Op reis met vrye teuels

  • 0

Soms is ’n mens so gelukkig dat jy aan jou gemoed en gees vrye teuels kan gee op ’n wyse wat die siel verryk en die laste van die lewe wat jy soos ’n swaar rugsak saamdra, verlig. Sulke ervarings moet gekoester word, want ’n mens beleef dit selde − sou jy so geseënd wees om dit te eien vir wat dit is wanneer dit gebeur...

Ons is vierstuks wat die Drakensberg aanpak en dit het tot dusver vasbyt geverg. Ons het die Orrelpypepas van die Natalse kant bestyg en ons bestemming is die kruin van Mont-aux-Sources. ’n Lid van ons geselskap het naby die bopunt van die pas gegly en sy knie redelik erg beseer. Dit veroorsaak dat hy nou net kan hinkepink.

Ons het gisteraand in ’n grot geslaap, maar moes ongerief verduur. Ons het vir ons permitte betaal om daar oor te slaap, maar toe ons daar kom, vertraag deur ons kameraad se besering, moes ons vind dat die grot (eintlik net ’n bakkrans) oorgeneem is deur ’n groep wat van die Vrystaatse kant gekom het — waar jy nie vir jou verblyf ’n permit hoef te kry nie. Twee van ons het daarom nie die gerief van die grot se vloer (en van die skuiling) gehad nie. Dit was op sigself nie juis ’n probleem nie behalwe dat daar dié nag nie die geringste asempie van ’n lugbeweging op die berg was nie en ons slaapsakke sopnat bedou was.

Vandag begin nie goed vir ons nie. Die versorging van ons vriend se knie neem heelwat tyd in beslag en nou volg ons ’n ompad tot by ’n stroompie sodat ons kan was, ons waterbottels vul en ontbyt eet voordat ons met dapper en stapper aanstryk. Die son het ons eers hier bo in die dun lug redelik kwaai gekarnuffel, maar ewe skielik kom ’n sterkerige wind reg van voor op en hy is meer as bloot koel. Nou ja, ons is gerat hiervoor want dis tog Die Berg; hier is wisselende weersomstandighede so volop soos sy rotse. Ons aanvanklike beplanning is om vandag deur te druk na Mont-aux-Sources en daarvandaan na Gray se Pas waar ons in ’n ander skuiling wil oornag. Ons beseerde vriend sukkel en dit lê ons pas aan bande.

Dis op die spits van Mont-aux-Sources dat ons besef ons het ’n probleem op hande, want die wind het skielik baie sterker en sommer yskoud geword. Swart wolke pak uit die suide saam en ons grootste vrees is dat ons in ’n sneeustorm kan beland. Ons is terdeë bewus van die vele gevare wat so iets vir ons kan inhou. Ons besluit om alles in te span om die veiligheid van die grot te bereik voordat ’n moontlike storm ons tref. Ons neem elkeen iets van ons beseerde vriend se las uit sy rugsak en dra dit sodat sy knie minder gewig kan verduur en ons hopelik vinniger kan vorder.

Ons plan help, maar dis teen hierdie tyd só koud dat ons oë onophoudelik traan, ons hande gevoelloos is en ons strompel omdat dit voel of daar geen kontak tussen ons wil, ons bene en ons yskoue voete is nie. Ons bereik die grot betyds, maar vind dat die wind só in en om die grot dwarrel dat dit ewe erg binne as buite die grot is.

Eers ná redelike groot moeite kan ons daarin slaag om ’n gasstofie brand te maak, want die wind waai die gasvlam kort-kort dood. Uiteindelik kook die water en kan ek ’n koppie kitssop maak. Ek gaan sit op die grond met ’n rots agter my in ’n nuttelose poging om my teen die wind te beskerm en is besig om my hande met my beker te verwarm toe ek dit vir die eerste keer in my lewe sien.

Dit is ’n lammergeier (of baardaasvoël), een van Suid-Afrika se seldsaamste en mees bedreigde voëlspesies. Dit sweef-dryf moeiteloos teen die sterk wind in. Dit is net effens hoër as die vlak waarop ons is en kan oor die afgrond heen nie verder as 30 meter van ons af wees nie. Die grootte van die voël skok: die vlerkspan moet nagenoeg drie meter wees! My vriende en ek sit vasgenael, betower deur die lammergeier se nabyheid en prag. Die aasvoël draai sy kop so in die vlug en kyk na ons − asof hy elkeen van ons se stoffasie wil meet.

Nooit as te nimmer sal ek dié voël se skoonheid vergeet nie. Die lammergeier verskil van ander Suid-Afrikaanse aasvoëls in die sin dat hy nie ’n kaal nek het nie. Dit het ’n roesbruin bors en bene, swart rug en vlerke, ’n wit gesig met swart vere om die oë en bokant van die snawel wat soos ’n wafferse druipsnor hang.

Dit laveer vir ’n rukkie teen die wind in om ons blykbaar goed te bekyk, en sit nou sy vlug voort, rustig, moontlik op pad na die een of ander onbereikbare krans waar hulle gewoonlik slaap of broei.

Terwyl dit so kalm wegsweef asof daar geen stormwind tier nie, is dit asof hy my hart en gees saam wegvoer. Hoe ongelooflik majesteitlik! Hoe buitengewoon dat ons die voorreg gehad het om een te sien, en van so naby! En met daardie lang kyk waarmee hy ons geweeg het, het dit voorgekom asof hy ons teenwoordigheid as medebewoners van Afrika as vanselfsprekend aanvaar.

Ons vier is oorstelp deur ’n gevoel van verwondering — ook asof van ’n heilige oomblik. Ek voel vir ’n oomblik afgehaal omdat ek nie mý arms eenvoudig kan sprei en saam met die lammergeier die hemele invaar nie. Sou dít nie die kroon op so ’n belewenis span nie!

En skielik, danksy hierdie buitengewone verbintenis met die natuur, is al die harde bene wat ons op hierdie bergekspedisie gekou het, die bitter koue en stormwind alles vergete omdat my gees ’n gewaarwording van verinniging en baldadigheid kan beleef; bloot omdat ek vir ’n paar sekondes vrye teuels daaraan kon gee om te reis ...

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top