Angus, die bespreking gaan oor die teenstrydigheid soos hierbo genoem. Die manier oor hoe om te onderskei tussen ’n leenwoord en ‘n ingeburgerde woord, naamlik die gebruik van woordeboeke, was my voorstel aan jou want dit het gelyk of jy moeilikheid in dié verband ondervind. En dit werk, daar het jy toe uitgevind dat ‘establishment’ toe nie ’n leenwoord (of ingeburgerde woord dan) is soos ek beweer het nie, ek was dus verkeerd. So, aangesien ‘establishment’ net in Engelse woordeboeke voorkom verteenwoordig die gebruik daarvan in Afrikaans dan natuurlik swak Afrikaans.
Jy spring rond – eers sê jy die sin “jy moet ’n relationship establish met die vendor” is nie Afrikaans of Engels nie maar Afrikaaps. Nou dat jy agterkom hierdie stelling van jou was onsin, beweer jy jy het maar ’n flou grappie gemaak; dit IS toe Afrikaans volgens jou. Angus, dit is Afrikaans in dieselfde mate as wat “you must vestig ’n verhouding with the verkoper” Engels is – swak Afrikaans en swak Engels.
Oor die een-begrip-een-woord-storie: Jy sê ‘die man eet kaas’ is ook een begrip. Miskien, maar dis ooglopend nie wat my onnie met een begrip bedoel het nie en ons, sy klas, het dit ook nie so verstaan nie. As jy so wil redeneer kan jy ook aanvoer dat ‘die man eet kaas want hy hou daarvan’ ook een begrip is, of ‘die man eet kaas op sy brood sonder botter want dit is soos hy daarvan hou’. So kan jy aangaan tot jy die hele evolusieteorie van Darwin of die uitsluitingsbeginsel van Heisenberg as een begrip beskou en my dan uitlag omdat daardie verhandelinge uit baie sinne, paragrawe en hoofstukke bestaan en kennelik nie een lang woord is nie. Dis mos nou logies dat wat my onnie bedoel het is soos jou voorbeeld sê – ‘koffiebeker’ is nou een begrip en word vas geskryf (waar die Engelse dit los sou skryf naamlik ‘coffee mug’). So, al wat ek jou wou sê, en wat jy goed ook weet, is dat ons (soos die Duitsers en die Hollanders) vas skryf (en die Engelse skryf los). Maar, weer eens, dit het met die woordeboekteenstrydigheidstorie niks te doen nie; ek akkommodeer maar net jou geskarrel in die hoenderhok want ek hou daarvan. Jy’s van die min wat SêNet nog die moeite werd maak om te lees.
Ek sien jy sukkel nog steeds met die begrip ‘leenwoord’. ’n Leenwoord is ’n woord uit ’n ander taal wat ’n begrip beskryf waarvoor daar nie so ’n woord in die betrokke taal bestaan nie. Die vreemde woorde in die geradbraakte Afrikaanse en Engelse sinne hierbo is dus NIE leenwoorde nie, want daar bestaan goeie Afrikaanse en Engelse woorde vir daardie vreemde woorde. Soos ek al gesê het, gebruik woordeboeke as jy nie seker is nie.
Tot hiertoe dan en groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Jy het woordeboeke daarvan beskuldig dat hulle woorde opneem wat verkeerdelik deur genoeg mense gebruik word. Ek wil by jou weet na watter woorde verwys jy, en in watter woordeboeke tref jy dit aan. Jy het die woord ‘sondebok’ genoem, en ek het jou bewys dat jy verkeerd is.
Die punt is, ʼn woord se betekenis berus op ooreenkoms getref tussen spreker en hoorder. Woorde se betekenisse kan verander, nie net in Afrikaans nie, maar in enige ander taal. Die punt is, geen woord van geen taal, is wet van die Mede en die Perse, volksbesit, binne in ʼn blik gedruk en toegeskroef nie. Sou ʼn Afrikaanse woord nuttig raak in Japannees, kan niemand ʼn Japannees keer om dit in Japannees te gebruik nie, en dan word dit Japannees. (Die punt is ook die punt is ʼn anglisisme.)
Nee, Jan, ek spring nie rond as ek eers sê “jy moet ’n relationship establish met die vendor” is nie Afrikaans nie, en daarna sê weer dit is Afrikaans nie. Dis nie Afrikaans nie, want dit is hoe nuwe tale ontstaan. Dit is Afrikaans, want dit is sintakties en semanties Afrikaans. Op die oomblik is dit Afrikaans, maar in die toekoms, wanneer ek en jy wat dit teenstaan nie meer daar is nie, en dit die moedertaal is waarmee ons agterkleinkinders en hulle agterkleinkinders grootword, dan is dit miskien Afrikakaaps, of wat jy dit ook al wil noem.
Dit is so dat ʼn sin een betekenis het. (Ek laat sinonimie buite rekening.) Saamgestelde sinne het ook net een betekenis. In die linguistiek praat hulle van “duality of patterning.” Betekenislose spraakklanke vorm betekenislose morfeme; morfeme vorm betekenisvolle woorde; woorde vorm betekenisvolle sinne.
Afgesien van sinne, het jou onnie nie juis baie oor taal gedink toe hy “een-betekenis-een-woord” aan julle voorgeskryf het nie. Wat het bv. van “geel wortel” en “geelwortel” geword?
Ek “sukkel” nie met die begrip “leenwoord” soos jy graag wil voorgee nie. Ek weet wat taalpuriste daarmee bedoel. Ek verstaan maar alte goed wat jy daarmee bedoel. Ek het self in my jong dae ʼn verhandelinkie van so 60 bladsye daaroor geskryf as taak. Ek het intussen van mening verander oor leenwoorde. Linguisties gesproke is ʼn leenwoord doodeenvoudig ʼn woord wat van ʼn ander taal geleen word. Taalpuriste sal beslis neusoptrekkerig daaroor wees, maar ten spyte daarvan, sal mense nog die woord gebruik. Mettertyd gaan die taalpuriste dood, en dan word die woord deel van die woordeskat; en geen haan sal daarna kraai nie. Neem maar bv die woord ‘baadjie’ van Maleis-Portugees. “Wat se woord is dit?” het die taalpuriste gekreun. ʼn Beskaafde mens praat tog van ʼn jasje. Daardie taalpuriste lê almal onder die grond vandag, en ek trek my baadjie aan en sê: “Tot siens” (met twee woorde, maar een begrip).
Groete,
Angus