waar die vrugwater prut
word die kruike laat sak
om te skep
van water sonder end
waar die dadel murg
uit die sand uitsuig
en ons môre se beloftes
soos kamele maak staan
word eers gebuk gebid
dan word die kruike weer laat sak
om te skep
van water sonder end
waar die kudde saamput
word die tente en skanse windkant opgeslaan
sodat ons vuur kan aanslaan
en wyl ‘n snikkende son
laaste lig oor die duine uitskud
laat die vroue die sluiers lig
sodat hierdie dag verder kan dig
van water sonder end
en soos skemer die nag in dut
en die woestyn immer nader skuif
en die dag se trek spoorloos uitskud
en uitrol in ‘n sprokie se spoor in ‘n mat
geweef en ons soos skimme sit
en ervaringe in ‘n warboel
van bak en brou en babbel ontpit
laat die vroue die sluiers verder lig
sodat ons die nag kan in dig
van water sonder end
wanneer ons die nag op heup neem
waar die dans uiteindelik hups ‘n heup op loop neem
en ‘n dieper ritme spore trap in murg en been
en die danser die maan en sterre intol
aladdin se lamp blinkvryf
met die ritme in haar lyf
is dagbreek en put sonder water se lol
vir eers vergete in sielevreug se oop oop geute
waar die maan snags die put inrol
en ons herinnering uit kruik en murg en been verwerf
bid ons uiteindelik maar weer
voor die son weer deur die horison sweer
voor die swerfsand ons skep
en ons wegwys na waterverbeel
anderkant die horison
anderkant die eindelose wegswerf

