
Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.
Vlekke op die grond
Toe ek 6 jaar oud was, was my oupa nog my held. Groot man met ’n growwe stem, sterk hande met kort, dik vingers. Littetekens en eelte van ’n harde lewe, die plooie om sy oë en mond het sy sarkastiese sin vir humor verklap.
En die yskoue glinster net onder die oënskynlike vriendelike oppervlak van sy amper deuskynende blou oë, het skelm gefluister van ’n man wat die teuels van sy woede iewers langs die klipperige pad verloor het.
Maar wat maak dit nou als tog saak vir ’n bloedjong skeunskind wat droom om eendag in sy oupa se uitgetrapte veldskoene te loop; oor grond wat al vir 5 generasies deur die Gerber-familie bewoon en bewerk word?
Grond wat al deel geword het van ons harte. Grond waar ten minste sewentien Gerber-mense nou rus in die afgekampte familiebegraafplaas daar onder teen die rivierbank in die skaduwee van die ou wilgerboom. Ja, wat maak dit als vandag tog nog saak?
My punt is seker maar net dat my oupa my held was, en ek het my Gerber-trots daardie tyd nog op my mou gedra. Voordat my mou en my hart bevlek was met ’n ander man se bloed en geheime.
Als het verander een somermiddag omtrent dertig jaar terug. My pa het nie geweet dat ek my perd opgesaal het en Gerber-plaas toe gery het nie. Hy het nooit toegelaat dat ek alleen vir Oupa Dirk gaan kuier nie, dus moes ek skelm daarnatoe gaan as ek alleen saam met oupa op sy plaas wou rondry of op die lande werk.
Ek het altyd aangeneem dat Pa dink ek is in my oupa se pad, en ek het hom daarvoor kwalik geneem. Ek kon sien dat Oupa Dirk hom verlekker in die skelm uitstappies en so het dit altyd geheim gebly. Pa en Oupa Dirk het nie om dieselfde vuur gesit nie, en het mekaar net ordentlikheidshalwe verduur.
Dit was ’n snikwarm dag; die hittegolwe het oor die veld gedans terwyl skyn-waterpanne glinster op die horison. Ek en Oupa het met die geroesde bakkie na die volkshuisies gery. Hy was al amper sestig, maar nog altyd so sterk soos ’n bees, en so bedonnerd soos ’n Brahmaan-bul.
Oupa het een van die werkers daarvan verdink dat hy vee steel. Toe ons stilhou voor die eenvoudige huisie, het hy dadelik uitgeklim en die man na buite geroep.
Oupa Dirk het gewag tot die man binne grypafstand is voordat hy gesê het:
“Jy steel my vee, Moses.”
Die man se oë het eers gerek in skok, gevolg deur die vrees wat oor sy gesig gespoel het.
Oupa Dirk het die werker gegryp en hom agter teen die bakkie vasgedruk. Met sy ander hand het hy ’n stuk tou agter van die bakkie afgehaal en die swarte se hande agter sy lyf vasgemaak. Hy het die man in die stof neergegooi en sy sweep ook agter uit die bak gehaal.
Die man het nog in gebroke Afrikaans probeer smeek, maar hy is nie kans gegee nie. Die houe het begin val sonder genade.
Ek het nie daarvan gehou nie, maar het vir Oupa geglo wanneer hy gesê het dat dis al manier wat ’n werker leer.
Sy vrou het op die stoep geskree en huil terwyl vier klein swart kinders die veld ingehardloop het.
Dit was nie vir my ongewoon om saam te gaan wanneer Oupa een van die volk moes gaan pakgee nie. Hul het nogal gereeld onnooslike goed gedoen, en Oupa se sweep het altyd reg gestaan. Ek het tog immers gereeld genoeg self deurgeloop.
Maar daardie dag was anders. Oupa het geslaan totdat die man nie meer opgestaan het nie.
Die bloed het deur die rugkant van sy geskeurde t-hemp geslaan.
Snaaks hoe wit en swart velle maar dieselfde rooi aan die binnekant het. Toe die man nie meer wou orent kom nie, het Oupa hom aan sy klere opgetrek totdat hy op sy voete was.
Die man was al moeg en swak, en boonop vasgemaak met sy hande agter sy rug. Oupa Dirk het hom gesleep tot op die bakkie se agterkant en die klap toegegooi.
“Spring van my bakkie af en ek skiet jou van agter af soos die lafaard wat jy is” het Oupa vir hom gegrom, en agter die stuur geklim. Ek het by die passasierskant ingespring so vinnig as wat ek kon en stil by die voorruit uitgestaar. Ek het nie vrae gevra nie en Oupa het nie antwoorde gegee nie, soos dit maar die Gerber-gewoonte was. Manne met min woorde en harde vuiste het Ouma altyd gesê, met hartseer in haar oë.
Dit het ons vyf-en-veertig minute geneem om na een van die agterste kampe op die plaas te ry. Daar word nie in die agterste kampe geplant nie omdat daar nie water is nie. Niemand kom regtig gereeld daar nie, want daar is niks. Toe ons stop het Oupa uitgeklim en na die agterkant van die bakkie gestap.
“Klim af.”
Die werker het net bly lê en huil. Ek het so 5 treë agter Oupa gaan staan. My bene was lam en my hart het vinnig in my keel geklop. Die gesuis in my ore was so hard dat ek gevrees het dat ek nie sal hoor indien Oupa vir my ’n opdrag gee nie. Maar ek wou nie nader stap nie. Daar was bloederige smeermerke oor die voertuig. Dit het my naar gemaak.
’n Oorweldigende bang gevoel het in my binnekant opgestaan, en ek kon voel dat ek op die punt daarvan is om te braak.
“Klim af!”
Nog steeds het hy so bly lê in sy eie trane en bloed.
Ek het sag twee treë agteruit getree.
Oupa het die man weer gegryp en hom van die bakkie af geruk. Trane het agter my oë gesteek toe sy maer lyf in die stof val.
Die werker het tot op sy knieë gesukkel en gepleit in al die Afrikaanse woorde wat hy geken het. Ek kon net die helfte daarvan hoor deur die geraas van my hart wat die druisende bloed byna by my ore uit stoot.
Oupa het omgedraai en sy jaggeweer uit die bakkie gehaal.
Ek het na my asem gesnak en my arms agter my rug gekruis sodat ek my voorarm se vel kon vasknyp in angs.
Hy maak hom net bang.
Dis oukei, Oupa maak hom net bang om vir hom ’n les te leer.
Ek het die woorde oor en oor herhaal in my kop, en tussendeur gebid dat Oupa nie vir my ’n opdrag sal gee nie.
Toe die werker die geweer sien, het hy kliphard begin gil en probeer orent kom.
Sy bene het hom verraai en hy het met sy gesig in die vuurwarm grond geval. Stof het aan trane en bloed vasgekleef sodat sy gesig asvaal was.
Oupa het met sy voet op die man se rug getrap sodat die man weer plat op sy maag gelê het.
Ek weet nie hoe om die huil van die swarte te beskryf nie. Dit is nie iets wat nagemaak kan word nie.
Hy maak hom net bang.
Hy gaan nou ophou, dan kan ons huis toe gaan en die man sal nooit weer vee steel nie.
Dis amper verby.
Amper huistoegaantyd.
Die trane het vet en nat teen my wange af gerol. Oupa Dirk het sy geweer opgetel en gemik. Yskoue blou oë wat glinster agter die loop, so hard soos die koeël wat binne lê en wag.
“Ek het vir jou gesê dat as ek jou vang vee steel, maak ek vir jou vrek. Ek is gatvol vir julle klomp wat als plunder en steel terwyl ek ’n bestaan probeer maak.”
Sy oë het kouer en harder geraak, totdat ek nie meer sy gesig kon erken nie. Hy het deur sy regteroog gekorrel terwyl hy die linker een toegeknyp het.
Dis verby. Hy gaan die geweer laat sak en ’n laaste waarskuwing gee, en dan kan ons huis toe gaan.
Toe die skoot klap, het ek agteroor geval met my gat in die vuurwarm sand; soos een wat self geskiet is.
Ek het regop gaan sit en gebid dat Oupa langs die man in die grond vas geskiet het.
Hy het nie meer gehuil nie.
Hy het nie meer gespartel in die stof nie.
Bloed en pienk stukkies vleis en vel het versprei gelê op die grond en oor Oupa se skoene en broekspyp.
Oupa Dirk het sy voet van die dooie man se rug afgehaal en na die bakkie gestap. Ek het geskarrel om orent te kom.
Ek kon my oë nie glo nie. Ek kon letterlik nie glo wat reg voor my gebeur het nie.
Ek het my held en my onskuld verloor in die paar minute wat dit geneem het om ’n man in die stof vas te trap en te skiet. ’n Man wat gesmeek het, met sy hande agter sy rug vasgemaak.
Oupa Dirk het daardie dag ook gesneuwel, langs die swart man, met sy gevreet in die grond. Tussen stukkies vleis en spatsels bloed en trane in die warm dors sand.
My trane het ook daar gelê.
Ja, my held was dood, en in sy plek het ’n leë man opgestaan met dooie blou oë en ’n hart wat vrot van haat.
“Hier, my seun. Help my om ’n gat te grawe.”
Ek is nie meer jou kleinseun nie.
Was ek ooit?
Loop daardie selfde bloed ook in my are?
Ek het woordloos met ’n bleek gesig die graaf gevat en gedoen wat vir my gesê is.
En myself daarvoor gehaat.
Haat myself vandag nog daarvoor.
“Jy is nou groot genoeg om te verstaan hoe ’n man sorg dat hy nie verneuk word deur sy eie plaasvolk nie.”
Ek was nie.
Ons het ons sonde in stilte begrawe en die grond weer gelyk gemaak.
Net nog ’nstukkie grond wat brand in die verskroeiende Karooson.
Die teenoorgestelde van die Gerber-rusplek onder die wilgerboom se skaduarms.
Die lewe het uit my hart geloop en geval op die dors veldgrond, en weggesyfer sodat my siel leeg en hol gevoel het.
Op pad terug het Dirk vertel dat ons gemeenskap die dood van ’n skelm werker begrawe met wit leuens en gunsies.
“Die een hand was die ander, my ou seun.”
Maar hoe was mens dan ’n siel skoon, Dirk?
En ek is niks meer van jou nie.
Ek het net stilweg voor my gekyk en gevoel hoe vlymskerp trane die vliese agter my oë uitmekaar sny.
By die huis het ek sonder ’n woord by die bakkie uitgeklim en agter Dirk by die agterdeur van die ou plaaskombuis gestap. Ek kon die werker nog hoor skree in my kop.
My pa het daardie aand by die tafel vir my gesit en wag.
Toe ons instap, het hy stadig opgekyk na Dirk.
En toe na my.
Hy kon dit sien, ja. My pa het nog altyd ’n eienaardige manier gehad om tot in ’n mens se siel te kyk.
En hy kon sien dat myne leeg geloop het op die dors grond in die boonste kamp van Gerber-plaas.
Voor hom het sy kind gestaan; vasgevang in ’n emosionele haelstorm, met niks om sy siel warm te hou nie. Niks om die gat in sy hart mee toe te stop nie.
“My kind?”
Ja, Pa.
Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd het ek my teen sy bors gaan vas-druk terwyl die trane en seer deur my geruk het.
Totdat ek in ’n diep slaap weggegly het, en vir die res van die aand in die man se arms geslaap het wat tot vandag toe nog my held en my leier is.
Vandag is die eerste keer in dertig jaar wat ek sonder my pa se teenwoordigheid in dieselfde vertrek is saam met die man wat eens op ’n tyd my oupa was.
Dirk Gerber lê op sy doodsbed.
My pa se oestyd het probleme gegee, maar hy is op pad.
Ek wens hy was al hier. Die reuk van doodgaan hang in die lug van die hospitaal en die ou man se voorkoms is ontstellend.
Die dominee sit darem langs my en prewel gebede, half vir homself, half vir die geeste wat om ons rondsweef tussen hier en daar. Hospitale is vol van sulke goed.
Dirk Gerber se oë is stokstyf en yskoud.
Ek het hom dertig jaar gelede afgeskryf; en hy vir my.
Ons het nog nooit weer tyd vir mekaar gehad nie.
Die geheim van die werker se dood lê tot vandag toe nog onder die grond en vrot. Ek het die gebeure een keer aan my pa vertel, en nooit weer daaroor gepraat nie.
Dit was soos wat Dirk gesê het; wit leuens en duur gunsies het gesorg dat ons sonde sonder steur begrawe bly lê het.
Skielik gryp Dirk die dominee se hand en kyk hom stip in die oë.
Ek kan sien dat die fisiese kontak vir dominee Van Zyl grief.
Die dominee, ook al ’n ou man, woon ten minste al veertig jaar lank op die dorp.
Hy het nog nooit van Dirk Gerber gehou nie, en ek wonder nou, nie vir die eerste keer nie, waar die kwaai gevoelens vandaan kom.
“Bid vir my dominee Van Zyl, sodat ek in my lankverdiende plek kan gaan rus.”
Dit is nie ’n vraag nie, dit is ’n opdrag.
Ek kan sien dat die dominee besig is met ’n stryd in sy siel.
’n Goeie mens se oë is die ventsters tot sy hart. Dirk Gerber se oë verklap niks.
“Meneer Gerber, ek bid dat die Here sy reg sal laat geskied. Niemand verdien dit om in die hemel te kom nie. Dit is ’n voorreg wat God aan ons gegee het deur ons skoon te was met sy bloed. Ek hoop jou hande is skoongewas van die bloed wat jy al gemors het. Ja, ek bid dat sy wil sal geskied.”
Hy weet .
Dis al gedagte wat in my kop dryf.
Hy weet.
Dirk Gerber se gesig trek in haat terwyl hy sy hand wegruk van dominee Van Zyl s’n. Dit lyk of hy nog iets wil së, maar hy kyk skielik skuins agter my na iets. Ek kyk om en sien niks.
Ek draai terug na Dirk en probeer uitmaak waarna hy kyk.
Sy gesig is vasgevang in vrees.
Ek kyk weer om en sien niks wat so ’n reaksie uit die koue mens wat voor my lê sal kan lok nie.
Die ou dominee sit doodstil en kyk stip na die sterwende man van wie hy so duidelik niks hou nie.
“Vra hom om vergifnis.”
“Nee.” Maar sy oë rek al groter.
“Jy het ’n tweede kans man, vra om verskoning.”
“Nee! Ek het niks gedoen wat nie in my volle reg en verantwoordelikheid was nie!” Dirk se stem is hees en swak.
Ek probeer weer sien waarna Dirk kyk, maar sien niks. Dis duidelik dat die dominee van iets weet sonder om eens om te kyk na die leegte agter ons.
Dirk begin na sy asem hyg en lyk of hy sitlweg besig is om te skree.
Ek sit in skok en verbasing terwyl die hoendervleis en koue sweet oor my hele lyf speel.
Ewe skielik voel dit of my siel uit my lyf opstaan en ruk, net om weer terug te val na waar dit in enige mens se lyf rus.
Ek kyk af en sien dat Dirk se liggaam leeg en bleek lê. Die masjiene wat aan hom gekoppel is, skree soos sonbesies in die middel van die somer.
Langs my sit die dominee stil en kyk stip na die dooie man.
Geheime en jare se seer swem in die ou man van God se oë. Ek sê niks. Vra ook niks. Wil nie hê dat die dominee moet kyk na my hande, net om te sien dat dit ook bevlek is met bloed en skuld nie.
My pa hardloop by die deur in, uitasem en moeg.
Ek kan sien hy lees die gesigsuitdrukkings van my en die man langs my, en maak sy eie afleiding.
Hy begin nader stap en sy sonverweerde gesig frommel van pyn en spyt.
Ek staan dadelik op en druk hom vas terwyl sy lyf ruk van trane en huil wat vir ’n leeftyd onderdruk is.
Hy huil soos ’n klein seuntjie.
Hy huil soos die klein seuntjie wie se hart dertig jaar terug gebreek is,toe sy oupa en held langs ’n swart man in die stof geval het.
Hy huil soos ’n kind wat vir die res van sy lewe met bloedspatsels van ’n ander man op sy siel moet rondloop. Ek kan onthou hoe seer daardie trane maak.
Ek hou hom vas en bid hardop.
Nie vir Dirk Gerber nie, maar vir my en my pa.
Vir vergifnis vir ’n man se dood wat stil gehou is vir ’n leeftyd.
Vir vergifnis van onderdrukking en geweld en vernedering.
Ek bid vir ons nasie. Vir ons siele, en vir ons land.
“Laat U wil geskied, in die hemel, so ook op die aarde.
Amen”
Lees die eerste keurverslag deur Leti Kleyn
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Klik hier vir die kortlyskandidate
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

