Reaksie op Angus se kommentaar onderaan my brief van 3 deser

  • 2

Beste Angus

Jy sê vir die soveelste keer moet jy aan my verduidelik hoe die vurk in die hef steek maar dan doen jy dit nie; jy laat net weer eens blyk dat jy die ou is wat nie weet hoe die vurk in die hef steek nie.

Jy sê byvoorbeeld “hierdie beskrywing van die reëls word die grammatika genoem.”  Dit is nie wat grammatika is nie, want die reëls self IS die grammatika; die beskrywing van die reëls is, wel, net dit, naamlik ’n beskrywing, ’n grammatikaboek byvoorbeeld, of ’n tesis of verhandeling oor BESTAANDE grammatika.  As ek dit nie mis het nie het jy nog op ’n kol beweer grammatici skryf die grammatika van daardie tale wat nog nie ’n grammatika het nie.  Daar bestaan nie so iets soos ’n taal ‘wat nog nie ’n grammatika het nie’ want dan sou dit nie ’n taal gewees het nie. 

Iemand kan wel ’n grammatikaboek skryf vir ’n taal wat nog nie ’n grammatikaboek het nie.  Soos, sê maar vir Afrikaans.  Daar was ’n tyd wat daar nie ’n grammatikaboek of -beskrywing vir Afrikaans was nie en ouens het toe die bestaande grammatika ten boek gestel.  Soos jy selfs sê, hulle het nie die reëls gemaak nie, hulle het net die grammatika beskryf (LW, BEskryf  en nie GEskryf of ontwerp nie).  Die grammatikaboek of -beskrywing is deskriptief ten opsigte van die taal se grammatika (uiteraard) maar grammatika self is voorskriftelik – hoe jy woorde aanmekaar las, verbuig ens om die taal sinvol te praat.  As jy nie die voorskrifte van ’n taal se grammatika volg nie kan jy nie daardie taal praat nie.

Net ’n opmerking oor kunsmatige tale.  Jy sê jy weet van geen kunsmatige taal wat op ’n ander taal se grammatika baseer is nie.  Ek het op ’n stadium Esperanto probeer leer en daardie taal is beslis op bestaande tale se grammatikas baseer (hoofsaaklik tale uit die Indo-Germaanse stam); die taal het selfs naamvalle.  Vir korrekte uitspraak word aanbeveel dat mens Italiaans in gedagte moet hou en ek is seker daar is Slawiese invloed aangesien die skepper ’n Pool was.  Maar dit net terloops.

Angus, jy gee telkens ellelange verduidelikings en stukkies geskiedenis in ’n poging om die verengelsing van Afrikaans te regverdig en te verdedig (selfs te bevorder lyk dit my).  Jy’t op ’n stadium laat blyk dat Afrikaans maar net Kaaps is waarvan die anglisismes en Engelse woorde uitgehaal is.  Tans beweer jy wat die mense hoofsaaklik in die Kaap (dus Kaaps) praat is die begin van ’n nuwe taal.  So wat is dit nou?  Is daardie taal wat so met Engels besmet is nou proto-Afrikaans of is dit die nuwe taal, Engfrikaans (of Afrengels) in wording?

Nie een van die twee nie Angus, die taal wat jy op die sepies hoor is geradbraakte Afrikaans, die manier van praat van iemand wat nie goed Afrikaans kan praat nie.  Jou vriend Page wat oorslaan Afrikaans toe is ’n goeie voorbeeld – sy Engels is nie toereikend genoeg as hy dieper dinge wil oordra nie dan slaan hy oor Afrikaans toe.  Soos die sepiesmense ten opsigte van Afrikaans is sy Engels; hy kan dit nie goed praat nie.

Jy sê taal is per slot van rekening bloot geluide wat gemaak word om te kommunikeer.  As jy dit glo reken jy seker klere is bloot materiaal wat gebruik word jou skaamte te bedek en teen die elemente te beskerm wat kennelik onsin is – ek is seker in jou kas is hemde en broeke en goed waarvan jy van die snit en kleur hou.  Trouens, daar is ’n bloeiende modebedryf, ’n manifestasie van die idee dat klere baie meer as bloot ’n bedekking van die kaal lyf is.  Netso met taal, taal is baie meer as net kommunikasiegeluide; dit is onder andere deel van jou identiteit en enigiemand wat met jou taal mors gee uiterste aanstoot.  Taal is soos Santjie van Soendal (Änchen von Tharau) -  jou siel, jou vlees en jou bloed.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Ek kan niks met jou verder bespreek as jy gedurig verdraai wat ek gesê het nie. Gaan speel liewer hierdie speletjie met iemand anders.

    Ek het gesê ek weet nie van enige kunsmatige taal wat NIE op die grammatika van 'n bestaande taal gebaseer is nie.

    Jy verdraai dit na " Jy sê jy weet van geen kunsmatige taal wat op ’n ander taal se grammatika baseer is nie."

    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Ek het weer eens besluit om jou maar te antwoord ten spyte daarvan dat jy verdraai wat ek sê.
    Grammatika is ʼn bepaalde studiedissipline, soos Logika. Dit is ʼn suster van die Logika en handhaaf logiese reëls. Dis ook ʼn onderafdeling van die Linguistiek. Ek dink die beste sal wees, as ek jou en my siening van die grammatika met mekaar vergelyk.
    Jou siening is dat elke taal alreeds ʼn grammatika het. Dit is dus onnodig vir linguiste om enige taal te bestudeer en neer te skryf wat die struktuur van ʼn taal is. Die nie nodig vir die semasioloog om die betekenis van woorde te bestudeer nie, want die woorde het mos betekenis. Dis nie nodig vir die fonoloog om die taalklanke van ʼn taal te bestudeer nie, want die taal het mos klank. Dis nie nodig om die sintaksis van ʼn taal te bestudeer nie, want dit het mos sintaksis. Grammatici en linguiste, taalkundiges, is onnodig want hulle skryf maar net oor wat reeds bestaan.
    My siening is dat grammatika die studie van taal se struktuur, en organisasie is. Die werk van die grammatikus is om die spraakklanke, woorde en woordbetekenis, en sintaksis van ʼn taal te bestudeer, en dit te beskryf. Hierdie beskrywing is die taal se grammatika, en dit het ʼn besonderse woordeskat, bv woordorde, naamval, naamwoordstuk, werkwoordstuk, ens. Daar bestaan nog honderde tale in die wêreld wat nog nie bestudeer is deur linguiste nie, en dus nie ʼn grammatika het nie. LW: Hierdie tale word nie ordeloos gepraat nie, want dan sou dit nie tale gewees het nie. Dit het ʼn struktuur, maar dis nog net nie bestudeer nie; dus weet niemand wat die struktuur van hierdie tale is nie. Dit wag op die linguis om dit bloot te lê. (Ek weet jy sukkel met die betekenis van struktuur. Hier sluit struktuur die klankstelsel, die betekenis van die woorde en die sintaksis in.)
    Alhoewel ʼn kleuter die taalstelsel onbewus aanleer om sy moedertaal te kan gebruik, is dit so ingewikkeld dat die organisasie van ʼn taal soos Afrikaans nog nie ten volle deur grammatici beskryf is nie.
    Iemand wat ʼn taal praat, volg nie die voorskrifte hoe om ʼn taal te praat soos jy beweer nie. Die woord ‘voorskrifte’ veronderstel dat dit geskryf is. Niemand loop met ʼn voorskriftelike boek onder die arm om te kan praat nie.
    Wat Kaaps betref: die taal wat die mense aan die Kaap gepraat het, was basies Nederlands, maar tog al meer en meer anders, totdat dit nie meer Nederlands was nie. Dit het as Kaaps of Kaaps-Hollands bekend gestaan. Mettertyd het hierdie Kaaps onder Engelse invloed gekom, soos ek alreeds verduidelik het. Dit is hierdie einste Kaaps-Hollands wat in sy veredelde vorm Standaardafrikaans geword het. Dit het die taal van die witman geword, terwyl Kaaps in sy onedele vorm die taal van die bruinmense geword het. Kaaps is nie ʼn nuwe taal nie, dis ouer as Afrikaans, want die Afrikaans wat ons praat was eens Kaaps genoem.
    Kaaps is nie ʼn vermenging van Afrikaans en Engels nie. Dit is ʼn taal met sy eie woordeskat, en taalklankstelsel. Die vermenging waarteen jy so beswaar maak , is ʼn vermenging van Standaardafrikaans en Engels.
    Dit lyk my taal is meer as net kommunikasiegeluid. As ek met ʼn Afrikaanssprekende Afrikaans praat in Engelse geselskap, dan lyk dit of hy wil hê die aarde moet hom insluk.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top