Onlangs skrywe iemand hier op SêNet dat hy "In niks" glo nie, maar gaan toe voort om te probeer verduidelik dat hy wel "aan iets" glo. Ek kon nie lekker agter die kap van die byl kom oor wat presies bedoel is nie, maar die gevolgtrekking was duidelik, daar is 'n intense agnostiese en ateïstiese element wat knaend sy kop op SêNet uitsteek.
Nou wonder baie van hierdie ongelowiges, hoekom ons as Christene soms reageer en werklik omgee oor wat in daardie persone se geloofsharte plaasvind. Ek het lank hieroor nagedink en daar is in bree trekke twee redes hoekom Christene wel toetree en raad en bystand probeer verleen.
In die eerste plek is dit vir ons as Christene so 'n voorreg om Ons lewende God in ons lewe teenwoordig te hê. Ek kan eenvoudig nie Sy teenwoordigheid in my alledaagse bestaan miskyk nie. Sonder Hom is niks vir ons moontlik nie. Ek sal so graag hierdie gevoel van bystand wat soveel van ons ervaar met my medemens wil deel. Veral die wat Hom nie ken nie. Dit is dus onmoontlik vir my om net summier stil te bly, as ek ander mense se twyfel en soeke raaklees.
In die tweede plek sal enige Ware Christen intree as daar 'n bespotting van God gemaak word. Hieroor kan en mag die Christen nie stilbly nie.
Ek besef dat dit al tot baie debatte en gevegte op SêNet uitgeloop het, maar dit is een ding wat die goddeloses maar aan gewoond moet raak. Bespot God, en jy sal teenkanting ontvang.
Die meerderheid Afrikaners is Godgelowige mense. Op SeNet is daar so 'n paar wat werklik die pad byster is. Ek en meeste ander Christene gee werklik nie om om julle by te staan en van raad te bedien nie, maar moenie sagte woorde verwag as julle tot laster oorgaan nie. In daardie opsig trek ons die streep.
Groete,
Tant Alie


Kommentaar
Die lewende god wat jy nie kan miskyk nie, is niks anders as die skepping van die menslike verbeelding nie. Alle gode en religieë is deur die mens uitgedink, hulle bestaan nie in die werklikheid nie. Daarom is die Christene mos op 'n dwaalspoor: hulle aanbid die skepping van hulle verbeelding.
Ek en Angus is op dieselfde spoor. Ek het dierbare Christenvriende met wie ek tot die einde die ruimte op ons planeet wil deel en het geen behoefte om die sinjaal te trek wat hulle weg van hul dwaalspoor - waar hulle gelukkig is - sal lei nie. Ons is volwassenes en kan self besluit of ons 'n bestemming het en hoe ons daar wil kom. Omdat daar nie 'n stasiemeester is nie, is dit in elk geval sinneloos om sinjale te trek wat vriende se liefde kan ontspoor.
Tant Alie, volg maar die raad in Hand. 22:18: "Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor my getuig nie".
Want sien tant Alie, hulle gaan hier tekere soos in verse 22-23.
Mooi loop.