Novus dies
(’n nuwe dag)
In sagte wit en pienk kleure
vermeng met jasmyngeure
vou lentebloeisels stadig
een vir een oop
die koue kwyn bietjie-bietjie weg
as son baldadig sy warmte deel
en saans met ’n goudgeel kwas
’n hemelse heuning optower
vlinders kuier spelerig
op elke kleurvolle blom
wyl naaldekokers dartelend
spoggerig hul vlerke sprei
elke oggend stof ek gemoedspinnerakke af
en gooi my sielsvensters wawyd oop
as ek sonsopkoms omarm en roep na
novus dies (’n nuwe dag)