Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Een, twee, drie, blok myself"

  • 0

Een, twee, drie, blok myself: Die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

 


Wat werk?

Die media berig gereeld oor geweld teen en misbruik van kinders. Hierdie verhaal is ’n interessante perspektief op die brutale misbruik van kinders wat uitkring en verdere misbruik veroorsaak. Dit kan (na my mening) omskryf word tot ’n boeiende verhaal wat klem lê op die binnewêreld van die kind wat seksueel misbruik is.

Wat om te lees

  • “My vriendin” (Jelleke Wierenga in Dogters van Afrika (saamgestel deur Riana Scheepers)) – kyk hoe die kind die vrou aanhoudend uitdaag
  • Lord of the Flies (William Golding)

Waarom aan aandag te gee:

  • Die grootste probleem wat ek met die aanbieding van die verhaal het, is die vertelperspektief. Die verhaal word aangebied asof vertel deur die kind self. Die verwysingswêreld van die kind en die volwassene verskil radikaal van mekaar. ’n Laerskoolkind gebruik nie uitdrukkings soos “moerse irritasie” of verwys na haar eie lyf as met “kinderborsies” nie. ’n Kind sal ook nie die woord “kou” gebruik nie. Die perspektief moet óf heroorweeg word, óf aangepas word.
  • Die aanloop van die verhaal is te lank. Die milieu en die karakters moet vinniger gevestig word, sodat die skrywer op die seksuele spanning tussen hierdie karakters kan begin fokus.
  • Dit is onduidelik waar die verhaal afspeel. Die kinders doen somme in ’n kraal. Is hierdie kinders wit of swart of bruin? Is hulle in ’n plaasskool of ’n groot skool? Is ons in die platteland of die stad?
  • Die karakters moet volronde “mense” word. Hulle weerloosheid en onkunde, sowel as hulle nuuskierigheid moet oortuigend in die verhaal uitgebeeld word.
  • Die dialoog moet verwerk word, sodat dit oortuigend klink, en die leefwêreld van die kind uitbeeld. Kinders praat anders as volwassenes.
  • Kyk na die gebruik van die woord “panty” vs. “broekie”. Is die gebruik van ’n Engelse woord die regte keuse in die verhaal? Wat dra dit by tot die verhaal?
  • Die verhaal moet sistematies opbou, sodat die leser agter die wat-gaan-gebeur-faktor aan sal lees, om te sien wat hierdie kinders dan uiteindelik in die badkamer doen. Daar moet ’n voortdurende onderliggende spanning teenwoordig wees, wat die verhaal laat voortbeur na die einde toe. Daar moet momentum geskep word.
  • Daar kan meer aandag gegee word om  ’n seksuele ondertoon vir die verhaal in te bou, sodat die leser die leidrade van dit wat gaan gebeur, bykans soos ’n speurder kan navolg.
  • Die verhaal word amper essayisties aangebied. ’n Blote vertelling. Dit is dus nog nie in wese ’n verhaal nie, maar ’n blote vertelling.
  • Die teks vertel en beskryf, dit wys en ontvou nie. M.a.w. die verhaal (soos dit nou staan) lees soos ‘n storie wat bloot oorvertel word. Dit integreer nie die verhaalelemente (karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop, dialoog, ens.) tot ’n goeie geheel nie.
  • Die skrywer en die verteller mag nie ’n emosionele appèl op die leser rig nie.  “’n traan loop oor haar wang” is ’n sentimentele stelling, wat die leser van die brutaliteit van die wandaad wil oortuig, terwyl die wandaad self brutaal genoeg is om die leser te oortuig.
  • Die titel is m.i. suksesvol weens die dubbelsinnigheid van die betekenis van een, twee, drie, blok myself.
  • Die slotsin kan heroorweeg word. Na my mening is die sterkte slot: “Môre is dit jou beurt om my te seks ...”

Die skrywer sal aandag moet gee aan taal- en spelfoute. Die verhaal is (wat taalgebruik betref) nie afgerond nie.

 

Lees die eerste weergawe van Een, twee, drie, blok myself

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top