Politieke onsekerheid in die Suid-Afrikaanse politiek: ’n "politieke Rubicon" (?) en die pad vorentoe

  • 0

Jy sien, hoor en lees dit elke dag. Die weerklank hiervan in die politieke diskoers van die dag, berigte en gesprekke in die media en sosiale media, asook kommentare oor die dag tot dag gebeure in Suid-Afrika en daarbuite. Wat eens Ramaphoria was, ’n teken van hoop, het verander in onsekerheid, uitsigloosheid en ernstige kommer oor wat die toekoms mag inhou. Wat vroeër ’n reënboog van hoop was, het vir baie verval in politieke ruïnes en eskalerende konflikte (nasionaal en internasionaal) met lang skaduwees wat oor die spreekwoordelike politieke landskap val. Om sake te vererger het Suid-Afrika ’n afwesige president, ’n wanfunksionele regering van nasionale eenheid (RNE), ’n Nasionale Dialoog wat sigbaar besig is om te ontspoor, eskalerende vlakke van korrupsie en misdaad, ’n ekonomie wat besig is om in te plof, maatskaplike uitdagings wat eskaleer, ’n internasionale omgewing waarin Suid-Afrika toenemend die hoë morele grond verloor, asook diskriminerende praktyke wat wetlik gesanksioneer word.

Staan Suid-Afrika aan die einde van ’n politieke era? Het die era van die “reënboognasie” tot ’n einde gekom, of het dit dalk nooit werklik bestaan nie? Staan Suid-Afrika (soos destyds) weer voor ’n politieke Rubicon, soos wat André de Ruyter onlangs beweer het? Wat ook al, bly dit ’n belangrike vraag: Wat kan Suid-Afrika te wagte wees op die pad vorentoe? Hierdie bydrae beoog om ’n perspektief te gee ten opsigte van Suid-Afrika se pad vorentoe. Die huidige politieke landskap sal op ’n baie oorsigtelike en verkennende wyse gerekonstrueer word, waarna die pad vorentoe aangedui sal word. Die fokus val op politieke, ekonomiese, maatskaplike en internasionale kontekste as algemene uitgangspunt. Vanuit hierdie kontekstualisering sal tendense, patroonmatighede en waarskynlike uitkomste geïdentifiseer word.

1. Die politieke konteks

1.1 Staat

In die algemeen kan Suid-Afrika as ’n verswakkende staat beskou word. Eunomix (2020:5–6) het reeds vyf jaar gelede voorspel dat, indien die staatstrajek nie drasties verander nie, Suid-Afrika teen 2030 ’n volledig falende staat soos Nigerië, die Ivoorkus en Bangladesj sal wees. Kriteria wat in hierdie verband in ag geneem is, het ingesluit sake soos verswakkende lewenstandaarde, swak regeerkundige praktyke, korrupsievlakke en wanfunksionele institusionele raamwerke. Die Global Peace Index (vergelyk GI-TOC 2023) se verwysing na eskalerende misdaadsyfers en verhoogde vlakke van georganiseerde misdaad, die inploffing van die strafregstelsel, wanfunksionele owerheidstrukture en die instroming van onwettige immigrante oor Suid-Afrikaanse grense heen, beklemtoon die aard en omvang van staatsverswakking in Suid-Afrika (vergelyk ook Haffajee 2022). Baie onlangs het Business Leadership South Africa (BLSA) by monde van hul hoof- uitvoerende beampte (Busi Mavuso) die risiko en werklikheid van ’n falende staat in Suid-Afrika beklemtoon deur te wys op die verval van noodsaaklike dienslewering, ekonomiese stagnasie en agteruitgang, verlies van staatsbeheer oor krities belangrike instellings, asook verhoogde sosiale onrus en politieke onstabiliteit (Businesstech 2025:1–21).

André de Ruyter het onlangs by ’n Biznews Investment Conference beklemtoon dat Suid-Afrika in ’n ernstige krisis verkeer; dat daar tans die spreekwoordelike “Rubicon-moment” teenwoordig is; en dat president Ramaphosa slegs enkele maande het om die nodige stappe te neem om die politieke bestel op ’n nuwe trajek te plaas. “SONA 2026 really is the last opportunity for business unusual,” aldus De Ruyter (Libera 2025).

1.2 Misdaadstaat

Die omgewing van ’n verswakkende staat en wat daarmee geassosieer word, skep ’n gunstige omgewing wat bevorderlik is vir toestande wat met misdaadstate of Pakhanate geassosieer kan word. Kriteria wat hier belangrik is, sluit in hoë vlakke van misdaad en georganiseerde misdaad, ’n wanfunksionele strafregstelsel en samewerking/samehang tussen politieke en misdadige elites. Toegepas op die Suid-Afrikaanse konteks, kan Suid-Afrika inderdaad as ’n misdaadstaat beskryf word.1 Talle bewysgronde bestaan in hierdie verband, waarvan die Zondo-kommissie van ondersoek se bevindinge belangrike getuienis ter bevestiging is. Sentraal binne die misdaadstaat staan die ANC, regimekaders en sindikate wat volgens generaal Mkwanazi funksioneer tot op die hoogste vlakke van die polisiediens.2 Talle senior ANC-leiers was of word geïmpliseer in wat vroeër as staatskaping ondersoek is en wat vandag steeds prominent binne ’n Suid-Afrikaanse konteks aan die orde is. Buiten ANC-lede, impliseer Mkwanazi in sy getuienis voor die Madlanga-kommissie ook die minister van polisie (Senzo Mchunu), voormalige minister van polisie (Bheki Cele), Nathi Mthethwa, parlementslede, sakelui, asook die presidensie in inmenging in die optrede van die SAPS (Politicsweb 2025).3 In aansluiting hierby beklemtoon Rob Hersov (Biznews 2025) dat “the ANC didn’t just fail to prevent corruption – they institutionalized it. They turned it into a business model. State capture wasn’t an accident; it was a plan”. Die finansiële waarde van staatskaping word bereken op enigiets tussen R1,5 triljoen en 500 miljard US dollars en gaan steeds voort ongeag bevindinge, verslae, ensovoorts.

Nieteenstaande die soms akkurate projeksies van meningspeilings, was die uitkoms van die 2024-verkiesing nasionaal en provinsiaal ’n groot skok en verrassing vir talle akademici, kommentators en joernaliste (vergelyk Duvenhage 2024a). Veral die regerende ANC is hierdeur onkant gevang. Die trajek van nasionale politiek is herdefinieer en ’n regering van nasionale eenheid (RNE) het na die verkiesing tot stand gekom. ANC-eenpartydominansie wat oor ses termyne gestrek het, is hiermee nasionaal, asook in sommige provinsies (KZN, Gauteng en in mindere mate die Noord-Kaap) beëindig. Hou verder in gedagte dat die 2021-plaaslike verkiesing reeds sowat 70 hangrade opgelewer het en dat talle koalisies gesukkel het om hul grondwetlike mandaat in ’n funksionele opsig te vervul. Hiervan getuig die groot getal provinsiale en nasionale ingrypings ooreenkomstig artikel 139 van die grondwet, wat meestal onsuksesvol was. Afhangende van watter kriteria gebruik word, word tussen 60–80% van plaaslike regerings as wanfunksioneel geag. Johnson (2015:57) het reeds ’n dekade gelede na ANC-munisipale bestuur verwys as “institutionalized looting”. Inderdaad het die politieke landskap oor die laaste jare fundamenteel verander en lê hef aan skynbaar nog voor in die opbou na die 2026/7-plaaslike regeringsverkiesing.

Dit was dus nie verbasend gegewe plaaslike koalisie-ervarings (Wes-Kaap in ’n mindere mate) dat die RNE van krisis tot krisis voortgestrompel het met verskeie lede van eersgenoemde regering wat nie eens die gedagte van ’n Nasionale Dialoog van die president ondersteun het nie. Met ’n staatshoof vasgevang in die binnegevegte en dinamika van sy eie party, ’n erg verdeelde RNE en met staatkundige, ekonomiese en maatskaplike uitdagings wat nie na behore hanteer word nie, versleg omstandighede bykans daagliks.

Dit word ook toenemend duidelik dat Suid-Afrika tans polities-regeerkundig bestuur word vanuit ’n uitgediende en verouderde verwysingsraamwerk of paradigma. Hierdie raamwerk impliseer die Nasionaal Demokratiese Rewolusie-idee (NDR), met transformatiewe praktyke wat hieruit gegroei het (B-BBEE en ekwiteit) wat oor drie dekades heen die land oor die afgrond geneem het met ’n patroon van institusionele en politieke verval as belangrike uitkoms.

’n Studie van die Vryemarkstigting en die Solidariteit Navorsingsinstituut het onlangs in ’n verslag bereken dat swartbemagtigingspraktyke (B-BBEE)4 die Suid-Afrikaanse ekonomie R5 triljoen gekos het, met werksverliese tot soveel as viermiljoen (Daily Investor 2025:1–9). BEE-praktyke benadeel ook ekonomiese groei met tussen 2% en 4% per jaar, terwyl die jaarlikse werksverliese op 192 000 per jaar bereken word. Die verslag meld onder meer soos volg: “Our findings show that BEE, as currently designed, is enriching a small elite while throttling economic dynamism and deepening unemployment” (Daily Investor 2025:1). In aansluiting hierby wys William Gumede (’n gerespekteerde akademikus) (in Daily Investor 2025:3) daarop dat “(c)onservatively, R1 trillion has been moved between under a 100 people since 1994. The same people have been empowered and re-empowered over and over.” En verder: “South Africa’s BEE model has created a model of corruption because people set up companies just to get a contract.”

Elitisme en korrupsie eerder as voetsoolvlak-bemagtiging (die aanvanklike motivering, doelstelling en vertrekpunt van swart ekonomiese bemagtiging) was die presiese omgekeerde uitkoms van dit wat aanvanklik in die vooruitsig gestel is. Wat baie duidelik geblyk het, is dat ANC-leiers en politieke elite (soms in samewerking met tenderpreneurs) deel van hierdie bevoordeling was wat uiteindelik in vorme van staatskaping geëindig het (PARI 2022:1–6).

Hierdie problematiek is egter nie net regeringsgedefinieer nie, maar raak die groter regime, nie-regeringsinstellings (soos Eskom, Transnet, die poskantoor, ensovoorts) en selfs instellings binne die groter burgerlike samelewing. In die sentrum van bogenoemde staan die ANC as bevrydingsbeweging in regering/regime met sy ideologiese verbintenis aan bogenoemde paradigma (vergelyk Duvenhage 2021:713–37). Selfs binne die raamwerk van die RNE (na die nederlaag van die 2024-nasionale en -provinsiale verkiesing) word hierdie denkpatroon gehandhaaf. Die party en sy leierskap word ook nie net geassosieer met bogenoemde ideologiese raamwerk nie, maar ook met eskalerende endemiese en sistemiese korrupsie (staatskaping) waarin die Zondo-kommissie van ondersoek (asook talle ander kommissies, ondersoeke en hofsake) wesenlike ongerymdhede blootgelê het.5 Dit is derhalwe nie verbasend nie dat Naledi Pandor onlangs genoem het dat Suid-Afrikaners met “minagting, afgryse en skaamte” na die ANC kyk. Op sy beurt het Senzo Mchunu (die geskorste minister van polisie, Ramaphosa-vertroueling en invloedryke ANC-lid) genoem dat die party as gevolg van interne konflik hom op die rand van ’n afgrond bevind. Malusi Gigaba (’n voormalige vertroueling van Zuma en gewese minister) het ook daarop gewys dat leierskap binne die ANC sedert 2017 “te koop” is. Met bogenoemde as agtergrond, kan daar met reg gevra word waar die ANC as regering vandag staan.

1.3 Die ANC in regering

Waar die ANC in 2004 69,69% van die nasionale steun getrek het, het dit tydens 2019 tot 57,5% gedaal en in 2024 tot so laag as net onder 40%. Onlangse meningspeilings (tussen Maart en Julie 2025) van beide die SAIRR en die DA beklemtoon dat die party se steun nog verder kan daal, tot selfs onder 30%. Hierdie peilings beklemtoon dat die ANC minderhede kan verwag in al die metropole in Suid-Afrika, met steun vir die DA in Tshwane so hoog gemeet as 48%. Talle ander plaaslike regerings sal na alle waarskynlikheid in ’n vorm van koalisiepolitiek eindig, met eiesoortige dinamika en selfs onstabiliteit wat in die vooruitsig gestel kan word. Soos wat die 2024-verkiesing gestaan het in die teken van fundamentele verandering, beloof die 2026/7-plaaslike verkiesing om ’n soortgelyke impak, maar net op ’n ander politieke vlak te hê. Dit mag selfs die einde van ANC-hegemonie op hierdie vlak beteken.

Met die ANC waarvan die steunbasis ’n versnelde, dalende trajek vertoon en ’n 2026-plaaslike verkiesing (met die ANC wat gewoonlik plaaslik swakker presteer as op nasionale vlak) is die organisasie se eens hegemoniese posisie besig om drasties te verswak. Die moontlikheid bestaan selfs dat die instelling in sy huidige vorm (in uiterste geval beskou, maar onwaarskynlik) op die langer termyn kan verdwyn of vorentoe as onderdeel van ’n groter alliansie sal moet funksioneer.6 Die binnegevegte wat tans binne die ANC woed, swak leierskap en eskalerende en endemiese korrupsie plaas die organisasie voor sy grootste uitdaging sedert hulle die bewind in 1994 oorgeneem het. ’n Verswakkende ANC en ’n breër hersamestelling van die politieke spektrum maak die uitkomste van verkiesings ook meer onseker en skep patrone van onstabiliteit waarin die groter staat en regime in effektiewe en funksionele terme besig is om te verswak.7

Die samehang van ’n verswakkende staat, regime en ’n regerende party (dominant binne die RNE) met ’n verdere onderskeidende kenmerk van ’n misdaadoriëntasie, raak nie net die demokratiese bestel en sy funksionering nie, maar die wese van die staat as staat. Dit moet saamgelees word met die verswakkende ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika wat reeds vir meer as ’n dekade aan die orde is.

2. Die ekonomiese konteks

Die perspektief van RW Johnson (2015:243) dat “[...] South Africa can either choose to have an ANC government or it can have a modern industrial economy” blyk toenemend waar te wees binne die huidige tydperk. Met ’n ekonomie wat oor die laaste dekade min of meer gemiddeld teen ongeveer net 1% gegroei het (0,7% is die amptelike syfer); patrone van de-industrialisering (die sluiting van aanlegte by ArcelorMittal (AMSA), uitdiensstelling van werkers by Glencore Operations, asook die Ford-motormaatskappy en talle mynbedrywighede dien as voorbeelde); die vlug van kapitaal en besighede uit Suid-Afrika (Shell, Good Year is onlangse voorbeelde); ’n beperkte en selfs verkleinende belastingbasis maar ’n vergrote lading, veral op die sosiaal-maatskaplike terreine (onderwys, gesondheid en maatskaplike toelaes); buitelandse skuldlas wat teen ’n versnelde tempo tans eskaleer; hoë vlakke van werkloosheid (van die hoogste ter wêreld), beklemtoon die negatiewe aard van ekonomiese omstandighede in die huidige Suid-Afrika (vergelyk Rossouw 2022 in hierdie verband).

Onlangs het Lesetja Kganyago (president van die Reserwebank) verwys na “a looming disaster” ten opsigte van staatsfinansies in die algemeen en Suid-Afrika se buitelandse skuldlas in besonder. In 2009 het Suid-Afrika se skuldlas sowat 26% van die bruto binnelandse produk (BBP) beloop. Tans staan die syfer op sowat 76%, wat beteken dat die betaling aan rente daagliks sowat R1,2 miljard beloop. (Dit is sowat 20 sent in elke belastingrand wat aan buitelandse skuld betaal word.) Kortom, daar is nie meer geld nie en verdere lenings het onbekostigbaar geword. Anders gestel: “The government has run out of money” (Jacobs 2025:1–8). In die woorde van Hersov: “This is not a developing economy – this is a dying economy” (Biznews 2025).

In samehang met die voorafgaande het Solidariteit onlangs verwys na ’n “bloedbad van afleggings” wat gerealiseer het (Maroela Media 2025:1–5). Onlangs het Glencore Operations aangekondig dat 6 000 werkers ontslaan gaan word, terwyl AMSA reeds begin het met die aflegging van sowat 4 000 poste, met die sluiting van sommige langstaalfabrieke wat ook in die vooruitsig gestel word. Onderliggend aan hierdie “bloedbad van afleggings”, skynbaar net die begin, is faktore soos stygende elektrisiteitskoste; Eskom se tariefstruktuur; die ineenstorting van Transnet se spoorwegstelsel, asook die regering se onvermoë om mededingende toestande te skep vir die bedrywe om mededingend te funksioneer en te oorleef. ’n Verdere 2 425 direkte poste (17 000 indirekte poste en 155 000 afhanklikes word hierdeur geïmpliseer) kan by Glencore in die slag bly indien verdere oonde permanent of tydelik gesluit moet word (Maroela Media 2025:1–5). Dirk Hermann (2025), bestuurshoof van Solidariteit, het onlangs beklemtoon dat Suid-Afrika in die huidige proses van afleggings tot soveel as 250 000 werksgeleenthede kan verloor.

Onderliggend aan hierdie uiters negatiewe ekonomiese uitkomste is die transformasieprojek (as uitkoms van die Nasionaal Demokratiese Rewolusie-idee), wat deur middel van rasgebaseerde wetgewings (141 volgens die SAIRA), met as fokus swartbemagtiging en ekwiteit, sentralisties deur ’n ANC-gedomineerde regering en groter regime toegepas en gereguleer word. Demografiese verteenwoordiging op ’n rassebasis vorm die grondslag van rastransformasie. Nie net is transformasie inherent rassisties nie, dit gee ook aanleiding tot ’n vlug van kundighede en vaardighede noodsaaklik vir ekonomiese groei en ontwikkeling. Met ’n verswakkende staatsomgewing, wat beteken dat noodsaaklike dienste telkens nie gelewer kan word nie, infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie en ’n transformasieprojek wat indiensneming op grond van rasseverteenwoordigendheid hanteer, is ekonomiese groei moeilik bereikbaar. Die ontplooiing van kaders deur die regerende party is bydraend tot kundigheidsverliese enersyds en diskriminerende praktyke andersyds. Dit verskaf ook ’n belangrike grondslag vir korrupsie en nepotisme, wat bydraend is tot staatskaping (sistemiese en institusionele korrupsie), wat diepgaande deur die Zondo-kommissie ondersoek is en waarin die ANC as organisasie en sy leierskap telkens geïmpliseer is.8

Om sake te vererger word rassetransformasie met verteenwoordigendheid as norm nou ook op die private ekonomie van toepassing gemaak. Dit hou verreikende implikasies in vir ekonomiese groei en ontwikkeling. Die perspektief is dat die “privatisering van transformasie” verreikende negatiewe implikasies vir die ekonomie gaan inhou en word reeds sterk teengestaan binne Suid-Afrika (Sakeliga is ’n voorbeeld), asook sanksies vanuit die VSA as gevolg van talle redes wat diskriminasie teen minderhede insluit.

Met die polities-staatkundige konteks as makro-raamwerk, transformasie as politieke ideologie en sistemiese en endemiese korrupsie wat hiermee geassosieer kan word, bestaan ’n stel toestande wat negatief inwerk op ekonomiese groei en investering in die land en ’n onvermoë om maatskaplike vraagstukke aan te pak. Kortom, die ekonomie word tot stagnasie gedwing met ’n negatiewe impak op steeds groter en eskalerende maatskaplike vraagstukke.

3. Die maatskaplike konteks

Bogenoemde politieke en ekonomiese kontekstualisering beklemtoon dat maatskaplike omstandighede sleg behoort te wees, soos wat dan ook die geval is ten opsigte van misdaad, maatskaplike ongelykheid, armoede en werkloosheid. Die 2023-Global Organized Crime Index het Suid-Afrika saam met state soos Venezuela, Afghanistan en El Salvador onder die toptien-state geplaas wat georganiseerde misdaad en gewone misdaad betref (GI-TOC 2023). Wat beide kategorieë betref, was Suid-Afrika sewende op die lys. Verder het ’n verslag van Global Initiative (“Mapping organized criminal economies in East and Southern Africa”) Suid-Afrika geïdentifiseer as ’n nodale punt ten opsigte van georganiseerde misdaad in die streek en ook in die wêreld. So byvoorbeeld word heroïen vervaardig in Afghanistan/Pakistan/Iran (en andere), verskeep na Somalië, waarvandaan dit na Oos- en Suider-Afrika versprei word. Trajekte vir die smokkelhandel in ivoor en renosterhoring word ook deur die verslag uitgewys. Dit is interessant dat die uitsprake van generaal Mkwanazi (waarna vroeër verwys is) praat van ’n dwelmkartel in Gauteng waarin politici, lede van die SAPS en kriminele sindikate en individue geïmpliseer word. Hierdie toedrag van sake beklemtoon die bestaan van die “misdaadstaat” waarna ook vroeër verwys is. In die periode 2020–2022 (drie jaar) is 154 896 moorde in Suid-Afrika deur misdaadinligting blootgelê. Die getal mense wat tydens misdaad in Suid-Afrika jaarliks sterf is soms meer as die getal mense wat gedood word in state waar aktiewe burgeroorloë aan die gang is.

Met ’n ekonomie wat oor die laaste dekade slegs 0,7% gegroei het, ’n werkloosheidsyfer van 31,9% en 13,2 miljoen mense wat in absolute armoede leef (minder as 2,15 US dollar per dag) is die sosiaal-maatskaplike uitdagings ’n groeiende en eskalerende probleem (Statista Research Department 2025:1). Dit is verder algemeen bekend dat sowat 28,7 miljoen burgers toelaes van die staat ontvang. Dit maak 44% van die totale bevolking uit en sluit die omstrede Covid-19-toelaes in (Libera 2024:1–4). Suid-Afrika het sowat 1,7 miljoen studente op tersiêre vlak waarvan 542 000 NSFAS-beurse ontvang. Volgens die Gini-kwosiënt is Suid-Afrika boonop een van die mees ongelyke state ter wêreld wat inkomste en rykdom betref.

Ten slotte word die internasionale konteks oorsigtelik aangeraak.

4. Die internasionale konteks

Na afloop van die beëindiging van die apartheidsbedeling (1994) was Suid-Afrika die gunsteling van die wêreld en het miljarde se hulp en ander vorme van ondersteuning die land ingestroom. Oor die drie dekades heen het die situasie nietemin verander en Suid-Afrika is tans toenemend besig om weer die spreekwoordelike muishondstatus te verwerf. Hoewel nog nie op die vlak van die apartheidsbedeling nie, is daar toenemende teenkanting teen Suid-Afrika se binnelandse en buitelandse beleid, veral vanuit die Weste of Westers-georiënteerde state. In hierdie verband staan die volgende uit:

  • Suid-Afrika se verhoudings met die tradisionele vyande van die Weste, soos Rusland, China, Iran, Kuba en Noord-Korea, ten spyte van baie sterk handelsbande met die Weste wat soms voorkeurbehandeling (lees die AGOA-ooreenkoms9) insluit.
  • Die saak wat Suid-Afrika by die Internasionale Strafhof teen Israel aanhangig gemaak het na die 7 Oktober 2023-inval in Gaza. Dit het tot sterk reaksie van veral Israel en die VSA gelei, en teenoptrede word in die vooruitsig gestel. Die opskorting van gesondheidshulp (USAID) is ’n verdere voorbeeld van optrede teen Suid-Afrika in hierdie verband.
  • In 2023 is Suid-Afrika deur die Financial Action Task Force op die sogenaamde “gryslys” geplaas. Die plasing het betrekking op state wat betrokke is by die ondersteuning en/of finansiering van terreur en terreurorganisasies (Burger 2023:1–3). Dit is baie negatief vir ekonomiese en finansiële investering in Suid-Afrika.
  • Suid-Afrika se betrokkenheid by die subkontinent met sake soos die konflik in die DRK, georganiseerde misdaad, vreemdelingehaat en optrede teen buitelanders in Suid-Afrika reflekteer negatief op Suid-Afrika se beeld op die subkontinent.
  • Kritiek teen Suid-Afrika se binnelandse beleid (diskriminasie teen minderheidsgroepe, plaasmoorde, B-BBEE in die toepassing daarvan) word tans baie negatief deur die VSA opgeneem met as uitkoms verhoogde handelstariewe en die moontlike opskorting van voordele wat Suid-Afrika onder AGOA geniet het. Hierdie perspektief versprei ook na ander Westerse lande waar talle konserwatief-georiënteerde regerings die bewinde oorgeneem het, met ’n baie sterker en meer kritiese houding jeens die ANC en korrupsie.

Daar bestaan geen twyfel dat Suid-Afrika se posisie internasionaal oor die laaste paar jaar drasties verswak het nie. Om reeds te praat van ’n muishondstaat is waarskynlik nog te vroeg. Wat wel baie duidelik is, is dat die internasionale wittebrood van die Mandela- en Mbeki-eras iets van die verre verlede is en dat Suid-Afrika toenemende weerstand vanuit die Weste gaan beleef. Verder gaan Suid-Afrika se Brics-affiliasie duidelik nie sonder politieke, ekonomiese en internasionale implikasies wees nie. Trump het reeds aangedui dat hy Brics-state met ’n verdere 10% op handelstariewe, dit is benewens bestaande handelstariewe, gaan straf. Suid-Afrika sal nie ’n uitsondering wees nie. Die AGOA-ooreenkoms (vroeër na verwys) gaan volgens aanduidings ook nie verder tot Suid-Afrika se voordeel verleng word nie.

Uit die voorafgaande verkennende oorsig is dit duidelik dat Suid-Afrika vasgevang is in ’n smeltkroes van verandering; dat die meeste belangrike veranderlikes (indien daar nie dringend remediërende optredes is nie) dui op negatiewe tot uiters negatiewe uitkomste; en dat ’n slegtesaak-scenario ons waarskynlike voorland kan wees. In geen tydperk sedert 1994 is die uitdagings so groot soos juis nou nie; die kapasiteit van die staat so min nie; en die afwesigheid van leierskap op talle vlakke so duidelik sigbaar nie. Teen hierdie agtergrond kan die vraag met reg gevra word: Wat hou die toekoms vir Suid-Afrika in?

5. Enkele toekomsperspektiewe

Die politieke omgewing (nasionaal en internasionaal) is een van groot onsekerheid en daarom ook moeilik voorspelbaar. Met die internasionale omgewing wat op die rand van ’n wêreldoorlog huiwer en die nasionale politiek waarin ’n nasionale regering en provinsiale regerings (Wes-Kaap uitgesluit) toenemend onder druk verkeer, staan die volgende aspekte uit as van die belangrikste spelreëls wat ons toekoms oor die volgende aantal jare kan bepaal:

  • Die ANC as regering gaan en sal in alle opsigte aan politieke mag probeer vasklou deur gebruik te maak van onder meer sake soos populistiese beleid en uitsprake; die omkoop van kiesers deur maatskaplike toelaes en ander vorme van vergoeding/bevoordeling; die bedryf van rasgebaseerde identiteitspolitiek; en die demonisering van opposisiepartye. Die verlies aan mag op plaaslike vlak (nasionaal gesproke) moet te alle koste vermy word (ooreenkomstig hierdie denkpatroon) en werk in hierdie verband het reeds ’n aanvang geneem.
  • Die ANC se steunbasis volg ’n dalende trajek wat versnel, en met die plaaslike verkiesing van 2026/7 bestaan daar sterk aanduidings dat die ANC se steun selfs laer kan daal as die bykans 40% op nasionale vlak soos verwerf tydens die 2024-verkiesing. Die verlaagde steunbasis word nie net in meningspeilings voorsien nie, maar ook deur analiste wat kontekstueel en ingevolge historiese analogie na die ANC kyk.
  • Die ANC is tans uiters verdeeld, met ’n opvolgstryd (om Ramaphosa te vervang) reeds aan die orde. Die moontlikheid is sterk dat ’n opvolger vir Ramaphosa vanuit die linkerkant van die ANC kan kom, dit wil sê meer progressief, radikaal en populisties in oriëntasie. Hierdie is die weg na ekonomiese stagnasie en politieke onstabiliteit waarna vroeër verwys is.
  • Die ANC is onherroeplik verbind tot die Nasionaal Demokratiese Rewolusie-idee (NDR) en die meer radikale toepassing daarvan (Duvenhage 2021:713–17). Tans is dit gerig op die herverdeling van produksiefaktore (grond, kapitaal, arbeid en onderneming) in die strewe na algemene maatskaplike gelykheid. Talle ANC-resolusies en gepaardgaande wetgewing is in hierdie tyd aanvaar as grondslag vir die sistematiese volvoering van die NDR. Ongeag die ekonomiese en maatskaplike implikasies van transformatisme (die NDR in toepassing) soos hier aangedui, sal die ANC onwrikbaar hierby staan, al impliseer dit vorme van diskriminasie, die ondermyning van die grondwet (onteiening sonder vergoeding, ensovoorts), asook internasionale sanksies. Die eerste stappe ten opsigte van sanksies is reeds deur die Trump-administrasie geneem en wetgewing in die Amerikaanse kongres kan spoedig volg.
  • Die transformasieprojek van die ANC vorm deel van die genepoel van die instelling soos wat apartheid destyds deel van die ou Nasionale Party (NP) was. Anders egter as die NP wat van apartheid wegbeweeg het, is daar geen teken dat die ANC gaan afstand doen van hul verbintenis tot transformasie nie – allermins in die nabye toekoms. Ongeag uitkomste soos politieke en institusionele verval; ekonomiese en infrastrukturele agteruitgang; korrupsie en nepotisme; en eskalerende maatskaplike uitdagings, sal hierdie verbintenis mees waarskynlik gehandhaaf word. Die belofte van ekonomiese marginalisering en vorme van sanksionering as uitkoms van die toepassing van transformasie is geensins uitgesluit in die afsienbare toekoms nie.
  • Die RNE is ’n doodgebore koalisie met ’n onvermoë om leierskap te kan gee in hierdie uitdagende tye. Dit is hoogs waarskynlik dat die huidige RNE nie sy termyn (2024–2029) sal voltooi nie, met uitkomste soos ’n radikaal-linkse koalisie met vennote soos die EFF, IVP en selfs MK om beslag te gee aan die tipe koalisiepatroon wat tans in Gauteng-provinsie vaardig is. Die voortgang van die status quo, hoewel meer onwaarskynlik, beteken ’n verswakte regering wat nie noodsaaklike polities-regeerkundige besluite kan neem om die land te lei in hierdie moeilike en onseker nasionale en internasionale omgewing nie. Die verwydering van Ramaphosa en die moontlike val van die RNE maak selfs ’n vervroegde verkiesing moontlik, of strategiese samewerking met die MK-party (ondersteun deur Lesufi en ander radikales) om sodoende ’n parlementêre meerderheid te verseker. Laasgenoemde is afhanklik van die verwydering van Ramaphosa as president en geen optrede teen staatskaping nie, soos bevind deur die Zondo-kommissie van ondersoek. Hierdie weg is moontlik, sou Paul Mashatile (verbind aan [beweerde] ernstige vorme van korrupsie en wanpraktyke) die leierskap by Ramaphosa oorneem. Dit plaas die regering van die dag as ’n uiters radikale en linkse politieke regering met die potensiaal vir groot konflik en verset as moontlike uitkoms.
  • Omvangryke politieke en institusionele verval in samehang met swak dienslewering, asook ekonomiese en finansiële uitdagings is nie net bevorderlik vir ’n misdaadstaat wat reeds bestaan nie, maar skep omstandighede waarin politieke vakuums bestaan vir de facto outonomie, soos parallelle plaaslike regering (Reddersburg in die Vrystaat is ’n voorbeeld hiervan), maar ook private veiligheidsdienste en die privatisering van dienslewering soos water, elektrisiteit en noodsaaklike instandhoudingsdienste – praktyke wat reeds gevestig geraak het in sekere omgewings waar hierdie “politieke vakuums” bestaan.
  • Die bestaan en voortsetting van dít wat as ’n misdaadstaat of Mafia-staat voorgehou kan word, is ’n belangrike gegewe vir die afsienbare toekoms. Die onderbou van hierdie werklikheid impliseer ’n strafregstelsel wat grootliks wanfunksioneel is en bly; ’n afwesige politieke wil om teen skuldiges op te tree; ’n samehang/samewerking tussen politieke en misdadige elites wat bly voortbestaan; en waar optredes teen staatskaping en ander ongerymdhede (soos bevind deur onder meer die Zondo-kommissie en ander ondersoeke waar die ANC-/MK-/EFF-politieke leierskap geïmpliseer word) hoogs onwaarskynlik is.
  • Die politieke hervorming van ’n misdaadstaat is ook nie moontlik sonder die kompromittering van grondliggende waardes en norme onderliggend aan ’n regstaat of konstitusionele demokrasie nie. Dit is die geval aangesien daar geen gemene grond bestaan op grond waarvan standhoudende ooreenkomste met misdadige elemente binne die staat moontlik is nie. Soos dinge tans staan word die meerderheid senior ANC-/MK-/EFF-leiers verbind aan [beweerde] ernstige kriminele oortredings wat die weg in hierdie verband versper.
  • Die huidige krisis en samehang van talle uitdagings (polities, ekonomies, maatskaplik en internasionaal) is meer as net ’n regeringskrisis wat demokraties by die stembus reggestel kan word. Dit raak nie net die groter politieke regime en die burgerlike samelewing nie, maar die staat as staat. Vandaar die behoefte aan ’n omvattende nuwe paradigma, geskoei op ’n andersoortige grondslag, wat fundamenteel van transformasie van laasgenoemde verskil – die dominante politieke ideologie van die laaste drie dekades.

6. Roetes onderweg na die toekoms

Dit blyk vanuit die voorafgaande kontekstualisering duidelik dat Suid-Afrika by ’n kruispunt of politieke Rubicon staan. Die groot vraag is nietemin watter weg in hierdie verband gevolg gaan word. Hieraan word ten slotte aandag gegee.

6.1 Die Haïti-roete

As die eerste land wat met slawerny weggedoen het, ’n grootliks swart bevolking (met herkoms Afrika), word Haïti dikwels as ’n simbool en pionier van swart vryheid voorgehou. Met patrone van politieke onstabiliteit en sluipmoorde (vier presidente is in onlangse dekades vermoor), eskalerende misdaad en as ’n voorbeeld van ’n gevalle staat, dien Haïti as voorbeeld van juis dít wat te alle koste in Suid-Afrika verhoed moet word. Die ooreenkomste met patrone van politieke onstabiliteit (sluipmoorde en staatsgrepe); ekonomiese agteruitgang en verval; eskalerende misdaad; en die bestaan van ’n misdaadstaat toon groot ooreenkomste met wat tans in Suid-Afrika aan die orde is of besig is om hier te ontwikkel. Soos Haïti, nou die gevalle simbool van politieke vryheid, het dit wat eens die reënboognasie was in Suid-Afrika, ook aan skerwe gespat. Hierdie roete van politieke chaos, die verval van wet en orde, asook ekonomiese verval en agteruitgang is die slegste scenario wat ons kan betree en moet te alle koste verhoed word. Waar praktyke in hierdie verband bestaan moet dit so vinnig moontlik omgekeer word. Die verdere verval van wet en orde en eskalerende patrone van politieke onstabiliteit is die belangrikste rigtingwyser in hierdie verband, wat die uiterste behoefte aan die herstel van wet en orde beklemtoon. Die verslegting van bestaande negatiewe trajekte (polities, ekonomies en maatskaplik) kan onvermydelik tot ’n Haïti-scenario lei.

6.2 Zanufikasie

Hierdie roete verwys na die patroon wat ZANU-PF in Zimbabwe gevolg het sedert die laat tagtigerjare, maar veral in die laat negentigs tot en met vandag. Dit stem in opsigte ooreen met die Haïti-patroon, maar veronderstel sterk en mees waarskynlik nie-demokratiese politieke leierskap. Dit beklemtoon patrone van de-demokratisering; populistiese en radikale beleid en beleid in toepassing (grondonteiening sonder vergoeding); ernstige ekonomiese agteruitgang en verval; en eskalerende maatskaplike vraagstukke waaronder armoede, misdaad en algemene verval, soos geassosieer met die ZANU-PF-bewind sedert veral 1999. Desnieteenstaande het ZANU-PF ongeag die feit dat hulle ten minste twee verkiesings verloor het, politieke mag behou en opposisiegroepe geïntimideer. ZANU-PF het ook verval tot ’n misdaadsindikaat wat enige vorm van wettige en onwettige optrede gebruik om politieke mag te behou en elitebevoordeling te verseker. Tans is die ANC nog nie by hierdie punt nie, maar die tekens hiervan is duidelik daar, en ’n opvolger vir Ramaphosa vanuit die linkerkant van die spektrum met ’n misdadige agtergrond kan hierdie trajek bevorder – veral as dit saamgelees word met populistiese wetgewing wat onlangs deurgevoer is, ekonomiese en maatskaplike uitdagings wat tans bestaan, asook verliese wat reeds by die stembus behaal is en dit wat vir die organisasie in die vooruitsig gestel word. Op sy eie sal die ANC nie hierdie proses kan volvoer nie, maar wel in samewerking met partye soos die MK, EFF en ander kleiner radikale partye. Sodanige bedeling sou effektief neerkom op die opskorting van die 1996-Grondwet en sy werking op grond van demokratiese waardes en norme, of sal dit tot so ’n mate verwater dat dit geen demokratiese substansie meer dra nie. Ook hierdie scenario moet te alle koste verhoed word.

6.3 Die sinkende skip

Hierdie trajek beskryf die voortsetting van die status quo, maar met ’n trajek wat geleidelik al hoe meer negatief raak. Die uiteindelike uitkoms hiervan kan óf die Haïti-trajek wees óf ’n vorm van praetoriaanse politiek (’n veiligheidsingryping van een of ander aard) om orde, stabiliteit en sekuriteit te probeer herstel. Ingebou by hierdie trajek (scenario) is die geleidelike erodering van demokratiese waardes en die verval van wet en orde in die land, asook die vestiging van misdaadstaattendense. In die afwesigheid van sterk leierskap, met wankelende en botsende koalisieregerings, ekonomiese agteruitgang en verval, asook eskalerende maatskaplike uitdagings word besluite gerig op die onmiddellike oorlewing van die status quo en poog die ANC om in alle opsigte aan mag vas te klou. Hierdie status quo dra deur tot en met 2029 met die een of ander vorm van koalisieregering (nasionaal en binne toepaslike provinsies) waarna die mag van die ANC nog verder sal erodeer en verswak. Dit lei ’n nuwe era in en Suid-Afrika word opnuut gekonfronteer met die talle uitdagings soos verduidelik in hierdie teks.

6.4 Die pad van fundamentele hervorming

Daar kan min twyfel bestaan dat Suid-Afrika tans by ’n soort kruispunt of politieke Rubicon staan. De Ruyter vergelyk die situasie tans met dit wat in die laat tagtigerjare in Suid-Afrika bestaan het, en hoe politieke hervorming en uiteindelik ’n nuwe grondwetlike bedeling ’n uitweg gebied het ten opsigte van die krisis van daardie tyd. Op ’n soortgelyke wyse moet daar tans na antwoorde gesoek word ten opsigte van die uitdagings soos geïdentifiseer en om sodoende negatiewe trajekte uit te skakel of sover moontlik te probeer inhibeer met daadwerklike, pro-aktiewe en soms reaktiewe optredes. In verwysing na FW de Klerk, beklemtoon de Ruyter: “Instead of doubling down, he opted for the only course of action open to him. Not only did he do the necessary thing, but he also did the right thing” (Libera 2025).

Duidelik is die uurglas besig om uit te loop en moet groot en indringende besluite vroeër eerder as later geneem word om enige van bogenoemde scenario’s te probeer vermy of te rehabiliteer waar moontlik. Soos wat die NP homself moes losmaak van sy apartheidsideologie en praktyke wat daaruit voortgevloei het, is dit vir die ANC noodsaaklik om sy verbintenis tot die NDR en transformasiepraktyke te beëindig.

Indien enige van bogenoemde negatiewe scenario’s (sommige vinniger as andere) werklikheid word, kan ’n omgewing daargestel word wat verreikende implikasies het vir die staat as staat en nie net die staatsvorm ter sprake nie.

Die volhoubaarheid van die eenheidstaat-gedagte in die eis vir sukses, groei en volhoubaarheid, asook die vorm van staat (unitêr, federaal, selfbeskikking) sou potensieel deel van ’n dialoog, gesprek of byeenkoms kon wees – fundamenteel anders as die ANC se huidige Nasionale Dialoog waarin transformatisme en SEB-praktyke as ononderhandelbaar en selfs as heilige koeie beskou word. Sake wat myns insiens dringende aandag moet kry, sluit in:

  • Die herstel van wet en orde en hiermee saam die optimalisering van die strafregstelsel in ’n funksionele sin. Enige raamwerk wat ekonomiese en maatskaplike kwessies suksesvol wil aanpak, moet eerstens politieke orde, stabiliteit en die toepassing van ’n bepaalde regsorde kan verseker. Dit beteken sterk en drastiese optrede teen tendense en patrone wat met Suid-Afrika as ’n misdaadstaat geassosieer kan word. Die tempo waarteen die staat verswak maak selfs die disintegrasie en balkanisering van die staat ’n scenario oor die langer termyn. Johnson (2015:242) waarsku in hierdie verband as hy dit stel dat “the ANC is fast slipping backward and that even the survival of South Africa as a unitary state cannot be taken for granted”.
  • Die vervanging van die transformasieparadigma (-ideologie) met ’n ekonomiese raamwerk wat groei, ontwikkeling en buitelandse investering kan bevorder. Deregulering, goeie infrastruktuur en sekerheid ten opsigte van eiendom en belegging is hier krities belangrik.
  • Die herstel, opbou en herontwerp van diensleweringstelsels (Transnet, Eskom, poskantoor, Land Bank en andere) soos geassosieer met ’n ontwikkelingsgerigte staat, is van kernbelang. Dit is belangrik dat noodsaaklike dienste bekostigbaar aan nie net burgers nie, maar ook beleggers gelewer kan word om investering in die ekonomie te verseker.
  • In sy huidige formaat is plaaslike regering nie doeltreffend nie. Die hele stelsel van plaaslike regering moet in heroënskou geneem word en moontlik gewysig word om korrupsie en wanpraktyke uit te skakel, funksionele regering te verseker, dienslewering te verbeter en infrastruktuur in stand te hou. Die finansiële volhoubaarheid van plaaslike regering is ’n kernkwessie wat hanteer sal moet word.
  • Net ’n groeiende ekonomie (teen die agtergrond van orde, stabiliteit en sekerheid) sal die regering van die dag in staat stel om maatskaplike vraagstukke soos misdaad, vreemdelingehaat, armoede, ongelykheid en sabotasie teen te werk.
  • Daar sal indringend herbesin moet word of onderwys en gesondheid dít bereik wat in die vooruitsig gestel word en waarvoor daar begroot word. Funksionaliteit, volhoubaarheid en verhoogde standaarde/gehalte is hier van kernbelang.
  • Internasionaal sal Suid-Afrika homself moet posisioneer waar die staat ekonomies die meeste baat vind en nie ’n dienaar bly van uitgediende polities-ideologiese raamwerke soos wat tans die geval is nie. Sterk ekonomiese bande met die Weste en die Ooste is hier van kernbelang.

’n Baie onstabiele tyd lê vir Suid-Afrika voor. Ernstige kommer bestaan tans of regeringslui die erns van die situasie besef en die politieke wil het (soos destyds) om noodsaaklike besluite vinnig te neem. Fundamentele hervorming, “the road less travelled”, blyk hiervolgens die aangewese weg te wees. Myns insiens is die uitdagings tans selfs groter en die risiko’s meer as in die aanloop tot 1994. Hierdie weg is die enigste werklike antwoord indien die negatiewe uitkomste van die ander trajekte verhoed wil word. Twyfel bestaan of die politieke wil en oortuiging binne die ANC bestaan om die beste roete te volg. Hierop is die leierskap van die land (nie net die ANC nie) die burgers ’n antwoord verskuldig met ’n uurglas wat vinnig besig is om uit te loop.

7. Bibliografie

Biznews. 2025. Rob Hersov: South Africa is uninvestable under the ANC. https://www.biznews.com/thought-leaders/rob-hersov-sa-uninvestable-under-anc (15 September 2025 geraadpleeg).

Burger, P. 2023. South Africa has been grey listed for not stopping money laundering and terrorism funding. What it means. The conversation, 26 February. https://theconversation.com/south-africa-has-been-greylisted-for-not-stopping-money-laundering-and-terrorism-funding-what-it-means-200696/ (1 November 2023 geraadpleeg).

Businesstech. 2025. Failed state warning for South Africa. https://businesstech.co.za/news/business-opinion/834512/failed-state-warning-for-south-africa/ (11 Augustus 2025 geraadpleeg).

Daily Investor. 2025. BEE destroyed R5 trillion and 4 million jobs in South Africa. https://dailyinvestor.com/finance/90567/bee-destroyed-r5-trillion-and-4-million-jobs-in-south-africa/ (12 September 2025 geraadpleeg).

Duvenhage, A. 2021. Politieke transformasie in Suid-Afrika: implikasies vir die staat, die ekonomie en samelewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(3):713–37.

Duvenhage, A. 2023. Patrone van onstabiliteit in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing – ’n tendens-ekstrapolasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(4):1–32.

Duvenhage, A. 2024a. Suid-Afrika se belangrikste verkiesing nog. Potchefstroom. Referaat gelewer by die Potchefstroomse Werkgroep van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. (NWU April 2024).

Duvenhage, A. 2024b. Pakhanate-state – ’n konseptualisering, kontekstualisering en Suid-Afrikaanse toepassing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. 64(3):487–517.

Eunomix. 2020. South Africa heading towards becoming a failed state. Al Jazeera, 10 September. https://www.aljazeera.com/economy/2020/9/10/south-africa-heading-towards-becoming-a-failed-state-report (1 November 2023 geraadpleeg).

GI-TOC. 2023. Global organized crime index 2023. https://globalinitiative.net/analysis/ocindex-2023/ (September 2025 geraadpleeg).

Global Initiative Against Transnational Organized Crime. 2022. Strategic organized crime risk assessment South Africa. https://www.scribd.com/document/595885595/GI-TOC-Strategic-Organized-Crime-Risk-Assessment-South-Africa (30 Oktober 2023 geraadpleeg).

Haffajee, F. 2022. South Africa’s organised crime climbs to Italy’s level, racing past Mexico, Somalia and Libya. https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-09-21-south-africas-organised-crime-climbs-to-italys-levels-racing-past-mexico-somalia-and-libya/ (2 November 2022 geraadpleeg).

Hermann, D. 2025. Kwartmiljoen werke kwyt; net die begin. Die Solidariteit Wêreld met Dirk Hermann. Solidariteit. Podsending. Episode 27.

Jacobs, S. 2025. South Africa’s government has run out of money. https://dailyinvestor.com/finance/100426/south-africas-government-has-run-out-of-money/ (3 September 2025).

Johnson, R.W. 2015. How long will South Africa survive? – the looming crisis. Kaapstad: Jonathan Ball.

Joosub, I. 2024. The future of AGOA and its implications for South Africa – a constitutional and economic perspective. https://fwdeklerk.org/the-future-of-agoa-and-its-implications-for-south-africa-a-constitutional-and-economic-perspective/ (31 Maart 2025 geraadpleeg). 

Libera, M. 2024. South Africa’s tax base shock. https://businesstech.co.za/news/finance/804878/south-africas-tax-base-shock (18 Maart 2025 geraadpleeg).

Libera, M. 2025. André de Ruyter sends a warning to Ramaphosa and South Africa. https://businesstech.co.za/news/business-opinion/837541/andre-de-ruyter-sends-a-warning-to-ramaphosa-and-south-africa/ (16 September 2025 geraadpleeg).

Maroela Media. 2025. Golf van aflegging: Glencore volg na Ford, AMSA. https://maroelamedia.co.za/nuus/sanuus/golf-van-afleggings-glencore-volg-na-ford-amsa/ (3 September 2025 geraadpleeg).

PARI (Public Affairs Research Institute). 2022. The Zondo Commission: a bite-sized summary. https://pari.org.za/zondo (2 Julie 2024 geraadpleeg).

Politicsweb. 2025. Nhlanhla Mkhwanazi’s bombshell press conference. https://www.politicsweb.co.za/documents/transcript-nhlanhla-mkhwanazis-bombshell-press-con (6 Augustus 2025 geraadpleeg).

Rossouw, J. 2022. Besprekingsdokument: Kwelpunte in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Bondsberaad van die AB: 16 September 2022.

Statista Research Department. 2025. National Poverty line in South Africa. https://www.statista.com/topics/13122/poverty-in-southern-africa/?srsltid=AfmBOoq4LWZ8tQW-lmcTLRct0tcZj0QpuMcCV9XqMrskIpsGAQWeKQGP (2 September 2025 geraadpleeg).

Zondo Commission. 2022. Final Reports. https://www.statecapture.org.za/site/information/reports (3 November 2023 geraadpleeg).


Eindnotas 

1 Raadpleeg Duvenhage (2024b:487–517) se artikel wat fokus op Suid-Afrika as ’n “Pakhanate-staat” vir meer besonderhede.

2 Op 6 Julie 2025 het die bevelvoerder van die SAPS in KZN, generaal Mkwanazi, beweer dat ’n dwelmkartel vanuit Gauteng ’n hoëvlak misdadige sindikaat beheer met invloed in die SAPS (in besonder misdaadinligting), die ministerie van polisie, parlement, korrektiewe dienste, die regbank, asook die Nasionale Vervolgingsgesag. Spesifieke melding is gemaak van die taakspan wat politieke sluipmoorde ondersoek en die herroeping van dossiere vanuit KZN na Pretoria. (Dit is later teruggestuur!) Die implikasies hiervan was verreikend en die minister van polisie, Senzo Mchunu, is op verpligte verlof geplaas. ’n Regtelike kommissie, sowel as ’n parlementêre kommissie is tans besig met ’n ondersoek in hierdie verband (Politicsweb 2025).

3 In sy verslagdoening voor die Madlanga-kommissie van ondersoek het Mkwanazi drie ministers van polisie geïmpliseer, te wete Nathi Mthethwa (Richard Mdluli); Bheki Cele (Cat Matlala, Feroze Khan); en Senzo Mchunu (Brown Mogotsi, Matlala).

4 Die studie het bevind dat soortgelyke bemagtigingspraktyke in state soos Maleisië, Indië, Brasilië, die VSA en Namibië vergelykend ’n veel kleiner negatiewe impak op die onderskeie state gehad het.

5 Die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal en die Moerane-kommissie van ondersoek na sluipmoorde in KZN is voorbeelde in hierdie verband (Duvenhage 2024b:487–517).

6 Theuns Eloff (2022) het enkele jare gelede reeds daarop gewys dat die ANC oor die volgende sewe jaar (na 2029) kan verdwyn in sy huidige vorm. Dit lyk tans heel moontlik.

7 Politieke onstabiliteit in Suid-Afrika is besig om te eskaleer. Vergelyk Duvenhage (2023:1–32) se artikel “Patrone van politieke onstabiliteit in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing – ’n tendens ekstrapolasie” vir volledige besonderhede oor hierdie tendens.

8 Vergelyk die bevindinge van die Zondo-kommissie in hierdie verband (Zondo Commission 2022).

9 AGOA (The African Growth and Oppurtunities Act) maak dit vir Afrikastate moontlik om sonder die betaling van invoerbelasting met die VSA handel te dryf. In 2022 is bereken dat 2,4% van Suid-Afrika se totale uitvoere binne die raamwerk van AGOA val. Dit raak onder meer die voertuigbedryf (1,4 miljard US$); ferroallooie (368 miljoen US$); sitrusuitvoere (132 miljoen US$); juweliersware (110 miljoen US$); en wynuitvoere (65 miljoen US$) (Joosub 2024). Sterk aanduidings bestaan tans dat die VSA besig is om laasgenoemde ooreenkoms te beëindig.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top