Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Utopia"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


Utopia

Daar is twee plekke waar ?n mens nie ?n leeu se asemhaling wil herken nie. Die eerste is in jou drome. Die tweede is soveel, soveel erger.

Doef, doef, doef, doef, doef.

Ek knyp my oë toe. Dis nie regtig nie, dink ek. Dis nie regtig nie.

Asem dreig om verby my natgeswete vingers te bars.

Dis net jou verbeelding, dink ek, maar die warm vloeistof lek alreeds teen my been af en ek voel hoe dit in my skoen saam poel.

Doef, doef, doef, doef, doef.

Die kas ruik na vuil sokkies, of gemufde vleis, en die aspersiesop wat ek vir middagete gehad het. My lugpyp word al nouer, my linkervoet is ’n gerysde deeg vol ystervarkpenne. Die adem wat my oomblikke gelede wou weggee kneus my borsbeen. Seer, soos die keer toe my ribbes gebreek was.

Doef, doef, doef, doef, doef.

Ek hoor hom asemhaal. Stadig, sag, maar met ?n dierlike grom in die keel soos aan die einde van ?n sin. ?n Daling wat hoorbaar sy teenwoordigheid bevestig.

Al wat ek hoef te doen is om te verdwyn. Ek wens verbete, maar daar is geen uitkomkans meer nie.

Wanneer ek die kamerdeur hoor steun weet ek daar’s nêrens meer om heen te ontsnap nie. Die doef, doef, doef van my hart het die monster reguit na my toe gelok.

My boude brand wanneer ek op mamma se skoot gaan sit. Sy’t nog die skerppunthoedjie met die nommer vier daarop op haar kop. Ons het almal sulkes gehad voor pappa huis toe gekom het.

“Hoekom het pappa my geslaan?” snik ek.

“Omdat jy stout was,” sê sy.

“Hou op huil,” sê pappa wanneer hy die kamer inkom. “Jy’s mos nou al te groot vir so ?n getjank.”

’n Hanger ratel teen die kas se deur en ek sien hoe pappa homself in die spieël bekyk. Hy trek aan sy moue. Goue mansjetknope steek onder sy baadjie uit.

“Sjj,” fluister ma en druk my teen haar bors vas.

“Moes jy hom op sy verjaardag pak gee?” vra sy. “Hy gaan dit vir ewig onthou.”

“Met wie dink jy praat jy?” vra hy.

Ma trek haar asem skerp in. Dan hoor ek die slag. Ek en ma val teen die muur.

Wanneer sy haar hand wegvat is haar wang rooi. Haar wang is nat, ook.

“Moenie huil nie,” sê ek vir haar, want pappa word kwaad as mens huil.

Pappa sê ’n lelike woord, maar dan kom sit hy langs ons op die bed.

Mamma druk my nog stywer teen haar vas, asof sy bang is ek sal haar alleen los.

“Jammer,” sê pappa en gee ons ’n drukkie.

“Ons moet mekaar help, mooi wees met mekaar. Nie stout wees nie,” sê hy vir my. “Nie lelik praat met mekaar nie,” sê hy en soen mamma op die wang.

“Jy weet ek is oneindig lief vir julle, babes, daarom moet ek vir hom dissipline leer.”

Mamma knik en vee oor haar wang.

“Is dit seer?” vra pappa en soen haar weer.

“Ja,” sê sy.

“Ek sal dit nie weer doen nie,” sê hy. “Ek belowe.”

Hy streel oor my hare soos hy altyd maak voor klaasvakie kom kuier.

“Gaan jy weer stout wees, seun?” vra hy.

“Nee, pappa.”

“Mooi so,” sê hy. “Toe, gaan speel met jou verjaardagpresente. As jy baie soet is gaan koop ons vir jou nog een.”

“Dankie, pappa.”

Wanneer ek uit is maak hy die deur toe. Mamma sê wanneer hulle kamer se deur toe is mag ek nie inkom nie, want dan wys pappa vir haar hoe lief hy haar het.

In die voorkamer staan die sjokoladekoek wat ouma gebak het. Ek wil nog ’n sny hê, maar ek durf nie weer vra nie.

Eendag wanneer ek groot is gaan ek so veel koek eet as wat ek wil.

Eendag, dink ek en ek wens.

By die loodglasvenster voor in Rustenburg-Suid se Hervormde Kerk skyn daar toorlig op die klipvloer. Pienk as die son skyn, of pers wanneer die skemermaan tydens die aanddiens verskyn.

Lielie word vandag gedoop en die lig is pienk, soos die lintjies op haar skoene en die een bokant haar gesig.

Lielie is nie haar regte naam nie, nie die een op die doopsertifikaat nie, maar die ander een is nog te moeilik om te sê.

Voor in die kerk glimlag ma soos Amy by die kleuterskool se Barbie-pop. Pa se hemp pas by Lielie se lintjies en sy skoene is spieëls waarin die lig blink, maar hy staan reg deur die dominee se preek soos daardie standbeeld-oom in die dorp.

Na die diens kom vat al die mense aan Lielie. Ouma Let se kamera flash aanhoudend. Lielie is die enigste een wat nie glimlag wanneer ouma sê om te smile nie. Haar mond trek in ’n voor-huil tuitjie, haar vingers is om ma se plastiese pêrels gedraai en haar een voet is kaal. Sy lyk vir my soos een van die engeltjies op ons kinderkransprente.

Ouma het vir Lielie ’n doopkoek gebak, sulke reuse babaskoene met lintveters en linte om die sole. Ma sê ons mag die koek eers eet wanneer al die gaste opgedaag het, maar Lielie gee nie om nie, sy is skreeuhonger.

“Het Lielie te veel aandag gekry?” vra ma en streel ?n denkbeeldige lyn vanaf Lielie se neus tot op haar voorkop.

“Dis oor jy haar so oppiep dat sy jou so manipuleer,” sê pa.

Ma kyk kombuis se kant toe waar ouma besig is met die eetgoed.

“Ek piep haar nie op nie,” sê ma, maar Lielie skree die dak af.

“Maak haar stil, of ek sal,” sê pa.

Mamma knoop haar hemp oop sodat Lielie kan drink.

“Wat kyk jy?” vra pa vir my.

Die bure se swembadwater wink teen die ruite.

“Kyk vir my as ek met jou praat,” sê hy. Sy baadjie land geruisloos op die bank.

“Gideon,” sug ma terwyl sy Lielie se ruggie streel, “los hom. Hy’s opgewonde oor sy nuwe sussie, dis al.”

Vir my gee sy daai “gaan speel buite” teken met haar oë. Ek ken daai kyk. Dis die een waarmee sy my waarsku dat pappa in een van sy slegte buie is. Dis die een waarmee sy my laat weet dat dit beter sal wees vir ons almal as ek nie langer in die grootmense se pad is nie. Die een wat beteken dat sy bang is pa doen iets wat my kan seermaak.

Ek staan op, maar pa mis niks nie.

“As ek vir jou ?n vraag vra, dan antwoord jy my,” sê hy en klap my.

My linkeroor suis. Dit klink of die radio-opvangs in my kop nie reg is nie. Ek maak nie ?n geluid nie, want ek weet hy sal my weer slaan.

“Verstaan jy my?” vra hy.

“Ja,” sê ek en draai my rug op hom. Ek wil nie hê hy moet die trane in my oë sien nie.

“Ja, wie?” vra hy.

“Ja, Pa,” sê ek en ek wens.

In die fietsrak by die Spar is vyf fietse aan hul voorwiele vasgesluit. Myne is nie een van hulle nie, want pa’t gesê as ek my fiets oppas sal ek nie ?n fietsslot nodig hê nie. My fiets is die een met die afgesnyde tossels wat uit die handsvatsels groei en stickers van die Caltex-haas oor die pienk en pers Riley raam geplak. Myne is die een wat teen die muur agter die sekuriteitswag gestaan het, maar nou is hy nie meer daar nie.

Ek verstaan nie eers dat die trane in my oë opdam oor daai fiets nie. Dit is ?n optelding van die ashoop af, ?n meisiesfiets waaroor al die kinders by die skool my spot. Nietemin, dit was my fiets en ek weet ek sal nie sommer weer een kry nie, ongeag of daar nog een op die ashoop is of nie.

“Het jy gesien wie’t my fiets gevat?” vra ek vir die sekuriteitswag wat besig is om ?n sigaret te rol.

“Nee,” sê hy sonder om op te kyk.

“Hy was nou-nou nog hier,” sê ek.

Hy kyk so half agter hom.

“Hoekom het jy hom nie vasgesluit nie?” vra hy.

“Ek het nie ’n slot nie,” sê ek.

Sy lighter wil nie die natgelekte sigaret aansteek nie.

“Jy kan nie jou goed net so los nie,” sê hy voor hy opstaan.

Ek staan nog ?n rukkie en wens dat iemand sal besef hulle het die verkeerde fiets gevat en hom sal terugbring, maar dan word die sak met die melk en brood te swaar en begin ek maar huis se kant toe loop.

Ma en Lielie sit op die stoep, ma met haar Huisgenoot en Lielie met die pop wat ouma Let vir haar op haar vierde verjaardag gekoop het.

“Waar’s jou fiets?” vra ma.

Trane volg die gevestigde roete teen my gesig af.

“Iemand het hom gevat,” sê ek.

“Toemaar. Ons sal iewers vir jou ?n ander fiets kry,” sê sy sag, “maar dan moet dit vir eers ons twee se geheim bly.”

“Wat van Lielie?” vra ek.

“Moenie worry nie,” sê sy, “Lielie sal niks sê nie.”

Pa kom na sewe eers by die huis. Hy’t ?n sespak bier in die hand en ?n slab chocolate wat hy besig is om te eet.

“Hulle’t vandag twee ouens ge-retrench,” sê hy later aan tafel. “Dis glo nog net die begin.”

“Wat beteken retrench?” vra ek.

“Dit beteken jy moet gaan speel en nie luister waaroor grootmense praat nie,” sê hy.

Hy’s in een van sy buie, sien ek, want hy’t daai trek om sy mond.

Ek staan op, vat my bord en begin uitstap.

“Huh-uh,” sê hy. “Jy loop nie met ?n bord vol kos die huis vol en mors nie.”

Hy hou sy hand uit en aandete is meteens verby. Vir my, in elk geval.

In die televisiekamer is MacGyver besig om ’n boef te bekruip.

“Hoekom kry jy nie ’n slag werk nie, dan verstaan jy dalk beter wat in die wêreld om jou aangaan,” sê pa in die kombuis.

“Wie sal na die kinders kyk?” vra ma, maar pa antwoord nie, want daar’s ’n klop aan die voordeur.

“Wie’s daar?” roep pa voor die houtdeur oopkraak.

MacGyver se verkykerlens steek die haelgeweerpatroon aan die brand. Lielie wil haar dood lag vir die ontploffings.

Wanneer MacGyver wegstap van die brandende Jeep af hoor ek die voordeur toegaan.

Daar’s ?n oomblik van totale stilte, asof die heelal my wil waarsku dat iets gaan gebeur, maar ek steur my nie daaraan nie – MacGyver het reeds ?n plan vir volgende week.

Ma kom die televisiekamer ingehardloop. Sy gryp vir Lielie so vinnig van die mat af dat ek dit amper nie registreer nie. Wanneer pa die vertrek inkom is sy oë op my gevestig.

Hy pyl reguit op my af, sy hande voor hom uitgestrek.

Iewers het iets skeefgeloop.

Iewers is iets groot fout, want vanaand is daar moord in pa se oë.

“Dis nie sy skuld nie,” sê ma. “Ek het gesê ons moet eers wag en kyk of die fiets nie dalk uitkom nie.”

Hy trek my aan my oor op, asof ma nie bestaan nie.

“Jy’t gedink ek sal nooit uitvind nie,” sê hy en stamp my die sitkamer in.

“Ma’t gesê,” begin ek, maar as ek sy gesig sien wil my mond nie meer praat nie. Teen die muur staan my pers en baba-pienk Riley met die Caltex hase op. Hulle kyk vir my, lag vir my, asof hulle wil sê “Jy’t mos geweet dit gaan gebeur!”

Pa kry my aan my kraag beet.

“Toemaar, ou seuntjie, ek sal later met jou ma afreken.”

“Dis nie haar skuld nie,” sê ek. “Ek het gaan brood en melk koop en . . . en toe vat iemand my fiets.”

“Sommer net so?” vra hy. Sy asem stink.

“Ek kon dit nie help nie,” sê ek. “Ek het nie ?n slot gehad om my fiets mee vas te sluit nie.”

“Weer die donnerse slotstorie,” sê hy. “Hoeveel keer moet ek nog na jou gesanik oor ?n fokken slot luister?”

Die volgende oomblik maak sy vuis met my kakebeen kontak.

“Nee,” skree my ma. “Los hom uit!”

“Hou jy jou bek,” sê hy. “Watse soort ma leer vir haar kinders om vir hulle pa te lieg?”

“Het jou ma gesê jy moenie vir my sê nie?” vra hy. Hy hou my aan die hare vas. ?n Tweede en ?n derde hou val op my wang. Dit voel soos geweerskote, of my kakebeen enige oomblik gaan verbrokkel. Die bloed proe soos metaal in my mond.

“Nee,” snik ek, “dit was my eie idee.”

“Moenie vir my lieg nie,” skree hy, maar draai dan meteens na my ma.

Sy retireer, Lielie stombang in haar arms.

“Watse soort ma leer haar kinders om vir hulle pa te lieg?” vra hy.

Ma sit vir Lielie op die vloer neer.

“Ons wou wag en kyk,” probeer sy, maar haar woorde raak traer hoe nader hy aan haar kom.

Dis asof alles te stadig gebeur, asof ek buite die huis staan en deur ?n venster inkyk. Hulle woorde raak weg tussen my gedagtes: doen iets, doen iets, doen iets!

“Jou fokken teef,” skree hy en gryp haar aan die arm. “Jy dink jy kan vir my lieg!”

“Nee, dis nie . . . ek’s jammer,” sê sy terwyl sy sy vuishoue probeer keer. Hy slaan haar nie in die gesig nie, maar in die maag. In die ribbes. In die sy. Dan op haar rug.

“Kyk vir jou ma,” skree hy wanneer ek wil uitsluip.

Ek kom tot stilstand, draai om en kyk vir hom. Die man wat my ma aan haar keel vashou. My pa.

“Kyk vir jou ma,” sê hy weer, “want sy gaan jou vanaand ?n les leer.”

Ek kyk onbegrypend na my ma waar sy ineengekrimp onder my pa se massiewe gestalte wegkruip.

“Wat leer vrouens vir hulle kinders?” vra hy.

Sy wurg onder sy greep, hoes en snak na asem.

“Om nie te jok nie,” sukkel sy deur droë snikke.

“Wat leer ?n vrou haar kinders?” skree hy en slaan haar teen die kop.

“Om nie vir hul pa te lieg nie,” huil sy, haar oë bultend in hul kaste.

“Om nie vir hul pa te lieg nie,” herhaal hy.

“Verstaan jy die les?” vra hy.

“Ja, Pa, ek verstaan.”

“Mooi so,” sê hy. “Maak seker jou suster verstaan ook. Ek wil nie nodig hê om myself te herhaal nie.”

Hy stamp my ma van hom af weg en sy val, maar na ?n rukkie staan sy op, hande oor haar maag, en struikel badkamer toe.

Dan gaan Lielie aan die huil en hy tel haar op sy heup.

“Toemaar, Lielie-kind,” sê hy. “Mamma sal dit nie weer doen nie.”

Die volgende oggend staan my ma nie op nie.

In die kombuis is roosterbrood met konfyt en kaas op en ?n eier wat swart is aan die een kant.

Kap, kap, kap, hoor ek buite, maar ek durf liewer nie gaan kyk nie. In stede daarvan sit ek tamatiesous op my eier en wurg dit stukkie vir stukkie tussen my seer kake deur. Dan eet ek die roosterbrood om die walglikheid van die eier te verbloem.

Kap, kap, kap.

“Waa’s Ma?” vra Lielie, wat blykbaar van vroegoggend af al Tom en Jerry kyk.

“Ek weet nie,” sê ek. “Sy slaap seker nog.”

Kap, kap, kap.

“Wat maak so?” vra sy.

“Weetie,” sê ek, maar ek wonder of ek moet gaan seker maak Ma is in die kamer.

Kap, kap, kap.

Ek loop in die gang af, stadig, want ek is bang vir hulle kamer. Mag nie meer daar ingaan nie. Nie wanneer hý by die huis is nie.

“Mamma,” fluister ek. “Mamma, is jy daar?”

Kap, kap, kap.

“Seun,” bulder hy die gang af.

Ek skrik en kruip in die gangkas weg. Dis ’n klein spasie, maar ek het dit al van tevore gedoen.

“Trek vir jou aan, laat ons ry. Ek vat jou skool toe.”

Ek wag tot ek hom hoor omdraai en sluip dan kamer toe, waar ek so gou as moontlik my skoolklere aanpluk. Net ingeval hy haastig is.

“Wie gaan my oplaai?” vra ek in die kombuis terwyl hy Sudoku doen en toast eet.

“Ek,” sê hy.

“Wat van Ma?” vra ek. “Gaan sy my nie meer kom haal nie? Waar is sy? Hoekom eet sy nie saam met ons ontbyt nie?”

Hy kyk my aan, sy oë waarskuwend.

“Sy is siek,” sê hy. “Jy ry saam my tot sy weer beter voel.”

“Wat van Lielie?” vra ek.

“Ouma Let gaan na haar kyk.”

Wanneer hy sy baadjie aantrek is ons gesprek duidelik verby, so ek staan ook op, vat my skooltas en volg hom motor toe. Niemand sê ?n woord verder nie. Tussen ons het woorde geen betekenis nie.

“Ouma Let sal jou help met jou huiswerk,” sê hy wanneer hy my die middag aflaai, “so, moenie jou ma pla nie.”

“Oukei,” sê ek en haal my tas van die agtersitplek af.

Wanneer ek die deur toeslaan draai hy die venster af.

“Jy gaan speel nie weer in die strate nie,” sê hy, sy oë op my gekneusde wang.

Heeldag moes ek sê hoe ek van die trampolien afgeval het, tot ?n juffrou naderhand my ouma gaan bel het en, ten spyte daarvan dat ons nie ’n trampolien het nie, sy gesê het my storie is waar.

“Ek sal nie,” sê ek en wens hy wil nou ry.

“Mooi so,” sê hy, maar hy wag nog ?n oomblik langer.

Wanneer ek omdraai en wegstap hoor ek hom agter my roep:

“Jammer oor jou fiets, hoor.”

Twee wiele balanseer teen die garagedeur, die een is sonder speke, gapend soos ‘n mond sonder tande, die ander is gebuig en lyk soos die kunswerke in Ouma se boek. My fiets se raam is nêrens te siene nie.

Ek gaan in, gang af. Ek wonder of ma al beter voel.

“As dit net ek was,” sê Ma in die kamer. Haar stem kraak.

“Dit is sy plig,” sê ouma Let. “Die Bybel sê vir jou ’n man moet sy familie tug. Hoe anders sal hy hulle onderdanig maak aan hom?”

“Het sy pa sy familie getug?” vra Ma.

“Sy pa was ’n rugraatlose swakkeling,” sê ouma Let.

Ek loer om die deur. “Pa’t gesê Ouma sal my help met my huiswerk,” sê ek.

Wanneer my huiswerk klaar is lieg ek dat ek bal wil skop.

“Goed so,” sê Ouma, “maar jy moet soet speel, want as jy weer vir Pappa kwaad maak gaan Mamma die polisie bel en dan moet Pappa weggaan van julle af. Jy wil mos nie hê Pappa moet weggaan nie, of hoe?”

“Nee,” sê ek, want Pa sê as hy weggaan sal niemand na ons kyk nie.

Ek klim op ?n stoel om die motorhuis se sleutel van die hakie af te haal. Die staaldeur is swaarder as wat ek gedink het, maar ek kry die motorhuis eindelik oop.

Tussen gereedskap op die vloer lê wat oor is van my fiets.

Kap, kap, kap.

Hy’t my Riley-optelfiets flenters gekap.

Ek lig die vernielde pyp van die vloer af op. Caltex-hasies kyk gebroke terug na my; hul gesigte vol gate, hul wortels half, hul motorfietse en klere en petrolpompe vernietig. Onder hulle word Riley afgewissel met diep silwer duike en geskeurde staal waaruit skadus loer. Al die stickers in die wêreld sal nie weer my ashoopfiets kan regdokter nie.

“Ek’s jammer, Zander,” sê my ma vanaf die oop garagedeur. Die son verlig haar meerminhare in ’n engelkroon, maar sy lyk moeg en haar oë is waterig.

“Dit was my skuld,” sê ek. “As ek nie my fiets daar gelos het nie, sou iemand hom nie gevat het nie.”

“Jou Pa is ook jammer,” sê sy na ’n ruk.

“Kan ons gaan kyk of daar weer vir my ’n fiets by die ashoop is?” vra ek hoopvol.

“Ek dink dit is beter as jy nie weer ’n fiets kry nie,” sê sy.

“Oukei,” sê ek, maar ek wens.

Wanneer sy wegstap sien ek hoe kyk die hase vir my. “Dis jou skuld,” fluister hulle. “Jy het toegelaat dat hy ons seer maak.”

Ek reik na die hamer.

Kap. Kap. Kap.

Ek wil nooit weer hulle oë op my voel nie.

Die kasdeur gaan oop en die veld doem voor my op. Grashalms sny die lug met hul skerp punte. Sonbesies hou hul asems op. Die son brand bloed op die water. Ek huil nie meer wanneer ek hierheen kom nie. Ek kom nie meer om te ontsnap nie. Ek hoef nie meer te wens nie, want hy is nou altyd hier. Hy het grootgeword sedert my laaste besoek; maanhare gegroei, slagtande ontwikkel. Ek is nou byna afhanklik van sy nabyheid. Dit is asof hy dit weet, want hy volg my.

Die aanval kom in antwoord op die dier se meedoënlose gebrul. Die monster in my pa veg terug. Hy vloek. Hy dreig. Hy sal hulle vermoor, sê hy. Hy bedoel dit.

Die leeu reageer nie op dreigemente nie. Hy ken net geweld. Hy ken net survival.

Hy ken net die lokaas van Utopia.

 


 

Lees die eerste weergawe van "Utopia"

Lees die eerste keurverslag oor "Utopia"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top