Poel van vergeefse sweet

  • 0

Titel: Snoeiskêr
Outeur: Piet Steyn
Uitgewer: Tafelberg
ISBN-nommer: 9780624046479
Publikasiedatum: June 2008
Aantal bladsye: 256


Klik op die omslag van die boek om jou eksemplaar by kalahari.net te bestel.

Lank gelede ontvang ? vriend van my ? werkstuk terug, nagesien. Bo-aan het die dosent kommentaar gelewer. Hy het die woord power neergeskryf met ? punt van iets soos 15 uit 50. Toe bedink die dosent hom, of kry ? skielike gevoel van simpatie vir sy student, wat terugskouend erken het hy het ? paar vrae ge-“spot”, en trek power dood. Langsaan skryf die dosent swak. Ek sweer dis die waarheid.

Snoeiskêr, die debuut van Piet Steyn, is nie swak nie, want die hedendaagse beleid is uitkomsgebaseerd, en dit beteken verkope. Dit is ongetwyfeld die beste roman oor ? reeksmoordenaar in Afrikaans. En die enigste.

Gerhardus Duimelaar, nee, eintlik Pine Pienaar, Transvaalse rekordhouer as voorry en speurder in die SAPD, en sy span misfits kry opdrag om ’n oud-Recce wat kop verloor het, vas te trap. Die oud-Recce se agtergrond en motiewe vir die moorde word met tussenposes stuk-stuk aan die leser deurgegee, ? getoetste en geslaagde manier van storie-vertel, ook hier.

“Duime” maai mense links en regs af sonder enige merkbare patroon, behalwe die volgende: elke slagoffer se duime is morsaf gesny met die een of ander stuk tuingereedskap. Is dit ? grafie, ? skoffel, of ? “weed eater”? Sien die titel vir meer besonderhede.

Die grootste kwelpunt is dat dit lyk of die skrywer ? paar vrae ge-“spot” het en nie die harde navorsingswerk, die voorbereiding en opswot, gedoen het nie. Daar is te veel Wikipedia en te min binnekennis en dit is my gevoel dis waarom verskeie tonele, byvoorbeeld waar ? groep polisiebeamptes ? saak bespreek, nie oortuig nie. Hier kan jy sekerlik Deon Meyer noem, wat in elke boek erkenning gee aan deskundiges wat hom bygestaan het. Pleks daarvan om ? Meyer-Steyn-vergelyking te tref (want dit sal nie regverdig wees nie – die een is ? gevestigde sukses, die ander ? debutant) verlang ek steeds ? rede waarom ek eerder Snoeiskêr langs my bedkassie moet hê pleks van ? Connelly. En jy móét Snoeiskêr met Amerikaanse romans vergelyk, want dis waarna dit streef. Die Yanks het ? lekker uitdrukking hiervoor: “half-assed”. ? Ander Amerikaanse uitdrukking, terloops, is “two thumbs up”. Dat dit in Afrikaans geskryf is, is ongelukkig nie meer genoeg nie. Afrikaans is ten beste ? medium. Dis waarom, vermoed ek, al hoe meer Afrikaanssprekendes ? Engelse dagblad lees eerder as Die Burger, wat goed bedoel, maar nie weet wat dit bedoel nie.

In ander gedeeltes van die boek is dit asof Steyn wegskram van die realiteit waarin Suid-Afrika hom bevind. Snoeiskêr bly fiksie, maar die milieu is Suid-Afrika, en sy boek handel oor ? reeksmoordenaar. Die goedige Pine en sy span staan nie ’n kat se kans nie. Topspeurders sit met 40 tot 150 dossiere. Gaan kyk in enige streekhof: dis so te sê kinders wat van die selle die hof in begelei word en die klag is, op enkele uitsonderinge na, moord. Kyk na die strak, uitdagende uitdrukking op daardie beskuldigdes se gesigte, oë wat wil moor. Dís vreesaanjaend en dís waarmee ons sit.

Ek volstaan met ? paar voorbeelde van waarom ek Snoeiskêr nie glo nie. Een daarvan skep van meet af die toon van die roman. Duime grawe rond in sy bakkie se paneelkissie (as jy nie ? Afrikaans-eerstetaalspreker is nie, sal jy daardie sinsnede nooit verstaan nie), freneties op soek na ? kalmeermiddel, Valium of Prozac. God se waarheid, Prozac?

? Speurder, ene Giel, word in alle opsigte voorgestel as ? hippie. Tog dra hy ? Diesel-T-hemp. ? Hippie sal net so min Diesel dra as Manto Pep Stores-haarverlengings. Ons almal weet dis pure perd.

Die Blackie-karakter, ook ? speurder, lewer geen noemenswaardige bydrae tot die verhaal nie. Van sy beweerde kundigheid met rekenaars is daar geen aanduiding nie. En tydens die klimaks is hy wel betrokke, maar slegs as teiken. Dan word ? hele toneel boonop gewy aan Blackie se Hollywood B-movie-suster, van wie se lyf meer detail verskaf word as Pine se hele karakter. Wat soek Beverley-Leigh in die eerste plek in die polisiekommissaris se kantoor? Niemand sal ooit weet nie.

Reeksmoordenaars, fiktief of feitelik, toon dikwels ooreenkomste, maar Duime toon ál die eienskappe – hy is die bloudruk van ? reeksmoordenaar: die traumatiese insident tydens sy kinderjare, marteling van diere, die “calling card”, die moor van mans én vroue – en dan, sommer teen die einde, sonder enige aanloop, leidraad of waarskuwing, kry ons reeksmoordenaar ? Bybel-bliksem-streep. Van waar Gehasi?

Dat Steyn voorheen Meyer se romans onder oë gehad het, blyk uit ? passasie wat direk reageer op Meyer se antiheld-karakters, gewoonlik polisiebeamptes. Die ironie is dat die leerling die meester aanvat op ? oneerbiedige manier, en neerhalend verwys na Meyer se suksesvolle prototipe, terwyl die verhaal-leemtes en afwesigheid van karakters van vlees en bloed in Snoeiskêr Steyn allermins toelaat om sulke kritiek te lewer. Dis ? afgesaagde manier om geloofwaardigheid te gee aan tonele wat hierdie leser koud gelaat het.

? Leser verwag kinkels in ? spanningsverhaal, maar die kinkels moet af en toe gebaseer word op logika – jy moet kan terugdink en lekker besef: nou is ek darem waaragtigwaar met ? slap riem gevang! En dan konsentreer jy selfs beter, lees jy meer intensief, want miskien het jy reeds een of twee daaropvolgende leidrade gemis. Nié dat een van die hoofkarakters, ? verslaggewer wat die moorde halfhartig ondersoek en amateuragtig daaroor verslag doen, se vervreemde man, wat betreklik onlangs ná die Irakse inval sekerheidswerk daar doen, toevallig ? foto van Duime besit nie. Kan jy nou meer.

Dis eendag as student dat ek deur ? Hare Krishna-dame voorgekeer is, voor die Neelsie in Stellenbosch. Die vrou was opdringerig, begeesterd: ek móés net haar boekie koop. Mense probeer aldag snert aan my afsmeer. Te verleë om te weier beloof ek (half-assed) ek sal meer belangstel as ek terugkom uit die Neelsie. Vir wat ek dieselfde pad teruggeneem het, seker klas toe, bly ek wonder. Ek het gehoop sy sal my vergeet. Sy het nie, en pyl op my af, ? waansinnige gordyn. Sy wil weet vir wat ek nie die boek wil hê nie. Ek loop weg, en lieg die eerste beste verskoning. “I’m a Christian.” Haar stem vul daardie hele plek: “Aaaaah, that's so lame!”

Ter verdediging van die skrywer van Snoeiskêr: baie van bostaande kritiek is nie aan hom te wyte nie, maar aan wie ook al verantwoordelik was vir die redigering. Soos ek dit verstaan, sal ? redigeerder ? skrywer aanraai om sekere gedeeltes oor te skryf, sekere lieflinge nek om te draai (“poel van vergeefse hunkering”), ? bietjie te skaaf aan die struktuur. ? Goeie redigeerder sal ooglopende taalfoute, toutologie en clichés raaksien en skrap. Ons lees egter oor Doep du Plessis, ? polisiekommissaris wat oor die vermoë beskik om “ongetwyfeld verbaas” te wees. Doep se kantoor is “baie spartaans, sonder fieterjasies, met net die nodige”.

Vanaf die tweede helfte tel die boek spoed op, van ? luier na ? turbo, en dinge gebeur vinniger as wat jy kan sê hokaai. Dit lei tot ? klimaks en ontknoping sonder die antwoorde op belangrike vrae, antwoorde waarop ? leser geregtig is ná R150 en meer as 200 bladsye. Ek het baie vrae oor die keuses in die laaste 20 bladsye van die boek, maar, in die besef dat ek moontlik die enigste een is met hierdie vrae, en dat die stel van dergelike vrae ? aap uit die mou sal laat, sal ek maar bly wonder.

Tot Steyn se krediet is die beste gedeeltes in sy debuut sy beskrywings van die Oos-Vrystaatse landskap, maar ek hoor op RSG daar kom nog ? boek, weer met Pine. Spaar my die Pine.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top