Met ‘n, vir my interessante, bespreking wat ek met Angus gehad het oor mengeltaal, het dit my weer eens getref hoe woorde se betekenis verander soos die tyd verloop. Die oorsaak is (meestal) verkeerde gebruik wat só algemeen word dat dit as korrek aanvaar word.
‘Sondebok’ is een so ’n woord. Die regte betekenis was iemand wat die blaam dra vir ’n ander se oortreding. Die skuldige of oortreder was ’n ‘belhamel’ genoem maar ‘sondebok’ het deesdae ‘belhamel’ vervang en, lyk dit my, word so aanvaar.
‘Offer’, iets wat in die ou tyd op ’n brandstapel verbrand was, word algemeen deesdae gebruik in plaas van ‘aanbod’. Ek weet nie of dit al in die woordelys opgeneem is nie, maar dis seker maar net ’n kwessie van tyd; grammatika is seker die enigste dissipline waar, as die meerderheid verkeerd praat, word dit as reg geag. So iets sal byvoorbeeld nooit met wiskunde gebeur nie.
‘Deel’ was altyd die teenoorgestelde van ‘maal’, ‘vermenigvuldig’ of ‘vermeerder’ maar deesdae beteken dit ‘handel’, ‘onderhandel’, ‘bestuur’ of ‘hanteer’. So ook met ‘hardloop’, dit het uitsluitlik beteken om so vinnig te beweeg dat periodiek nie een van jou twee voete op die grond is nie. Nou ‘hardloop’ hulle programme en mense ‘hardloop’ uit spasie uit.
Baie betekenisveranderings het gekom met die nuwe bedeling. ‘Rassisme’ in die vroeër tyd se betekenis was diskriminasie op grond van velkleur, geloof of oriëntasie. Deesdae beteken ‘rassisme’ enige kritiek op swartes deur wittes. ‘Diskriminasie’ deesdae beteken voorkeure deur wittes.
‘Onderwyseres’, ‘redaktrise’, ‘regisseuse’, ‘skryfster’, ‘bestuurderes’ ens het gedui op vroulike beoefenaars van sekere nerings. Daardie woorde het verdwyn; die taal het dus verarm want die wyse om korrekte betekenis aan te dui bestaan nie meer nie; mens kan slegs uit die konteks aflei wat met die woord bedoel word. Daar is darem nog ‘verpleegster’, ‘koningin’ en ‘tikster’ maar ook seker nie vir lank nie.
‘Transformasie’ in die politieke sin het tot onlangs ‘gelyke beregtiging’ beteken maar deesdae is die betekenis ‘verswarting’. Bafana Bafana is volledig getransformeerd; die rugby- en krieketspanne, universiteite, skole, hospitale, Eskom en ander staats- en semi-staatsinstasies is in die proses van transformasie wat volbring sal wees sodra alle werknemers, personeel en studente ens swartes is.
Woorde soos ‘blank’ en ‘Afrikaner’ het, soos ‘Boer’, ’n nie-PK kleurtjie gekry en word liefs vermy deur diegene wat nie die regering wil ontstig nie. ‘Plaasmoorde’ is ’n woord wat hulle sover moontlik uit hulle woordeskat weer; dit is alarmisties en ontstel net die nuwe heersers (dit is tot so ’n mate ’n woord of verskynsel non grata dat die xenofobiese aktiwiteit by verre meer aandag, plaaslik en internasionaal, kry as die onophoudelike plaasmoorde – daar is byvoorbeeld meer boere as aktiviste dood gedurende hierdie tyd en geen haan kraai daarna nie).
Terloops, ek hoor die SAUK ... ‘skuus SABC was skynbaar aangekla omdat hulle die ras, naamlik wit, van die skender van koningin Victoria se standbeeld in ’n nuusberig aangedui het. Hulle was vrygespreek; die hof het hulle verduideliking aanvaar dat hulle wou wys dat dit nie net swartes is wat standbeelde skend nie. Ek wonder of die hof en die SABC die implikasies hiervan besef; dit beteken dat elke misdaad of onbesonne ding wat aangevang word waar die oortreder se ras nie genoem word nie, by verstek ’n swarte is.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Hier raak jy aan een van talle maniere waarop 'n lewende taal sy reikwydte vergroot, sy woordeskat uitbrei. Vergelyk maar hoe die Engelse woord "gay" ast'ware voor ons oë ook nuwe betekenis gekry het. Grammatiese, leksikale en semantiese verskuiwings is deel van taalgroei.
Dan wil-wil jy so aanraak aan G. Orwell se Big Brother en Newspeak. Ons Big Brother verbied ons al om sekere woorde te gebruik; die volgende stap is om ons te verbied om sekere dinge te dink.
Groete,
Angus