Oor Afrikaans: kamaan smile, vir Jan Rap

  • 1

Die feit dat my ’n glibberige kalant noem, wys op die inherente swakheid van al jou briewe. Jy probeer my vaskeer, in plek van by die onderwerp hou, nl Taal en in besonder, Afrikaans.

Taal is daardie klanke wat ’n mens kan maak met sy spraakorgane waarmee hy woorde en sinne kan maak met die doel om inligting oor te dra aan ’n ander mens. Daardeur kan hy bv sê wie wat gedoen het, en waarom. Hierdie stroom spraakklanke word taal genoem. Om te kan kommunikeer is die wese, die kern, die essensie van taal.

Baie tale het ook ’n letterkunde, maar dit is nie absoluut noodsaaklik vir ’n taal om te kan bestaan nie. Neem Afrikaans se letterkunde weg, en dit is nog Afrikaans. So ook met enige ander taal. Indien dit egter nie meer gepraat word nie, al besit dit ook al die letterkunde van die wêreld, is dit nie meer ’n lewende taal nie. Die taal wat die mense aan die Kaap gepraat het, en waaroor Van Rheede in 1685 so gekla het, was taal, alhoewel dit nog nie geskryf is nie, en dus nie ’n letterkunde kon hê nie.

Jy beweer ek praat “loutere onsin” as ek beweer dat Nederlands in Suid-Afrika oorgeneem is deur Afrikaans.  Nou goed, verklaar vir my die volgende.

Op 22 Mei 1925 is die “Wet op de Officiële Talen van de Unie” onderteken. Daarvolgens was daar drie amptelike tale: Engels, Nederlands, en Afrikaans.

Ek wil by jou weet wat intussen van Nederlands geword het. Is dit nie vervang deur Afrikaans nie? Waar is daar gemeenskappe wat Nederlands gebruik om te kommunikeer? Waar is daar ’n Afrikaanse kerk waar die dienste nog in Nederlands gehou word?  Die bietjie Nederlands in Suid-Afrika is maar beperk tot  die studie van letterkunde.

Ek volg nie jou argument in paragraaf 5 nie. Dit lyk vir my jy dink dat as ’n taal ontwikkel uit ’n ander taal, en daardie ontwikkelde taal verdring dan die taal waaruit hy ontstaan het, dan vervang hy nie daardie taal nie.  Ek volg nie die logika daarvan nie.

Jy is nie konsekwent nie omdat jy die ontstaan van Afrikaans uit Nederlands  as iets wonderliks beskou, en die ontstaan van drekafrikaans, soos jy dit noem, uit Afrikaans verafsku. Linguisties gesien, geld dieselfde beginsels vir albei.  Die enigste verskil lê in geografiese skeiding. Nederlands is ’n oorsese taal wat moes aanpas hier in Suid-Afrika, en hierdie aanpassing het Afrikaans tot gevolg gehad, ’n heeltemal nuwe taal.  Drekafrikaans het sy ontstaan te danke aan Afrikaans wat gedurig moet aanpas by omstandighede en naas Engels in Suid-Afrika bestaan. (Ek gebruik met opset jou benaminge van drekafrikaans en gatlekwoorde, want dit mag dalk in die toekoms erkende linguistiese terme word.  Tale het juis die vermoë om woorde te veredel.  ’n Voorbeeld is “vir iemand in die bresse tree” wat nogal verband hou met jou “gatlekwoorde”.)

Dis waar dat nadat NP van Wyk Louw  Raka geskryf het, kan dit nie  meer anders geskryf word nie. Ek sien jy spog met Breytenbach se “suiwer Afrikaans.” Sou jy hierdie gedig van hom dan liewers wil verander?

WOORDKASTEEL

Sondag Maandag
Sterdag en Donderlag
Femme Cochon Con
Gosse en Trosse
Bos,
House Tree Water
Brood en Botter
Eine kleine Nachtmusik

Soveel tale soos jy kan
Zoveel malen ben je man

En dan verder:

Boland donda esta
Snakker en old Chap
Hvala en Prego
Es gab zu viel  Merde
Et Kabaal,
More vroeg kry jy ’n maal
Woensdag en Oktober

Fly by South African  Airways

Of wat van Adam Small se vrugteverkopertjie  in Kitaar my Kruis as hy met die witvrou praat:

nai, mêrim
toe, toe smile
kyk daar
ons tentjies is vol happiness gepaail.

Moes hy liewer geskryf het: ons vrugtestalletjies is opgestapel met vrugte wat die eter daarvan plesier en vreugde sal verskaf?

Ek herhaal: taal is gemaak met die uitsluitlike doel om te kommunikeer. Taal is nie gemaak om letterkunde voort te bring nie. Letterkunde  verryk  ’n taal, maar is nie noodsaaklik vir sy voortbestaan nie.

Anders as wat jy op skool geleer het: sinonieme is nie woorde met dieselfde betekenis nie. Sinonieme is woorde met  dieselfde betekenis maar met gebruiksverskille.  Enkele voorbeeld: klimaks en hoogtepunt is sinonieme. Hulle het dieselfde betekenis, maar tog is daar gebruiksverskille, daarom bestaan albei in Afrikaans.  Jy sal bv. sê: “My besoek aan die Kaap was ’n hoogtepunt in my lewe.”  Jy kan tog nie sê dit was ’n klimaks in jou lewe nie. Aan die anderkant sou jy tog nie die fyndraai as ’n hoogtepunt beskryf  nie. Soms is die woorde so na aan mekaar dat dit moeilik is om te sê waarom die een die ander nog nie uitgedruk het nie, bv fisika x natuurkunde, eleksie x verkiesing, balans x ewewig, imitasie x namaaksel. (Of is imitasie  al uitgedruk?)  Ek dink  brosjure  het al  vlugskrif  vervang.

Nog iets van taal:  dis nie net vir geleerde mense bedoel nie, taal behoort aan al wat mens is; of hy geletterd is of miskien glad nie skoolgegaan het nie,  of  hy ’n IK het van oor die 200 en of hy ’n idioot is, maak nie saak nie. Ons huishulp kan  vyf tale praat, maar het nooit skoolgegaan nie, en kan nie lees of skryf nie. Sy teken haar naam met ’n X en as sy die inkopielys saamstel, kopieer sy dit van die blik of omslag af.

So van Woody Allen gepraat.  Nadat hy leer snellees het, het hy  War and Peace aangedurf. Hy het die boek binne twee uur glo kafgedraf, maar toe hulle hom vra waaroor dit gaan, kon hy net vaagweg sê: ”It was about some Russians.”  ’n Taal se woorde en sinne dra beslis swaarder aan betekenis as dít!

Groete,

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie is een woord, pragtig: 

     
    nai, mêrim 
    toe, toe smile 
    kyk daar 
    ons tentjies is vol happiness gepaail.

    Verstommend oor hoe goed dit werk. 

    Ook Woody Allen: 
     
    Eternity is a very long time especially the last 15 minutes ...
     
    I told my boss I will be late for the work, the universe is expanding and it takes me longer to get to work ...
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top