Ondermyning van Afrikaans

  • 2

Op RSG, veral met Monitor en die nuus, vertel 'n verslaggewer of –geefster dat 'n amptenaar of 'n minister sus of so gesê het en dan volg die relaas, in Engels, van die einste minister of amptenaar waarvan die verslaggewer/-geefster reeds die opsomming gegee het. Die verslaggewer/-geefster gaan dan voort en sê die betrokke persoon het verder dit en dat ook gesê en dan volg die Engelse relaas weer wat presies sê wat die joernalis reeds gesê het.

Hoekom? Hoekom al die Engels? Hoekom tree RSG op asof alle Afrikaanssprekendes Engels moet verstaan? Engelse stasies sal nooit op dieselfde manier die Afrikaanse relaas gee nie en sou mens hulle vra hoekom nie sal die logiese antwoord wees dat dit onnodig is (en hulle mag byvoeg dat hulle luisteraars nie daarvan sal hou nie). Hierdie praktyk van RSG ondermyn Afrikaans; die stasie gee hierdeur te kenne dat Engels belangriker as Afrikaans is.

Verder is daar die advertensies wat eindig op 'n Engelse slagspreuk. Die redenasie dat die stasie nie die advertensies sien of hoor voordat dit op die lug is nie hou nie water nie. Vir seker is daar voorskrifte vir adverteerders waaraan hulle moet voldoen as hulle radioadvertensies wil plaas soos byvoorbeeld geen vloekwoorde nie, niks wat rassehaat of -spanning kan aanwakker nie ens ens. Hoekom is dit nie in die spesifikasies dat, vir 'n advertensie om op 'n Afrikaanse stasie aanvaarbaar te wees, moet die advertensie Afrikaans wees nie? Dis mos maklik, en RSG het juis nou die voordeel van 'n hoë luistertal; hulle behoort nie verleë te wees nie.

Dan is daar die kwessie van Engelse gaste, mense wat groet in Afrikaans maar dan aankondig dat hulle in Engels gaan praat (en, gruwel der gruwels, die omroepers of –sters wat dan heeltemal handuit ruk met hulle gerusstelling; hulle klink eintlik bly dat die persoon Engels gaan praat, seker punte vir hulle prestasie-aanslag). Dan is daar die gaste wat heeltemal Engels is, wat glad nie Afrikaans kan praat nie. Waarvoor op aarde sulke gaste na 'n Afrikaanse program nooi?

Ook inbellers wat Engels praat op Afrikaanse geselsprogramme. As die persoon die program in Afrikaans kan volg moet hy sy kommentaar in Afrikaans gee want daar ís plattelandse mense wat nie kan Engels praat nie en graag wil hoor wat aangaan. Selfde met die Engelse boodskappies; hoekom lees die omroeper dit nog?

Net so erg is hierdie nuwe uiters irriterende gewoonte van veral omroepsters om Engelse woorde op Engels te probeer uitspreek. Jy sal byvoorbeeld nooit kry dat 'n Engelse omroeper Afrikaanse name op die Afrikaanse manier uitspreek nie, dit pas nie by die sleutel van die taal nie. Buitendien, jy kan a) duidelik hoor hoe die omroepster byvoorbeeld die Engelse 'r' oorbeklemtoon en b) daardie 'r' is nie altyd so deur die Engelse uitgespreek nie. Die 'clipped English' van ouens soos John Mills of Rex Harrison bevat, veral tussen klinkers, ook die harde 'r'. Dit klink gedienstig en boonop baie kok.

Ek vermoed dis beleid by die SABC, en dus RSG, om Engels te stoot. RSG-bestuur behoort vernuftig genoeg te wees om, sonder dat hulle hul joppies in gevaar stel, nie hieraan mee te doen nie.

Jan Rap

 

 

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Ja, Jan Rap, uiters irriterend hierdie engelspraattery op Afrikaanse uitsendings. Veral die Afrika-engels. Maar poitieke korrekheid is die inding. Hulle base sê dit moet so wees, daarom maak al die klase so.

    Ruggraatlose napraters, almal wat op RSG is. Wie kan trots wees op so 'n stasie en nasie? Met hulle kan ons net Kaaps/Afrikaaps as toekoms sien. Jig!!!

     

    Koos  

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top