Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Ontspoor"

  • 0

Ontspoor: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?

Die titel boei my. Die gebeure boei my.  Die feit dat Liebenberg iets moet vertel, maar iets anders wil vertel is ’n fantastiese plot-element.

Wat om te lees

  • Stephen King (om te sien hoe word grusaam opgeskryf)
  • Oor treinselfmoorde en trein-surfing
  • Oor terapie

Waarom aan aandag te gee:

  • Die verhaal lees soos ’n blote beskrywing van gebeure. Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
  • Die opening van die verhaal kort oortuig nie. Iemand se ledemate kan nie in “windrigtings gebuig” wees nie. Die mens het nie ’n “massa organe” nie, en die kop kan nie slegs één meter van die toneel gevind word nie.
    • As die skrywer voel dit is nodig om iets te sê oor die brutaliteit van iemand wat deur ’n trein doodgery is, sal daar navorsing gedoen moet word. Die menslike liggaam is soos  sak water – ’n bars letterlik as dit deur ’n aankomende trein (op spoed) getref word. Die organe bars, die impak slinger ledemate meters ver, die liggaam is vergruis. Dit word ’n onherkenbare massa. Praat gerus met ’n mediese dokter en kry die feite korrek.
    • ’n Beskrywing soos volg is feitlik nie korrek nie: “Vir die onervare oog mag hierdie dalk lyk na ’n baie lewensgetroue pop wat vir die een of ander skop-skiet-en-afbliksem-fliek in die Moderstad gebruik word, maar dit is helaas nie.
  • Kyk na die wyse waarop jy jou karakters ontwikkel.
    • Die sielkundige is ’n vooraanstaande terapeut, maar niks in die verhaal oortuig ons dat hy ’n goeie terapeut is nie, inteendeel ... In die sielkunde werk ons nie met natuurlike en onnatuurlike oorsake van dood nie, dit is in die mediese beroep. Boonop is posttraumaties stressindroom onnatuurlik. Waar is die sielkundige se insigte in homself en sy pasiënt? – “dit kan eenvoudig nie goed wees vir hom of sy pasiënte nie”. Die beskrywings is te terloops en sonder insig, jy sal in die terapeut én die treindrywer se koppe moet inklim en die verhaal met karakters moet bevolk wat oortuig.
    • Kyk na jou beskrywings: wat is ’n “regte mens”? “histeries wakkerskrik”? Dit oortuig nie.
    • Liebenberg is die soort mens wat na die sekretaresse se figuur kyk en ’n dwars “ass”-opmerking maak. Hy was ’n cage-fighter ... hy gebruik tog nie uitdrukkings soos “tissues, tampons en Earl Grey” nie, ek dink ook “hoer” is bietjie lig vir hom. Hy hou van die sielkundige hoewel die sielkundige in dieselfde lyn beskryf word as iemand wat deur die “kak” lyk. Hoe voel hy soos ’n moordenaar as hy eintlik nie omgee nie?
    • Verwey kan nie skepties kyk nie, hy mag nie oordeel en dink en dat iemand hard geleef het nie – dit het niks met terapie te maak nie. Hy sal aan homself nie dink as iemand wat “nie krag het nie”, hy sal nie “stadig” vra nie. Hy sal nie dink: “Dank God” dit is 17:00 nie. Hy sal baie beslis ook nie “paai” nie. Hy sal ook nie “standaardtoesprake” aframmel nie (inteendeel, hy lewer nie ’n toespraak nie). Hy mag nie stereotipes in stand hou nie: Vroue praat nie makliker as mans nie.
    • Kyk na die karakters se taalgebruik. Dit oortuig nie. Liebenberg praat suiwer-Afrikaans, maar die vertellerperspektief is vol slêngtaal. Die sielkundige oortuig nie as sielkundige in die dialoog nie.
  • Skryf oor dit wat jy iets van weet, of doen navorsing daaroor. ’n Terloopse verwysing na kannibalisme en die Grensoorlog verklap lui skryfwerk. Kyk ook na terloopse stellings soos die beskrywing van die sielkundige se praktyk ... wat dra dit by tot die storie?
  • Kyk na die vertelperspektief, dit skep heelwat probleme met karakterisering.
  • Moet daar tydspronge wees? Wat dra dit by tot die storie?
  • Behou die titel. Dit skep lekker leesverwagtinge.

Ek hou van die slot van die verhaal. Dit kan nog sterker wees as dit knapper geskryf word.

 

Lees die eerste weergawe van Ontspoor

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top