
Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Utopia
Daar is twee plekke waar ’n mens nie ’n leeu se asemhaling wil herken nie. Die eerste is in jou drome. Die tweede is soveel, soveel erger.
Doef, doef, doef, doef, doef.
Ek maak my oë toe. Dis nie regtig nie. Dis nie regtig nie, dink ek.
Ek druk my mond met natgeswete vingers toe, my asem opgehou.
Dis net jou verbeelding, dink ek, maar die warm vloeistof lek alreeds teen my been af en ek voel hoe dit in my skoen saampoel.
Doef, doef, doef, doef, doef.
Die kas ruik na vuil sokkies, of gemufde vleis, en die aspersiesop wat ek vir middagete gehad het. My keel trek toe; die beweging is met my maag verbind, met my linkervoet wat kwansuis voel of hy slaap. My senuwees trek spasties in my bors saam.
Al wat ek hoef te doen is om te verdwyn. Ek wens ek kan, maar daar is geen uitkomkans meer nie.
Doef, doef, doef, doef, doef.
Ek is seker ek kan hom hoor asemhaal. Stadig, sag, maar met ’n dierlike grom in die keel soos aan die einde van ’n sin. ’n Daling wat hoorbaar sy teenwoordigheid ’n realiteit maak.
Wanneer die kamerdeur oopgaan weet ek daar’s nêrens om heen te ontsnap nie. Die doef, doef, doef van my hart het die monster reguit na my toe gelok.
Vir my vierde verjaardag het ek ’n pakslae gekry. “Omdat jy stout was,” verduidelik my ma terwyl my pa sy hemp se moue afrol en sy baadjie aantrek.
“Hou op huil,” sê my pa. “Jy’s mos nou al te groot vir so ’n getjank.”
My ma druk my teen haar bors vas sodat sy my snikke kan smoor.
“Hy’s net vier,” sê sy. “Moes jy hom op sy verjaardag pak gee? Hy gaan dit vir ewig onthou.”
My pa kyk my ma met donker oë aan, net vir ’n oomblik, en dan klap hy haar.
“Ek hoop hy onthou dit,” sê hy en lig sy hand vir die tweede keer.
Sy steier terug, met my in haar arms, en stamp haar kop teen die muur.
’n Geluid ontsnap deur sy lippe. Dit klink soos ’n giggel, maar my pa is nie die soort man wat daarvan aangekla kan word dat hy giggel nie.
Ek kan aan my ma se asemhaling hoor sy is geskok, maar sy sê niks, trek my net stywer teen haar vas, asof sy wil hê ek moet haar beskerm.
“Ek hoop hy onthou dit vir altyd,” sê my pa, dié keer naby my oor. “En ek hoop sommer jy onthou ook.”
Dit was die eerste keer wat ek my pa dood gewens het.
As mens by die loodglasvenster voor in Rustenburg-Suid se Hervormde Kerk sit, is dit toorlig wat op die klipvloer val. Pienk as die son skyn, of pers wanneer die skemermaan tydens die aanddiens sy verskyning maak.
Lielie word vandag gedoop en die lig is pienk, soos die lintjies op haar skoene en die een bokant haar pofgesiggie.
Lielie is nie haar regte naam nie, nie die een op die doopserifikaat nie, maar dis die enigste een wat my vyfjarige tong behoorlik wil sê.
Voor in die kerk glimlag Ma asof sy aan ’n skoonheidskompetisie deelneem. Pa lyk soos altyd, stywerig en ongeïnteresseerd. Hy’t ’n nuwe pak klere aan. Sy hemp pas by Lielie se lintjies. Sy skoene is blink gepoleer á la my beste poging, maar hy staan reg deur die dominee se preek soos ’n stok, soos iemand wat enigiets sal gee om nie daar te wees nie.
In die loodglas-lig is Lielie die enigste een wat nie ’n aangeplakte glimlag forseer vir die foto’s nie. Haar mond trek in ’n voor-huil tuitjie, haar vingertjies is om Ma se plastiese pêrels gedraai en haar een voet is kaal. Tog sal sy agterna die een wees wat normaal lyk.
Die koek wat Ouma gebak het, lyk soos groot babaskoene met pienk lint-veters en linte om die sole. Ma sê ons mag die koek eers eet wanneer al die gaste opgedaag het, maar Lielie gee nie om nie, sy is skreeuhonger. Letterlik.
Pa lyk of hy Ma weer gaan slaan as sy nie nou vir Lielie laat drink nie, maar Ma glimlag net.
“Het Lielie te veel aandag gekry?” vra sy en streel ’n denkbeeldige lyn vanaf Lielie se neus tot op haar voorkop.
“Jy weet ek haat daai bynaam,” sê my pa, maar ek kan sien dis eintlik Lielie se gehuil wat aan hom krap.
“Maak haar stil, of ek sal,” sis hy naderhand tussen sy tande deur, want Ouma is in die kombuis besig met die eetgoed.
My ma se glimlag verflou terwyl sy sistematies haar bors ontbloot sodat Lielie kan drink.
“Wat kyk jy?” vra hy.
Ek kyk weg.
“Ek praat met jou,” sê hy en trek sy baadjie uit.
“Johan,” sug my ma terwyl sy Lielie se ruggie streel, “los nou maar die kind. Hy’s net opgewonde oor sy nuwe sussie.”
Vir my gee sy daai “gaan speel buite”-teken met haar oë. Ek ken daai kyk. Dis die een waarmee sy my waarsku dat Pappa in een van sy slegte buie is. Dis die een waarmee sy my laat weet dat dit beter sal wees vir ons almal as ek nie langer in die grootmense se pad is nie. Dis die een wat beteken dat sy bang is Pa doen iets wat my kan seermaak.
Ma se grootste stryd is om die twee manne in haar lewe te beskerm teen pyn.
Ek staan op, maar my pa mis niks nie.
“As ek vir jou ’n vraag vra, dan antwoord jy my,” sê hy en klap my teen die oor.
My linkeroor suis. Dit klink of die radio-opvangs in my kop nie reg is nie, maar ek maak nie ’n geluid nie, want ek weet hy sal my weer slaan.
“Verstaan jy my?” vra hy.
“Ja,” sê ek en draai my rug op hom. Ek wil nie hê hy moet die trane in my oë sien nie.
“Ja, wat?” vra hy.
“Ja, Pa,” sê ek.
Dit was die tweede keer wat ek my pa dood gewens het.
In die fietsrak by die Spar is vyf fietse aan hul voorwiele vasgesluit. Myne is nie een van hulle nie, want my pa’t gesê as ek my fiets oppas, sal ek nie ’n fietsslot nodig hê nie. My fiets is die een met die afgesnyde tossels wat uit die handvatsels groei en stickers van die Caltex-haas oor die pienk en pers Riley- raam geplak. Myne is die een wat teen die muur agter die sekuriteitswag gestaan het, maar nou is hy nie meer daar nie.
Ek verstaan nie eers dat trane in my oë sou opdam oor daai fiets nie. Dit was ’n optelding van die ashoop af, ’n meisiefiets waaroor al die kinders by die skool my gespot het. Nietemin, dit was my fiets en ek weet ek sal nie sommer weer een kry nie, ongeag of daar nog een op die ashoop is of nie.
“Wie’t my fiets gevat?” vra ek vir die sekuriteitswag wat besig is om ’n zol te rol.
“Ek weet nie,” sê hy sonder om op te kyk.
“Hy was hier reg agter jou!” My agtjarige gemoed vind dit moeilik om te begryp hoe hy nie kon gesien het dat iemand my fiets gevat het nie.
“Hoekom het jy hom nie vasgesluit soos ander kinders nie?” vra hy.
Ek kyk hom verergd aan. Wat help dit tog ek probeer verduidelik?
Ek staan nog ’n rukkie en wens dat iemand sal besef hulle het die verkeerde fiets gevat en hom sal terugbring, maar dan word die sak met die melk en brood te swaar en begin ek maar huis se kant toe loop.
Ma en Lielie sit op die stoep, Ma met haar Huisgenoot en Lielie met die Barbie-pop wat ouma Let vir haar op haar derde verjaardag gekoop het.
“Waar’s jou fiets?” vra my ma.
Trane volg die gevestigde roete teen my gesig af.
“Iemand het hom gevat,” sê ek. “Ek’s jammer. Ek het so gou gemaak as wat ek kon.”
“Toemaar. Ons sal iewers vir jou ’n ander fiets kry,” sê sy sag, “maar dan moet dit vir eers ons twee se geheim bly.”
“Wat van Lielie?” vra ek.
“Moenie worry nie,” sê sy, “Lielie sal niks sê nie.”
Pa kom na sewe eers by die huis. Hy’t ’n ses-pak bier in die hand en ’n slab-chocolate vir Ma.
Hy maak die eerste bier sommer al in die studeerkamer oop, nog voor hy eers sy baadjie uitgetrek het, en stap dan met die res kombuis toe.
“Hulle’t vandag twee ouens ge-retrench,” sê hy aan tafel.
“Wat beteken retrench?” vra ek.
“Dit beteken jy moet gaan speel en nie luister waaroor grootmense praat nie,” sê hy.
Hy’s in een van sy buie, sien ek, want hy’t daai trek om sy mond.
Ek staan op, vat my bord en begin uitstap.
“Huh-uh,” sê hy. “Jy loop nie met ’n bord vol kos die huis vol en mors nie.”
Hy hou sy hand uit en ek besef aandete is meteens verby. Vir my, in elk geval.
Ek en Lielie kyk MacGyver wanneer die klop aan die deur kom.
“Wie’s daar?” hoor ek my pa roep voor die houtdeur oopkreun.
Lielie lag haar gat af vir die ontploffings, so ek hoor nie wie in die voorkamer met my pa gesels nie.
Wanneer die houtdeur egter toegaan, weet ek instinktief iets is fout.
Daar’s ’n oomblik van totale stilte, asof die heelal my wil waarsku dat iets gaan gebeur, maar ek steur my nie daaraan nie – MacGyver het ’n plan!
Dan kom my ma die televisiekamer ingehardloop. Sy gryp vir Lielie so vinnig van die grond af dat ek dit amper nie registreer nie. Wanneer my pa die vertrek inkom, is sy oë op my gevestig.
Hy pyl reguit op my af, sy hande voor hom uitgestrek.
Iewers het iets skeefgeloop. Iewers is iets fout.
Iets is baie verkeerd, want vanaand is daar moord in my pa se oë.
“Dis nie sy skuld nie,” sê my ma. “Ek het gesê ons moet eers wag en kyk of die fiets nie dalk uitkom nie.”
Hy trek my aan my oor op, asof my ma nie bestaan nie.
“Jy’t gedink ek sal nooit uitvind nie,” sê hy en stamp my die sitkamer in.
“Ma’t gesê,” begin ek, maar as ek sy gesig sien, wil my mond nie meer praat nie. Teen die muur staan my pers en baba-pienk Riley met die Caltex-hase op. Hulle kyk vir my, lag vir my, asof hulle wil sê: “Jy’t mos geweet dit gaan gebeur!”
My pa kry my aan my kraag beet.
“Toemaar, ou seuntjie, ek sal later met jou ma afreken.”
“Dis nie haar skuld nie,” sê ek. “Ek het gaan brood en melk koop en . . . en toe vat iemand my fiets.”
“Sommer net so?” vra hy. Ek kan die drank, nie net bier nie, aan sy klere en asem ruik.
“Ek kon dit nie help nie,” sê ek. “Ek het nie ’n slot gehad om my fiets mee vas te sluit nie.”
“Weer die donnerse slotstorie,” sê hy uitdagend. “Hoeveel keer moet ek nog na jou gesanik oor ’n fokken slot luister?”
Die volgende oomblik maak sy vuis met my kakebeen kontak.
“Nee,” skree my ma. “Los hom uit!”
“Hou jy jou bek,” sê hy. “Watse soort ma leer vir haar kinders om vir hulle pa te lieg?”
“Het jou ma gesê jy moenie vir my sê nie?” vra hy nou. Hy hou my aan die hare vas terwyl ’n tweede en ’n derde hou op my wang val. Dit voel soos geweerskote, of my kakebeen enige oomblik gaan verbrokkel. Die bloed proe soos metaal in my mond.
“Nee,” snik ek, “dit was my eie idee.”
“Moenie vir my lieg nie,” skree hy, maar draai dan meteens na my ma.
Sy ritereer, Lielie stom-bang in haar arms.
“Watse soort ma leer haar kinders om vir hulle pa te lieg?” vra hy, en ek sien hoe Ma stadig vir Lielie op die vloer neersit.
“Ons wou wag en kyk,” probeer sy, maar haar woorde raak traer hoe nader hy aan haar kom.
Dis asof alles te stadig gebeur, asof ek buite die huis staan en deur ’n venster inkyk. Hulle woorde raak weg tussen my gedagtes: doen iets, doen iets, doen iets!
“Jou fokken teef,” skree hy en gryp haar aan die arm. “Jy dink jy kan vir my lieg!”
“Nee, dis nie . . . ek’s jammer,” sê sy terwyl sy sy vuishoue probeer keer. Hy slaan haar nie in die gesig nie, maar in die maag. In die ribbes. In die sy. Dan op haar rug.
“Kyk vir jou ma,” skree hy wanneer ek wil uitsluip.
Ek kom tot stilstand, draai om en kyk vir hom. Die man wat my geslaan het. Die man wat my ma aan haar keel vashou. My pa.
“Kyk vir jou ma,” sê hy weer, “want sy gaan jou vanaand ’n les leer.”
Ek kyk onbegrypend na my ma waar sy ineengekrimp onder my pa se massiewe gestalte wegkruip.
“Wat leer vrouens vir hulle kinders?” vra hy.
Sy wurg onder sy greep, hoes en snak na asem.
“Om nie te jok nie,” sukkel sy deur droë snikke.
“Wat leer ’n vrou haar kinders?” skree hy en slaan haar teen die kop.
“Om nie vir hul pa te lieg nie,” huil sy, haar oë bultend in hul kaste.
“Om nie vir hul pa te lieg nie,” herhaal hy.
“Verstaan jy die les?” vra hy.
“Ja, Pa, ek verstaan.”
“Mooi so,” sê hy. “Maak seker jou suster verstaan ook. Ek wil nie nodig hê om myself te herhaal nie.”
Hy stamp my ma van hom af weg en sy val, maar na ’n rukkie staan sy op, hande oor haar maag, en struikel badkamer toe.
Dan gaan Lielie aan die huil en hy tel haar op sy heup.
“Toemaar, Lielie-kind,” sê hy.“Mamma sal dit nie weer doen nie.”
Die volgende oggend staan my ma nie op nie.
In die kombuis is roosterbrood met konfyt en kaas op en ’n eier wat swart is aan die een kant.
Kap, kap, kap, hoor ek buite, maar ek durf liewer nie gaan kyk nie. In stede daarvan sit ek tamatiesous op my eier en wurg dit stukkie vir stukkie tussen my seer kake deur. Dan eet ek die roosterbrood wat darem die walglikheid van die eier effens verbloem.
Kap, kap, kap.
“Waa’s maa?” vra Lielie, wat blykbaar van vroegoggend af al Tom en Jerry kyk en nou eers besef het dat sy nog nie vandag ons ma gesien het nie.
“Ek weet nie,” sê ek. “Sy slaap seker nog.”
Kap, kap, kap.
“Wat’s dit?” vra sy, haar t’s onhoorbaar.
“Weetie,” sê ek, maar ek wonder of ek moet gaan seker maak Ma is in die kamer.
Kap, kap, kap.
Ek loop in die gang af, stadig, want ek is bang vir hulle kamer. Mag nie daar ingaan nie. Nie wanneer hý by die huis is nie.
“Mamma,” fluister ek. “Mamma, is jy daar?”
Kap, kap, kap.
“Zander,” bulder hy die gang af.
Ek wip soos ek skrik en kruip in die gangkas weg.
“Trek vir jou aan, laat ons ry. Ek vat jou van nou af skool toe.”
Ek wag tot ek hom hoor omdraai en sluip dan kamer toe, waar ek so gou as moontlik my skoolklere aanpluk. Net ingeval hy haastig is.
“Wie gaan my oplaai?” vra ek in die kombuis terwyl hy Sudoku doen en toast eet.
“Ek,” sê hy.
“Wat van Ma?” vra ek. “Gaan sy my nie meer kom haal nie? Waar is sy? Hoekom eet sy nie saam met ons ontbyt nie?”
Hy kyk my aan, sy oë waarskuwend.
“Sy is siek,” sê hy, “so, jy moet saam my ry tot sy weer beter voel.”
“Wat van Lielie?” vra ek.
“Ouma Let gaan na haar kyk.”
Wanneer hy sy baadjie aantrek, is ons gesprek duidelik verby, so ek staan ook op, vat my skooltas en volg hom motor toe. Niemand sê ’n woord verder nie, want tussen ons het woorde geen betekenis nie.
“Ouma Let sal jou help met jou huiswerk,” sê hy wanneer hy my die middag gaan aflaai, “so, moenie jou ma pla nie.”
“Oukei,” sê ek en haal my tas van die agtersitplek af.
Wanneer ek die deur toeslaan, draai hy die venster af.
“Jy gaan speel nie weer in die strate nie,” sê hy, sy oë op my gekneusde wang.
Heeldag moes ek sê hoe ek van die trampolien afgeval het, tot ’n juffrou naderhand my ouma gaan bel het en, ten spyte daarvan dat ons nie n trampolien het nie, sy gesê het my storie is waar.
“Ek sal nie,” sê ek en wens heimlik hy wil nou ry.
“Mooi so,” sê hy, maar hy wag nog ’n oomblik langer.
Wanneer ek omdraai en wegstap hoor ek hom agter my roep:
“Jammer oor jou fiets, hoor.”
Twee wiele balanseer teen die garagedeur, die een is sonder speke, die ander is gebuig. My fiets se raam is nêrens te siene nie.
Ek gaan in, doen huiswerk saam met my ouma sodat sy vir my pa kan sê ek het my huiswerk gedoen, en wanneer ons klaar is, lieg ek dat ek bal wil skop. Ek weet Ouma is ook bang vir my pa. Net soos my ma. Net soos ek. Sy doen wat hy sê om ons te beskerm, want sy het ons lief.
Ek klim op ’n stoel om die motorhuis se sleutel van die hakie af te haal. Die staaldeur is swaarder as wat ek gedink het, maar ek kry die motorhuis eindelik met moeite oop.
Tussen gereedskap op die vloer lê wat oor is van my fiets.
Kap, kap, kap.
Hy’t my Riley-optelfiets flenters gekap.
Ek lig die vernielde pyp van die vloer af op. Caltex-hasies kyk gebroke terug na my; hul gesigte vol gate, hul wortels half, hul motorfietse en klere en petrolpompe vernietig. Onder hulle word Riley afgewissel met diep silwer duike en geskeurde staal waaruit skadu’s loer. Al die stickers in die wêreld sal nie my ashoopfiets kan regdokter nie. Nie eers soentjies sal hierdie eina kan beter maak nie.
“Moenie vir hom kwaad wees nie, Zander. Hy besef nie altyd wat hy doen nie.”
Sy het’n wit kamerjas aan en sy lyk moeg. Haar oë is geel en waterig, haar vel soos putty, en sy sukkel om regop te bly sonder hulp.
“Belowe jy sal hom vergewe,” sê my ma.
“Oukei,” sê ek, want ek weet dit is die enigste rede hoekom sy opgestaan het.
Dit was die derde keer wat ek my pa dood gewens het.
Dit het as ’n wegkomplek begin. Ek sou wens: een keer, twee keer, drie keer, en my wêreld het verander. Partykeer het ek daarheen gegaan om weg te kruip, ander kere om te gaan huil. Ek kon nie alles verander nie. Ek kon hulle nie saamvat nie, daarom het ek nooit gedink ek kon iets saam met my terugbring nie. Daar was niks om terug te bring nie.
Ná die fiets het ek daarheen gegaan, want ek wou hom dood hê. Die keer was dit regtig. Die keer het ek dit bedoel.
Die diere was my gedagte, in die begin, omdat hy ons nooit dieretuin toe wou neem nie. Hulle kon my nie seermaak nie, hulle was ver weg, maar nie dié keer nie. Hulle moes my angs aangevoel het, want hulle het my gevolg en sonder my wete my realiteit betree.
Daar is twee plekke waar ’n mens nie ’n leeu se asemhaling wil herken nie. Die eerste is in jou drome. Die tweede is in jou kamer, waar jou jonger suster enige oomblik kan inkom. Maar dit was nie Lielie wat ingekom het nie, want die leeu was nie daar vir haar nie.
Ek hoor nou nog my pa se gille, ’n groot man wat soos ’n baba skreeu. Tussendeur huil hy, smeek hy, bid hy – die dinge wat my ma soms gedoen het terwyl hy haar aangerand het. Ek’s nie jammer vir hom nie. Ek kyk met ongeloof toe hoe my jarelange wens ’n werklikheid word, hoe ’n wilde dier my pa verniel soos hy my verniel het, soos hy my suster eendag sou verniel. Wanneer dit verby is, gaan ek terug Utopia toe, een laaste keer. In die veld lê die leeumannetjie wat in my drome gebore is. Hy is nou rustig. Ek dink nie hy sal my weer huis toe volg nie.
Lees die eerste keurverslag deur Leti Kleyn
Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae
Klik hier vir die kortlyskandidate
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

