Jy sê my grammatikakennis amuseer jou. Seker nie snaaks nie want ek is nie ’n taalkundige nie maar, aan die ander kant, jou opvatting betreffende grammatika verbyster my.
Byvoorbeeld, jy vra wie “ ... het al daardie voorskrifte vir sintaksis, morfologie, fonologie en semantiek waarvan jy praat, gemaak, of het dit sommer so saam met die taal gekom? Is taal vir jou sommer ’n saamgeflanste ding?” Hierdie dui daarop dat jy van mening is IEMAND het hierdie voorskrifte gemaak; taal is nie sommer ’n saamgeflanste ding nie. En tog, in die laaste sin van jou kommentaar op 14 deser beweer jy dat volgens my alle tale kunsmatig is omdat kunsmatige tale se grammatika eers GEMAAK word.
Sien jy die teenstrydigheid? Jy beweer IEMAND maak die voorskrifte maar ek, met my amusante grammatikakennis, dink valslik alle tale is kunsmatig omdat (iemand) eers die grammatika maak.
Nou laat ek nou maar, weer eens, vir jou vertel: Enigiemand wat ’n grammatikaboek vir ENIGE taal skryf skep geensins grammatika nie; hy omskryf, beskryf en verduidelik die REEDS bestaande grammatika (wat, in wese , daardie taal is, want daardie grammatika en woordeskat is daardie taal).
In jou kommentaar die volgende dag sê jy, “Jy [Jan Rap] sê dit maak nie sin dat ’n nuwe taal ontstaan agv die Engelse woordeskat wat bygevoeg word nie.” Angus, Engelse woordeskat word nie ‘bygevoeg’ nie; Engelse woordeskat en sintaksis VERVANG die Afrikaanse en hoe meer dit gebeur, hoe meer vorder verengelsing en hoe minder en swakker word Afrikaans gepraat. Dis mos logies, hoe sukkel jy so met hierdie begrip?
‘n Persoon wat ’n tweede taal leer en, in die beginstadium van die leerproses sy eie taal se woorde invoeg, is nie besig om ’n nuwe taal te skep nie, maar hy is bloot besig om die nuwe taal te leer. Na ’n jaar of twee met gereelde oefening praat hy hierdie tweede taal vlot. Die omgekeerde van hierdie proses is net so geldig; die tweede taal se woordeskat en sintaksis word al hoe meer in die eerste taal s’n ingevoer totdat die eerste taal s’n heeltemal vervang is. Net vandag (Vrydag) het ek ’n onderhoud op RSG met ’n Van der Walt-meisie gehoor wat verkies het om Engels te praat en gisteraand op KykNET, Bravo ’n onderhoud met ’n Liebenberg-dame wat ook kort-kort oorgeslaan het Engels toe.
So, om af te sluit, sê ek weer vir jou: Wat jy op die sepies hoor (Kaaps?) is nie die begin van ’n nuwe taal nie, dit is bloot Afrikaans deurspek met Engels, swak Afrikaans dus en kensketsend van hoe die taal agteruitgaan.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Vir die soveelste keer moet ek aan jou verduidelik hoe die vurk in die hef steek.
Alle tale gehoorsaam taalreëls wat ons universele taalreëls noem. Daar benewens het elke taal sy eie taalreëls wat ons unieke taalreëls noem. Hierdie taalreëls is so deel van taal, dat sprekers nie weet dat hulle dit toepas wanneer hulle praat nie.
Niemand weet van hierdie taalreëls nie, totdat iemand hierdie taalreëls bestudeer en beskryf. As iemand Afrikaans se struktuur of taalreëls bestudeer, kan hy net beskryf wat hy vind in Afrikaans. Hy kan onmoontlik taalreëls skep , want dan lieg hy wat hy sien en hoor. Hierdie beskrywing van taalreëls kan alleenlik deskriptief wees. Hierdie beskrywing van die reëls word grammatika genoem. (Gramma beteken 'letter'.) Grammatika is dus deskriptief, maw dit beskryf die taalreëls.
Wie het die voorskrifte van morfologie, sintaksis en semantiek van gemaak? Dit alles is inherent deel van die taal, en nie doelbewus gemaak nie. Die taalkundige kan hulle alleenlik maar beskryf, maar as niemand dit beskryf nie, sal niemand daarvan weet nie. Die grammatikus maak ons bewus daarvan.
'n Eenvoudige grammatika: 'n Afrikaanssprekende sal sê: "Die man eet kos." (Van taalreëls en woordorde weet hy g'n snars nie) Die taalkundige sal dit bestudeer en tot die gevolgtrekking kom dat die natuurlike woordorde in Afrikaans Onderwerp + werkwoord + voorwerp is. Hy kan dit nou bv. vergelyk met ander tale en tot die gevolgtrekking kom dat dit ook baie ander tale se woordorde is, behalwe Iers waarvan die van die betrokke sin voorwerp + onderwerp + werkwoord. is. Die Ier sal dus sê: kos die man eet. (Iets soos: Itheann an fear bia.)
Taalkundiges ontleed en trek 'n taal uitmekaar om die werking daarvan beter te verstaan, maar hulle kan nie grammatika skep nie. Hulle gaan slegs deskriptief te werk.
Om 'n kunsmatige taal te maak, gaan 'n mens soos volg te werk. Jy besluit op die grammatika van die taal. Dit kan die Duitse of Latynse of Engelse of Afrikaanse grammatika wees, of jy kan 'n grammatika vir die taal skep. Dan skep jy 'n woordeskat, en laat dit dan funksioneer volgens die gekose grammatika. Daar is hope sulke kunsmatige tale al gemaak, maar ek weet nie van een wat nie op 'n bestaande taal se grammatika gebaseer is nie.
Kaaps is nie maar net Afrikaans met Engelse woorde tussenin nie. Kaaps het sy eie aksent, idioom en woordeskat. Wat jou verwar is die herkenbare Afrikaanse en Engelse woorde daarin. Die Afrikaans met Engelse woorde tussenin is die nuwe Afrikaans (of as jy dit dan nie Afrikaans wil noem nie, Engfrikaans) met woorde soos amazing, song, actually, ens.
Wat gebeur is dat ek en jy die woord wonderbaarlik en amazing ken. Dit klink vir ons lelik as amazing gebruik word as Afrikaans gepraat word. Kinders ken net die woord amazing en nie wonderbaarlik nie. Ek en jy gaan dood, so ook die woord wonderbaarlik, en net die woord amazing bly agter in Afrikaans. Dit is nie 'n rare verskynsel van net Afrikaans nie, dit gebeur in ander tale ook. Daarom is "Sothlice sum mane haefde twegen suna" onbekend vir die Engelse spreker. Dis hoe Engels agteruitgegaan het.
Dit hinder my glad nie as iemand oorslaan na 'n taal waarin hy gemakliker is nie. Dan kommunikeer hy mos beter. Ek het 'n ou vriend gehad met die naam Robert Page, wat gereeld oorgeslaan na Afrikaans as hy met Engelse vriende iets ernstigs gesels.
Taal is per slot van sake geluide wat die mens maak met sy spraakorgane met die doel om te kommunikeer.
Groete,
Angus