Reaksie op Angus se kommentaar onderaan my brief van 28 Julie 2016

  • 3

Beste Angus

Jy het gevra vir ‘n voorbeeld van ’n verkeerde woord en daar’t ek mos nou vir jou gewys (2) die HAT gee die betekenis van ‘sondebok’ as sou dit sinoniem vir ‘belhamel’ wees (jy’t mos al self die verskil ook tussen sondebok en belhamel uitgewys).  Ek sien jy sê niks oor dat daar pertinent staan dat ‘braaf’ nie ‘dapper’ beteken nie.

Jy lyk dit my lees al weer laat in die nag en verstaan nie mooi wat jy lees nie.  Ek het nooit geïnsinueer of gesê Afrikaanssprekendes mag slegs woorde wat in die woordeboek voorkom gebruik nie; ek het vir jou, wat ’n probleem het om te onderskei tussen leen- en vreemde woorde, vertel hoe om woordeboeke te gebruik om jou te help.  Ek verduidelik maar weer:  As ’n vreemdlykende woord NIE in die verklarende woordeboek voorkom nie en slegs aan die Engelse kant van ’n tweetalige woorde dan is dit ‘n mengtaalwoord.  Dis maklik.

Nog steeds gaan jy aan oor die woordjie ‘ons’.  Dit is wel uniek Afrikaans maar die gebruik van ander naamvalle in die nominatief is nie uniek Afrikaans nie; dit kom veral baie in Engels voor.  Wat het dit in elk geval met die prys van eiers te doen? 

Ek het nie gesê jy is die ou wat sê samestellings moet aanmekaar geskrywe word nie, ek is die ou wat dit gesê het.  Ek het nog verduidelik met die storie van die dokters watter absurditeite mens kan kry as jy samestellings los skryf.  Jy is die ou wat losskryf verdedig het, gepraat van ‘lomp’ – ek het nog vir jou ’n foto van ’n Duitse kennisgewing geplaas om te wys as jy kan lees is daar geen sprake van deurmekaar raak met samestellings nie; ons is mos bie graadeentjies nie.

Jy sê Afrikaans is “kragtig . . .  ’n ou Engelse woordjie hier en daar [kan] geen skade berokken nie.” Lyk “jy moet ’n relationship establish met die vendor” vir jou na ’n ou Engelse woordjie hier en daar? Nee swaer, ek sê dit is tekenend van die verskraling en agteruitgang van Afrikaans, dit is ’n manifestasie van die verdringing van Afrikaans deur Engels (en dis glad nie oulik of skeppend nie; dis geradbraakte swak Afrikaans en baie lelik).

Groetnis

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Miskien het dit nou tyd geword dat ek jou leer hoe verklarende woordeboeke werk.
    ʼn Goeie woordeboek dui die verskillende betekenismomente van ʼn woord aan. Telkens wanneer die woord gebruik word in ʼn sin, word een van die momente geaktiveer.
    Die twee woorde onder bespreking word so aangegee in ʼn goeie woordeboek soos die HAT:
    Son’de.bok 1. Bok wat by die Israeliete op die Groot Versoeningsdag sinnebeeldig met die sonde van die volk belaai en die woestyn in gejaag is. 2 (fig) Iemand wat vir alles die skuld kry: ʼn Sondebok van iemand maak. Hy is altyd die sondebok. Die sondebok van die familie.
    Bel’ha.mel 1. Oorspronklik ʼn hamel met ʼn bel wat ʼn trop skape lei; lei-voorbok. 2. (fig) Aanvoerder by kwaaddoenery; vernaamste aanhitser: Die belhamels vonnis.
    Soms word baie kortliks voorbeelde gegee by die betekenismomente hoe die woord gebruik word. Soms word selfs idiomatiese gebruik van die woord gegee. Indien een of meer van die betekenismomente ooreenstem, word die woorde sinonieme genoem. Bogenoemde woorde is nie sinonieme nie, want nie een van die betekenismomente kom ooreen nie. Sondebok het te make met skuld wat iemand kry, terwyl belhamel te make het met die leiding wat geneem word, hoofsaaklik in ʼn slegte sin.
    Dit is wel so dat mense die woord ‘sondebok’ verkeerdelik gebruik. Ek het dit so twintig jaar gelede al opgeteken. Ek het dit bv een keer by ʼn Vrystaatse boer gehoor toe ek hom met sy beeste gaan help het. Hy het my vertel hoe daar van sy skape weggeraak het, maar dat hy ontdek het wie die sondebok is wat hom so skade berokken. (Dis debatteerbaar of woordeboekmakers hierdie ‘nuwe’ gebruik van woorde moet opneem. Ek sê ja.)
    Ek het al oor ‘braaf’ en ‘dapper’ heelwat geskryf, maar aangesien dit nie deurgedring het nie, sal ek weer (vollediger) probeer. Dit word so in HAT weergegee:
    Braaf, bnw en bw. Gaaf, goed deugsaam: Sy brawe ouers. ʼn Brawe Hendrik, Maria, seun, dogter wat (kastig) baie voorbeeldig is. Opm: Braaf het nie in Afrikaans die betekenis van “dapper” nie.
    dapper (1), (-der, -ste) bnw en bw. Sonder vrees, moedig. Dapper veg in die oorlog. Jou dapper hou. Dapperheid.
    Dapper (2), In die uitdr met dapper en stapper, te voet.
    Volgens die woordeboek is ‘braaf’ en ‘dapper’ nie sinonieme nie, maar ek het nêrens nog ooit gehoor dat “braaf’ gebruik word soos HAT dit hier gee nie. Ek het dit verskeie kere aangeteken dat dit in die sin van “dom-onnosel” gebruik word. (Ek kan mos nou nie staan en lieg oor wat ek bevind het nie?) Die student wat leeus wil skrik maak met sy hoed tussen die tande, is braaf. In hierdie sin is ‘braaf’ en ‘dapper’ gedeeltelike sinonieme, want laasgenoemde woord het ook die betekenis van ‘moedig’. Indien jy hoor dat iemand ‘braaf’ gebruik soos die woordeboek sê, moet jy dit asseblief opteken. (Ek weet die sanger van ‘Leeuloop’ sing ook van sy ‘brawe ouers’, maar ek weet nie wat hy daarmee bedoel nie.) Hierby wil ek net sê dat Van Dale ‘braaf’ en ‘dapper’ as sinonieme aandui in die moderne Nederlands.
    Jy beweer dat jy dit nooit geïnsinueer het dat Afrikaanssprekendes net woorde in die woordeboek mag gebruik nie. Kom ons beskou dit ʼn bietjie.
    Jy beweer dat as ʼn woord in die woordeboek staan, dit nie ʼn mengelwoord is nie. Nou wil ek by jou weet: mag Afrikaanssprekendes maar mengelwoorde gebruik as hulle Afrikaans praat?
    In Afrikaans gebruik ons die woord ‘ons’ in die onderwerpsposisie i.p.v. ‘wij’ nie omdat Engels dikwels die akkusatief i.p.v. die nominatief gebruik nie. Nederlands self het ook nie hierdie verandering ondergaan nie, maar gebruik nog die woord ‘wij’. Hierdie verskynsel het dus absoluut niks te make met wat in Engels gebeur het, of wat nie in Nederlands gebeur het nie. Hierdie verskuiwing het hier in Suid-Afrika gebeur, en dit is aangeteken in die slawetaal van 1691 toe hulle begin het om met die Nederlanders te kommunikeer.
    Nêrens het jy gesê dat samestellings aanmekaar geskrywe moet word nie. Jy het gesê dat een begrip moet aanmekaargeskrywe word. By jou foto van die Duitse kennisgewing het jy glad nie melding gemaak van samestellings wat aanmekaar geskrywe moet word nie. Jy beweer maar dat jy dit gesê het, nadat ek jou daarop gewys het dat dit so in die spelreëls staan. Jy het natuurlik besef dat jou “een begrip, een woord” onsinnig is, en wil jy dit verdoesel. By jou foto het jy geskryf: “Wat lompheid betref, dis strooi. As jy kan lees is dit nie 'n probleem nie. Vir die Duitsers byvoorbeeld (sien foto) is dit nie 'n probleem nie (of is hulle skoolopleiding net beter?).”
    Slegsê, leuens en verdraaiing is tekens dat jy die stryd verloor.
    Jou “jy moet ’n relationship establish met die vendor” klink vir my na Afrikaaps, wat heeltemal ʼn nuwe taal is; nie Afrikaans of Engels nie. Dit kan nie Engels of Afrikaans enige skade aandoen nie.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan Rap,
    Dis goed van jou om oor taal en die funksie daarvan te besin, maar die afgelope ruk het jou skrywes net ʼn geskarrel in die hoenderhok geword. Kom, ek gee jou ʼn paar voorbeelde.
    Aan die een kant is ʼn woordeboek vir jou die toetssteen of ʼn woord ʼn leenwoord of ʼn ‘mengelwoord’ is. As die woord opgeneem is in die woordeboek, dan is dit ʼn leenwoord, en mag gebruik word as Afrikaans gepraat word. Verskyn die woord slegs aan die Engelse kant van die woordeboek dan is dit ʼn ‘mengelwoord’ en mag nie gebruik word as Afrikaans gepraat word nie.
    Aan die ander kant wil jy weet wie woordeboekmakers die mandaat gegee het om sommer verkeerde woorde op te neem.
    Dis mos ʼn teenstrydigheid.
    Nog ʼn voorbeeld: jy beweer dat in Afrikaans moet een begrip aanmekaar geskrywe word. Ek wys jou daarop dat die reël nie werk nie, en buitendien is dit nie ʼn spelreël in die Afrikaanse woordelys en Spelreëls nie. Daarin staan duidelik dat samestellings aanmekaar geskrywe moet word. So ʼn paar skrywes later beweer jy dat dit jy (Jan Rap) is wat gesê het dat samestellings aanmekaar geskrywe moet word.
    Ek gee nie om as jy iets wat ek sê bevraagteken met bewyse nie, maar so ʼn geskarrel is nutteloos en onproduktief. Jy hoef ook nie bedreig te voel en dink jy is nou in ʼn hewige debat met my, en dat jy vir Panda en almal hier op SêNet moet bewys dat Jan Rap ʼn man is wat sy man kan staan nie.
    In plek van dat ons telkens oor ʼn sak gras stry, is daar tallose belangrike taalkwessies wat bespreek kan word.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus en Jan Rap

    Mag ek julle aandag vestig op die artikel 'Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: Tendense en toekomsperspektiewe
    Jaap Steyn, André Duvenhage 2011-10-21'

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top