Beste Angus
Jou kommentaar onderaan my brief van 7 deser aan jou verwys.
P1
Nee ek sê glad nie wat jy daar in jou eerste paragraaf beweer nie. Ek sê daar is nêrens beteuterde taaltjies soos jy beweer nie, maar wel beteuterde mense wat taalhandhawing (en ipso facto taalgebruik) betref.
Verder beweer jy ek sê “...daar is net beteuterde mense, en hulle is nie Afrikaners nie.” Waar kom jy aan hierdie bog? En jy is die ou wat praat van strooipoppe ... Ek het juis van Afrikaners gepraat (sien my brief van 19-03-2015 aan jou) wat die taal al hoe slegter praat en, ten opsigte van taalhandhawing en -gebruik, is hulle dan beteuterd, ongeag hoe diep die spore is wat hulle op ander terreine trap.
Die feit dat a) taal aan almal behoort en b) Pietie wat praat van ‘sy goals set’ is onderling uitsluitend, dit het niks met mekaar te doen nie. As Pietie slordige en swak Afrikaans wil besig is dit sy saak; hy kan egter nie slordigheid en onbekwaamheid regverdig op grond van eienaarskap nie. As Pietie byvoorbeeld sy hond mishandel en die DBV laat hom vervolg sal hy nie onskuldig bevind word weens die feit dat die hond aan hom behoort nie.
P2
Jy sê dis my reg om beswaar te maak teen die indringing van Engels. Jy maak vordering want tot hiertoe het jy hierdie indringing, en gevolglike verdringing, as ‘groei’ verdedig.
Ek kan sien dat die Nederlanders beswaard sou wees met die verval van Nederlands. Dit sou egter meestal wees ten opsigte van die grammatika en nie soseer die gebruik van ‘vreemde woorde’ soos jy beweer nie want waar sou die vreemde woorde nou vandaan kom? Nederlands het op daardie stadium alreeds ’n swetterjoel woorde gehad wat ontleen is uit ander tale, onder andere Duits, Spaans, Frans en, uit hoofde van die feit dat hulle ’n koloniale moondheid was, Maleis, Nahuatl ens.
Maar, die feit dat daar vanuit hoofsaaklik Nederlands ’n nuwe taal, naamlik Afrikaans, ontwikkel het, of sal mens eerder sê evolueer het, is geen regverdiging vir besmetting nie. Jy as groot aanhanger van die evolusieleer behoort tog te sien daar is ’n verskil tussen ’n leeu en ’n leeutier (of is dit nou tierleeu?), of tussen ’n posduif en ’n Kerkpleinduif.
P3
My verwysing na skole was om die belaglikheid van jou siening uit te wys dat mense maar goedsmoeds Engelse woorde kan invoeg en dit dan nog steeds Afrikaans noem. Die Afrikaanse gruwelsin in die voorbeeld word slegs verstaan weens die feit dat Engels in ons kele afgedruk word.
Die ewe belaglike Engelse gruwelsin word nie verstaan nie omdat die Engelssprekende nie Afrikaans ken nie en, selfs al is hy vertroud met Afrikaans, sal sulke taalgebruik nie geduld word nie. Hierdie vermenging is nie taal-evolusie nie, dis bloot slordigheid. Dis dié dat ek die vraag al voorheen gevra het: Praat Engelse beter Engels as wat Afrikaners Afrikaans praat of, anders gestel, het die Engelssprekende meet taaltrots as die Afrikaanssprekende? In die lig van bogenoemde lyk dit beslis so.
P4
Jy’s verkeerd oor wat ’n leenwoord is. ’n Leenwoord is nie enige woord uit ’n vreemde taal nie, dit is ’n woord, weliswaar van ’n vreemde taal ontleen, maar ingeburger in die taal. Afrikaanse mense wat nie Maleis ken nie weet wat ’n piesang of ’n piering is maar sal nie weet wat ‘dedicate’ of ‘achieve’ beteken as hy nie Engels ken nie.
Jou suikerleen-analoog werk nie; waarvoor sal jy nou iets benodig wat jy reeds het? Jy gaan mos juis iets leen, soos ’n pakkie sweisstafies, of ’n saaglemmetjie, wat jy nodig het omdat joune opgeraak en dis aand, die ysterwareplek is toe.
Jy sê die Afrikaans pas nie in die Engelse sinkonstruksie in nie en jy’s reg. Net so pas die Engels nie in die Afrikaanse sinkonstruksie nie; ek het al voorheen vir jou gesê die tale is in verskillende sleutels geskryf. Die Afrikaanse gruwelsin word verdra (in jou geval selfs verdedig) weens PK-redes. Dit is vir die PK-mense ’n aangeleerde smaak kan jy sê; dis nie goeie maniere om dit te verdoem nie.
P5
Jy’s verkeerd; wat met Afrikaans gebeur, gebeur NIE met alle ander tale in die wêreld wat ook in kontak met ander tale is nie. Wat wel met Afrikaans aan’t gebeur is, is wat met ander BEDREIGDE tale in die wêreld gebeur, tale wat moet oorleef langs hoofsaaklik tale soos Frans, Spaans en Engels. Met Afrikaans vind daar ’n skuif na Engelse gebruik plaas waarvan ván die simptome mengeltaal is (soos die gruwelsin hierbo, of soos Breyten Breytenbach dit noem: ’n ‘opgradering Engels toe’) en natuurlik die verdediging en selfs aanmoediging van hierdie mengeltaal.
Jy sê dan self: “Afrikaans is beperk tot Suid-Afrika en kan όf verryk word deur Engels en groei en gedy, όf Afrikaans kan daardeur verdwyn.” Dit behoort dan mos duidelik soos daglig vir jou te wees dat die stuksgewyse vervanging van Afrikaanse styl (sinsbou) en woorde uiteindelik gaan lei tot totale vervanging. Alreeds is dit in baie gevalle so, mense (lektore en professore van nogal Tuks en Kovsies) met Afrikaanse name en vanne kan nie Afrikaans praat nie; hulle tree as gaste op by ’n Afrikaanse radiostasie en praat net Engels. Wat ’n verleentheid.
P6
Anders as wat jy dink stry ek nie met jou hieroor nie; ek konstateer elke keer net bloot die feit dat mens nie in ’n taal dink nie. Die ‘geselsies’ in jou kop waarvan jy praat is nie te betwyfel nie; sporadies skiet woorde jou te binne en partykeer prewel jy selfs van hierdie woorde. Hierdie sogenaamde geselsies vind egter in jou bo-bewussyn plaas maar in jou onderbewussyn (of liewer ‘binnekop’ om dit van die sielkundige term te onderskei) is jou brein met ongelooflik snelle verwerking van data besig, heeltemal te vinnig vir woorde om mee tred te hou. Slegs wanneer jy jou resultaat wil oordra sit jy dit om in taal (of ’n tekening of ander simbole).
Jy bevestig dit eintlik want jy sê Einstein “ ... het [sy eie teorie] selfs ’n naam gegee.” Hy het dus ’n naam gegee vir iets wat nog nie ’n naam gehad het nie; die begrip was daar maar nog nie die taal (woord) nie.
Jy is ook 100% reg waar jy sê: ”Iemand wat hakkel probeer die woord sê waaraan hy gedink het.” Iemand wat um en a, egter, soek die woord vir die begrip wat hy wil oordra; die woord (taal) was nie in sy kop nie, die begrip wel.
Ten slotte, in jou paragraaf 5 wonder jy so terloops of ek “... nie maar net halsstarrig redeneer oor iets, net omdat [ek] dink dit sal [my] eer krenk as [ek] erken [ek] is verkeerd nie.” Nou hoe ken jy my? Ek sal eintlik verlig wees as ek verkeerd is want dit beteken mengeltaal is ’n goeie ding en dat dit Afrikaans versterk soos jy beweer en nie verarm soos ek beweer nie. Ek sal dan met ’n blye hart weer radio luister; sonder dat dit my pla as ’n omroeper praat van ‘mees gewildste’ of as hulle na oorlogskepe se kanonne praat as ‘haar’ kanonne want hulle is mos nou besig om die taal te versterk.
As ek egter reg is, helaas, dan ís Afrikaans besig om sy slaankrag te verloor weens swak, slordige en traak-my-nie-agtige taalgebruik. Mengeltaal ís dan ’n gruwel wat besig is om van Afrikaans ’n gemors te maak. Indien mense nie wakker skrik nie gaan Afrikaans so verengels dat vreemdes wat Afrikaans wil leer sal ook ’n kursus in Engels moet loop (of ons woordeboeke moet verander word om elke denkbare Engelse woord in te sluit. Alreeds is dit die geval wat ’n groot groep Afrikaanssprekendes betref naamlik dat, sonder kennis van Engels, sal mense wat net Afrikaans ken hulle nie verstaan nie).
Groetnis
Jan Rap

