Ons sal nooit vergeet nie

  • 6

Ek het onlangs 'n artikel gelees oor die ou SAW en dit het baie herinneringe teruggebring van daardie tyd. Ekself het my 2 jaar militêre diensplig gedoen gedurende 1984/85 by 2 Spesiale Diensbataljon in Zeerust. My grensdiens gedoen by 10 Pantser in Oshakati. Ek het met trots gedien in een van die beste en mees gedissiplineerde weermagte wat daar was. Dit was harde en goeie opleiding wat ons ontvang het wat ons goed toegerus het vir die taak wat voorgelê het. Daar was goeie en slegte tye, maar ons is saamgesnoer as 'n hegte eenheid en baie vriendskappe is gesmee. Ons het in die weermag ingegaan as seuns, maar daar uitgekom as manne en het dinge gesien en beleef wat mens nie in woorde altyd kan beskryf nie. Baie manne het heel teruggekom huistoe, maar ander het hul lewens verloor in die grensoorlog. Ander is vermink of het geestelike letsels opgedoen wat vandag nog by hul spook. Watter dank het die manne ooit gekry vir al die opofferinge wat gemaak was destyds? Absoluut niks nie en almal word nou uitgekryt as beskermers van Apartheid, wat natuurlik 'n klomp snert is. Die militêre stryd is onteenseglik deur die SAW gewen, maar polities het ons verloor omdat die politici van daai tyd ons in die steek gelaat het. Hoeveel van die destydse NP-politici het al dankie gesê vir die manne wat in die grensoorlog soveel moes opoffer vir hul land en wanneer gaan daai politici om verskoning vra dat hul ons op die politieke speelveld in die steek gelaat het? Die lede wat in die ou SAW gedien het verdien erkenning vir die puik werk wat hul verrig het om die land en sy mense destyds veilig te hou. Ek bring hulde aan al die manne van daai tyd en sal graag wil weet hoe hul voel oor alles wat destyds gebeur het en wat hul dink van die stand van sake tans in die land. Dis tyd dat ons ou weermagmanne se stemme hard en duidelik gehoor word. Dankie aan al die manne van daai tyd. Ons sal nooit vergeet nie!

  • 6

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Een ding is verseker, dit was nooit "wit vs swart" oorlog. Daar was baie meer swartes van Gebiedsmagte en SAW verwond en gedood, as wit dienspligtes. Dit was 'n era waaraan nou net nostalgie kleef.

  • Barend van der Merwe

    Ek is seker die opleiding wat julle ontvang het was eersteklas, maar die diensplig self en die feit dat jy vrae daaroor vra, spreek boekdele. Persoonlik sou ek die opleiding ook wou deurgaan maar nie die diensplig nie. Maar ek was nog 'n kleuter in 1990 toe Mandela vrygelaat was.

  • Beste Fritz
    Die SAW was ‘n belangrike instrument om politieke doelwitte te bereik.Dit was egter ook instaat om die planne wat gesmee is om dit te bereik in die wiele te ry.Dit is om die rede dat ‘n mens kon lees: Monday 21 December 1992 01:02
    President de Klerk said he had sacked or suspended 23 military officers, including two generals, and had ordered state prosecutors to lay charges wherever possible. Mr de Klerk postponed the identification of the people dismissed until they had been told, but newspapers speculated yesterday that the list could include top military and intelligence chiefs. https://www.independent.co.uk/news/world/sa-generals-under-fire-in-army-purge-1564826.html”

    Daarmee is enige rebellie in die kiem gesmoor.Dat De Klerk en sy onderhandellaars geweeg en te lig bevind , is duidelik uit die feit dat de Klerk nooit vir President Mandela kon oorreed om geweld af te sweer.

    Daar was ‘n lang en uitgerekte onderhandelingsproses wat uiteindelik gelei het tot die bedeling van vandag.Omdat dit ‘n oorhandiging van mag was het dit ook die sekuriteitsmagte ingesluit en dit is dus duidelik met die SAW effektief onderbeheer van die nuwe regering, die min sou doen om diegene wat gesien is as die primêre beskermers van die ‘Apartheidstaat’ by te staan met traumaberading ens.

    Die SAW het sy doel gedien en moes soos alle ander instellings ‘getransformeer word’.Dit is baie jammer dat in al die ooreenkomste wat uit die onderhandelinge gespruit het, daar sover ek weet nooit voorsiening gemaak is vir berading van diegene betrokke in die bosoorlog asook geldelike bystand

    Baie van die onderhandellaars is beslis beter daaraantoe finansieel as diegene wat hul lewens op die spel geplaas het om die doelwitte van die onderhandellaars moontlik te maak.

    Self was ek nie in die bosoorlog betrokke nie alhoewel ek lank ‘n aktiewe lid van die Regiment Oos Rand was en na voltooing van diensplig alle voorgeskrewe kampe in die regiment voltooi het.

    Wat kan ‘n mens sê van die huidige stand van sake waar verval op alle gebiede alhoemeer sigbaar word.Van al die mooi beloftes en ‘wigte en teenwigte’ het daar mi min van gekom. Dit veral die blanke jeug wat alhoemeer op alle gebiede gemarginaliseer word en is Afrikaans as onderrigtaal besig om te verdwyn.

    Hoekom het dit misluk? Die hele proses was van die begin af gedoem omdat die uitgangspunte van die onderhandellaars radikaal verskil het en daar nooit met die leiers van die verskillende bevolkingsgroepe onderhandel is nie maar met radikaal gedrewe politieke leiers gegrond in kommunistiese ideologie soos veral verwoord in die Vryheidmanifes.

    Persoonlike aanspreeklikheid is vervang met kollektiewe aanspreeklikheid wat ‘n grieflike skuil-en ontplooings plek geword het vir mense onbevoeg vir die amp maar daar as vergoeding vir hul deelname in die ‘struggle’. Soos die staatskapingondersoek toon, het hul definitief nie ‘gestruggel’ om arm te wees nie.

    Dat misdaad veral geweldadige oortredings soos moord verdriedubbel het en armoede en werkloosheid floreer het hul nie gekeer nie en is hul deur die ANC beskerm en herontplooi terwille van die behoud van die ANC en nie Suid Afrika en sy inwoners nie.

    Gesien teen die agtergrond kan die vraag teregte gevra word was dit alles lewensverlies en verminking en verlies aan selfstandigheid inaggenome al die opofferinge dit die moeite werd.

    Ek dink dit is ‘n vraag wat elkeen vir himself moet beantwoord ,sy ervaring en opoffering ianaggenome.Ek sal nietemin na my diensplig terugkyk as die mees karaktervormende deel van my lewe.

  • Barend, ja ons ouer garde het seker gemoedsbekakkings oor die weermag dae. Ek was daar langer as die voorgeskrewe twee jaar. As ek moet kyk na die voor en nadele daarvan sal ek waag om te sê die voordele oorskry die nadele. Ek het in 'n baie geslote plattelandse gemeenskap grootgeword. Ek het een dag my gat afgskrik toe ek twee Joodse rabbi's op die Jan Smuts lughawe gesien het. Gedog hulle is nie van hier nie. Die weermag opleiding was goed. Die dissipline was goed. Die mense kennis wat ek daar opgedoen het was van onskatbare waarde. Elke jakkals en muishond van elke vlak van die samelewing was daar. Die politiek van die tyd was ons totaal "onbewus" van. Die rooi gevaar elke Bolsjewis, Kubaan en Sjinees was 'n bedreiging. Daar sal uiteraard herrinerringe en "verlange" na die goeie tye wees. Ons onthou dit agv die trots wat ons gehad het. Die SAW was gereken van die bestes ter wêreld. Ons wapentuig was hoog aangeskryf. Ons Spes Magte was beter as die lot waaroor flieks gemaak word. Ons vlieëniers was uiters bekwaam. Dit is waaroor ons trots is. Ons het vergewe. Vergeet moeilik.

  • Hans Richardt

    Die sg Bosoorlog, was CIA-proksie oorlog in die groter prentjie van NAVO vs Soviet unie.
    Ons nostalgie oor diensplig, is net dit. Die Dakar-albatrosse kry geen nostalgie oor hul dienspligdae. Na SWA Namibië geword het, was baie weermag uitrusting op veilings verkoop vir 'n appel en 'n ui, veral die uit WO2 en Korea oorlog era, wat in stoorplekke opgegaar was in Pretoria. Weermagbasisse het in plakkerskampe verander. Nou wonder ek of daar werklik goeie rekord was van voorrade in SAW? Ek het met my eie oë in Grootfontein 'n pakhuis met 10 ton van daai skuurpapier toiletpapier, wat mens splinters op daai kol gegee het en wit goud genoem was, agv skaarsheid in Owambo se basis toilette... Iewers het iemand geld onder tafel gekry...
    Ek dink, dit was grootskaalse korrupsie, waar rekeninge eers betaal was en die res van die geld dan gesteel was...
    Ek dink die weermag was 'n plek waar swak karakters prestige in vorm van range gekry het. Die kokkenolle in samelewing wie iemand was in hul weermag uniform. Dit was 'n wetlike verpligting, wat verby is nou. Die manne wie nou nog klou aan hul groen pasboekie en betaalboekie, moet dit nou saam met verbleikte fotos wegpak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top