Persverklaring en uitnodiging: Voorleggings ingewag vir die 2026 Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse

  • 0

  • vir interessante en innoverende fiksie, feite, digkuns en film

Uitgewers word hartlik uitgenooi om weer boeke voor te lê vir die 2026 Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse.

Vanjaar se spertyd vir ontvangs van boeke is 12 November.  Boeke wat na hierdie datum verskyn, moet teen 5 Januarie 2026 die sameroeper bereik.

Die pryse het ten doel om die ryk korpus van die Afrikaanse letterkunde uit te brei deur  skrywers finansieël te bemagtig vir die navorsing en skep van nuwe werk. Dit word toegeken in die volgende kategorieë:

  • Beste Afrikaanse volwasse roman (R350 000)
  • Beste Afrikaanse niefiksie-boek (R350 000)
  • Beste Afrikaanse digbundel (R200 000)
  • Afrikaanse roman of niefiksie-boek met die meeste filmiese potensiaal (R200 000)

Dit is ’n letterkundetoekenning. Die sameroeper wil nie graag deelname beperk nie, maar versoek uitgewers vriendelik om goeie oordeel aan die dag te lê by die voorlegging van boeke in die verskillende kategorieë. As die volgende vrae ’n ja-antwoord het, kwalifiseer die boeke vir inskrywing:

FIKSIE

Is dit ’n boek wat die bekende vreemd maak, een wat die verbeelding aanvuur? Wat in tema die nuwe aandurf, in taalgebruik die reikwydte van Afrikaans vergroot, in diepgang meer as een lesing inhou, en wat die groot gesprek van die Afrikaanse en wêreldletterkunde verder voer op ’n manier wat die geïnteresseerde leser nie agterlaat nie?

NIEFIKSIE

Is dit ’n noodsaaklike boek om te lees vir die verdieping en verbreding van ons begrip van die wêreld? Spreek dit van grasie en empatie, of andersyds, skok dit die onwillige begryper tot nuwe insig? Kan dit saamgesels met die beste in die wêreld? Is dit gevestig in diepgaande navorsing, gekonstrueer om die inhoud ten beste oor te dra, en gebou met hoogs effektiewe Afrikaans?

BREYTEN BREYTENBACH-PRYS VIR DIGKUNS

Is dit ’n bundel wat met ’n klokhelder stem die geïnteresseerde leser verras en betower? Een waarin taalvaardigheid en hantering van tegniek opval? Kan so ’n bundel ’n bydrae lewer tot die Afrikaanse poësieskat sowel as deelneem aan die eietydse gesprek in die Suid-Afrikaanse en wêreldletterkunde?

FILMTOEKENNING

Is die tema geskik om aangepas te word as ’n rolprent, televisiereeks of dokumentêre program? As jy die verhaal in ’n sin saamvat, kan jy dit op ’n plakkaat sien?

AMPTELIKE REËLS 
  1. Slegs gepubliseerde boeke wat tussen 1 Januarie 2025 en 31 Desember 2025 verskyn het, kom in aanmerking vir die Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse. Let asb. streng op die reëls vir deelname. Die sameroeper is nie verantwoordelik vir boeke wat verkeerdelik voorgelê is nie.
  2. Skrywers se toestemming moet in alle gevalle vooraf verkry word.
  3. Geen self-publikasies word oorweeg nie.
  4. Boeke moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees. Indien boeke gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn het, kom die Afrikaanse uitgawe in aanmerking vir die prys mits dit deur die skrywer self vertaal is.
  5. Gedenkbundels/samestellings met meerdere skrywers word nie oorweeg nie.
  6. Biografieë val onder niefiksie en mag nie in albei kategorieë ingeskryf word nie.
  7. Die besluite van die keurders is finaal. Geen korrespondensie daaroor sal gevoer word nie.
  8. Uitgewers sal in kennis gestel word van boeke op die kortlys en versoek word om so gou doenlik die sameroeper te voorsien van die volgende:
  • ’n goeie-gehaltefoto van die skrywer
  • bondige biografiese gegewens
  • skriftelike toestemming dat gratis uittreksels van boeke op die kortlys in Rapport en op LitNet mag verskyn.
  1. Geen inskrywingsfooi is betaalbaar nie.
  2. Voltooide inskrywingsvorms vir die Netwerk24 kykNET Rapportpryse (elektronies aangestuur) sowel as 10 eksemplare van elke boek moet die sameroeper bereik voor of op die sperdatum: Woensdag 12 November. Boeke wat na hierdie datum verskyn, moet asb. teen 5 Januarie 2026 die sameroeper bereik.
  3. Indien ’n boek vir beide film en fiksie of niefiksie ingeskryf word, is ekstra boeke nie nodig nie.

Adres waarheen boeke versend moet word per koerier:

Hettie Scholtz
Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse
Knightsbridge Gardens 3
Otto du Plessisstraat
Parel-Vallei
Somerset-Wes 7130
084 583 0272

NOTA AAN KOERIER: Die adres is in ’n kompleks. Pons asb 030 in by die ingang om toegang te kry. Draai dan regs by die waterwiel, die huis is op die onderpunt van die straat.

Rig alle navrae aan die sameroeper:

HETTIE SCHOLTZ
scholtz5@mweb.co.za 
084 583 0272

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top