Dagsê Angus
Ek verwys na jou opmerking op 22 Maart onderaan my brief.
Jy sal beter moet verduidelik swaer; jy sê die " ... evolusieteorie kan voorspel. Dit is waarom dit as model dien vir Plant- en Dierkunde. Die boer op die plaas sou nie kon bestaan nie en Landbou en Veeteelt sou daarmee heen wees."
Is jy seker? Die landbourewolusie het derduisende jare gelede plaasgevind. Toe het die mens (of sekeres van die mens) afgestap van sy nomadiese jagtersbestaan en begin plant, oes en teel met diere. Hulle het dit gedoen sonder Darwin
Jy sê verder die teorie voorspel " ... dat lewensvorme sal aanpas in reaksie tot seleksiedruk ..." Om aan te pas is nie om te evoleer nie. Daar is die wat aangepas het by byvoorbeeld die NSA en daar is die wat NIE aangepas het nie, wat emigreer het. Die spesie bly egter onveranderd, net soos die grys en wit motte of die guppies. Pêrelduikers met groter longkapasiteit is aanpassing, hulle is nie ’n ander spesie nie.
Jy gaan verder en noem in dieselfde asem "aanpassing" en "nuwe spesies" – hoe, aan die hand van die teorie, word die totstandkoming van nuwe spesies voorspel? Omdat daar fossiele bestaan, of omdat daar nie ’n alternatief aan gedink kan word nie of omdat dit logies klink?
Wat betref jou Rottweiler verwar jy genetika met evolusie. Perdetelers, hondetelers, duiwetelers, blommetelers, vistelers, noem maar op, hulle was al besig lank voor Darwin se oupagrootjie gebore is. Soos Jan Bonsma die Bonsmara geteel het, het een of ander goeie teler jou kalm Rottweiler geteel – g’n voorspelling nie, net kennis en toewyding.
Jy kry die WET van Archimedes maar die TEORIE van evolusie. Dalk kry hulle dit eendag reg om so’n wet te formuleer maar daar lê nog baie werk voor.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap
Beste Jan Rap,