
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Martine se Teepot
Soos alle ander kinders het Martine op die ongemaklike ouderdom van drie jaar twee geswelde knobbels op haar skouerblaaie begin ontwikkel waar haar vlerke eendag sou uitkom. En soos alle kinders wat begin tande, vlerke, of enige iets vir hul eie beswil kry, het sy daarteen geskop en gespartel. Nie dat sy stroomop probeer wees het nie, anders as wat die grootmense geglo het. Die goed het net soos bliksems erg gejeuk, seker omdat dit toe soveel vinniger begin groei het as wat dit veronderstel was. Haar ouers het alles probeer: Vicks vaporub, Antizan, selfs tandepasta. Niks wou help nie. Ondanks alle pogings om verligting het sy net aanhou skree en kerm en tevergeefs self aan haar rug probeer krap. Natuurlik kon sy nie lekker by haar skouerblaaie uitkom om die ontsteekte knoppe te krap nie. Soms het sy as die gejeuk te erg raak suutjies die agterplaas in verdwyn en soos ’n dier haar rug teen ’n boom sit en krap tot die bloed met mening geloop het.
Martine se ma sou altyd met vreeslike droewigheid verwys na daardie tyd as een van die swaarste periodes in haar lewe – min wetend hoeveel erger dit nog sou raak. Met oë weemoedig op die grond gerig sou sy dikwels in haar beste 7-de laan-intonasie kla oor haar dogter se vreeslike lot by wie ook al ongelukkig genoeg was om haar pad te kruis. Om die waarheid te sê was hierdie vreeslike periode in die huishouding nie so lank nie. Dit was skaars drie weke. Met al die vreeslike stimulasie het Martine se vlerkies eintlik vinniger uitgekom as gewoonlik. Baie kinders moes soms tot vier maande wag vir die eerste veertjies om te verskyn. Toe die skerp klein vlerkpuntjies uiteindelik deur haar vel breek, was hulle so klein en onskuldig dat mens skaars kon glo dat die goed verantwoordelik was vir al die ellende. Haar ouers het natuurlik aanspraak gemaak op alle erkenning. Die vroegtydige verskyning van die vlerke was glo te danke aan die ywerige aanwending van Vicks vaporub.
Vir ’n goeie paar jaar was Martine nie meer die stroomop, moeilike een nie, maar die bloeiseltjie vol belofte vir wie haar ouers baie groot verwagtinge gekoester het. Die algemene konsensus onder die dorpse mense was dat Martine op ’n buitengewone jong ouderdom vlug sou baasraak. Dalk nog vroeer as Hans Kram, die voortvarende jong man wat dekades gelede op die bloesende ouderdom van net elf jaar die lug suksesvol getrotseer het en skoon weggevlieg het van opgewondenheid. Niemand het hom ooit weer gesien nie. Ongelukkig het niemand wat die petalje aanskou het meer geleef om eerstehandse getuienis te lewer nie. Dus moes arme Martine met ’n vreeslike druk op haar prematuur-geveerde skouers lewe: die hoop en verwagting van ’n hele gemeenskap wat sedert Hans Kram nog nie veel wonderwerke gesien het nie.
Maar die abnormale groeipas wat Martine vir ’n paar maande bo haar portuurgroep gelig het, het nie lank gehou nie. Nou as die dorpsmense hulle oë gerol het vir die geteem van Martine se ma tydens die vlerkvorming – en hulle het – was dit niks in vergelyking met die wanhopige gekners van tande wat gevolg het toe die tante besef dat haar dogter nie die voorloper sou wees wat eerste haar vlerke sou sprei nie.
Tot op so nege jaar het dinge goed aangegaan. Toe was dit asof iemand asyn op ’n potplant gooi. Die veertjies wat eens soos katsterte op Martine se skouers gespruit het, het net eenvoudig ophou groei. Die res van Martine het ongelukkig nie ophou groei nie. Teen elfjarige ouderdom het die vlerkies tussen haar skouerblaaie begin lyk na klein hakskoentjies om ’n paar stewige enkels gevou. Die Hans Kram mylpaal het gekom en gegaan. Martine se ma se aanmoediging en oordrewe aandag het begin kwyn. Aan die etenstafel het Martine haar bes gedoen om oogkontak met haar ma te vermy. Dis asof haar ma gedink het sy kon die vere bloot met die krag van haar suspisieuse gluur aanspoor om te groei.
Nog ’n jaar het gekom en gegaan sonder verandering. En toe, in haar dertiende jaar, het die ander seuns en meisies in Martine se jaargroep so een vir een hul vlieg begin vind. Die eerste een wat dit baasgeraak het was natuurlik Karlien. Wie anders as Karlien met die pragtige stel tande, uitstekende tafelmaniere en perfekte paar . . . vlerke. Martine se ma was een van die eerstes om die nuus te hoor. Sy het dit die aand saggies vir Martine vertel, en was nie eens lus om die berig met haar gewone spoed van ’n slegte maaggriep deur die dorp te versprei nie. Haar teleurstelling was ooglopend. “Toemaar my kind,” het sy weemoedig maar hoopvol haar monoloog afgesluit, asof aardverwarming en verhongerde ysbere die onderwerp was, “jy sal binnekort vlieg.”
Maar gevlieg het Martine nie. Veertien het gekom en gegaan. Een vir een het die nuus van haar klasmaats se suksesvolle vlugervarings bekend geraak. Selfs die seuns, wat gewoonlik so ’n jaar of wat na die meisies begin het, het omtrent al almal die lug in gevaar toe Martine steeds met verspotte vlerkies lê en boeklees het in haar kamer. Op 15 was sy steeds grondgebonde. Mense was simpatiek, en het probeer om haar nie anders te behandel as die ander kinders nie, maar die veergordyn was ongetwyfeld teenwoordig. ’n Gevoel van spanning en senuweeagtige afwagting het haar soos ’n wolkkolom deur die dorp gevolg. Tannies sou styf vir haar knik in die winkel, en dan vinnig oorkompenseer met ’n oordrewe gegroet en gejil. Gedempte gesprekke sou ewe skielik opdroog as sy by ’n vertrek instap. Die gesprekke waarby sy ingelaat is, was kunsmatig speels. Die olifant in die vertrek is sorgvuldig vermy.
So het die dag aangebreek wat Martine en haar beste vriend Kobus amptelik die enigste twee drommels in die dorp was wat op sestien steeds nie kon vlieg nie. Die ironie was dat hulle vreeslik hard probeer het. Ten spyte van die traak-my-nie houding wat Martine ingeneem het om haar ma uit te lok, was dit vir haar net so belangrik soos vir enigeen om normaal te wees. Sedert haar vlerke uitgekom het, het sy net soos haar ouers dagdrome gekoester oor hoe sy die dorp se jongste vlieër ooit sou wees. Sy het saans met haar rug na die spieël gestaan en haar vlerkies oop en toe, oop en toe gestrek. Saam het sy en Kobus ure lank gesit en boeke verslind oor die geskiedenis en meganika van vlieg. Hulle het gehoop die teorie sou hulle help om die praktyk vinniger te bemeester. Op ’n manier het dit die teenoorgestelde effek gehad. Hoe meer hulle geleer het, hoe meer ongelooflik en onbereikbaar het dit vir Martine begin lyk om te vlieg. Aerodinamies het dit net nie sin gemaak nie. Woorde soos vlerkspan en -digtheid, lugdruk en massa het al meer ’n verstaanbare realiteit geword, en vlug met haar nederige vlerkies al meer ’n fantasie. Gelydelik het sy en Kobus al meer begin twyfel aan die hele onderneming. Eers kon hulle dit skaars hardop aan mekaar erken. Maar mettertyd het hul vertroue in mekaar gegroei, en in die veiligheid van die donker kon hulle onder mekaar fluister oor hul ondenkbaarste vermoedens. Veral oor een spesifieke vraag: Hoe is dit dat niemand ’n ander kon wys hoe om te vlieg nie?
Na haar sestiende verjaarsdag het Martine se ma haar twee keer ’n week na ’n vliegdokter toe gestuur vir terapie. Dr Dedalus was ’n welgstelde man met ’n dun snorretjie en ’n indrukwekkende kantoor: ’n groot oop spasie met ’n hoë spitsdak van omtrent agt meter. Elke beskikbare oppervlakte was bedek met genoeg staal, hout en leer om ’n nuwe spesie huisboot of dinosaurus te kon huisves. In die middel van die imposante vertrek, waar die spitsdak die hoogste was, het ’n lang leer gestrek tot amper heel bo teen die plafon. Dit het geëindig by ’n ronde houtplatform, omtrent net die regte grootte om een vreesbevange tiener op ’n slag te akkommodeer. Elke sel in Martine se lyf het weggeskram van daardie vreeslike konstruksie. Sy kon al sien hoe sy vele ure op daardie platform sou deurbring in die fetale posisie. Maar eerder fetaal as fataal.
Dr Dedalus het so hard probeer, siestog. Drie keer ’n week moes Martine op sy gemaklike leerbank gaan lê en ongemaklik vertel van haar familie, haar goudvisse, haar studies en enige ding wat die kriewelrige mannetjie met sy notaboekie aan die knik sou hou. As sy te lank durf stilbly het, het die dokter ’n snaakse kyk in sy oë gekry, so ’n ek-verstaan-jou, ek-en-jy-is-vriende kyk. Dan het hy pynlik simpatiek en empaties geraak en sy oë ekstra lank in die knip toegehou om sy meegevoel oor te dra.
“Hoekom wil jy nie vlieg nie Martine?” het hy eendag onverwags vinnig tot die punt gekom. Vir maande het hulle al om die onderwerp gesirkel soos haaie, maar vandag het hy duidelik ’n vangs verwag. Dit was immers Vrydag, en gholfklublede betaal Vrydae halfprys na 16h00.
“Maar ek wil, Dokter!” het sy hom vir die soveelste keer verseker. “Dit sal net soveel help as iemand vir my . . . kan wys hoe,” het sy dit gewaag.
Die temperatuur in die kamer het met etlike grade gedaal en Dr Dedalus het ongemaklik in sy stoel rondgeskuif.
“Ons het al baie hieroor gepraat Martine,” het hy haar berispe. “Dit is nie hoe dit werk nie. Niemand kan jou wys hoe om te vlieg nie. Dit is ’n totaal persoonlike belewenis en heeltemal uniek vir elke individu.” Sy kon sien die dokter was vies. Sy gholfvooruitsigte het al hoe slegter begin lyk.
“Maar Dokter,” het sy weer probeer. “Ek het al baie opgelees hieroor. Ek verstaan net nie hoe dit kan werk nie. Met ’n massa van 53 kg, en . . .’
“Martine!” het hy haar gestop, skielik opgewonde. “Dit is presies jou probleem!” Hy het triomfantelik teruggeleun in sy stoel. “Jy DINK te veel. Wat help dit jy verstaan al hierdie dinge? Hhm? Wat bring dit jou in die sak? Dink jy Karlien de Wet verstaan hoe sy vlieg?”
Sy het niks gesê nie, hoewel sy by haarself gedink het dat Karlien skaars die kuns van skoenvasmaak verstaan. Sy het egter wyslik net haar kop geskud.
“Jy moet GLO jy kan vlieg Martine”, het die dokter vir die soveelste keer gesê. “Vir honderde jare vlieg die mens al, een na die ander.” Sy arms het ter illustrasie gesweef en gefladder in die lug. “Wat ek en jy moet uitvind,” het hy sameswerend gefluister, “is hoekom jy nie die vertroue het om te spring nie”. Hy het alwetend gegrinnik. “Hoekom glo jy nie jy kan vlieg nie? Dit is die vraag.”
“Dokter,” het Martine een laaste keer ’n punt probeer maak. “Het Dokter al gehoor van ‘Russel’s teapot’?”
Dr Dedalus het gefrons en iets in sy boekie geskribbel. “Waarvan praat jy nou Martine?”
“ Russel’s teapot”, het sy braaf aangegaan, “dis ’n analogie van Bertrand Russel.”
“O ja?” Tik-tik-tik het sy potlood ongeduldig op die notaboekie gehammer.
“Ja. Hy het gestel dat as hy sou glo daar is ’n teepot wat om die son wentel –”
“Hoe nou Martine?” het die dokter haar in die rede geval. “Sê jy vir my jy dink daar is ’n teepot wat om die son wentel?”
“Nee dokter!” Martine het vinnig begin praat, gretig om vir eens gehoor te word. “Ek sê, of altans Bertrand Russel sê, dat dit onmoontlik is om so ’n onwaarskynlike stelling verkeerd te bewys. Maar dit maak nie die stelling waar nie. Dit beteken net die onus is nie op my om te bewys dat so ’n belaglike ding korrek is –”
Met ’n klap het dr Dedalus sy notaboekie toegemaak en na sy horlosie beduie.
“Ons tyd is verby Martine. Ek is jammer maar jy sal nou moet gaan. Sien jou volgende week.”
Na die sessie is Martine dadelik na Kobus se huis om hom te vertel hoe die dag se terapie afgeloop het. Haar weeklikse avonture in dr Dedalus se kantoor het al ’n groot bron van vermaak geword tussen hulle. Vandag sou anders wees.
By die voorhekkie kon sy dadelik aanvoel iets is anders. Uit die agterplaas het die gekwetter van ’n spul opgewonde tanniestemme weergalm. Sy het stadig om die huis geloop, reeds oortuig van wat sy sou sien. Daar was Kobus, omring deur ’n kloekende trop tannies, haar ma inkluis. Toe hy haar sien, het hy dadelik nadergekom.
“Ek het dit gedoen Martine!” het hy geesdriftig gesê. “Ek het gevlieg!”
Met oordrewe gebare en spoegsels in sy mondhoeke het hy vertel wat gebeur het. Maar sy kon niks hoor bo die gesuis in haar kop nie. Sy het die geliefde gesig voor haar deursoek vir ’n teken van die regte Kobus, ’n flits van die vriend saam met wie sy snags gefluister het.
“Hoe het jy dit gedoen?” het sy hom êrens in die rede geval, alle voorgee vergete. Sy kon sulke vae verduidelikings en ontwykings van enige iemand hanteer, maar nie van hom nie. Vir ’n oomblik het die selfversekerde kyk in sy oë het plek gemaak vir iets meer onbetroubaar, en terselftetyd meer geloofwaardig. ’n Laaste oorblyfsel van die ou Kobus.
Maar die oomblik het vinnig verbygegaan. Hy het ’n tree terug gegee, en in daai tree ’n wêreld van haar af wegbeweeg. Een klein tree vir ’n mens . . .
Sy het geweet dit sou nooit weer dieselfde tussen hulle wees nie. Nou was die skeiding tussen die wat kon vlieg en die wat nie kon nie, tussen hulle ook. Sy het verblind deur trane huistoe gehardloop. Het hy haar verraai, of sy hom?
Die aand kon sy nie slaap nie. Eers het sy op haar arms gehuil soos net ’n tienerdogter met ’n liefdesteleurstelling kan huil. Sy het rusteloos rondgerol en gedink. Oor haarself, en oor Kobus. Oor haar ouers en die wêreld waarin sy grootgeword het. Die verwagtinge en teleurstellings wat sy van kleins af beurtelings moes koester en verwerk. Gedink aan hoe almal om haar geseën is met hierdie onverklaarbare talent om te kan vlieg, en dat sy alleen agtergebly het. Net voor sonop het sy haar besluit geneem.
Doodmoeg maar tog helderder as wat sy nog ooit was het sy die donker trappe afgesluip en die agterdeur suutjies oopgestoot. ’n Strook maanlig het die portaal agter haar verlig en ’n kollig gegooi op ’n stowwerige familieportret van haar drie-jarige self saam met trotse ouers.
Die agterplaas was helder verlig danksy die volmaan. Sonder om te huiwer het sy na die motorhuis geloop, vastrapplek gesoek en op die dak geklim. Almal kon vlieg. Hans Kram, Karlien de Wet. En nou selfs Kobus. Hy was die laaste mens op aarde wat die balans gehou het tussen haar en die misleide skare. Met hom aan haar sy kon sy nog glo dat die probleem nie by haar gelê het nie, dat vlieg nie ’n kwessie van uitverkorenheid of talent was nie. Maar nou was sy heeltemal alleen. Vasbeslote het sy die rand van die dak genader, haar voorneme sterkter met elke tree.
Sy moet net glo. Dit is nou lagwekkend as sy daaraan dink, eintlik so eenvoudig. Al wat sy nog al hierdie jare moes doen was om beheer te laat gaan. Dit gaan nie oor lugdruk of digtheid of windspoed nie. Wette van fisika is nie ter sprake nie. Sy moet net weet dat sy dit kan doen.
Eers reg by die dak se rand staan sy vir ’n oomblik stil. Nie om te heroorweeg nie, nee. Sy vat net ’n oomblik om te reflekteer oor die betekenis wat die volgende paar oomblike sou dra. Hoe dit sou voel om te sweef in die lug, hoe trots haar ouers sou wees. Hoe Kobus haar weer as sy gelyke sou sien. Al wat nog al die jare tussen haar en vlieg gestaan het, is haar geneigdheid om alles deur te dink.
Met een beweging gooi sy die japon van haar skouers af en sprei haar vlerke vir die eerste keer ten volle uit. Sy tree vorentoe en glo sy kan vlieg. Haar geloof dra haar vir ’n salige oomblik van vryheid, ’n oomblik van perfekte balans, van euforie en oorgawe. Arms en vlerke silwer-blink uitgesprei in die maanlig. ’n Reuse sprong vir die mensdom.
Dan is die oomblik van inersie verby. Gravitasie lig ’n wenkbrou en Martine val. Sy hoor eerder as voel hoe haar bene en skedel kraak. Dan val sy verder, diep deur die grond, deur lae op lae strata en geskiedenis. Êrens in die val steek sy Hans Kram se verbrokkelde beendere verby. Sy skedel grynslag tergend vir haar en word al kleiner en kleiner voor die donker haar oorval.
Lees die eerste weergawe van "Martine se teepot"
Lees die eerste keurverslag oor "Martine se teepot"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

