Hierdie ou oom van ’n plaas doer in die Gobabis-distrik, was nog van die ou skool boere wat die wêreld mak gemaak het met wa en trekdiere. Later jare het die mouterkarre gekom en daarmee saam, heelwat later, die ding wat hulle assuransie noem, wat hy moes betaal vir in geval sy mouter in ’n ongeluk met anner karre kom. Hy kon dié ding nooit lekker verstaan nie want watter ander mens se kar sal hy dan ook kan raakry hier op sy plaas? En as hy die slag dan ook die pad dorp toe vat, dan ry hy so soetjie-soetjies stadig aan sy kant van die grondpad dat g’n mens ooit naby hom kan kom nie.
Maar toe kom die dag dat daar ’n troue is in die sondige stad van Windhoek en behalwe vir die ongeskikte mense wat so vir hulle toeter blaas waar hulle gaan, daai aand nog, in die gastehuis se kamer, steel iemand sy tas met al sy klere in. Op die raad van die jongeres in die omgewing, het hy dan ook sy lys van gesteelde goedere ingedien by die assuransie. Die volgende oggend toe slaat hy die lyn na die assuransie se kantoor toe om te hoor waar en wanneer hulle vir sy gesteelde klere gaan betaal? Aan die ander kant van die lyn is ’n vrolike jong juffer en sy wil speels van die oom weet of hy dink of dit reg is dat hy sy ou onderbroeke met gate in, van hulle af kom eis?
Die oom het nie te lank gedink nie, toe sê hy vir haar: “Nou juffie, as jy vir my kan sê waar ek onderbroeke met gate in kan koop, sal ek dit met graagte gaan doen.”
Namib

