“raseg” kreool ter wille

  • 0

Ons is oud-vryheidsvegters, vetkatte, siyaya,
taalbeleid is ’n stuk papier, swart op wit,
waaroor moedertaliges oningelig is, eish,
oor gelykheid van status nie bewus is,
tot hul taal nie meer oor hul lippe rol

kuns en kultuur uit Heem uit gestuur,
soos Arram en sy gade, yrie Paradys yt,
stemvolk in ‘n wanindrukblik ingedruk,
hulle sal glo ons bevorder demokrasie,
debatteer noodsaaklikheid van identiteit,
of Europa-tale ooit Afrikaans kan word

via superstruktuur van struktuurgeweld,
aanhef tot ons goeddeurdag taalbeleid,
gee ons erkenning, aan Afriforum-stryd,
aan Pêrrelberg se penis, grotesk, op bult,
Soweto ’76 se skuld afgeskryf, vergete,
hartseer verhaal van onderdrukkerstaal

kanti, vergeet maar van “isiAfrikaans”,
“isiBhunu” is veels te diep ingekerker,
in hart en siel van patriot, oppie tong,
van voorheen onderdrukte, terroris,
“taal vannie Boer” mos wat sy rêrig is

met effek van agitprop is hul vertroud,
hoe burgers medeburgers kan verburger,
tot inburgering van “Boer se taal”, lingua,
skynbaar tot stand gebring, hier in Afrika,
dááí storie sal ons eers opsy, eenkant sit,
oor hoe kleurloos enige taal eintlik is

te veel verset uit ’n minderheidskring,
te min vannie meerderheid ingebring,
oor moedertaal, toepas van toepaslikheid,
afsweer van taalapartheid, alles Anglo,
maar sien is glo, ons vermy verwarring,
verstarring van gesprek, via “Language”,
waarna Prez verwys as “isiNgez”, yebo,
universal tool to facilitate productivity,
tolking, vertaling vat te veel tyd, geld,
enigste opsie dus, taalstruktuurgeweld

interessant hoe verstar Afrikaanses,
hoe stil is hul oor hul “Boere-lingo”,
hoe sing hul nog van “sit-sit so”,
terwyl meerderheid innie koute,
nie eens iets hoor uit die bloute

nes /Xam deur Vryburgers uitgewis is,
nes identiteit in mens se taal opgesluit,
gaan moedertaal verlore, sonner stryd,
ter wille van nie-rassigheid, gelykheid,
vrede op Stalplein, domein van regime

dus bly ons as oudstryders lekke tjoepstil,
Afrikaans se “Boer”-agtigheid goed verhul,
al word iemand iewers so linguïsties mislei,
sta’ minderheidsmeerderheid oulikies opsy,
amper al gewoond aan deesk’ taalslawerny,
al sit hul so goed as gewis, verroest’ taalpot,
ultra-onfunksioneel soos sy is, tragikomies mis

Kobus Faasen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top