Ek verwys na professor Jonathan Jansen se brief in Beeld.
Die prof sê baie dinge wat waar kan wees, of dalk nie waar nie, want hy staaf dit nie.
Byvoorbeeld, hy reken ouers "... moet oppas vir pogings om hul kinders onder die dekmantel van godsdiens- en taaleksklusiewe naskoolse onderwys terug na die rasse-Middeleeue te neem." Wat maak taaleksklusiewe onderwys "ras-middeleeus"? Buitendien, daar is talle Afrikaanssprekende swartes en bruines wat ook Christene is so daar is met die stigting van so ’n universiteit nie sprake van ras-eksklusiwiteit nie. Ironies genoeg, die universiteite is deesdae Engels, juis taaleksklusief dus, insluitende die voorheen Afrikaanse universiteite waarvan ene onder einste prof se sorg is.
Prof Jansen praat van ’n "... eng, bevooroordeelde, 'Nederduitse Gereformeerde' denkwyse ...", jong mense sou op die manier indoktrineer word. Behalwe dat dit ’n uiters neerhalende en rassistiese stelling is, is die moontlikheid groot dat dit nie waar is nie, bloot ’n bevooroordeelde persoonlike opinie is want hy staaf dit nie. Om die waarheid te sê, die moontlikheid dat dit loutere onsin is, is 100%.
Sy stelling dat hierdie "indoktrinasie" die rede is "... hoe Suid-Afrika in die eerste plek veral sedert die 1940’s in die moeilikheid beland het ..." bevestig niks, want van watter moeilikheid praat hy? Isolasie in die 80's? Dis ver van die 40's af. En van moeilikheid gepraat, daar's nóú moeilikheid – stakings, opstand, verval en, les bes, rassepolarisasie soos nog nooit tevore nie. Die volgende stelling van die prof is interessant: "Met die huidige regering wat so klaaglik misluk het om die soort leierskap te verskaf wat maatskaplike kohesie en onderwys van gehalte aanmoedig, moet ons meer as ooit verhoed dat eilande van uitnemendheid in hoër onderwys wat daarna streef om die teenoorgestelde te doen, verder geërodeer word."
Waar kom die "eilande van uitnemendheid" vandaan as gehalte-onderwys nie meer bestaan nie; oorsese studente? Soos ons kan sien is die "soort leierskap" wat sorg dat Openbare Werke, Hospitaaldienste, Gevangeniswese, Polisie en Waterwese – en dit is maar onder andere – om behoorlik te funksioneer ook nie verskaf nie. Die gemors waarin die onderwys sigself bevind, van primêr tot tersiêr, is, soos die dienste hierbo genoem, die direkte gevolg van die nuwe bedeling. Met hierdie "klaaglike mislukking" het maatskaplike kohesie dan ook in die slag gebly. Soos ek gesê het, interessant; die "demokrasie" wat SA uit die "moeilikheid" gelig het, het die onderwys in die moeilikheid laat beland. So, met dié nou dat alle universiteite nou Engels is, is dit mos nie snaaks dat Afrikaanssprekers ’n hunkering na ’n eie universiteit openbaar nie of hoe? Vraag en aanbod; in '94 het van die Afrikaners nog geglo in die politici se beloftes maar nou, na 18 jaar, is dit duidelik dat die hele onderwysstelsel verbrokkel het en bowendien aan die verengels is (die wat nie reeds is nie).
Wie kan hulle kwalik neem dat hulle uit vertrapping wil opstaan? Die prof praat neerhalend van ’n monokultuur, iets wat oorkom moet word. Hoekom? Dit mag wel wees dat ’n monokultuur ’n slegte ding is maar die rede kan nie net wees omdat Jansen so sê nie; hy moet darem ’n rede verskaf. Monokulture kom die wêreld oor voor, die pigmeë in Borneo, die inwoners van Denemarke, oral. Om die waarheid te sê, multikulture kom slegs voor waar mense weens omstandighede buite hulle beheer daartoe gedwing word. Waar hierdie geforseerde toestand heers, soos in die NSA, moet natuurlik toegewings gemaak word deur AL die betrokke kulture, nie net die Afrikaner soos tans die geval is nie. Die Afrikaanse dorp- en straatname word verander, die Afrikaner kan nie meer sy eie taal praat in die openbare lewe nie, hy kan nie eers sy belasting, dit wat in ’n groot mate verantwoordelik is dat die land nog enigsins funksioneer, in sy eie taal doen nie.
Afrikaanse skole, kolleges en universiteite is aan die verdwyn, tot sy kerke begin nou Engels word. Afrikanerkinders kry nie beurse, lenings of werk nie oor die gewaande sondes van hulle ouers en voorouers. Plaasaanvalle is aan die orde van die dag; boere word met eentonige reëlmaat vermoor en wetgewing ontmoedig hulle om te boer .Is hierdie verguising nie genoeg vir die prof nie? Al hierdie toegewings is nou wel nie vrywillig nie, toegegee, maar nogtans is hulle daar. Om die waarheid te sê, ’n onwillige opoffering is soveel meer van ’n opoffering, behoort die prof nie ’n bietjie meelewendheid te openbaar nie? Daar is nou wel diegene wat hierdie as heeltemal onaanvaarbaar beskou en hulle goed gevat en geloop het, maar die meeste van ons is darem nog hier om belasting te betaal. Die prof wat so hoog opgee oor inklusiwiteit, maatskaplike kohesie, die soort van ding; sou meelewendheid hier nie meer van pas gewees het nie? Is dit nie vir hom duidelik dat hierdie brief vervreemding aan die hand gaan werk nie?
Hierdie hele brief van die prof is in appeltjieskil-trant geskryf. Hý wat Jansen is voel gebelgd oor daar Afrikaners is wat ’n Christelike Afrikaanse universiteit in ’n vrye (hopelik) land wil stig; dit sou nou gevaarlik wees, kan jy nou meer. ’n Laaste gedagte. Die Tswanas het ’n spreekwoord wat sê net ware vriende baklei. Dit is tog so; jy sal nooit met ’n vreemde dieselfde soort stryery betrokke raak as met jou hegte vriende en familie nie. Nou is dit ook so dat hierdie brief van die prof die meeste Afrikaners die harnas in gaan jaag en van hierdie groep gaan die meeste swyg, hier en daar gaan ’n ou wees wat die prof openlik in sy moer in stuur maar daar gaan dié wees wat, alhoewel hulle heimlik kook, saam met die prof gaan stem om PK te wees. Die prof moet versigtig vir hierdie laasgenoemdes wees; hulle gee hulle rasbewustheid op die manier weg en gaan nog steeds neuslangs vir hom loer. Die wat baklei sien nie kleur raak nie, net meningsverkille.
Jan Rap

