Om Eybers te kan hoor

  • 0

Titel: Klinkklaar (Bloemlesing met CD)
Outeur: Elisabeth Eybers
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150576
Prys: R300
 
 

Kan Elisabeth Eybers vandag nog as 'n "belangrike digter" binne die geskiedenis van die Afrikaanse poësie beskou word?

Sy is belangrik omdat sy deel was van die vernuwing van die Afrikaanse poësie: die Dertigers. Sy is die eerste vrouedigter in ons letterkunde wat gepubliseer het (Belydenis in die Skemering, 1936). Sy is belangrik omdat sy – sê die literatuurgeskiedenis – die "vroulike aanvulling" gebring het tot die mans van Dertig. Sy is ook die eerste wat in die 46 jaar waarin sy in Nederland gewoon het, Suid-Afrika nog in haar poësie onthou het: die "balling" wat nooit die tuisland vergeet het nie – en altyd in Afrikaans geskryf het.

Hoe sal haar verse die tyd trotseer? Dit weet ons nog nie, want die kritiek, en studies oor haar werk, het nog nie bepaal nie. Sê van die literêre kritici wat jy wil. Húlle kanoniseer, saam met die bloemleser. Dit bepaal hoe onthoubaar 'n digter is. Die verantwoordelikheid van ons Groot Verseboeke is bepalend. As die bloemleser goeie verse van 'n digter weggelaat het, dan sterf daardie skeppings.

Hierdie vrae vra ek na aanleiding van die versameling van haar poësie, saam met 'n CD: Klinkklaar (2008, Human & Rousseau), ’n versameling van 53 gedigte met die Voorwoord deur Ena Jansen. Sy sê dat sy probeer het om 'n beknopte maar omvattende beeld van haar oeuvre te gee (Groot Verseboek van 2000 het ongeveer 70 gedigte).

Gedigte in Jansen se versameling wat die tyd al deurstaan het, is "Maria", "Busrit in die aand", "Die eerste nag", "Die moeder", "Röntgenfoto", "Wespark", "Jong seun", "Twee Kleuters in die Vondelpark", "Ode aan Kontroleur de Laar", "Wat van my moeder?" en "Voorland". Maar dis my keuse. Daar is natuurlik nog ander wat nie hier is nie, soos byvoorbeeld "Midas"; maar dit sou waarskynlik 'n te sterk gedig gewees het – 'n te bittere aanklag - vir die ou digteres om te lees.

Die titel van die versameling is 'n vonds. Dit kom uit die gedig "Sonnige voorjaar", oor die vreugdevolle fluit van die merels vir die somer, voor die winter kom:

'n Keel vol klinkklare weerbaarheid
waarborg 'n kosbare porsie tyd,
'n afgeronde brok respyt.

Die titel bevestig wat Eybers oor die aard van die poësie gesê het: dat dit klankryk moet wees. Mens sou by die titel ook nóg kon byvoeg: met klank én helder van segging.

Dis 'n óú stem wat op die bygaande CD lees (Eybers was ouer as 90 toe sy dit gelees het); 'n dun stem, soms heserig en effens bewerig. Maar woordvas, met ritme en rymklanke duidelik geartikuleer. Dis eintlik merkwaardig dat sy regdeur haar poësie sterk ryme en 'n hoorbare ritme (eintlik metrum) volgehou het. Sy het binne die tradisie van die "vaste vorm" geskryf. Vandag klink dit soms ouderwets; en nie altyd sonder rymdwang nie. Die gedig "Aftog" – 'n klein ars poetica - verwoord die strewe na ritme en klank. Dis egter nie sonder rymwoorde wat gedwing is om te pas nie, soos "taal", "verskraal", "vertraag" en "skraag"; en "opperversuim" om te rym met "ruim", en ook terwille van die behoud van 'n metrum:

Loop jy oor van tekort
stik jy reeds in wat skort
moet jy toekyk hoe taal
verstrak en verskraal
laat niks jou vertraag
maar laat skaarste jou skraag
om vir opperversuim
'n leegte te ruim.
Van oudsher probeer
jy jou ritmies te weer
te bewapen met klank.
Nou soek meer dan verdriet
asiel in die niet:
kan dit anders gebeur
dan ondánks wil en dank?

Dikwels bring die voorlees van 'n gedig wat voorheen as minder geslaagd beskou sou word, meer na vore, sodat jy eintlik daarvan begin hou. 'n Voorbeeld daarvan is "Tuiskoms in Junie", waar die ritme en die ryme méér sê as die woorde alleen – hier blydskap:

My are tintel en my longe hyg
om weer in die droë, dun lug in te suig.

Die stemtoon van die ou stem verander merkbaar in sekere gedigte, soos in "Die Eerste Nag", met stemwendings en glimlag in die stem, soos net 'n moeder oor haar kindjie kan praat. Daar is ook 'n speelsheid in die stem in 'n ander gedig oor 'n kind ("Deesdae"). Hier is dit die ouma wat haar kleinseun beskryf, en hy met haar in Nederlands praat. Sy beskryf ook (in "Voorland") 'n stroewe amptenaar, en die Nederlands waarin hy praat:

'n Rinkeling om na die voordeur te kom
Agter die kier 'n lang, donker kolom.

Hooggeknoopte swart jas wat tot swart skoene strek.
Swart slaprandhoed laag oor die oë getrek

Diep dreuning uit katakombe-gewelwe:
Ik ben van de mot- en de houtwormverdelging.

Die stem kan ook hartseer, seergemaak, klink. In "Ode aan kontroleur de Laar" beledig meneer De Laar, die belastingman, haar oor haar berekenings. Baie droewig klink haar stem:

Meneer de Laar, dit was jou beste uur
toe jy my traanblind, stotterend wegstuur.

Jou skamper kommentaar gons agterna:
"Allicht! U bent niet meer in Afrika!".

Die "Ode" is ook 'n effektiewe digvorm, ironiserend, vir dié Nederlandse meneer.

Dis veral opvallend dat Eybers die wendings in haar gedigte – en sy het baie van presiese wendings gehou – baie duidelik artikuleer.

Ten spyte van haar ouderdom is daar met haar diksie geen fout nie. Trouens, dis eintlik wonderlik dat ons die voorreg het om een van ons oudste, mees gewaardeerde, digters só te kan hoor. Hierdie stem, saam met die gedigte, plus Ena Jansen se insiggewende Voorwoord, bevestig haar kanonisering.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top