Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Vlekke op die grond"

  • 0

Vlekke op die grond: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?

Om ’n relevante tema (soos plaasgeweld) te kies, het sy voor- sowel as sy nadele. Voordele in die sin dat dit tematies boeiend is, en nadelig in die sin dat dit groot uitdagings aan die skrywer stel om iets met hierdie relevante tema te doen sodat ’n daadwerklike bydrae tot die bestaande literatuur sal lewer.

Wat om te lees

  • Paul Bosman se kortverhaal “Nag van twee vroue”
  • Die vorige rondte van Nuwe stories se wenverhaal, “PIK”
  • ’n Plaasroman
  • Japie Bogaards se Tussen middernag en dagbreek (roman oor plaasmoorde)

Waarom aan aandag te gee:

  • Die verhaal gaan in wese oor die brutaliteit van ’n plaasboer teenoor sy werker. ’n Boeiende tema om mee te werk, en ’n brutale realiteit van die geskiedenis en die wyse waarop daar met mense (en veral werkers) omgegaan word. Dit is ’n interessante verandering op die plaasmoord-tema, want hier kom die sogenaamde “anderkant” van die geweld nou ter sprake – die boer teenoor die werker. Jy werk dan ook met die konsep van selfgeregtigheid – die feit dat die boer self verhoor, skuldig bevind en vonnis, sonder dat daar werklik bewys gelewer word van die werker se skuld, óf ’n motivering waarom die dood as ’n regverdige straf beskou kan word.
  • Die verhaal word sogenaamd uit die perspektief van die kind vertel. As ’n soort terugblik op die ervaring wat die kind gehad het. Die perspektief oortuig egter nie. ’n Kind se perspektief is geheel en al anders as dié van ’n volwassene. Hier gee die skrywer dus voor dat die ervaring dié van die kind is, terwyl dit eintlik lees soos die ervaring van ’n volwassene.
  • Die verhaal ontbreek spanning. Daar word geen spanning opgebou wat die leser dwing om verder te lees ten einde uit te vind wat die uiteinde van die saak gaan wees nie. Die verhaal lees (soos dit hier staan) redelik monotoon en as blote beskrywing of oorvertel van ’n gebeurtenis.
  • Maak meer van die brutaliteit van die gebeure. Maak die brutale selfs méér brutaal. Maak die karakters selfs wreder, kortsigtiger en uitgelewer aan hulle omstandighede. Maak méér van die boeiende storie wat jy hier het.
  • Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
  • Passop vir rasoordeel. Jy probeer dalk doelbewus die weerloosheid van die mens uitbeeld deur voortdurend na hom as die “swart” te verwys, maar dit boemerang as hy bloot net dit is: die swarte. Maak van hom ’n karakter, ’n volronde mens waarvoor die leser innige simpatie en woede voel.
    • Die verteller mag nooit na die werkersklas verwys as mense wat “onnooslike” goed doen nie. Hy mag nie na die werker se gesig as ’n “gevreet” verwys nie. Die verteller staan altyd neutraal.
    • Die verteller mag nooit ’n emosionele appèl op die leser rig, deur sentimenteel oor te kom, of vir die leser voorskryf hoe om te voel, of vir die leser voorsê hoe hy moet reageer op die gebeur in die verhaal nie.
    • Die verteller vertel. Die leser lees. Die outeur mag nie inmeng deur sy sieninge blatant in die verhaal in te skryf en voorskriftelik te wees nie. Die verhaal moet ontvou en deur die konflik en die gebeure die situasie openbaar maak.
    • Die verhaal moet grootse insigte bied. Meer as afgewaterde, terloopse stellings soos: “Snaaks hoe wit en swart velle maar dieselfde rooi aan die binnekant het.”
    • Waak teen grootse heldeverering: “my held en my leier”. Die skrywer se onderbroek steek uit ...
  • Skets die verskillende wêrelde van die karakters. Waarom is die boer so ’n wrede mens wat glo dat hy die reg het om lewe te neem. Waarom hardloop die kinders weg? Waarom is die werker selfs in sy uur van nood steeds gedienstig en gehoorsaam? Waarom is hierdie karakters die soort mense wat hulle is?
  • Kyk na jou beskrywende taal: “vuurwarm grond” (grond kan nie vuurwarm wees nie), gespartel in die grond (’n vis spartel, ’n mens wat gaan sterf nie), “pienk stukkies vleis” (klink soos polonie, nie soos iemand wat doodgeskiet is nie), “vlymskerp trane” (messe is vlymskerp, nie trane nie), “koue sweet oor sy lyf speel” (sweet speel nie, dit tap jou af).
  • Bepaal wat jy met die kind se interne dialoog wil doen en of dit effektief in die verhaal aangebied word.
  • Herskryf die dialoog dat dit oortuigend klink, eie is aan die karakters en vloeiend lees.
  • Dink weer mooi oor die tydwisseling. Ek is nie oortuig dat dit effektief in die verhaal is nie. As jy ’n nuwe era begin, moet jy weer ’n nuwe konteks skep, en daardie konteks kan nie geskep word deur blote beskrywings nie. Die verhaal kan nie die klimaks in die middel bereik, en dan begin ’n tweede verhaal afspeel nie. Gaan lees oor verhaalverloop ... Jy het twee verhale hier wat óf behoorlik vervleg moet word, óf een moet weggelaat word. Die storie sit in die plaasgeweld, nie in die wrede oupa se dood nie.

Heroorweeg jou titel. Soos dit nou daar staan, klink dit (na my mening) te sentimenteel teen die agtergrond van die brutaliteit van die daad wat gepleeg word. Heroorweeg ook jou slot. Dit klink vir my net te veel of daai onderbroek weer wil uitsteek.

 

Lees die eerste weergawe van Vlekke op die grond

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top