Om te sien of nie te sien nie

  • 0

Vir ons twee op ons rugsakreis was dit ‘n byna bisarre keuse: Neuschwanstein of Dachau? Die inspirasie vir die Disney-sprokieskasteel of ‘n monument vir mense-moord? Hoe sou ons ons tweede dag in en om München deurbring?

Wat die twee bestemmings wel gemeen gehad het, was waansin – die betwiste waansin van Ludwig II en die magsbehepte waansin van Adolf Hitler. Ek het oorgehel na Dachau. Die reis daarheen was veel korter en my geneentheid tot die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog het die laaste in twee geskeurdheid laat verdwyn.

Weens die korter reis kon ons meer sien in die dag inpas, maar het soos altyd oorboord gegaan. Teen die tyd dat ons met die S2 Peterhausen trein by Dachau-stasie gestop het, was ons alreeds diep die middag in. Om alles te kroon het ons, met die uitgaan by die stasie verkeerde kant toe gedraai en sodoende die maklike busroete na die konsentrasiekamp gemis en aan die verdwaal gegaan. Ons het baie van Dachau se dorpsgebied gesien – die voorstedelike paaie en woonhuise en effense stug Duitse inwoners – maar die Dachau-konsentrasiekamp was soek.
‘n Groot ompad en gemompelde aanwysings later, het ons moegvoet en gejaagd voor die hekke gestop. Ons is huiwerig ingelaat alhoewel daar in swaar Engels aan ons beduie is dat die kamp naby aan sluit was. Ons het ons nie twee keer laat nooi nie en die terrein binnegestoom. Dit was ons styl, want ons was twee armgat-onderwysers wat alles sponsagtig bekyk, beruik, beluister, besmaak, bevoel – kortom belééf het, want die kans was groot dat ons beursies ons nie Europa ooit weer sou laat sien nie.

Maar daardie plek het ons daardie dag tot stilstaan geruk. Die sadness wat so lank terug daar gesaai is en steeds gedy het, het ons doodstil omhels. (Jammer, puriste, maar “hartseer” het net nie die verslaentheid van “sadness” in hom opgesluit nie.) Langwerpige steenfondamente het soos grafte gewys waar die houtbarakke van die prisoniers eens weerskante van die kamp se hoofstraat gestaan het. Die populiere in die laning was ‘n erewag vir die dood-afwagtendes, maar te laat aangeplant om in ‘n genadelose oorvol kamp vir skadu te sorg. Die staalbeeld van gestroopte stokkiesledemate, oopgesperde monde en vingers wat vergeefs smeek, is lewenslank op die beeldsensor in my kop geëts. Die minute tot toesluittyd het begin uitloop en ons het swyend op ‘n drafstap gegaan. Al ses sinne het oortyd gewerk. Om tyd te spaar het ek foto’s van inligtingsborde geneem vir na-lees op een-of-ander platsak-“pension” se holgerolde beddens. Na ‘n besoek aan Dachau kom slaap nie maklik nie …

                                                                                               ********
Daar was toe wel vyf jaar later, teen alle verwagting in, ‘n tweede besoek aan Bavaria. My reisgenoot en ek het begin om ander mense se kinders se horisonne na ander kontinente toe te vat. Tot die toeroperateur se verbasing het ons daardie Julie aangedring op ‘n besoek aan Dachau. Dit was dan so ‘n somber bestemming? Die kinders sal mos nie daarvan hou nie? Maar ons het geweet dat ons vir hulle meer as indrukwekkende geboue, prentjiesagtige pleine, oempa-orkeste en die Hofbräuhaus wou wys. Hulle moes nie net kyk nie, hulle moes sien.

‘n Groep tieners, saam met hulle vriende, sonder hulle ouers, in die vreemde. Dit daag jou uit, veral as jy lewensuitkyke wil verbreed, verwysingsraamwerke wil rek en wil verseker dat die toer nie netsowel in Margate of Plet kon plaasvind nie. (In hakies wil ek byvoeg dat jy ook nie met een minder of een meer by die huis wil aankom nie!) Jy maak die dagprogram tot oorlopens toe vol om die wisselkoers ten minste in besienswaarde te probeer teëwerk en om seker te maak dat húlle moegheid hulle vinniger inhaal as wat die ouderdom en oorgewig jóú snags neertrek.

Hulle was hulle gewone baie luidrugtige selwers terwyl ons op ons gids wag. Dalk was ons toeroperateur reg? Hoe gaan ons vandag al die voete bymekaarhou, al die ore oophou en al die monde gesnoer hou (behalwe wanneer iemand die rare intelligente vraag wil vra).

“Probeer ten minste geïnteresseerd lyk, sodat hulle nie dink ons is ‘n klomp onopgevoede barbare uit Afrika nie,” het ek hulle benoud probeer voorberei.

Maar ek het ons kinders vlak gevat. Hulle het hulle óók deur Dachau laat stilmaak.

Die gids het passievol vertel en gewys. Die paadjie wat hulle moes loop na die hek wat met Duitse staalwerk verkondig het dat arbeid jou vrymaak. Die martelmetodes, die gestreepte klere, die stapelbeddens waar uiteindelik minstens vyf mense die rantsoenspasie van een moes deel. Die strokie langs die grensdraad waarop ‘n wag sy pet sou gooi om dan óf selfaangestelde vuurpeloton te word wanneer die pet opgetel word, óf gewetenlose aanrander indien die pet bly lê. Die gaskamer wat te veel aan jou verbeelding oorlaat en die krematorium waar die lewelose lywe verbrand is terwyl hulle nog genoeg kole gehad het. Daarna is hulle maar voortgestapel.

Hulle toer het by die skreeuende staalbeeld geëindig met daarnaas die woorde: “PLUS JAMAIS – NEVER AGAIN – NIE WEDER”.

Ek het die bus laaste bestyg. ‘n Mens kon die oopgirts van ‘n rugsakkie se ritssluiter hoor. Ek kon nie net stilbly nie. Wat as dit net skok en sensasie was wat so dik om ons gelê het? Wat as hulle koppe in Europa vasgesteek het en hulle nie daardie krummels na Afrika se Suidpunt toe kon volg nie? Wat as hulle hul blindstaar teen ‘n Europese geskiedenis waaruit slegs die boorlinge van die Noordelike Halfrond kon leer? Wat as hulle nie verstaan het dat dit die geskiedenis van die Mensheid was waaruit alle skepsels ‘n les moes delf nie?

Ek het gepraat, gesmeek, betoog, dat dit nie weer moet gebeur nie. “NIE WEER NIE”. (Hoe gelaai is ons dubbele ontkenning tog nie!) Nooit weer mag enige groep – ras, volk of nasie – homself as meerdere beeld van God beskou as ‘n ander en daarom wil God speel nie. Want dit is waar ‘n Dachau sy fondamente kry.

Ek het in hulle oë gekyk en geweet hulle het gesien.

 Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top