Dagsê Angus
Ek het nooit gesê ‘sondebok’ en ‘belhamel’ is sinonieme nie, waar kom jy daaraan? Wat ek wel gesê het is dat sondebok verkeerdelik vir die begrip ‘belhamel’ gebruik word, maw as sinoniem vir belhamel. Ek het dit in die laaste brief verduidelik aan die hand van die Engelse ‘scapegoat’ (wat die regte betekenis van ‘sondebok’ was) en ‘culprit’ wat ‘belhamel’ se regte betekenis te beskryf.
Ek is nogal spyt ek het dit gedoen want elke nuwe woord laat jou tangensiaal verkas in ’n rigting ver verwyder van wat die eintlike onderwerp van bespreking is naamlik die teenstrydigheid tov woordeboekmaak – hulle word as riglyn vir korrekte taalgebruik daargestel maar tog neem hulle woorde op wat lank genoeg deur genoeg mense verkeerd gebruik word. Bloot as ’n interessantheid genoem; ek het niemand aangeval nie.
So, wat die rigting betref wat jy nou weer ingeslaan het: As ‘culprit’ nou nie die heeltemal korrekte vertaling vir ‘belhamel’ is nie verander niks aan die argument nie naamlik dat ‘sondebok’ NIE meer as ‘scapegoat’ of ‘Sündenbock’ gebruik word nie maar as ‘die skuldige’. Terloops, ‘belhamel’, die aanhitser (‘ring leader’ of ‘Anstifter’) kan ook skuldig, en dus ’n ‘culprit’, wees; ’n ‘culprit’ kan van ’n renosterstroper tot ’n moordenaar wees. Haarklowery gaan jou nie help nie. Daar het jy sommer ook jou antwoord wat jy so knaend soek naamlik ‘sondebok’ is ’n voorbeeld van ’n woord wat toe die verkeerde betekenis gekry het. Gaan kyk maar in die HAT.
Soos jy sê, ’n leenwoord is ’n woord wat aan ’n ander taal ontleen is. Dit impliseer nie dat jy in ’n gegewe taal links en regs woorde kan insmyt uit enige ander taal nie en dan wegkom met die verskoning dat jy leenwoorde gebruik nie – daar is ’n verskil tussen ‘leenwoorde’ en ‘vreemde woorde’. ’n Leenwoord is gewoonlik ’n woord ontleen vir ’n begrip waarvoor daar nie ’n gepaste woord in ’n betrokke taal is nie. Engels lyk my het nie ’n woord vir ‘leedvermaak‘ nie so hulle gebruik die Duitse ‘Schadenfreud’’. Engelse woorde wat in deesdae se Afrikaans gebruik word is NIE leenwoorde maar bloot, wel, Engelse woorde en sodanige gebruik verteenwoordig swak Afrikaans.
Ek sien nou die dag ’n episode van ‘Vlerksleep’ en die manier wat daardie jongmense praat is liederlik. Kyk ook maar na die sepies; duidelike bewys dat Afrikaans aan die verengels, en dus agteruitgaan, is. Taal wat gemeng word met ’n ander taal is nie aanduidend van ’n nuwe taal in wording soos jy beweer nie maar wel dat daardie taal in die proses is om vervang te word met die ander taal. Jy sê diegene wat gekla het oor swak Nederlands is lankal dood en dit mag so wees maar, soos jy sê, hulle het gekla oor SWAK Nederlands (verwaterde grammatika dalk) maar nie GEMENGDE Nederlands nie want, hoe Afrikaans ook al ontstaan het, dit was nie deur ’n mengsel van Nederlands met al die Afrikatale waarmee hy in aanraking gekom het nie. Daar is wel woorde van oa Afrika-oorsprong in Afrikaans (soos ook in Engels) maar dit beteken mos nou nie dat Afrikaans (of Engels) ‘gemeng’ met die betrokke Afrikataal nie. Afrikaans deesdae, soos gepraat deur ’n groot groep mense, is deurspek (gemeng) met Engels, so al asof dit as tweede taal deur Engelssprekendes gepraat word.
Wat die wortel betref: Soos ek gesê het, jy kry nie ’n rooi geel wortel nie, wel dalk ’n rooi geelwortel. Jy sê natuurlik kan mens ’n rooi geel wortel kry; jy verf hom net. Jy kan nie want, as jy ’n geel wortel rooi geverf het, is hy ’n rooi wortel. Jy kan mos vir jouself dink man; as jy ’n geel kar het en jy verf hom rooi het jy ’n rooi kar, nie ’n rooi geel kar nie (as die geel deurslaan kan jy dalk ’n rooi-geel kar hê, ’n oranje kar met ander woorde). So my onnie se verduideliking val nie plat soos jy beweer nie; dis jy wat lyk dit my nie die verskil tussen ‘geelwortel’ en ‘geel wortel’ verstaan nie.
Nou ja tot hiertoe dan en groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Jy is nou besig om soos ʼn hoender op ʼn warm sinkplaat rond te dans.
Jy het aanvanklik woordeboekmakers daarvan beskuldig dat hulle woorde verkeerdelik opneem. Ek het jou gevra om vir my voorbeelde daarvan te gee. Jy het die woorde ‘sondebok’ en ‘belhamel’ genoem soos dit in die HAT (eerste uitgawe) verskyn. Ek het aan jou bewys dat geen uitgawe van HAT die woord ‘sondebok’ aandui as sou dit ‘belhamel’ beteken nie. Nou dans jy rond met allerhande duisterhede.
Ek wens jy wil ook nou tangensiaal rigting kry met die onderwerp van bespreking. Jy beweer dat woordeboeke wat woorde opneem wat verkeerdelik deur mense gebruik word. Ek vra vir die soveelste keer: gee my asseblief voorbeelde daarvan.
Dit is so dat woorde verkeerdelik deur sprekers gebruik word, maar in geen Afrikaansverklarende woordeboek kan ek voorbeelde daarvan kry nie. Daarom vra ek weer: gee vir my die voorbeelde van wat jy al gekry het. (Hoeveel keer moet ek nog vra?)
Jy verstaan nog nie die dinamiek van taal nie. Tale is nie patrioties nie. Woorde van een taal word maklik deur ʼn ander taal opgeneem. Aanvanklik is dit ʼn vreemde woord, maar nadat hy herhaaldelik gebruik word, word dit ʼn leenwoord. Mettertyd word hy so deel van die woordeskat dat die taal dat niemand, behalwe taalkundiges, die herkoms daarvan kan sê nie.
As ʼn vreemde woord in ʼn taal gebruik word, is daar ʼn rede of redes voor. Afrikaanssprekendes gebruik Engelse woorde om verskeie redes; een daarvan is, die Afrikaanse woord sê nie presies wat hulle bedoel nie. Daar moet onthou word, dat ʼn taal ook op verskillende vlakke gepraat word. Slegs ʼn geletterde Engelsman sal van ‘schadenfreude’ praat. Van al die tale het Engels egter die grootste woordeskat, want dit moet wêreldwyd aanpas, nie alleenlik geografies nie, maar by alle grade van geletterdheid.
Wat Afrikaans betref: die klagte was nie alleenlik teen die swak grammatika nie, maar ook teen die opneem van vreemde woorde en uitdrukkinge veral van Maleis-Portugees. Gaan lees maar gerus Hesseling se verhandeling oor die ontstaan van Afrikaans.
Weer eens, daar bestaan nie so ʼn spelreël soos een-begrip-en-woord nie, anders sou jy nie betekenisverskille soos met ‘geel wortel’ en ‘geelwortel’ kon aandui nie. Die spelreël sê ʼn bnw en ʼn snw word los geskryf: ‘geel wortel’. Samestellings word vasgeskryf: ‘geelwortel’.
Groete,
Angus
Angus, lees jy dan nie wat ek skryf nie? Ek sê mos duidelik vir jou 'sondebok' is een van daardie woorde wat die mense al vir jare verkeerd gebruik en toe so in 'n woordeboek opgeneem is - kyk maar in die HAT. Ek weet nie wat jou probleem is nie want jy stem eintlik saam met my; jy wil hê die woordeboek moet 'huidiglik' ook opneem en sou hulle dit doen is daar dan nog 'n voorbeeld vir jou.
Een-begrip-een-woord is 'n riglyn wat die onnie vir ons gegee het en jy's verkeerd waar jy sê "anders sou jy nie die betekenisverskille soos met 'geel wortel' en 'geelwortel' kon aandui nie." Dit is twee verskillende begrippe: 'n 'Geelwortel' is 'n groente (oranje van kleur snaaks genoeg) en 'n 'geel wortel' is 'n wortel, ENIGE wortel, wat geel van kleur is.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan,
Ek kyk in HAT en lees die volgende oor 'sondebok': 1. Bok wat by die Istaeliete op die Groot Versoeningsdag sinnebeeldig met die sonde van die volk belaai en in die woestyn ingejaag is. 2. (fig) iemand wat vir alles die skuld kry: 'n Sondebok van iemand maak. Hy is altyd die sondebok. Die sondebok van die familie.
Overgesetsynde beteken dit dat iemand wat 'n sondebok is, vir alles die skuld kry, al is hy onskuldig.
Lees assblief mooi en sê vir my wat daarmee verkeerd is volgens jou.
My probleem is dat jy bewerings maak sonder om dit met konkrete voorbeelde te staaf. Jy beweer dat woordeboeke woorde verkeerdelik opneem, maar jy gee nie voorbeelde nie. Jy praat sommer in die wind.
Jy weet nie wat een begrip beteken nie. Dit het absoluut niks met kleure of soorte te make nie. "Geelwortel' is een begrip en word aanmekaar geskrywe. 'Geel wortel' is een begrip, maar word los geskrywe. Gaan sê vir jou onnie hy moenie die kinders so verkeerd leer nie. Die verkeerde goed steek so in hulle koppe vas dat hulle nie verder wil dink nie.
Groete,
Angus