Ou hout

  • 0

Dinge raas en roer mos maar as mens besig is om dit te doen wat jy nie veronderstel is om te doen nie. As mens so besig is om geld te maak dat jy nie meer wil iets anders nie. En net soms, dan moet jy terugsit en wonder, en dan besef jy dat jou gewonder 'n spul snert is, want lank voor jou het mense van veel beter geweet. Dit net nooit aan die klok opgehang nie.

Oupa het mos hierdie huis gebou. Nee, nie gebou soos mense deesdae doen waar die kontrakteur vroegoggend 'n spul "brickies" en handlangers langs die pad oplaai en hulle die minimum daaglikse loon betaal nie. Gebou self. Steen vir steen opmekaar gepak, logies, met die nodige hulp wat self deel van die familie was. Fondasie self uitgemeet en laat grawe, dikwels met komiese nagevolge. Self gegooi en pynlik toesig gehou oor die mengsels. En die staal en wat ookal nodig sou wees vir ingeval die waters wil kom. Want sien, hy het na die oumense geluister oor hoe hoog die waters was lank voor hy mens was en sorgfuldig opgeteken. En na 34 se vloede het hy gereken hy sal 'n voet moet hoer vir ingeval die toekomstige generasies nie so mooi omgaan met hierdie aarde soos hulle daai tyd probeer doen het nie. Hy het sy pen ingeslaan en beduie hoe hoog hulle moet beginne bou. Self die vloerbalke gekap. Nie met dikteskawe en nuwerwetse katoeters wat die lewe so oneindig makliker maak deesdae nie. Kerf vir kerf die dik Oregon balke getem na sy wil. Die vloerplanke elkeen ingeslaan en self getap en gevoeg soos mens mos maar moet doen as jy verwag dat die volgende drie of vier generasies gaan loop en sit en soms dans daarop. Want mens doen iets sodat dit moet lyk asof jy dit wou doen, nie om dit net klaar te maak nie.

Ek sit hier en staar na 'n vuur in my kaggel wat netsowel 100 jaar terug kon wees. Ek sit en staar weg want hierdie kaggel is nie my handewerk nie. Ek het hom nie gebou nie, bloot hier gekry. Hopelik om op te pas. Net ingeval iemand dalk eendag hom netso mag waardeer. Die huis is oud. Histories oud as mens mooi wil terugdink. En ek moes toe besef toe ek die ou deure afhaal: Hier is baie jare se lag en vrolik en hartseer agter hierdie deure. Baie vloek en skel en harde woorde ook, as ek die ou mense se prate so beluister.

Want sien, om 'n ou deur se verf af te haal is op sy beste 'n lelike besigheid. En soos die laag vir laag stadig afgestroop word eggo Ra Mavenster se woorde letterlik in my ore toe ek destyds gekla het oor die liggrys olieverf wat Ivan Jesus met soveel pynlike netheid opgeskilder het. Want ek wou die hout he en Ra Mavenster het beduie: Jy los dit wat is want dis om 'n rede daar. En die lae kom af, kleur vir kleur. Grys, Bruin (so 'n lelike okerkleur bruin), groen (onbeskryflik lelik), donker groen, swart, en weer bruin. Om uiteindelik die lieflike grein van die Oregon te openbaar wat letterlik geslagte gelede gesaag en getem is onder eenvoudige arm mense se klein skafies en handgereedskap. Soos die verf laag vir laag afkom besef mens ook: Hierdie mense het nie net met hul verstand gedink nie. Hulle het met iets meer as hul harte gedink. Hulle het geweet: Hout moet met oneindige geduld en liefde behandel word, soos alles mos maar. Ek stroop die lae en lae verf af en ek weet dat hulle nie iets beters gehad het as doodgewone olieverf nie, en vir beeswaks en en olie was daar doodgewoon nie die tyd nie want die huis moet klaar want daars kinders wat moet versorg word en werk om te doen.

En die hout blom. en ek sien die merke waar hulle wat ek nooit eens geken het nie se hanne soms te hard gevat het (want Oregon Pine is mos maar soms soos 'n vrou, is dit nie?) Ek sien waar oupa se hand bietjie haastig was, want die hout wys dit. ek beduie vir Arthur dat ons daai spesifieke deel netso moet los, al sal niemand ooit weet waarom hierdie haastige generasie nou 'n kol op 'n deur moes los. En hy knik want hy weet dis hoe dit moet wees. Want dis ou hout hierdie.

Ons behandel hierdie lieflike hout met al die nuwerwetse goeters wat ek doodseker van is oor sestig of wat jaar netso sinneloos gaan voorkom. Dis was en Woodock en sealers en alles wat geld kan koop. Die ou deurknoppe werk nog asof hulle gister gemaak is en die Grinderwiel bring die Brass goudgeel uit soos dit dalk nooit sou gelyk het nie. Ons hang die deur en hy hang perfek.

Heeltemal uit plek en heeltemal uit pas met hierdie wereld. Die kleur pas nie in by die moderne dekorstyle nie want waar sien jy deesdae nog in neonverligte haastig saamgeflanste plekke iets so basies soos hout wat net nie helemal inpas nie?

Wel, ek gee nie om nie, en kan nou bekostig om nie meer om te gee nie. Want steeds kan hierdie ou kombuisdeur van my die res van die wereld afsny en my en my kaggelvuur alleen los as die res van die wereld wil sit en Sewende laan kyk.

 

oester

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top