Op reis na die droom

  • 0

Van jongs af het ek my verlustig in Annelize Morgan se boeke oor sandstorms, sjeiks en verbode romanse. Ek wou dit eerstehands beleef. Ek wou verdwaal in die woestyn. Vergete wees met niemand wat op my wag nie - persona non grata …

Daar is iets tussen “Caravans” se temalied en Annelize se epiese woestynverhale wat my laat hunker het na ‘n nomadiese lewe op ‘n plek waar tyd belet is en ‘n mens kan leef vir die nou – dis al. Hierdie droom was genoeg om ‘n rustelose hart op ‘n reis na Noord-Afrika te neem.

Dis Ramadan en vervoer is skaars. Taxi- en busbestuurders is moeg en hulle bestuursvermoë bedenklik, maar woestyn toe wil sy gaan.

Dis eers toe my beste Frans steeds nie die man agter die toonbank kan oorreed om aan ons retoerkaartjies te verkoop nie dat ek besluit moer toe, ek sal my eie weg woestyn toe baan en hopelik … weer terug.

Ek slaag daarin om buskaartjies tot in Quarzazate te koop en hoop heimlik ons vind betroubare vervoer verder. In die hoofstraat staan ‘n lang Arabier geklee in tradisionele klere. Hy lyk soos ‘n Toeareg en ek vra hom hoe ek in M’hamid, die poort na die Sahara, kan kom.

Die man sê ons kan ‘n paar aande in sy bivak naby Erg Chegaga bly en teen ‘n geringe bedrag ekstra, kan ons saam met hom in sy ‘kat-kat’ (viertrek) tot daar ry. Ons verduidelik dat ons wil saam, maar ons het nie geld vir die ‘kat-kat’nie. Hy bevestig dat ons met publieke vervoer ook tot in M’hamid kan kom, maar versuim dat dit ‘n nagmerrie is, want eers moet ‘n mens ‘n taxi Zagora toe kry en dan ‘n ander na M’hamid. Onbewus van die uitdagings wat voorlê, spreek ons af om die volgende dag om 16h00 in M’hamid te ontmoet.

Die volgende oggend, dou voor dag, stap ons na ‘n parkeerterrein waar ‘n paar vervalle motors staan. Ek sê-vra Zagora? ‘n Man wys na ‘n roomkleurige 1980-model Mercedes Benz. Links voor sit die bestuurder, Dannie sit op die handbriek en ek hang halflyf by die venster uit. Agter sit 3 mans, ‘n vrou en ‘n baba. Die kattebak is vol gelaai en die res van die bagasie, wat ekstra kos vir toeriste, word bo-op die dak vasgemaak. Ek hoor woing-woing. Die skokbrekers is sat en dit klink asof die wiele enige oomblik gaan afval, maar sit, sit ons. Ons is op pad …

In Zagora word daar op ons toegesak soos bye op ‘n heuningnes. Ek wys die vriendelike uitnodiging om in die hotel oorkant die pad vir die volgende taxi te wag, van die hand. Die bestuurder van ‘n Peugeot-stasiewa roep ons nader en beduie ons moet agter inklim. Daar is nie veel spasie nie en ons lê half. Ons is die laaste passasiers en die taxi mag vertrek.

Dit is nog 86 kilometer M’hamid toe. In die volgende dorpie, Essouda, kom die Peugeot tot stilstand. Die bagasie word afgelaai en op die sypaadjie uitgepak. Ons s’n ook! Die situasie verwar my. Ek verstaan nie Arabies nie. Ons het betaal vir vervoer tot in M’hamid en nou staan ons op straat … ?

Ek voel moedeloos en magteloos en in ‘n oomblik van waansin en desperaatheid, oorweeg ek om die orige 36km te stap. My plan word onwillekeurig verander wanneer ons agter in ‘n kleiner motor geboender word. Die bestuurder ry op en af in die hoofstraat en lê op die toeter. Skielik jaag hy tussen die huise in dat jy net kinders en hoenders sien spat. Hy stop in ‘n nou stegie. Verbyster loer ek oor my skouer om te sien wat aangaan. Binne-in ‘n ou skuur is ‘n klomp petrolkannetjies. Daar word onderhandel vir brandstof. Die ‘petroljoggie’ stry nog oor die vergoeding toe trek ons weg dat die stof, letterlik, staan!

Die pad M’hamid toe is ‘n teerpad met kolkgate. Die breedte is net-net wyd genoeg vir een voertuig. My oë rek met die besef dat die halwe meter grondpad aan beide kante van die teerpad vir die bestuurder is wat bereid is om eerste pad te gee. Wie sou kon dink daar is verkeer in die woestyn!

Na ‘n paar noue ontkominge en wat soos ‘n ewigheid voel, kom ons in M’hamid aan.
M’hamid is ‘n ‘wadi’ met ‘n paar palmbome, kamele, modderhuisies en ‘n moskee. Die stof dwarrel in die verlate strate sonder ‘n mens in sig. ‘n Arabier verskyn en saal twee kamele op waarop ons, onseremonieel, die woestyn in vaar. ‘n Paar ure later, bereik ons die eerste bivak. Die Toeareg van vroeër, Ismail, verskyn en lag uitbundig: “Welcome! You’ve made it! Let’s drink tea!”

Die volgende oggend ry ons saam met Ismail in sy ‘kat-kat’ tot by Erg Chegaga. Ons bereik die duin voor sonsondergang. Hy jaag ons aan: “Quick. Go now!” Dit neem ‘n uur om die 330-meter hoë Maverick in die see van sand uit te klim. Teen die tyd wat ons terugloop, ontwaak die sterrehemel en verlig ‘n bivak vanwaar die melancholiese klanke van ‘n kitaar ons groet.

Die groot besorgdheid oor die enkelkaartjie woestyn toe is vergete en hoe ons weer in Marrakech gaan kom, maak nie saak nie. Ons drink goedkoop Franse wyn en klink ‘n glasie op dit wat was en vergeet van more. Vanaand word daar féés gevier. Ons vier die lewe en drome wat waar word. Die nou is al wat geld.

Die strate van M’hamid is nog net so verlate soos met ons aankoms drie dae tevore. Ismail beveel: “Wait here.” Hy verdwyn en uit die bloute en uit nêrens, verskyn ‘n kombi wat soos die A-team se ‘getaway car’ lyk. Die skuifdeur gaan oop. ‘n Arabier spring op die dak en verduidelik aan Dannie om die bagasie aan te gee. Ek loer binne die kombi. Daar is nie sitplekke nie, net ‘n paar Marokkane wat staar en seker wonder: “Wat máák hulle hier!?”

Die avontuur is duidelik nog lank nie verby nie…

 Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top