Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Om ’n bok se hart te plant"

  • 0

Om ’n bok se hart te plant: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?
Ek is verlief op die storie wat die ouma altyd vertel het. Dit is ’n pragtige volksverhaal waarom die storie hier draai.

Wat om te lees

  • Volksverhale en -vertellinge.
  • Minstens een plaasroman (om iets van die tydsgees van toeka te ervaar).
  • Gaan doen navorsing en kyk of jy ’n soortgelyke volksvertelling kan vind, wat die interteks van hierdie verhaal kan word.

Waarom aan aandag te gee:

  • Jy vertel twee stories. Die storie wat die ouma altyd vertel het, en die storie van die ouma se omstandighede. Hierdie twee storielyne moet beter met mekaar verweef word. As dit nie moontlik is nie, sou ek oorweeg om die fokus van die verhaal op die ouma se storie van die bok se hart te plaas, en dit eerder uit te bou en verder te ontwikkel.
  • Heroorweeg jou eerstepersoonsperspektief. As jy hierdie vertelperspektief gebruik moet jy verteller se perspektief aangepas word by die omstandighede. Die “ek” wat vertel kan nie dieselfde dink oor dinge as sy ’n kind én ’n volwassene is nie. Kinders dink anders as grootmense. Kinders ervaar gebeure anders as grootmense. Kinders reageer ander as grootmense. Jy sal ’n kinderlike perspektief moet inneem as Hanna as kind aan die woord is, en ’n volwasse perspektief as Hanna in die hede praat. Maar die doodsonde van perspektief wisseling sal vermy moet word.
  • Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
  • Ek is nie oortuig oor die effektiwiteit van die (groot aantal) tydspronge nie. Kyk of jy die twee verhale (sou jy besluit om beide storielyne te behou) in minder wisselinge kan vertel. Dalk net een sprong (toe en nou)?
  • Beskrywings oortuig nie. Kyk hierna:
    • “Ouma mompel iets van die Boland en sê dan dat sy dors is.” Hoe kan sy mompel en duidelik in dieselfde sin sê?
    • “... tap die beker net halfpad vol anders mors ’n mens.” Wat beteken hierdie frase?
    • Wat is “hangende kurwes”? Kurwes is die kontoere van die lyf, as jy na haar borste verwys, moet jy dit so uitspel.
    • “geplooide mond” is ’n geykte stelwyse.
    • “’n Siek honderkuiken wat verbete aan die lewe bly klou”. Integreer jou beelde met die leefwêreld waarin die verhaal afspeel, moenie beelde net lukraak kies en gebruik nie. Kyk ook na jou beeld van die Kakies.
  • Waak teen die oordadige gebruik van byvoeglike naamwoorde. Dit kom as lui skryfwerk oor omdat dit eenvoudig en alledaagse beskrywings is. Die oortuiging en die verryking van die verhaal lê in wat en hoe jy beskryf, nie in blote byvoeglike naamwoorde wat gebruik word nie:
    • groot skottel, son bak warm, harde dreuning, bruin oë, groot pienk tong, blinkwit krulle, stowwerige aarde, blinkgroen uitrustings, geroeste lêplek, vinnige teetjie.
  • Kyk of jy die dialoog kan verbeter. Dialoog moet eie aan ’n karakter wees, dit moet oortuig en effektief aangewend word om die verhaal voort te stu. Dit moet dus ’n integrale deel van die verloop van die verhaal vorm, en die gebeure ondersteun.
  • Die wending in die verhaal ontstaan as Hanna begin wonder wat haar anders as die bok maak. Gebruik hierdie element, ontgin dit volledig. Bou die spanning in die verhaal stelselmatig op tot by hierdie oomblik van besef.
  • Heroorweeg jou titel.

 

Lees die eerste weergawe van Om ’n bok se hart te plant

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top