Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Tweede weergawe van "Maslow"

  • 0

Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


Maslow

Vandag is die dag. Vandag kom haal hulle ons. Sestien jaar wag ek al vir hierdie dag, ek en my twee wonderwerkies. Reeds jare terug het ek hierdie koppie as uitsigpunt gekies, die hoogste punt op die eiland, perfek vir die lang dae van wag wat sou voorlê. Onder ons strek die baai diepblou en kalm tot in die vêrte waar lug en water in ’n strak streep bymekaar kom. Die horison span soos ’n stywe snaar tussen die twee skakerings blou en dreig om enige oomblik onder my blik te spring.

Vandag is die dag. Die sweefskip sal enige oomblik deur die gespanne horison breek en sierlik bo-oor die water nader gly. Dit sal ’n rukkie vat om die kus te bereik. So naby aan land sal die skip se sensoriese aandrywer ’n versigtige spoed handhaaf. Dis nou indien hulle met ’n sweefskip kom. Die tegnologie het oor die jare dalk al so gevorder dat langer afstande per snellertuig nou moontlik is. Sestien jaar terug was die ratse snellertuie nie wendbaar of betroubaar genoeg om die lang afstand tussen Sone X3 en die eiland veilig te kon aflê nie. Maar tog so baie kan verander in een en ’n halwe dekade. Ek maak my oë toe en verlustig my vir ’n oomblik in die dagdroom.

Dit sal nou iets wees om te aanskou. Die snellertuig sal grasieus van kant tot kant sweef en soos ’n roosblaar in die wind na die dorre grond toe afsak. As die stofwalms eers gaan lê sal ek die oopte inloop om hulle te verwelkom. Trots maar nederig. Dit sal nie deug om selfvoldaan te lyk nie. Ek wil hulle nie ongemaklik maak of minderwaardig laat voel nie. Net ’n paar van die oorspronklike navorsers sal die reis meemaak. Van die seniors was al oor die tweehonderd jaar oud toe ons die eksperiment begin het, en selfs met die nuutste lewensverlenging-medikasie tot hul beskikking sou van hulle sekerlik al jare terug gesterf het. Hoe hartseer dat hulle nie hier sal wees om die resultate van ons heilige eksperiment te sien nie. Nooit sal hulle die antwoord ken op die vraag wat ons ons lewens aan toegewy het om te beantwoord nie. Maar so het ons almal iets opgeoffer. Ons het geweet hierdie taak is belangriker as enige van ons, groter as enige een se leeftyd. My opoffering was die grootste van almal. Ek alleen, uitverkies uit talle om ma, pa, beskermheer en leraar te wees. Leraar nie net vir die twee onskuldiges wat ek moes grootmaak nie, maar ook leraar vir al die Sones op Nuwe Aarde. Saam sou ek en die tweeling die heilige taal ontdek.

Eva onderbreek my gedagtes soos sy omdraai in haar slaap. Ek streel die klam hoof op my skoot, waar die jong meisie opgekrul lê en dut na haar vroegoggend jagtog. In haar slaap lyk sy nog so jonk, lang tienerbene beskermend opgetrek teen haar bors. Onder my aanraking fladder haar ooglede saggies oop. ’n Paar slaperige bruin oë vestig op myne en word skerper soos bewussyn die oorhand kry. Sy gorrel diep agter in haar keel en wys haar tande, liefderyk. Ek glimlag terug. Dan rol sy om en staan met een slinkse beweging op. Haar hand los ’n bloederige streep op my been. Op haar voete lyk sy baie ouer. Stywe spiere bult onder haar bruingebrande vel. Die intense erns en ondervinding in haar blik belieg haar jare. Sy strek lui haar ledemate en stap dan na waar die dooie haas nog louwarm lê en styf word. Sy gly ’n growwe mes uit haar belt, hurk neer en begin met geoefende hale die dier slag. Die mes gly doelgerig oor die haas se pens en laat ’n helderrooi “v” agter. Bloed meng met stof en kruip soos roes modder op tot net onder haar elmboë. Ek haal diep asem en verlustig my aan die skerp bloedreuk wat ’n afwagtende gerommel in my maag aanwakker.

Daar was ’n tyd wat die reuk van rou vleis my gewalg het. Selfs eeue voor die Nederlaag het die gebruik om diere se vleis te eet begin verdwyn. In my kinderjare was dit ’n ondenkbare taboe, ’n absurde waarskuwing uit Ou Aarde se barbaarse verlede. As kinders het ons in ongeloof gelag vir die beelde in geskiedenis-holos: rye op rye diere in massas vervaardig net om vermoor te word vir hul vlees. Maar hier op die eiland het ek die lus vir vleis begin verstaan. Konvensies en fiemies verdwyn verbasend vinnig as hongersnood op die spyskaart is. Buitendien word daar selfs in sommige liberale vertalings van die Heilge Geskrifte na diervleis as ’n aanvaarbare vorm van voeding verwys. So het ek myself getroos. My eerste behoefte was oorlewing, en oorleef het ek. My hart swel trots oor Eva se vangs. Vanaand sal ons nie honger kry nie.

Hoe vêr het ons nie gekom nie sedert daardie eerste paar maande op die eiland. Ek kry skaam as ek nou dink hoe bang en pateties ek was. So swak en kreupel van vrees. Daar was oomblikke wat ek my heilige missie wou laat vaar, wat ek die see wou inloop met ’n kindjie onder elke arm. Die tweeling was net pasgebore bondeltjies pienk kreukels toe die sweefskip ons soveel jare terug hier afgelaai het. God het onmiddelik my toewyding begin toets. Die eerste aand op die eiland het ’n storm begin woed soos ek nog nooit gesien het nie. As ek nie daardie nag skuiling gevind het nie, was ons sekerlik deur iets verslind nog voordat die eksperiment begin het. Vir ’n week aaneen het die reën genadeloos in ’n sondvloed aarde toe geval. Uitgeput en rasend het ek met die twee bondeltjies teen my vasgedruk gekniel in die donker grot, oorweldig deur die onophoudelike geween van beide die storm buite en die kinders teen my bors. Ek het gewens ek kon saggies sing, die liedjies wat my ma vir my as kind gesing het helder in my kop, gewens ek kon paaiende woordjies fluister, enige klank maak om die kleintjies te troos. As ek kon het ek God hardop gesmeek om my tong terug te gee, maar tevergeefs. En die honger. Vir die eerste keer in my lewe het ek verstaan wat die woord regtig beteken. Die onophoudlike drang wat regdeur jou maag, regdeur alles brand en jou ledemate tam laat, wat dof maar aandringend klop in jou kop en alle gedagtes uitdryf tot net die wete oorbly: Ek moet eet.

Tog het ek krag van God ontvang om daardie eerste week te oorleef, en elke dag en jaar daarna. Die volgende maande was nie makliker nie, maar ek was op ’n manier sterker. My menslike strewe na betekenis het my amper bygelowig laat vasklou aan die grot waar ons daardie eerste aand skuiling gevind het. Daar het ons ’n huis gevind, warm, droog, en buite bereik van die eiland se bedreigings. Elke dag was ’n stryd om lewe, en die nag ’n stryd om oorlewing. Net soos die aand se donker kombers snags op ons sou val, het dit gelig op onbekende kreature en gevare. Die droë sanderige klimaat in opsigself was ons eerste vyand. Die groot dors in die droë seisoen. Menigte kieme, bakterië en virusse het gekom saam met die vreemde vrugte en vet waterige wortels wat ons in die droogste tye uit die grond moes delf vir bietjie lafenis. Maar ons het dit alles oorleef. Die wilde diere, die peste, en ek my eie demone.

Ek het die waansin aanvanklik afgeveg deur aandagtig boek te hou van die tweeling se groeiproses. Elke beweging en geluidjie puntenerig met my opneemtoestel opgeneem, die beelde teruggespeel en bestudeer vir vordering. Die navorsingspan wou gehad het dat ek in my opnames bloot moes verwys na haar as “X” en na hom as “Y”. Ek kon dit nie lank volhou nie. Hulle ware name het na net ’n week in God se stem in my kop weergalm: Adam en Eva. Pioniers van ’n nuwe nasie. Vandag kom hulle uiteindelik terug vir ons, dan sal die wêreld ook stom staan voor hul heiligheid.

My oë gly weer oor die horison. Sover niks. Maar dis nog vroegmiddag, daar is nog baie tyd. Eva hou skielik op met sny en kantel haar kop luisterend. Ek spits my ore en verbeel my ek hoor ook ’n ritseling in die bosse oos van ons, net hier onder in die vallei. Maar ek is nie bekommerd nie. Ek ken al elke geluid en beweging op hierdie eiland. Na sestien jaar saam met elke denkbare en ondenkbare gedierte leer mens vinnig die verskil tussen ’n onskuldige ritseling en ’n gevaarlike een ken. Net soos ek gedink het, klink ’n harde roep amper soos die sang van ’n loerie skielik uit die bosse ’n paar honderd meter weg. Eva se houding ontspan sigbaar en sy sing identies uit in antwoord. Etlike minute later kraak die bosse agter haar en verskyn Adam uit die ruigtes.

Die twee is nie ’n identiese tweeling nie, maar die ooreenkomste is ooglopend, selfs onder die permanente laag stof wat alles en almal op die eiland bedek. Dieselfde roesbruin hare, dieselfde skerp bruin oë en harde kakebeen. Net spier en been, amper ’n man, maar in my oë altyd ’n seuntjie: my heilige hartskind. Hy stap nie na my toe nie, en erken net ons teenwoordigheid met ’n vlugtige handgebaar. Dan gaan sit hy plat op die grond langs Eva en volg die haasvleis in haar hande stip met sy oë. Hy lek sy lippe af. Na ’n rukkie raak hy ongeduldig, en skuif op sy sitvlak rond. Hy grom en maak kermgeluidjies agter in sy keel. Eva ignoreer hom net. Die vel en binnegoed lê reeds eenkant, nou begin sy die vleis in repies sny. Adam se geluidjies raak al dringender, en dan verander die atmosfeer opmerkbaar soos hy stiller raak. Eva voel dit aan en leun beskermend vooroor, die snysels op haar skoot waar Adam dit nie maklik kan bykom nie. Sy sis saggies en haar oë flits smekend na my kant toe. Maar ek wil nie inmeng nie. Ek het lankal geleer om nie betrokke te raak nie.

Ek praat nie self die heilige taal nie. Dit is net vir die uitverkorenes beskore. Ek het in die wêreld daar buite grootgeword, besoedel en verwronge deur wêreldse dinge. Ten spyte van sestien jaar se isolasie is ek steeds gevorm in die wieg van sonde op Nuwe Aarde. Na die Hernuwing was daar al baie voortuitgang, maar die nalatenskap van die eeue voor die Nederlaag hang steeds soos besoedeling in die Sones. Die ontdekking van die Heilige Geskrifte driehonderd jaar voor my leeftyd het nuwe hoop ontlont vir die mensdom. Stuk-stuk het navorsers oor die jare ’n verskeidenheid dokumente, briewe en geskrifte ontdek en stelselmatig besef dat dit alles deel uitmaak van een antieke manuskrip wat deur Ou Aarde se God inspireer was. ’n Heilige handleiding uit ’n lang-vergete era, duisende jaar voor die Nederlaag. ’n Tyd waarin die wêreld nog sin gehad het en die mensdom hand aan hand met hulle God geleef het. Voor die tye van lyding en barbarisme. Voor die mensdom so in hul eie sonde verdrink het dat die beskawing eventueel vergaan het. Hoe hul so rigting verloor het selfs met die Heilige Geskrifte as padkaart, probeer ons nou verstaan. Maar saam met die beskawing het ook die Heilige Geskrifte uit die geskiedenis verdwyn, en daarmee saam is al die wysheid en kennis ook verlore.

Vir driehonderd jaar probeer ons beweging al om die Geskrifte te ontsyfer. Dit blyk na ’n onmoontlike taak. Flenters kennis in lank-vergete tale. Ons kan net genoeg verstaan om te weet dat dit inderdaad die heilige teks is wat hulle op Ou Aarde die Woord van God genoem het. Met al ons tegnologiese en wetenskaplike vordering beskik ons steeds nie oor die gereedskap om die legkaart te voltooi nie. Ons band met God is gebreek en dit is ons plig om dit te herbou. Om die Heilige Geskrifte in geheel te verstaan, moet ons eers die heilige taal van God ontsluit. Met ons brug na God herbou, kan Nuwe Aarde werklik uit die as opstaan, gerus in die wete dat ons nooit weer onder ’n Nederlaag sal val nie.

Dit is hoekom hierdie eksperiment so belangrik is. Alle hoop berus op Adam en Eva. Die uitverkorenes. Pasgebore, nog gevlek met bloed, was die twee weggeruk van hulle tienermoeder en in die diepste luik van ’n sweefskip ingebondel. Hulle oë was toegebind, hulle ore gestop. Kontak met enige mens behalwe ek self was streng verbode, en die bemanning aan boord was onder dreigment van die dood belet om ’n enkele woord te praat tydens die reis. So het ons verseker dat die tweeling ongeskonde, skoon verfdoeke vir ons eksperiment sou bly. Soos ’n spookskip het ons oor die waters gesweef, met net die gekraak van die masjinerie en die geskree van die pasgebore babas as klankbaan. En ek, hul enigste troos, nie eens in staat om ’n woord te uiter nie. Saam is ons na hierdie verlate eiland gestuur, waar die tweeling in afsondering sou grootword, weg van die geraas en invloede van die wêreld daar buite. Ek was gekies om moeder en leeraar te wees omdat ek ook ’n jong moeder was, reg om te borsvoed. Om die eer te verdien moes ek my eie kind agterlaat, en my tong laat uitsny. Om die heilige taal uit te lok, kon geen mensgemaakte klank of woord die tweeling se ore besoedel tydens die grootwordproses nie.

Vry van wêreldse invloede en afleidings is hulle rein en onskuldig, die eerstes van die mensdom om na die Nederlaag God se aanraking te verdien. Met net die twee skoon siele om met mekaar te kommunikeer, sou die heilige taal, die oorspronklike taal van die paradys in hulle ontwaak het. Hulle sou nie ’n woord spreek wat nie direk van God af kom nie. Weg van die besoedeling en vrot van die mensdom, die vuil woorde van haat en venyn wat saam met die tale van Babylon die wêreld oorstroom het. Omring deur net natuur, die wilde diere, my moederliefde en God, vry van die invloede van die kunsmatige wêreld, sou die kinders mettertyd die heilige taal direk van God ontvang. Baie het gemeen dit sou antieke Latyns wees. Ander, die taal wat hulle Hebreeus genoem het. Sommige het gereken dit sou ’n baie ouer taal wees wat die geskiedenis al heeltemal vergeet het. En op ’n manier was hulle reg.

Die oorveeg tref Eva hard teen die kop en gooi haar van balans af. Sy val hard in die stof, en probeer te laat keer om haarself te beskerm. Vir ’n paar oomblikke lê sy roerloos en hou haar kop vas, bene opgetrek teen haar maag. Vars bloed dam weer tussen haar vingers op, hierdie keer haar eie. Teen die tyd wat sy wankelrig regop kom, sit Adam reeds en vreet aan die handvol vleis wat hy gegryp het. Eva gil woedend en gooi ’n paar klippe halfhartig na hom toe, maar dit bons bloot terug van sy harde bors en hy steur hom nie aan haar nie. Smul net verder. Straaltjies bloed loop by sy gladde ken af en drup drup af tot waar dit in die droë stof neerplons. Eva grom geiriteerd en gaan sit plat langs die skrale repies wat oorbly van haar vangs. Sy streel beskermend met haar hande sirkels oor haar maag, waar ’n subtiele kurwe die laaste paar weke begin wys het. Sy knibbel versigtig aan die oorblywende vleis, vernederde oë vas op die grond. Sy weet sy staan nie ’n kans teen Adam nie.

So gaan dit nog al die jare. Van kleins af het die tweeling met dierbare babageluidjies, gebare en ’n gestamp en gestoot met mekaar gekommunikeer. Ek was seker hulle sou sodra hulle spraakorgane voldoende gegroei het deur God aangeraak word en die heilige taal begin praat. Maar op drie jaar het die tweeling steeds geen tekens getoon van verbale kommunikasie nie. Op vyf, ses en sewe het hulle steeds bloot met arbitrêre geluide en gebare gekommunikeer. Inteendeel, soos hulle ouer geword het het dit gelyk of hulle taal – want dit is wat dit was – meer eenvoudig geraak het. Soos hulle geleer het om hul eie kos te vang en voor te berei, hulle eie skuiling te soek, het hulle al hoe minder rede gehad om te kommunikeer. ’n Kombinasie van ’n paar gebare, geluide, en nagebootsde dierklanke was genoeg vir hulle doeleindes. Aanvanklik was my teleurstelling groot. Ons navorsing het gefaal, dit was alles verniet. Voor my oë was my kinders besig om in diere te verander. In stede van die taal van engele wat ek verwag het, het die twee gegrom en gesis, geskraap en geklap om te kommunikeer. Ek het gesien hoe Adam geleidelik al meer aggresief geraak het. Al hoe minder gevra en al hoe meer gevat wat hy wil hê.Die skuld het amper oorweldig. Ek het gewens ek kon praat om hulle te rehabiliteer, te leer voor dit te laat is. Maar dit was voor ek verstaan het.

Toe seën God my uiteindelik met die besef dat die heilige taal waarvoor ek so lank gewag het nog altyd daar was. Dit is nie Hebreeus of Latyns of enige van die ander tale in die Heilige Geskrifte nie. Dit is die taal van my Adam en Eva wat God vir ons gekies het. Die boom van kennis het al die moeilikheid in ons wêreld veroorsaak. Neem dit uit die vergelyking, en ons is vry. Ons is weer heilig. Hoekom moet Eva die woord ‘donker’ ken? Vir haar is donker gevaar, dis vuurvliegies en sterre, dis maak spore grot toe voor die roofdiere uitkom om te jag. Die woord “kos” maak nie haar maag vol nie, die woord “skuiling” red haar nie as sy vlug nie. En tog jag sy, eet sy, ontsnap sy gevaar as dit aan haar hakke hap, lê sy as haar maag vol is en kyk op na die sterre.

Die son sit nou al laag, en daar is steeds geen beweging op die horison nie. Dit lyk nie of hulle vandag gaan kom nie, dit is al te laat. Maar ek is seker hulle sal more kom. Vandag kan ons nie nog langer hier sit nie, binnekort gaan die donker val en die nagdiere uit die skaduwees en gate begin kruip. Asof hulle my gedagtes kan lees, staan Eva en Adam op om grotwaarts te keer. Dalk het hulle nie gedagtes nie. Maar gedagte is tog ook net nog ’n woord. Kom gedagtes uit in woorde of gebruik ek woorde om gedagtes op te wek? As ek weghardloop vir die vuur, hardloop ek nie omdat ek die woord ken vir “vuur” of “brand” nie, of omdat ek weet wat die kombinasie woorde in ’n sin beteken nie. Ek hardloop bloot omdat iets primitiefs diep binne my dryf om te vlug.

My uitverkorenes dink woordloos. Sonder woorde weet hulle wel dalk nie wat hulle dink nie. Ek beny hulle. Adam en Eva sal nooit die woorde ken vir haat, pyn, oorlog, of verraaier nie. Ook nie vir nostalgie, verlore, teleurstelling, of ontnugtering nie. Melankolie, hopeloos, onvrugbaar.

Net so ken hulle nie die woorde vir “moord” of “kannibalisme” nie.

Toe die silver sweefskip twee jaar terug hier aangeland het, het hulle bloot gedoen wat natuurlik kom. Nog nooit het hulle ’n ander lewende siel behalwe my stomme self gesien nie. Hoe vreesaanjaend moes die enorme masjien vir hulle gewees het. Soos ’n reuse seemonster het die skip blink oor die water genader en met ’n hidroliese gestoom en gefluit op die sand neergesak. En uit die monster stroom daar onbekende wit lywe, bloesend pienk, breed en plomp opgepof waar stof, benerige ribbes en hol oogbanke hoort. Selfvoldaan het die kreature die loopplank afgemarsjeer, uitgevat in weelderige materiale en tierlantyntjies. En uit hulle monde woorde en klanke soos ek al vergeet het in die wêreld bestaan. Die aakligste gekners en gebabbel, gesis en geblêr wat my ore al lank vergeet het. Is dit enige verrassing dat die tweeling so reageer het?

Daar was niks wat ek kon doen nie. Die slagting was verby voor ek of enige van die ander kon besef wat aangaan. Maar dit was twee jaar terug. Hierdie keer sal dit anders wees. Ek moet net moed hou en aanhou wag. More sal hulle ons kom haal, ek is seker.

 


 

Lees die eerste weergawe van "Maslow"

Lees die eerste keurverslag oor "Maslow"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top