Op pad na die land van Hayk

  • 0

Op pad na die land van Hayk

Na twee, drie ure se vlieg begin die passasiers op Air France se vlug AF 2998 van Parys na Yerevan rusteloos in die paadjie, tussen die sitplekke en voor die toilette in groepies rondstaan. Armeniërs van oral oor kuier asof hulle mekaar al jare lank ken. Dit is asof die afwagting begin oplaai.

Na nog ’n uur of wat vlieg ons oor die Swart See. ’n Middeljarige, effe gesette dame staan op en begin saggies sing, dan al harder en met meer emosie  – ’n melankoliese, aangrypende lied. Van die mans begin saamneurie, vrouens snuit hulle neuse en vee met wit sakdoekies trane uit hulle oë.

Nog nader aan Armenië sit die vrou weer in, hierdie keer dirigeer sy doelgerig en die meeste mense aan boord sing uit volle bors saam. ‘Mer Hayrenik, azat, ankakh…’, vibreer dit deur die vliegtuig. Ek en my drie reisgenote sit in verwondering en luister terwyl ’n man met ’n goue ketting om die arm in suiwer Engels vir my vertaal, “Land of our fathers, free, independent…”

Armenië, ’n klein landjie geleë in die suidelike Kaukasus tussen die Swart See en die Kaspiese See, ingewig tussen die ewe klein Georgië, Azerbaijan, Iran en Turkye, is afhanklik van die finansiële en morele steun van een van die grootste, mees suksesvolle en ondersteunende diasporas in die wêreld.

“Hoeveel volke is daar nie wat versprei is nie?” dink ek by myself.

Die vliegtuig moet hoog bly om veilig oor die hoë Kaukasus gebergte te kom en duik dan skielik af vir die landing op Zvartnots Lughawe, wes van die hoofstad, Yerevan. Toe die vliegtuig se wiele grondvat, gaan ’n groot gejuig op – mense klap hande, party fluit en ander huil openlik.

“Loyal to Armenian Values”, groet die groot advertensiebord in die aankomsaal die passasiers wat opgewonde vir hulle bagasie staan en wag.

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top