In ’n week waar daar op Afrikaanse Facebook ’n groot storm oor ’n resensie was, is dit vreemd dat Crito nie daardie resensie noem nie. Dis boonop ’n resensie deur prof. Willie Burger, wat vanjaar die prys gewen het in die kykNET/Rapport-resensiekompetisie se fiksie-afdeling. Prof. Burger moet dus as ’n leier op die gebied beskou word. As ’n resensie deur hom kritiek kry, behoort Crito dit te bespreek of hoe?
In die Netwerk24-dagblaaie Maandag was prof. Burger se resensie van Renée Rautenbach Conradie se debuutroman Met die Vierkleur in Parys. Ek wil nie die meriete van die boek bespreek nie. My doel is nie om ’n tweede resensie te skryf nie. Wat ek wel wil doen, is om prof. Burger se benadering te beoordeel, wat Crito moes gedoen het en nie gedoen het nie.
Die resensie is deur baie van die mense, wat aan die Facebook-debat wat ek hierbo noem deelgeneem het, as onnodig bitsig beskou. Was dit?
Die vertrekpunt is dat dit Conradie se debuutroman is. Daar is ’n ongeskrewe reël dat ’n debutant met sagte hande hanteer word. Dis moeilik om die moed bymekaar te maak om ’n eerste boek te skryf en gepubliseer te kry. Baie skrywers wat later suksesse behaal, maak nie altyd ’n goeie eerste boek nie (en ek spreek geen oordeel oor Conradie s’n uit nie). Die bedryf moet hulle ’n kans gee. Anders is daar geen aanmoediging nie. Nuwelinge se energie word gedemp.
Dit beteken natuurlik nie dat die resensie van ’n debutant alles maanskyn en rose moet wees nie. Natuurlik moet ’n resensent steeds kritiek lewer waar dit geregverdig is, maar daardie kritiek moet getemper word deur die aanprysing van wat wel gewerk het. Dis baie onwaarskynlik dat ’n boek, wat by ’n uitgewer soos Protea Boekhuis verskyn, geen goeie punte het nie. In die geval van Vierkleur was daar wel ander positiewe resensies. Prof. Burger sou dus wel, met ’n bietjie moeite en empatie, sterker aspekte van Conradie se vertelling kon uitlig.
Het hy dit gedoen? Nee, hy het die teendeel gedoen. Sodoende het hy die eerste reël van resensies verbreek, soos dit nie ’n wenner van die kykNET/Rapport-kompetisie betaam nie.
Wat het hy gedoen?
Hy het nie net onverdunde kritiek gelewer nie. Hy het selfs neerhalend en verkleinerend teenoor Conradie en haar werk gestaan. Nie slegs bitsig nie. Plein bitchy.
In die tweede paragraaf noem prof. Burger dat Conradie, volgens die Nawoord, baie lank aan die boek gewerk het en dat sy vele feitlike besonderhede oor die La Belle Époque-periode in Parys onder haar beheer het, wat in die boek neerslag vind. Al klink dit tog positief, is dit eintlik later duidelik dat wat prof. Burger eintlik wil sê, is dit: Conradie het jare lank geswoeg en steeds kon sy nie ’n behoorlike boek skryf nie.
Die derde paragraaf dien dieselfde doel: kyk hoe baie het sy nagelees en vir wat?
In die resensie se volgende (orige) vier paragrawe is dit net lemme en bloed.
Eers is die verhaal “geyk” en is “die gebeurtenisse [almal?] ongeloofwaardig”. Die res van die vierdelaaste paragraaf is ’n sarkastiese spel met die spoiler-waarskuwing wat resensente soms plaas. As jy regtig belangstel om só ’n geykte en ongeloofwaardige boek enduit te lees, moenie die res van hierdie paragraaf lees nie, maar dit maak tog nie regtig saak nie.
In die derdelaaste paragraaf word die verhaalgegewens opgesom en gekleineer: al die spanning in die verhaal gaan deur ’n deus ex machina opgelos word. Meh.
In die tweedelaaste paragraaf is die wrede messteek. Prof. Burger verwys na ’n gids vir beginnerskrywers en sê dat Conradie basies elke reël van ’n goeie storie verbreek het. Hy noem ’n klompie op. Ten minste een van daardie voorbeelde is nie op sigwaarde oortuigend nie. Onrealistiese taalgebruik? “Verdomp” teen die vorige eeuwending? Afrikaanse lesers weet nie hoe mense toe gepraat het nie. “Verdomp” klink juis koddig, oudmodies en daarom gepas. (Maar ek wil nie die boek hier resenseer nie.)
In die laaste paragraaf draai prof. Burger die mes. As die leser oor die lomp vertelling en die clichés kan trap, sal hulle hier baie inligting oor La Belle Époque kry. Onthou, wil hy sê, ek’t mos gesê sy’t baie navorsing gedoen. Shame!
Hierdie resensie, deur ’n professor in die letterkunde en twee keer die wenner van ’n resensiekompetisie, is benede die professor.
Dis ’n skande.
Hy moet as straf ’n lesing oor resensies vir sy studente gee waarin hy hierdie resensie van hom teen die heersende geskrewe en ongeskrewe reëls gaan toets. Dis hy wat die beginnerhandleiding oor resensies se eerste reëls verbreek het.
Hoekom het Crito nie hierdie resensie behandel nie? Dit is ook ’n skande.
Siesa!
Kommentaar
Ek stem! Dit was bloot ‘n wrede en verkleinerende geskrif deur iemand wat as hoof van Afrikaans by UP juis simpatiek moet wees teenoor eerste boeke en die bestaan van die taal.
Ek stem saam. Dit was on onnodig venynig, veral deur iemand wat veronderstel is om van beter te weet.
Prof Burger, onthou tog, 'n mens mag nie kinders tugtig nie, om boonop die mes uit te haal ...
"In die tweedelaaste paragraaf is die wrede messteek. Prof Burger verwys na ’n gids vir beginnerskrywers en sê dat Conradie basies elke reël van ’n goeie storie verbreek het."
Wie is Crito?
Wie is Crito? - is 'n antwoord wat Prof Hambidge ook wil hê.
Burger begryp moontlik nie dat uitgewers eerstens wins najaag nie. Een van die grootste uitgewers, Twinsaver, het die resep vervolmaak. Gehalte papier en repetisie stel meeste lesers tevrede.
Raak gevat, Henning Janse van Vuuren. Ons leef in die tyd van populisme om den brode. Dit beteken nie dat gerekende resensente ook daarin moet verval nie. As hy meen 'n boek is swak, is 'n boek swak. Dit is nie sy werk om te pamperlang nie.
Me Venter, die resensie is netsoveel van toepassing op die skrywer as die uitgewer en keurder/s. Daar is dalk 'n mark vir swak boeke ook, maar as 'n skrywer die pad wil stap om 'n boek te publiseer, is dit in die ope en 'n kritikus behoort nie met handskoentjies 'n boek te beoordeel nie. Swak is swak. Dis van verdunde kritiek wat daar soveel snert gepubliseer word, ook op sommige letterkundige webwerwe. Jy en die skrywer behoort eerder 'n kenner se mening ter harte te neem as om dit aan te val, 'bitchy' te noem en 'n swak boek te probeer 'sugarcoat'.
Halleluja, Nicolaas... Sê dit soos dit is.