Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Utopia"

  • 0

Utopia: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?

Die skrywer én leser het hier met ’n baie relevante tema te doen: gesinsgeweld. ’n Blik op die persoonlike ervaring van brutale geweld teen die self (die kind) en die aanskou van geweld teen ander (die ma).

Wat om te lees

  • Die donker god (Franci Philips)

Waarom aan aandag te gee:

  • Die vertelperspektief van die verhaal oortuig nie. Die skrywer gee voor dat die verhaal op verskillende tye uit ’n kind van so jonk as vyf jaar vertel word, maar die verhaal lees eerder asof dit uit die perspektief van ’n volwassene geskryf is. ’n Kind het nie insigte in ’n situasie soos wat ’n volwassene het nie. ’n Kind ervaar nie pyn en vernedering en geweld op ’n wyse wat ’n volwassene kan ervaar nie. ’n Kind is nie so oplettend soos ’n volwassene nie, en die kind het nie die woordeskat om sy wêreld volkome te beskryf nie.
    • In die wêreld van die kind is daar nie “zol” nie, en jy lag nie jou “gat af” nie.
    •  ’n Kind kan nie skielik besef dat hy nog nie sy ma vandag gesien het nie.
    •  ’n Kind wat in doodsangs is, wip nie soos hy skrik nie.
    • ’n Kind sal en kan nie die situasie en brutale aanskouing van die vernietiging van sy fiets (en die agtergrond van die vorige nag) beskou as iets wat ’n soentjie nie sal kan regmaak nie.
    • ’n Kind het nie insigte oor realiteit en aanvoeling nie.
  • Die twee verhaallyne (die herinnering en die uiteindelike wraak) is nie genoegsaam verweef nie. Wat presies gebeur nou aan die einde? Waarom is die bruuske pa nou skielik so ’n patetiese mens wat huil en pleit en bid? Veg hy nie terug nie, hy is ’n aardsboelie en geweldenaar.
    • Die verhaal kan nie onredelike spronge maak nie. Die gegewens moet duidelik wees. Ook wanneer daar ’n tydsprong of verandering van milieu is.
  • Die verhaal lees soos ’n blote beskrywing van gebeure. Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
  • Die spanning en angs vir die pa moet stelselmatig opgebou word totdat dit breekpunt bereik. Soos dit nou aangebied word beweeg die leser van beskrywings van een gewelddadige insident na die volgende. Die leser is nie deel van die verhaal se opbou tot die klimaks nie.
  • Die verhaal moet karakter gedrewe wees. Waarom is die ouma bang vir die pa? Waarom bied die ma nie meer weerstand nie? Wat is die motivering agter hierdie situasie?
  • Die verhaal steun swaar op dialoog, maar die dialoog oortuig nie altyd nie. Kyk byvoorbeeld hoe praat die kind en die sekuriteitswag met mekaar. Ek is nie oortuig dit is hoe so ’n gesprek sal verloop nie. Kyk na die interaksie en gesprek tussen die pa en die kinders, die pa en die ma. die Ma en die kinders. Waarom sal die ma die kind vra om sy pa te vergewe?
  • Ek verstaan dat die skrywer iets wil verbeeld van die pa wat meer gemeen raak as hy gedrink het, maar dit word hier amper as ’n verskoning vir sy brutaliteit aangebied.
  • Die slot moet heroorweeg word.

Ek dink die skrywer het ’n goeie keuse met die titel gemaak.

 

Lees die eerste weergawe van Utopia

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top