Persverklaring: Kunstekaap laat Riversdal gons met die kunste en opvoedkunde!

  • 0

’n Ballerina van Cape Africa Ballet wys hoe dit gedoen word.

Uitreikprogramme kan letterlik mense se lewens verander. Kunstekaap bewys dit jaarliks as hulle gehore in plattelandse dorpies betower. En vir ’n paar dae waai die wind so ’n klein bietjie anders in die dorp. Dit is veel meer as net die sirkus wat in die dorp aangekom het. Hierdie jaar was Riversdal aan die N2 – sowat 3 uur se ry van Kaapstad – die gelukkige dorp.

Sedert 2004 is Kunstekaap al besig met hierdie uitreikprogramme waar hulle ’n professionele teaterondervinding na plattelandse gemeenskappe oor die Wes-Kaap neem. Elke jaar word ’n nuwe dorp gekies waar lokale soos ’n skool of gemeenskapsaal omskep word in ’n ten volle toegeruste teater. Die program sluit in opvoerings, tegniese werkswinkels asook loopbaanuitstallings en -praatjies met die doel om plaaslike gehore – veral die jeug – te inspireer. Die doel is ook om ’n belangstelling en liefde vir die kunste aan te moedig asook om nuwe gehore te bou.

Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof sê: “Daar is baie min blootstelling aan die kunste in plattelandse dorpe. Ons by Kunstekaap het besluit om daai narratief te verander met ’n doel. Onthou, ek kom van een van daardie dorpies. Ek is van Wellington. Ek ken die belangrikheid van so ’n program eerstehands.” 

Van links is Marlene le Roux (Kunstekaap se uitvoerende hoof), Grant Riddels (uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit), en Lenichia Willemse

Die heel eerste uitreikprogram was juis in Le Roux se dorp, Wellington, gehou en dit het ’n groot impak gehad op die gemeenskap. Gehore van Wellington stroom nou nog na Kunstekaap op ’n gereelde basis. Dorpe daarna sluit in Saron, Ceres, Hawston, Vredenburg, Mamré en meer. Dié jaarlikse uitreikprogramme het deure oopgesluit vir vele plattelandse kunstenaars wat al by Kunstekaap en ander teaters opgetree het.

“Dit is letterlik soveel meer as net om die kunste na mense te neem wat minder het as diegene wat in die groot stede woon, en om te wys wat jy het. Dit is egter  ook belangrik om nie ’n afgewaterde weergawe van teater vir hulle te bring nie. Kunstekaap se wonderlike tegniese span het die plaaslike burgersentrum omskep in ’n regte teater – amper soos ’n mini-Kunstekaap – met ligte en klank wat die gehoor werklik verstom het. En ja, die program eindig wel met ’n galakonsert, maar elke jaar is daar ook ’n groot klem op opvoeding – om plaaslikes (veral die jongelinge)  te vertel van geleenthede in die kunste. Dit sluit in administratiewe, tegniese en natuurlik kreatiewe geleenthede in die kunste,” verduidelik Le Roux. 

Operasangers Lynelle Kenned en Arline Jaftha

Laerskole wat vanjaar se plattelandse uitreikprogram in Riversdal bygewoon het, sluit in: Voorwaarts, Oker, Vondeling, Slangrivier, Melkhoutfontein, Panorama, Volschenk, Molenrivier en Goedgegun. Die Laerskool Slangrivier se drilorkes het voor die lokaal opgetree voor die gebeure op 15 Oktober en die Panorama-skoolkoor het opgetree by die middagvertoning.

Hoërskole wat bygewoon het op 16 Oktober sluit in: Gerrit du Plessis, Langenhoven, Kairos Secondary en Heidelberg Hoërskool. Hierdie geleentheid het skole saamgebring, nie om te kompeteer nie, maar om mekaar te ervaar en om met mekaar te deel.

Edward Jantjies van Riversdal

Hierdie jaar se plattelandse uitreikprogram het ’n verskeidenheid kunstenaars van verskillende genres ingesluit, soos klassieke musiek, opera, inheemse musiek en kontemporêre dans, met ’n uiters doeltreffende samesmelting van genres. Hip-Hop werk met moderne dans en ballet, wat dan ook weer vermeng met persone met gestremdhede wat ook hulle talente ten toon stel, of ’n rymkletser wat saam met ’n operasanger sing. Die kunste het die mag om dit te doen.

Die geleentheid is georganiseer in vennootskap met die Suidoosterfees, en kunstenaars van die plaaslike Hessequa-distrik het met gevestigde kunstenaars soos die bekende operas anger Lynelle Kenned opgetree. Kunstekaap se vennootskap met die Hessequa Jeugfees is ’n ware mylpaal. Mnr Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Riversdal het dit gesê: “Ek was heeltemal verstom. Persoonlik het ek nog nooit so iets beleef nie: ’n week van kunste-opvoeding en ’n professionele produksie wat ook insluit die Riversdal se Uitvoerende Kunstekoor, die plaaslike RCC Gospel Band, en plaaslike sangers wat met professionele kunstenaars gekombineer is.” Die vennootskap maak vele deure oop vir die jeug – vir leergeleenthede en tegniese ontwikkeling in teater en om werksgeleenthede te skep, en natuurlik verdere samewerking.

“Ek moet ’n groot dankie sê aan die Hessequa-munisipaliteit en aan die Suidoosterfees want baie van dié kunstenaars sal by hulle feeste in die nabye toekoms optree. Hierdie is regte gehomogeniseerde deel van ervaringe – waar my storie jou storie is, ongeag klas, ras of tradisies,” sê Le Roux.

Dance for All se dansers het niks teruggehou nie.

Die gala-aand op die laaste dag van die uitreikprogram was ’n ware bewys van waaroor samewerking eintlik gaan. Die plaaslike kunstenaars het die toon aangegee toe die Riversdal se Uitvoerende Kunstekoor die aand open met die slawelied uit die Nabucco-opera van Verdi, met die onvergelykbare tjellis, Jovann Rocher wat vele musiekinstrumente speel.

Die aand het ook vir Lynelle Kenned, Hakkiesdraad, Cape Ballet Afrika, Unmute and Dance for All, en vele meer ingesluit. Afrikaans my taal het almal letterlik oopmond laat juig, waar opera en rymklets – twee uiteenlopende genres – mekaar met mening kom ontmoet het.

Le Roux het ook verduidelik dat dit mag Kunstekaap se manier wees om uit te reik na ander gemeenskappe, maar die Kunstekaapspan het ook net so baie hieruit geleer.

“Die dinge wat jy by die gemeenskap en gehore leer in ’n kleiner dorp is baie verskillend as dit wat jy beleef by bevoorregte mense in groot stede. Net om die uitdrukkings op mense se gesigte te sien soos hulle die magiese wonderwerke op die verhoog sien afspeel, sal vir ewig in my psige ingeprent wees. Ek kan maar net hoop dat dit ook so sal wees vir diegene wat die geleentheid bygewoon het. Hierdie is die ware mag van die kunste in aksie: waar ons kollektief leer, deel, luister, geniet en genees as ’n nasie,” sê ’n verheugde Le Roux.

  • Foto’s verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top