Pos kan toor
Oop en toe, oop en toe
Die poskantoor se deure waai heen en weer
heen en weer soos die mense kom en gaan
Ellelange rye versier dié klein kosblikvertrek
met talle mense wat wag om hulle gedagtes vry te laat en weg te pos
My gedagtes verdubbel soos selle in my kop
terwyl die wyser stilstaan in die poskantoor
Pos-kan-toor
My brein ontleed stadig dié woord in lettergrepe
en gee self sy eie definisie aan 'n poskantoor
'n Poskantoor, die hawe vir mense se denke
en gedagtes wat vasgepen word op 'n papier
Pos, 'n ongesede boodskap wat die brug van kommunikasie
bou tussen twee mense
Om iets te pos is die vrylating van verseëlde wense
wat toegevou en bewaar word in 'n koevert
Die koevert word hier afgegee in die hoop
dat die ander persoon die boodskap sal ontvang
Stadig beweeg die ry na vore
en met elke tree wat ek gee betree die twyfel my
Moet ek regtig dié brief pos?
'n Antwoord arriveer vir al my vrae en stel my gerus
dat 'n e-pos nie my boodskap sal kan oordra nie
Buitendien sal die moderne era van tegnologie
met verkorte woorde en blanke uitdrukkings
nie ten volle my boodskap kan uitdruk soos ek dit wil hê nie
Hierdie gedagte, hierdie klein gefrommelde koevert
is meer as woorde werd, want ek stuur vir jou 'n papierhart inmekaar gevou
Pos kan toor, want wie sou ooit kon dink dat ek my hart
vir jou sal kan pos en al my liefde in 'n eenvoudige koevert kan toevou
Vandag is 'n wonderwerk ,want vandag het my hart van hierdie hawe vertrek
Ek hoop jy vind my koevert, want ek weet by jou is my hart op die regte plek
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


