só het ek dit nooit kon dink nie
hierdie kant’lende groet
(soos ‘n geknaktheid
tussen ons)
en ons palms
weg van mekaar gedraai
want so lank
sou ons na mekaar toe weer
al was daar dyns’rige dae
en al was daar mistroostige vliese oor jou oë
(sou ons immer verwant
bly
aan liefhê)
só, sou ek dit nooit kon binnetoe nie
dat ek apart van jou moes staan
soos iets broos
en dun
‘n blote wegwees
as ons hóéveel dae
(en nagte) mekaar se sien gegroet ‘t soos dorstiges
maar nou weet ek
dat ons monde mekaar uitgevier het
en mis ek
wat woorde nooit kon sê nie
want soveel
gemaklike stiltes
het ons harte immer vooruit bly loop
© A Marais 2016


Kommentaar
en mis ek
wat woorde nooit kon sê nie. Pragtig.
Waardeer jou saamlees Marli. Dankie 🙂
Briljante skryfstuk. Briljante skryfster. Puik werk Alida.
Voortreflike skryfwerk, Alida. Soos altyd 🙂
Ek is bevoorreg om Alida persoonlik te ken en kan getuig dat sy net so 'n pragtige mens is as haar gedigte.
Mag ek 'n gedig aan u stuur?
***
Stuur voorleggings aan: skryfwerk@litnet.co.za, asseblief
Lielies, Carma en Mitz. Ek is bevoorreg om lesers soos julle te hê. Dankie vir die ondersteuning, ek waardeer julle!