PEN Young Voices 2013: Terug

  • 0

Danie Stander is in 2013 as PEN Afrikaans se finalis in die internasionale "Young Voices"-kompetisie aangewys.

Terug

Die huis lyk nie soos wat dit lyk as Eben ook daar woon nie. Die bed is nie opgemaak nie, daar is ’n koue koppie koffie op die sitkamervloer en eetgerei in die wasbak. Die huis ruik na Phillip. Eben was lank oortuig van sy eie reukloosheid. Die eerste nag toe hy alleen elders slaap, ná die tydelike skeiding waarop hulle ooreengekom het, het hy egter besef dat dit nie waar is nie. Hy het tóg ’n reuk. Hy ruik na Phillip.   

Eben is vroeër terug as wat hulle afgespreek het. Dis ondraaglik bedompig. Hy begin aan die kant maak. Hy maak ’n ysbakkie onder ’n lopende kraan vol en sit dit weer terug in die vrieskas. Hy drink water uit ’n glas en berou dit oombliklik. Die water is brakkerig. Hy maak die kombuisdeur oop en sien die vlegsels van ’n dooie wisteria om die stoepdak se een pilaar geknoop. Eben vind dit steeds vreemd hoe nie hy of Phillip die plant se geleidelike agteruitgang opgemerk het nie, veral omdat dit so geil gegroei het. Phillip het altyd gespot dat hulle die badkamervenster saans nie moet ooplaat nie: “Ons gaan een oggend wakker word, vasgegroei in sy greep.” Eben het bykans daagliks gesnoei om dit in toom te hou. Hoe het dit dan gebeur dat hulle net op ’n dag skielik besef het die plant is dood?

Voor Eben se vertrek het Phillip ’n nuwe wisteria gekoop en die jong rankies om en deur die dik dooie wronge geweef. Eben wou die bruin takke wegsnoei, maar Phillip het voorgestel hulle hou dit as ’n raamwerk vir die jong plantjie se groei. Wanneer Eben terugkom ná ’n maand moes die plantjie al hoog teen die dooie een gerank wees (want Phillip was seker Eben sóú weer terugkom). Nou lyk dit egter of die nuwe wisteria beswaarlik gegroei het in sy afwesigheid. Dit lyk veral of dit swaarkry in vandag se son. Eben gooi die brakwater oor die plantjie toe hy die suigfles aan ’n hoër tak sien hang. Vanwaar die suigfles? Lok Phillip voëls na die tuin? Phillip is altyd vol idees. Hy laat dinge gebeur.

Eben hoor hom inkom, terug van die werk.

“Ek het gedink dis jy!” sê Phillip toe hy by die kombuis inkom.

“Ek wou jou verras.”

“Nee, ek het gedink jy mag dalk ’n dag of twee vroeër terug wees.”

Eben weet nie wat om te sê nie. Hy skink vir hulle wyn.

“Cheers,” sê Phillip. “Welkom terug.”

Eben is die eerste om weg te kyk, na die nat kol en die jong wisteriaplantjie wat skielik vir hom aanmanend lyk.

“Lok jy voëls?”

Phillip glimlag.

“Ja. Daar’s so ’n pragtige klein voëltjie, swart en wit, met ’n lang stert en ’n rooi snaweltjie. Sy is só aggressief. Sy bewaak die fles. Ek het nog nooit so iets gesien nie.”

Dit moet ’n koningrooibekkie wees. Eben was gefassineerd daarmee as kind. Hy het altyd gedink dis ’n trekvoël oor hy dit net tydens die somermaande gesien het. Later het hy gelees dat die voëltjie sy stert verloor tydens die winter. Hy wou altyd weet waar die stert beland.

“Dis ’n hy,” sê Eben.

“Wat?”

“Die voëltjie met die lang stert is ’n mannetjie. Dié met die lang sterte is mannetjies.”

“So jy dink daar’s dalk meer as een?”

“Nee. Per swerm is daar een só ’n mannetjie met die lang stert. Die ander mannetjies is valerig soos die wyfies.”

“So die een met die stert is die alpha male?”

“So iets, ja. En die voëltjie is ’n broeiparasiet, as ek reg onthou.”

*

Daar was iets omtrent die koningrooibekkie wat Eben ontstig het. Die suigfles was naby die stoeptafeltjie waar hy en Phillip smiddae ná werk graag gesit en rook het. Phillip en Eben se nabyheid het die voëltjie beswaarlik gesteur in sy verbete verdediging van die suigfles en van “sy” terrein. Hulle kon daar sit en sy tirades aanskou sonder om die spektakeltjie te onderbreek. Vir Eben was dit amper ontstellend om hierdie voëltjie, wat vir hom voorheen nooit nader as ’n telefoondraad was nie, skielik so van naby te sien. Die voëltjie was nie meer ’n enigma nie. Hy was op ’n manier getem.

Die rooibekkie het ’n fokus geword vir die twee van hulle as hulle saans op die stoep sit, ná die weke sonder mekaar.

“Ek wonder wat hy sal maak as ons ’n spieël hier êrens plaas,” het Phillip een aand gesê. Philip en sy idees. Miskien was hy bang dat Eben weer verveeld sou raak met die gemaklike gemeensaamheid. Hy het ’n spieël op ’n stoel staangemaak en die stoel is naby die suigfles geplaas.

Van toe af was die voëltjie gedurig voor die spieël in ’n stryd met homself. Dit was tóé eers dat Eben bewus geraak het van die las wat die stert moes wees. Vir lang tye sou hy in die lug op en af wip en kwetter voor die spieël tot hy dit nie meer kon hou nie. Dan het hy dit gewaag om sy lyfie vinnig teen die glas te gooi en na die naaste tak te vlieg. Hulle kon egter nooit besluit of hy gespeel het en of hy werklik bedreig gevoel het nie. Eben was oortuig van laasgenoemde. Hy het begin skuldig voel oor die spieël in die tuin. Die dier se instinkte sou hom telkens in die strik bly lei.

Een oggend was Phillip uit werk toe voor Eben op was. Eben was op die punt om die laaste deur te sluit toe hy die koningrooibekkie manies hoor kwetter. Sonder om twee keer te dink besluit hy om die spieël te verwyder. Toe hy dit ophang agter die badkamerdeur skrik hy vir homself, maar hy was reeds te laat vir werk om daaroor te dink. Eers later, voor ’n kleedkamerspieël op kantoor, het hy weer daaraan gedink en oombliklik ook aan die voëltjie. Hy wou dringend weet of die rooibekkie rustiger is met die spieël buite sig.

Tydens middaguur het hy besluit om huis toe te gaan. In die straat voor die huis sien hy wat hy net ooit aan die anderkant in die tuintjie sien – die voëltjie wat sy refleksie freneties pik, maar dié keer in die syspieël van ’n motor. Hy gaan haal die spieël van die badkamerdeur en plaas dit weer waar dit was en toe gaan sit hy by die kombuistafel en loer deur te ruit in die hoop om die voëltjie te sien terugkeer. Die middaguur was amper om toe die rooibekkie uiteindelik weer sy plek voor die spieël op die rand van die stoel inneem, maar dié keer sit hy net daar en kyk na sy ewebeeld. Was hy verlig of oorwonne? Hy het sy terrein verlaat om die indringervoël te soek. Nou was die bedreiging weer waar dit moet wees, waar hy dit die eerste keer ontdek het.

Teen die einde van die werkdag wou Eben nie huis toe nie. Hy wou weet hoe om die voëltjie vry te laat. Hy wou nie saam met Phillip op die stoep sit en jok nie. Hy wou praat oor die tyd toe hy weg was. Hy wou die waarheid praat.

Toe Phillip tuiskom, was Eben nie daar nie. Phillip het ’n bad getap en gaan slaap. Die gekwetter van die rooibekkie het hom eers die volgende oggend wakker gemaak. Eben se kant van die bed was leeg. Phillip was nie seker of hy die nag daar geslaap het nie. Toe hy in die badkamer kom, hang die spieël teen die deur. Hy hoor ’n getik in die kombuis. Daar gekom, sien hy die voëltjie wat pik teen die ruit. Toe hy buite kom, sien hy die suigfles is weg. Dus was Eben êrens tussen die aand en die môre wel by die huis. Om ’n einde te maak aan die speletjie.

*

Die afwerp van die voëltjie se stert het so ongemerk en onverwags geskiet as die dood van die wisteria. Die swerm was nog daar in die tuin, soos Eben ondanks alles nog by Phillip, maar die koningrooibekkie was nie meer herkenbaar onder die ander nie. Dit was ’n koue oggend toe Eben dit besef, maar teen vyfuur ná werk was dit bergwinderig. Die somer was nog nie heeltemal verby nie. Hy het die ysbakkie leeg gemaak in twee groot wynglase.

Terwyl hy wag vir Phillip om van die werk af te kom, kon hy die rooibekkie êrens in die tuin hoor roep. Hy het opgekyk na die swerm in die boom en gewonder watter een dit was. Hy het die roep gevolg na een van die voëltjies, maar sodra hy dink hy plaas dit, neem ’n ander een dit oor. Iewers onder hulle was die koninkie wat eens belas was met ’n swaar stert en die kennis van homself. Hoe moes dit wees om skielik met almal eenders wees? Was dit sy eerste somer sonder ’n stert en sou hy gewoond raak aan die jaarlikse verlies? Was hy eintlik verlig? En het hy sy spieëlbeeld gemis?

Eben het ook gewonder waar die voëltjie sy stertveer gewerp het. Hy het na die sterwende jong wisteria in die wronge van die ouer een gekyk en gewonder of, deur ’n natuurlike wraak, die rooibekkie-stertveer dalk nou ingeweef is in die nes van ’n ander tipe voël: die einste voël dalk, in wie se nes sy ma haar eiers parasities gelê het.

Binnekort sou dit winter wees en sou hulle rooiwyn drink. Hy het gesien Phillip het al weer water in die wasbak laat staan en Eben het gedink aan hoe dit lyk as ’n halfvol glas met nog ’n laaste bietjie wyn in, in ’n wasbak vol water geplaas word. Hoe stadig die rooi uit die glas los dryf en in die water oplos.

Dis dan hoe die somer sou eindig, het hy gedink: op die stoep, oudergewoonte, vir oulaas nog met witwyn. Sy glas was skielik leeg, behalwe vir die ysies. Hy het een in sy mond geplaas en dit tussen sy tande gekners. Dit het gesmelt en ’n brak smaak in sy mond geword. Dit is die ysies wat hy die dag van sy terugkeer gemaak het, toe dit nog vreemd was om in te stap by ’n huis met ’n onopgemaakte bed, ’n koue koppie koffie op die sitkamervloer en eetgerei in die wasbak.

 

Die "Young Voices"-kompetisie 2014 sluit 6 Mei. Klik hier vir besonderhede.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top