PEN Young Voices 2013: Freyja

  • 0

Christina van Deventer is in 2013 as PEN Afrikaans se finalis in die internasionale "Young Voices"-kompetisie aangewys.

Freyja

Oddur slaan die boek vir die soveelste maal oop. Om hom vleg die blou rook wat altyd die plek vol hang en mense stamp en stoot om by die toonbank uit te kom. “Egils Gull,” roep ’n vroumens oor die geraas vir die kroegman. In die hoek is een van daai wannabe bands wat net nooit die balans kan reg kry nie. Die hoofsanger lyk soos ’n kloon van Chris Martin, met meer juwele en tattoos en minder talent.

“Haai,” roep iemand langs hom en skuif ’n pienk konkoksie voor hom in.

Oddur gewaar die meisie en skud outomaties sy kop.

“Nee dankie,” roep hy en skuif die drankie weg.

“Dis ’n sex-on-the-beach” sê sy in sy oor terwyl wannabe Chris Martin sy nuutste komposisie oor die mikrofoon kwyl.

“Nee dankie,” sê hy weer en wend hom na sy boek.

“My naam is Steinunn” roep sy en trek ’n stoel nader. Sy ruik na goedkoop parfuum en sigarette.

“Wat lees jy, hé?” vra sy en gaan sit. Om hulle pols die plek.

“Ek het jou nie gevra om te sit nie,” sê hy verergd.

“Ag, kom nou, jy lyk nie soos die soort man wat regtig hier is om te lees nie.” Sy glip haar Mary-Jane skoene af en vroetel met haar linkervoet teen sy been.

“Ek wil jou waarsku,” sê hy en leun vorentoe, “ek hou nie daarvan om in die rede geval te word nie.”

“Oe, ’n man met ‘n donker kant,” lag sy. “Ek hou daarvan.” Haar voet is tussen sy dye.

“Jy mors jou tyd hier.”

“Ek vat nie nee vir ‘n antwoord nie,” sê sy en streel met haar tone teen sy gulp.

Onder die tafel vat hy haar voet en enkel vas in ’n stewige greep en daag haar woordeloos uit.

Die duiweltjies dans in haar oë.

“Ek het geweet ek het jou nie misgelees nie,” sê sy en vertoon haar stoutste glimlag voor haar ander voet ook ’n verskyning maak.

Oddur se oë blits.

“Ek het jou gewaarsku,” sê hy en met ’n ratse beweging laat hy sy waarskuwing geld.

Haar oorverdowende gil ruk die kroeg tot stilstand. Oorkant hom hou die meisie haar voet vas terwyl sy onbedaarlik huil.

Mense wonder wat gebeur het en staar soos ‘n klomp skape na die toneel. Dan kyk die meisie op en hul oë ontmoet.

“Jou fokken vark,” skree sy. “Jy’t my voet gebreek!”

Die ongeloof in haar oë is amper komieklik.

Oddur los ’n paar note op die tafel en slaan eindelik die boek toe. “Volgende keer sal jy luister,” sê hy en verlaat die plek.

“Wag so bietjie,” roep iemand wanneer Oddur al halfpad straat-af is.

Perfek, dink Oddur as die jong man aangestap kom. Dit is Eirikur, een van sy studente. Dronk, as hy dit nie mis het nie.

“Sy sou jou net daar onder die tafel gedoen het,” sê Eirikur en kyk hom vraend aan.

“Sy’s nie my tipe nie,” sê Oddur.

“So? Ek sou haar gery het soos ’n vaal-merrie by ’n Derby.”

“Hings,” sê Oddur.

“Whatever. Wat van haar voet?”

“Wat van haar voet? Ek het haar gewaarsku.”

“Jy weet sy gaan jou aangee. Of dalk hof toe sleep,” sê die ou.

Oddur lag oordrewe. “Sy sal my net soveel hof toe sleep as wat sy my bed toe sal sleep.”

Hy gaan alleen huis toe, die boek onder sy arm.

 

Rooi hare, dink hy, soos Freyja s’n. Wulps en voorbarig, soos Freyja. Miskien wys die ou bloed tóg. Maar sy was niks soos Freyja nie. Jy kan nie ’n kind met ’n godin vergelyk nie. Jy kan nie boaardse krag en skoonheid aan menslikheid koppel nie.

Hy sal natuurlik sy gesig nie weer by Die Viking kan wys nie, maar die plek se bier was in elke geval te duur. Hy’t maar net van die naam gehou. Nou sal hy by lae-klas plekke soos Mo’s tussen ’n klomp jagse ouvrouens en suiplap leeglêers moet gaan lees.

“Waaraan dink jy vandag so diep?” vra Emma.

“Hasies en klein hondjies” sê hy. Die toonbeeld van broederlike liefde.

“Klink vir my jy moes liewer veeartsenykunde geswot het,” terg sy.

“Dit sou my dalk ’n voorsprong gegee het in biologiese ondersoeke.”

“Het julle iets gekry?”

“’n Man met ‘n gekraakte skedel. Die merke aan die kant van sy kop maak my amper seker hy is met ’n byl doodgekap.”

“Sjoe, dis wreed. Was hy belangrik?”

“Ek glo nie. Die bene is in ’n vlak graf gevind. Die belangrikes het helde-begrafnisse gekry. ’n Brandstapel op die kalm see, of so iets.”

“O, dit klink soos in die stories.”

“Dis hoe dit was,” sê hy peinsend.

Emma peuter met haar baadjie se ritssluiter.

“Waar was jy gisteraand?” vra sy.

“Uit,” sê hy kortaf.

“Ek het ’n voëltjie hoor fluit...”

Hy lyk meteens so woedend dat dit haar skoon onkant vang.

“Die stories wat jou vriende versprei staan my nie aan nie. Wat maak hoërskool-kinders in elke geval by ‘n plek soos Die Viking?”

“Het jy regtig daai meisie se voet gebreek?” vra sy en hy voel vir die eerste keer skuldig oor sy optrede.

“Ek wil nie weer hoor dat jy saam met sulke gomgatte kuier nie. Jy hoort van beter te weet.”

“Wat het sy gedoen, hé?” vra sy.

“Sy’t by my aangelê.”

“So? Moet jy nie geëerd voel nie? Is jy gay of iets?”

“Sy’s ’n hoer, Emma.”

Emma lyk verbaas. “Hoe’t jy dan geweet?” vra sy.

“Ek het werk om te doen,” sê hy en haal ’n pak dokumente uit sy drasak.

Tussen foto’s, dokumente en navorsing lê sy voosgeleesde Edda. Hy kan ure besig bly met die mites en legendes wat hierin opgeskryf staan en in ’n groot mate dra dié geskiedenis by tot sy navorsing. Geen ander historiese geskrifte hou vir hom soveel betowering in as die Eddas nie; nie die Sagas, Saxo Grammaticus se geskiedenis van Denemarke of selfs Ahmad ibn Fadlan se geskrifte nie.

Met die boek in sy hande is dit asof hy helderder dink. Wat het hom die vorige aand so ontstel? Was dit omdat daardie vroumens so blatant was? Daar was ’n tyd toe hy so iets sou verwelkom, ’n tyd toe hy homself niks wou ontsê.

Die deurklokkie lui en hy sit die boek neer.

“Oddur, daar’s ’n polisieman by die deur,” roep Emma.

Die rooihaarfeeks het sowaar die cops op hom gesit.

 

“Kom in,” sê hy en stuur Emma kamer toe.

“Is u Oddur Einarsson?”

“Ek is,” sê Oddur. “Kan ek u help?”

“’n Mejuffrou Fridriksdottir het vanoggend ’n saak aanhangig gemaak teen u. Sy beweer dat u haar gisteraand in Die Viking aangerand het en dat bystanders die insident waargeneem het.”

Tipies vroumens, dink hy. Sy’t weer die hele ding gaan verdraai net soos dit haar pas.

Oddur glimlag. “Wat is u naam?” vra hy.

“Eysteinn” sê die beampte.

“Wat kan ek vir u aanbied om te drink, Eysteinn?”

“Koeldrank sal gaaf wees, dankie.”

Oddur wil die ding so gou as moontlik uit die weg ruim. Elke oomblik wat hy op onbenullighede verspil is ’n oomblik minder om aan sy navorsing te bestee. Hy is op die drumpel van ’n deurbraak, hy’s seker daarvan. Tog kan hy nie sy soektog enigsins bespoedig nie. As hy net ’n leidraad kan opspoor. Iets wat hom kan oortuig dat sy voorgevoel reg is.

Hy skuif die kristalglas voor die beampte in.

“Die meisie se aantyging maak my diep ongelukkig” sê hy.

“Is haar getuienis vals?” vra Eysteinn.

“In ’n mate” sê Oddur. “Jy sien, sy het my seksueel geteister. Ek het slegs haar voet van my gulp af verwyder.”

“Het jy haar voet gebreek?”

“Nie so ver ek weet nie.”

“Maar jy het haar hardhandig behandel?” vra die beampte.

“’n Mens kan seker so sê, ja. Kyk, as ek haar seergemaak het was dit bloot as gevolg van my ongerief in die situasie waaraan sy my blootgestel het. Ek vermoed sy is ’n sekswerker en ek is glad nie te gunste daarvan nie.”

Die beampte knik. “Is jy bereid om ’n verklaring by die stasie te kom aflê?” vra hy.

“Natuurlik,” sê Oddur en neem die leë glas by hom.

Wanneer die man opstaan kyk hy met afwagting na Oddur. “Dankie vir die koeldrank,” sê hy. “Sal ons gaan?”

Emma staan onbegrypend en staar terwyl Oddur die deur toedruk.

By die polisie-stasie herhaal hy wat hy in sy kombuis aan die beampte meegedeel het. Die foto’s dui daarop dat die meisie se enkel wel gebreek is. Oddur voel vir ’n tweede keer daardie dag skuldig.

“Ek sal haar kostes betaal en haar om verskoning vra,” stel hy voor en dit lyk of dit die deurslag gee.

“Ons moet jou nogtans ’n waarskuwing gee,” sê die sersant voordat al die dokumentasie afgehandel word. “’n Tweede insident soos hierdie sal nie so ligtelik hanteer word nie.”

Dit is met gemengde gevoelens wat Oddur huis toe ry. Wat sal Emma sê? Haar broer, ’n misdadiger met ’n kriminele rekord. Erger nog, wat sal die universiteit van hom dink? Eirikur het die hele ding gesien, so dit gaan definitief uitlek.

“Is jy oukei?” vra Emma onmiddellik as hy inkom. Hy kan sien sy het die hele tyd gesit en wag.

“Ja, ek moes net ’n verklaring aflê.”

“Gaan hulle jou aankla? Moet jy in die hof verskyn?”

“Nee, Emma. Die saak is afgehandel.”

Sy lyk beteuterd waar sy opgekrul op die bank sit.

“Sê liewers vir my wat jý gedoen het terwyl ek weg was,” sê hy. “Nie weer die hele storie op Facebook gaan verkondig nie, hoop ek.”

“Is jy mal? Ek sal mos nie dit doen nie. Ek het geleer vir Maandag se biologie-toets. Of altans probeer. Ek het gedink jy gaan dalk nooit weer terugkom nie.”

Oddur lag. “Nee wat, ou sussie, dis nie só maklik om van my ontslae te raak nie. Wat sê jy van joghurt-roomys met Mars sjokolade vir middagete?”

“Dit klink lekker. Wag, laat ek net my baadjie kry.”

Op die kombuistafel lê ’n geel nota met die woord GUNNAR in drukskrif daarop geskryf.

“Emma, watse nota is dit dié?” vra hy.

“Wat?” roep sy uit die kamer.

“Hier staan iets van Gunnar?”

“O, ja,” sê sy wanneer sy in kom. “Ek het amper vergeet. Jy moet vir Gunnar terugbel. Hulle het iets gekry.”

 

Die meisie se pelvis is vergruis, maar dat sy vroulik was, is seker. Sy het lang bene, is klein van bou en die skedelmeting dui daarop dat die brein volgroei, selfs ongewoon groot was. Die artefak wat hom oortuig van haar seks is die halssnoer om haar nek - skakels gegiet in swaar goud, elk oordadig versier met runeskrif uit ‘n tyd so lank gelede dat selfs hy sukkel om die skrif te ontsyfer. Dit is ’n asemrowende juweelstuk, die mees ongewone juweelstuk wat hy nog ontdek het en die naaste ding aan beskrywings van die Brisings-halssnoer wat hy nog ooit teëgekom het.

Kan dit die regte Brising-halssnoer wees? As dit is, wat maak dit hier in ’n vlak graf saam eenvoudige vissers en jagters?

“Wat sal ons haar doop?” vra Gunnar.

Sy navorsings-assistent merk elke been of fragment voor hy dit in bewaring plaas. Hy is pynlik akkuraat en die katalogisering is vervelig en tydrowend.

“Miskien moet ons vir eers by nommers hou,” sê Oddur.

“Die pers sal wil weet,” dring Gunnar aan. “Jy sal haar tog in elke geval iets wil noem in jou dissertasie.”

“Ek gee nie ’n fok om oor die pers nie, Gunnar!”

“Jam-mer,” sê Gunnar verbaas en Oddur voel onmiddellik soos ’n skurk.

“Noem haar Freyja,” sê hy na ’n ruk toegewend, maar die woorde voel vreemd op sy lippe.

Gunnar glimlag. “Dit is die perfekte naam,” sê hy en plak “FREYJA” onderkant die artefak-nommer op die plastiekhouer.

Oddur is meteens haastig om alleen by haar te wees, om na haar te kyk en die halssnoer vas te hou. “Gaan huis toe,” sê hy ongeduldig aan Gunnar. “Ek sal self verder regkom.”

Gunnar lyk seergemaak. Hy is die een wat altyd die vuilwerk moet doen: die artefakte moet nommer en sorteer, opnames moet maak van geografiese en stratigrafiese liggings, vorms invul, met munisipaliteite in kontak bly, toerusting huur, kos en koffie aandra, die lys gaan aan. Hy moet selfs vir Emma by die skool gaan haal en haar rapporte teken.

Oddur merk die onreg in sy leerling se oë. Dit lê maar altyd daar wanneer hy ’n vonds maak of wanneer sy navorsing en publikasies geprys word terwyl Gunnar moet toekyk.

“Dankie vir jou hulp,” sê hy in die hoop dat hy vinniger van Gunnar ontslae sal raak en Gunnar trek ergerlik sy baadjie aan.

Sodra die deur agter hom toegaan, haal Oddur die houer met die meisie se beendere uit. Hy lê hulle noukeurig op die ondersoek tafel uit, een vir een, totdat al tweehonderd-en-negentien bene en fragmente op hul plek in die legkaart voor hom pas.

In die palm van sy hand is die halssnoer yskoud en hy streel met bewerige vingers oor die gleufies en reliëf daarop.

“Freyja,” sê hy hardop. Dit is met bewondering dat hy die bene aanraak, half liefkoos.

Hoe lank wag hy nie al vir hierdie oomblik nie? Hoeveel swaarkry moes hy trotseer in die hoop dat hy haar iewers sou kry, en nou, na alles, kry hy haar skaars agt meter diep saam met ’n klomp nomades? Vermink. Haar pragtige liggaam gebreek deur die een of ander wreedaard. Sou hulle dan nie geweet het wie sy was nie? Hoe sou sy hier beland het en hoekom het Odin nie na haar omgesien nie? Belangriker nog – waar is die kind? Sý kind.

Wanneer sy trane onbeskaamd vloei, haal hy die antieke swaard onder sy lessenaar uit. Die punt daarvan is so skerp dat dit bloed trek voor hy eens besef hy het sy vinger raakgesny. Die gedagte laat hom rustig voel. Hy sal haar immers kan beskerm.

Hy slaan die boek weer eens oop op bladsy nege-en-twintig. Daar staan dit, net soos Snorri dit meer as ses honderd jaar tevore geskryf het. Sy troos.

Sy rede.

‘Od went off on long travels, and Freyia stayed behind weeping, and her tears are red gold.’

Sy het oor hom getreur. Ná alles het sy oor hóm getreur.

Hy dink aan die opofferings wat hy moes maak: die meisies wat hy afgeweer en weggejaag het, die mense wat hy moes seermaak. Sy toewyding. Na soveel eeue, na Ragnarök, selfs na mense opgehou het om te glo, toon hy steeds volgehoue liefde vir haar. Liefde wat nou, vandag, met sy bloed verewig sal word. Sy gedagtes flikker na die jong meisie met die rooi hare en hy kry haar opeens intens jammer. Sy sal nooit werklik weet wat dit is om lief te hê nie. Sy sal nooit dié soort toewyding ken nie. Vir haar is die liefde ’n nag van plesier; kortstondig en betekenisloos.

Hy sluit sy oë. Hy is eindelik gereed. Gereed om die alleenheid en banaliteit van hierdie wêreld te verruil vir die wonder van ‘n lewe in eenheid met háár. Freyja. Hierdie keer sal hy nie toelaat dat wêreldse besittings tussen hulle kom nie. Hierdie keer sal hy haar liefhê, ongeag haar tekortkominge.

Die lem gly oor sy palms en hy voel hoe die energie uit sy ledemate sypel, maar hy raak ongeduldig. Hy trek die swaar metaallem oor sy polse en die groot slagaar aan sy regterbeen. Bloed spuit op in sy gesig, oor die artefakte, die boek en die halssnoer. Dit is nou nie meer lank totdat hulle herenig sal word nie. Sy bloed sal haar red en hulle sal saam wakker word as man en vrou, soos dit hoort. Soos dit nog altyd was.

Wanneer hy voel hoe die laaste krag uit sy liggaam tap, drapeer hy die halssnoer oor haar nek.

“Ek is jammer, Freyja. My Freyja. Vergewe my,” fluister hy en sluit sy vingers om die boek wat hy al vir grotendeels sestien jaar saam met hom dra.

Emma sal verstaan.

Met verligting blaas hy sy laaste asem uit, gereed om die ewigheid te betree.

 

Koffie. Dit is die een ding wat hulle nog altyd kon deel. Al werk hy laat, al kom hy die hele nag nie huis toe nie, om sewe-uur is hy daar om haar wakker maak met die sterk geur van Brasiliaanse koffie.

Sy wonder hoekom hy nie ná die lawine toegelaat het dat sy na ’n kosskool of ’n kinderhuis gestuur word nie. So ’n lewe kan seker nie vir hom maklik wees nie. Hy werk net om na haar om te sien en hy hou hom uit die geselskap van meisies, moontlik omdat hy dink dit sal inbreuk maak op sy vermoë om sy plig deur te sien. Hy probeer so hard om haar teen die wêreld te beskerm dat hy geen lewe van sy eie het nie.

Die minute tik verby.

Hy is laat.

Hy is nooit laat nie.

Wanneer Emma teen sewe-dertig na sy kantoor toe bel, is daar geen antwoord nie, net die aanhoudende gelui.

“Steinunn,” kom die antwoord slaperig op haar tweede oproep.

“Is hy by jou?” vra Emma.

“Jy’s seker mal! As ek hom weer sien vermoor ek hom.” En dan, as ’n nagedagte: “Jy kon my gewaarsku het dat hy ’n kraak weg het, weet jy.”

Emma lui af. ’n Siek gevoel draai in haar maag. Hy het nog nooit ’n dag gemis nie.

Iets is definitief verkeerd.

 

Die bushalte lyk verlore dié tyd van die oggend. Teen agtuur is almal reeds skool toe of werk toe en is daar maar enkele mense wat van busvervoer gebruik maak vir hul daaglikse benodigdhede. Wanneer die nommer-veertien-bus stilhou, klim die drywer af, strek hom uit en haal ’n sigaret uit sy Marlboro pakkie.

“Die bus is laat,” probeer Emma, maar die Pool trek sy skouers op in ’n “ek verstaan jou nie”-beweging en steek sy sigaret aan.

Sy sit alleen op die bankie by die middelste deur, want dié deur gaan eerste oop en toe. Nie dat dit saak maak terwyl die drywer staan en rook nie.

Die bus hou stil by Asparfell, Mjódd, Sæbraut, die Harpa-Konsertsaal en Lækjartorg, waar sy ná amper ’n uur se frustrasie afklim. Van daar af draf sy langs die meer tot by die parkie, oor die brug en dan, eindelik, ook oor die straat tot by die Universiteit.

Dis al halftien wanneer sy uitasem deur die outomatiese deure by die Universiteit van Ysland instap en links met twee trappies opgaan. Baie min mense gebruik die ou gebou vir klasse en dit is nou hoofsaaklik ’n monument vir een van Ysland se belangrikste argitekte, Gudjón Samúelsson. Die teologiedepartement is steeds in die hoofgebou, so ook administrasie. Op die tweede vloer is daar ’n konsertsaal waarin uitstallings gehou word en musiekvoordrag gelewer word.

Aan die einde van die gang kom Emma tot stilstand. Die deur naaste aan die venster lei na haar broer se kelderkantoor.

Sy onthou hoe opgewonde hy was toe die kantoor vir hom aangebied is. Hy het dadelik sy diplomas laat raam en dit was ook die eerste items wat in sy kantoor aangebring is.

Sy klop een keer, maar net stilte kom in antwoord. Dit is dieselfde stilte van soveel jare terug. Emma se keel trek toe elke keer as sy daaraan dink. Sy was maar ’n kind, hy skaars volwasse.

’n Reddingspan het dae lank vergeefs gesoek, maar dit was net die leemte wat oor was. Hulle was nie meer daar nie, sou nooit weer terugkeer nie.

Instink waarsku haar om nie die stilte agter daardie deur te betree nie. Nie hierdie keer nie.

Nietemin draai sy die deurknop.

Die deur is ongesluit.

 

Taai, swart druppels klou aan sy vingerpunte, sy hare, sy half-gebuigde knieë en die krokodil-leerstewels wat sy laas September vir hom gegee het. Emma voel die gal in haar keel vassteek, brandend bitter, en as haar eie knieë dreig om in te gee, sak sy in die leerstoel agter sy lessenaar neer. Daar is nie plek vir trane nie, dit sal eers later kom, want die skok is so oorweldigend dat sy oopmond staar na die tragiese uitleg op haar broer se ondersoek-tafel.

“Ek moet iemand bel,” dink sy vaagweg en druk een, die spoedlui-knoppie vir noodgevalle, op haar selfoon.  

“Reykjavik Polisie,” kom die antwoord, vriendelik maar formeel.

“Ek... hy... hy is dood. My broer is dood!” hakkel sy histeries as die waarheid met afgryse tot haar deurdring.

Aan die ander kant van die lyn heers daar vir ‘n oomblik stilte, maar dan kom die vraag.

“Wat is die adres?”

 

Hulle het hom in ’n sak toegemaak, die gang met geel plastiek afgesper en die klasse wat uit dié gebou aangebied word uitgestel, maar sy voel of sy nog steeds die afskuwelike toneel voor haar kan sien: sy hande om die boek gesper, die swaard tussen sy bene en daai walglike glimlag op sy bebloede gesig. Wat kon hom so iets laat doen?

“Was Oddur depressief?” vra die beampte.

“Nee.”

“Het hy enige vyande gehad?” “Het sy gedrag onlangs skielik verander?” “Wat van die voorval met Steinunn Fridriksdottir?”

Die polisieverslag sal al hierdie antwoorde aandui, maar dit sal niks verander nie.

Oddur se kantoor word van hoek tot kant gefynkam. Foto’s word geneem. Verslag-vorms word ingevul. Almal stem saam, dit is selfmoord.

Gunnar daag eers na middagete op en sy kan aan sy gesig sien hy het geen benul wat aangaan nie. Hy het duidelik geen deel gehad aan haar broer se laaste ritus nie, maar sy wonder of hy dalk iets vermoed het?

Die polisie ondervra hom ook. Nog vorms en verslae. Die eindresultaat bly dieselfde.

Gunnar slaag foutloos. Hy vertel van hul nuutste vonds, dat Oddur gespanne was nadat hulle haar gekatalogiseer het en hom half weggejaag het.

“Bedoel jy Freyja?” vra iemand.

“Ja. Hoe het jy geweet?” vra Gunnar.

Die man lig die groot plastiekhouer op. Dit is dieselfde soort as wat Oddur gebruik het vir tydelike bewaring totdat daar besluit is waar die fossiele permanent geberg of uitgestal sou word. Die plakker is duidelik leesbaar.

FREYJA

“Ons het die houer langs die ondersoek tafel gekry.”

“Leeg?” vra Gunnar en Emma sien hoe die laaste bietjie kleur uit sy gelaat dreineer.

“Ja, leeg,” sê die konstabel.

Gunnar kou aan ’n vingernael. Dit klink of sy keel toe trek wanneer hy senuagtig proes en vra: “Waar is die halssnoer? En waar de hel is Freyja?”

 

*Aanhaling uit Edda deur Snorri Sturluson.

 

Die "Young Voices"-kompetisie 2014 sluit 6 Mei. Klik hier vir besonderhede.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top