Pasop as jy nie weet hoe nie

  • 2

Beste Kobus (oor mites, fabels en woordeboeke)

Dis goed en wel om ’n woord in ’n verklarende woordeboek na te slaan; dis iets heel anders om dit te gebruik om mee te kommunikeer. ’n Hele aantal jare gelede het ’n taalkundige, Johan Combrink (http://www.stellenboschwriters.com/combrink.html) dit min of meer so aan my verduidelik. (Ek meen hy is die skepper van betekenisveld en betekenismomente.):

Enige woord het ’n betekenisveld wat bestaan uit een of meer betekenismomente. Die woord kat (volgens die HAT) se betekenisveld het sowat agt betekenismomente: 1 Bekende viervoetige huisdier van die geslag Felis; 2 Dergelike wilde dier wat tot dieselfde geslag behoort; 3 Enigeen van ’n aantal vleisetende roofdiere wat behoort tot dieselfde familie as die huiskat; 4 Vals of snipperige vrou of meisie; 5 Aangename nooi; 6 ’n flink bekwame kêrel; 7 Middeleeuse beleëringswerktuig bestaande uit ’n oordekte galery op rolle; 8 Katanker.

Almal saam is die betekenisveld, en hierdie betekenisveld van kat het agt betekenismomente of gebruiksmomente. Wanneer die woord kat gebruik word in taal, word meestal net EEN betekenismoment geaktiveer. Wanneer ek van ’n vrou praat en ek noem haar ’n regte ou kat, dan aktiveer ek nr 4 hierbo en bv, nie nr 1 nie. Wanneer ek van ’n man praat, en ek sê hy is sommer ’n pure kat, aktiveer ek nr 6 hierbo, ens.

Om nou terug te keer tot jou aanhalings uit HAT. Dit gee slegs die verklaring van die woord en moontlike gebruike daarvan. Dit is nog nie taal in aksie nie.

fa´bel (-s)
1 Verdigte vertelling met opvoedkundige doel: Die fabels van Esopus. 2 Versinsel, leuen, verdigsel: Dis sommer pure fabels. Dit behoort tot die ryk van die fabels, is ’n versinsel. [fabula] fabel: ~dier, ~kunde, ~kundige, ~land, ~leer, ~literatuur, ~wêreld. (HAT)

Wanneer ek sê: “ Die verhaal van die slang en Eva is ’n fabel,” dan aktiveer dit SLEGS nr 1 hierbo. Wanneer ek sê: “Al die stories in die Bybel is sommer net fabels,” dan word SLEGS nr 2 hierbo geaktiveer. Die twee betekenismomente kan nie gelyktydig geaktiveer word soos jy dit verstaan nie.

mi´te (-s)
1 Oorlewering omtrent gode en godsdiens; godeverhaal: Ou Germaanse mites. 2 Fabel; storie sonder grond: Daar is baie mites oor die gebruik van medisyne. Dit is sommer ’n mite dat alle kort mans minderwaardig voel. [muthos] (HAT)

So ook met die mite. As ek sê dat die skeppingsverhaal ’n mite is, word nr 1 geaktiveer en bedoel ek daarmee dat dit ’n oorgelewerde verhaal is met ’n opvoedkundige doel. Indien ek sou gesê het dat die Bybelverhale sommer net mites is, dan sou ek bedoel het dat dit stories sonder grond.

Vir verdere studie kan jy gerus ook ander woordeboeke as die HAT probeer. Wat van die WAT en Van Dale se Groot Woordenboek der Nederlandse Taal? Dan moet ’n mens ook nog wegkom van woordeboeke. My gunsteling is René Wellek and Austin Warren se Theory of Literature. Kyk of jy nie van jou plaaslike Universiteit se biblioteek Richard Chase se Quest for Myth in die hande kan kry nie. Vir Afrikaans is Nienaber-Luitingh en CJM Nienaber se Woordkuns nogal heel maklik om te verstaan.

Pasop maar vir woordeboeke (vertalend en verklarend). Hulle kan ’n mens lelik om die bos lei as jy nie weet hoe nie.

Groete
Angus

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Dieselfde drogredenasie (equivocation) word soms ingespan vir teorie van evolusie en geloof in/aan die wetenskap. Iemand wat glo aan die teorie van evolusie word dan gelees: Evolusie, maar net nog 'n opinie, is net nog 'n godsdiens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top