Nog steeds vir Angus oor sy taalsiklus

  • 1

Dagsê Angus

Jou kommentaar onderaan my brief van 16 deser aan jou verwys van gister verwys asook jou taalsiklusbrief van 15 deser.

Een ding staan soos 'n paal bo water; jy het geen gebrek aan selfvertroue nie; jy sê in een sin wat ander skaars met 'n doktorale tesis gaan regkry.  Jy is byvoorbeeld erg onthuts oor ek jou " ... brief onder oë gehad [het] oor die evolusionêre siklus van taal" en ek nogtans wil weet hoe mens sou kon verklaar dat taal van 'n oerblaf tot een met ingewikkelde grammatika kan ontwikkel.

Kom ons kyk na jou verduideliking:  Jy begin met 'n pidgintaal en vervolg "Mettertyd word hierdie woorde binne grammatikale verband gebring wat al hoe ingewikkelder word, want grammatika en die logika loop mos hand aan hand."  Nou kan jy nou meer.  Jou verduideliking oor hoekom taal ingewikkelder geword het is die stelling dat dit ingewikkelder geword het.  Dan moet jy verklaar hoekom taal vereenvoudig en dit doen jy met die stelling dat taal daarna (na die ingewikkelder word neem ek aan) vereenvoudig.  Om jou presiese woorde te gebruik: "Daarna begin vereenvoudiging omdat, en ek herhaal, taal suinig is in sy gebruik van sy woordeskat."

Jou voorbeeld vir die veringewikkeldery is Kreools.  Weet jy van 'n kreoolse taal met 6 naamvalle?  Jou voorbeelde vir die vereenvoudiging is triviaal soos hulle in die wiskunde sê want ek het dan juis gevra hoekom vereenvoudig moderner tale.

Ek dag ons het hier 'n lekker bespreking oor die interessanthede van taal en nou vererg jy jou sommer oor ek nie jou stellings aanvaar nie.  A nee a man.

Jy sê jy sien ek is bekommerd oor die vertaal van Afrikaans na ander tale.  Waar kom jy daaraan?  Jy gryp na strooihalms, jy begin nou gly op die eiers wat jy met jou dans stukkend trap want ek het so-iets nooit gesê nie.  Wat ek wel gesê het is, as bewys dat die woorde  'introduce', 'goals set', 'achievement' ens nie Afrikaans is nie, dat mens dit kan verstaan sonder 'n kennis van Engels nie. 

Laat ek dit verder verduidelik:  As vanaf taal X na taal Y vertaal word en daar is woorde van taal Z in taal X sal mense nie taal X kan verstaan sonder dat hulle kennis van taal Z ook het nie.  Dit is terselfdertyd 'n bewys dat daardie taal Z-woorde kontaminasiewoorde (lw nie leenwoorde nie) in taal X is.  As jy dit nie verstaan nie lees dit net weer; dit is nie so moeilik nie.

Jy verstaan ooglopend nie die verskil tussen 'kontamineer' en 'beïnvloed' nie.  Dit is so dat daar min tale is wat nie deur 'n ander beïnvloed is nie maar dit is ver van gekontamineer wees deur die ander taal.  Hier's voorbeelde:  'n Boom se groeiwyse word beïnvloed deur die skadu van 'n ander boom maar hy is nie gekontamineer deur die ander boom nie.  Of, Gregoire Boonzaaier se skilderwerk is beïnvloed deur Pieter Wenning maar nie gekontamineer deur Wenning nie.  Dis eenvoudig.

My verklaring, eintlik seker maar 'voorstel', is dat taal op een of ander manier 'n gegewe was.  Die, noem dit maar malle, veronderstelling dat ons as wêreldvreemde wesens met taal en al hier geland het is een moontlikheid maar dit is darem 'n verklaring.  Jou verklaring van die verandering van status quo A na status quo B is bloot net die beskrywing van status quo B.  Dit werk nie.

Jy bly volhou dat Afrikaans nie kan verengels nie.  Die geradbraakte voorbeeld wat ek vir jou genoem het is klaar 'n mate van verengelsing, noem dit maar 30%.  As iets 30% gekontamineer word kan dit seker ook 40, of 50 of 60% gekontamineer wees.  Op 'n stadium is die kontaminasie sodanig dat die entiteit nie meer bestaan nie, dat hy dood is.  Soos 'n ou vol arseen; hy's nie 100% arseen nie maar hy is dood. 

Afrikaans is al hewig gekontamineer deur Engels, veral in die Kaap maar ook hierbo, selfs mense wie se nering dit is om Afrikaans te praat, soos radio-omroepers, se Afrikaans is al, ek sou sê, 5% gekontamineer, miskien 10%.  'n Goeie oefening sou wees om te kyk hoeveel beter praat die gemiddelde Engelssprekende Engels as wat die Afrikaanssprekende Afrikaans praat. 

Dit is 'n feit byvoorbeeld dat Afrikaanssprekendes wat geradbraakte Afrikaans praat eerder tien dode sal sterf voor hy geradbraakte Engels sal praat, 'n bewys dat Afrikaans nie sy erns is nie.  En wanneer Afrikaans nie sy erns is nie, en Engels wel is, gaan Afrikaans net verder gekontamineer word, met ander verder verengels tot hy doodgaan.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Dankie vir die kompliment; poësie is net so gekonsentreerd. 
    Brief volg.
    Groete, 
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top