Ek noem haar so omdat sy my herinner aan Mielie. Mielie se regte naam makie saakie want Mielie was maar net Mielie. Die beste en kortste haarkapster wat ek ooit geken het. En die mees goddeloosste en Mielie se gunsteling song was "Beds are burning" en ek onthou hoe sy haar kort effe gesette lyf gewikkel het en hoe selfs die joolkoningin later bloot gestaan ek kyk het. Mielie het my eendag, 'n leeftyd terug vasgedruk en beduie dat sy nou en hier my hare gaan afsny. Protes het nie met haar gewerk nie en die hare waaraan ek vier jaar gekweek het en wat drie keer per dag sorgvuldig gewas en versorg is het soort van nie meer ingepas nie. Borselkop moes dit wees. En tot vandag is Mielie die enigste van twee mense wat ooit die voorreg gehad het om my hare te skeer. Maar ek moes vir Mielie koebaai se want sy het die fout gemaak om saam met 'n dronk man in 'n kar te klim en hulle het haar geskende liggaam opgetel. Uitgeslinger deur die agterruit. Maar dis 'n storie vir 'n ander dag....
So sien ek die kort vroutjie uitsukkel uit die rooi kar uit en met die aanstap, armpies so wyd uitmekaar en kort haartjies onnet gekap herken ek haar. Tjalie tipe baadjie wat gedurig toegetrek word om die groot borste. Gryskop mannetjie wat haastig agterna trippel. sy groet en ek herken haar nie dadelik nie maar toe sy omhels toe weet ek dis Pokkel. Jy weet mos wat jare aan mense doen, buiten die ooglopende. Jare laat mens mos uitvra oor waar en hoe en wat nou en sy beduie dat sy die trokke moes verkoop want ons weet mos almal dat die ekonomie druk.
Want sien, Pokkel is 'n ekspert met vervoer. Meubelvervoer. As jy 'n rusbank wil vervoer van die Kaap tot in Koekenaap sal sy vir 'n minuut staan en sommer gou vir jou 'n kwotasie uitwerk wat dit min of meer sal kos en jy kan maar weet sy sal akkuraat wees tot die naaste R10. Ek vra oor die trokke en sy beduie vir my dat sy die goed moes verkoop want vrou alleen kan jy doodgewoon nie die las dra van drywers en agterryers en bande en dan die enjin wat oppak en jou R200 000 uit die sak gaan jaag nie. Pokkel beduie vir my dat sy die trokke moes verkoop feitlik as skroot want geld vir nuwe enjin het sy nie gehad nie.
Ek gee vir haar 50 skulpdiere want dis waarvoor sy hiernatoe kom as ons klaar hello gese het en ek gooi 'n lang glas en sy beduie ek moet baie ys gooi want al moet sy nie bestuur nie moet sy wakker wees want die pad noorde toe is lank en daar is koedoes innie nag. Ek vra haar waarnatoe nou en of ekke kan help want ek ken darm vir Manny en John en vir Manfred en 'n paar ander wat groot menere is in die vervoerbesigheid en sy beduie nee, sy is klaar met transport want dis 'n keelafsny besigheid. Cutthroat seg die rooies.
Ons praat oor die ou dae toe besigheid nog goed was en almal met blink karre kon rondry en sy beduie na die bottel droee wit en keer vir skraal manlief want hy moet nog ver ry. Ek beduie vir die Tobasco en suurlemoene en sy raak hartseer want sy mis die Blou Dam en sy hou nie van die dorre vlaktes nie.
Ek vra vir Pokkel warnatoe hiervandaan en sy beduie dat sy gaan groente en vrugte verpak en pakkies gaan verkoop. "Mense maak baie geld daarmee." Mens kan bestaan maak daarmee maar om vorentoe te gaan moet jy groot geld uithaal probeer ek wal gooi want ek weet dat vrugte en groente 'n bliksem is as jy nie weet wat jy doen nie.
"Ja, dis waar, maar ek gaan dit net vir tyd en wyl doen. Ek beplan klaar om te broker. Ek is besig met my eie webtuiste en ek gaan maar doen wat ek beter van weet: Vervoer.Dis in my bloed. Ek ken dit."
Ek sit en dink aan mense wat in sak en as sit en dan by die gesiglose staat loop aanklop. Mense sonder trots. Sy pak die kosbare boksie skulpdiere sorgvuldig weg want sy se sy het 'n plan daarmee vir later die aand. Ek groet haar en sy waai tot ek later nie meer die ou kar kan sien nie en ek sit en dink dat hierdie tipe mench deesdae baie baie dun gesaai is.
oester

