Beste Angus
In jou kommentaar onder aan my vorige brief in die verband beweer jy “Die feit dat Afrikaanssprekendes vandag nie weet waar hierdie woorde vandaan kom nie, is nie ʼn bewys dat Maleis-Portugees nie ʼn rol gespeel het in die vorming van Afrikaans nie, inteendeel dit is juis ʼn bewys dat dit het.”
Maak nie sin nie. Jy kan netsowel sê dat, “die feit dat Afrikaanssprekendes nie weet waar die woord “kabouter” vandaan kom nie, glad nie ‘n bewys is dat die kreool Inuit-Armeens nie ‘n rol in die vorming van Afrikaans gespeel het nie, inteendeel, dit is juis ‘n bewys dat dit het.”
Dit daar gelaat. Jou stelling, neem ek aan, was na aanleiding van my bewering dat ingeburgerde woorde gebruik word sonder dat mense weet waar dit vandaan kom (dit dui op die mate van ingeburgerdheid) terwyl die gebruik van Engelse woorde slordig of moedswillig is. Die wat op hierdie wyse praat is weldeeglik daarvan bewus dat hulle vreemde woorde gebruik; dit is NIE leenwoorde wat gebruik word nie, dis bloot verslonsde Afrikaans.
Jy beskuldig my dat, “ ... ʼn Linguistiese beginsel wat [ek] nog nie kan begryp nie, is dat tale nie in waterdigte kompartemente verdeel en toegesluit kan word nie.” Nou hoe sal ek dit nou nie begryp nie; ek het tog al vir jou gesê dat tale wedersyds invloed op mekaar het. Wat jý nie begryp nie is die verskil tussen hierdie wedersydse invloed en mengeltaal. ’n Fransman wat swak Duits praat gaan heel waarskynlik sy Duits met Frans meng, netso ‘n Duitser wat swak Frans praat.
Hierdie twee ouens praat nie ’n nuwe taal nie, hulle praat bloot mekaar se tale swak. Tog, daar die tale langs mekaar in Europa bestaan, sal daar wel invloed van die een op die ander wees maar dit sal meestal leenwoorde of –frases wees wat deur vakterminologie of so in die onderskeie tale ingekruip het. ‘n Duitser mag ‘déjà vu’ gebruik en ‘n Fransman dalk ‘angst’ maar hulle sal nie lukrake woorde van die ander taal ingooi nie; elkeen sal sy eie taal suiwer praat.
Jy sê “AB-Afrikaans (of sogenaamde suiwer Afrikaans) het sy bestaan tot dusver aan skoolonderrig te danke.” Hierdie stelling maak nie sin nie; mens kan slegs iemand onderrig in iets wat bestaan. Wiskunde byvoorbeeld word onderrig vanuit ‘n bestaande kennispoel, wiskunde het nie sy bestaan te danke aan wiskunde-onderrig nie. Jy kan slegs iemand onderrig in iets wat bestaan. Afrikaans moes dus bestaan het vir iemand om daarin onderrig te word; so Afrikaans het godsonmoontlik sy bestaan aan skoolonderrig te danke.
Jy sê Kaaps is nie ’n skoolvak nie. Natuurlik nie want, wat jý onder Kaaps verstaan, is bloot ’n mengsel van Afrikaans en Engels. As jy Afrikaans en Engels magtig is kan jy ‘Kaaps’ praat; jy praat bloot Afrikaans en gooi lukraak Engelse woorde in. Daar kan wel ’n streektaal soos Kaaps wees, ’n variant van Afrikaans waar die sintaksis miskien bietjie anders is (en die aksent natuurlik) en grammatikale afwykings soos byvoorbeeld om nie die infinitief na ’n modale hulpwerkwoord te gebruik nie (julle moet daar IS, jy moet dit HET ens) maar die meng van Engels en Afrikaans is nie Kaaps nie, dit is bloot slordige taalgebruik.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek kan eenvoudig nie die logika van al jou redenasies insien nie. Jy maak ʼn stelling en dan weerspreek jy dit όf sommer dadelik, όf jy wag so ʼn maand of twee om die teenoorgestelde te sê.
Neem nou maar die laaste paragraaf hierbo. Eers beweer jy Kaaps is sommer net ʼn mengsel van Afrikaans en Engels. As ʼn mens Engels en Afrikaans ken, dan sal jy Kaaps verstaan, so beweer jy. Sommer in dieselfde paragraaf beweer jy weer dat die meng van Afrikaans en Engels nie Kaaps is nie.
Dit alles nadat ek vir maande al aan jou probeer verduidelik het dat as ʼn Vrystater of Transvaler Afrikaans praat met Engelse woorde tussenin, dan praat hulle nie Kaaps nie. Die kennis van Engels en Afrikaans (met ook sy slawetaal en Maleis-Portugese woordeskat) kan jou help om Kaaps te verstaan, maar die uitspraak sal vir die Vrystater ʼn bietjie van ʼn probleem wees.
Die tydjie wat ek met jou gekorswel het oor taal, het ek so ʼn paar Afrikaanse Jan Rap-taalwette raakgeloop wat nie verbreek mag word nie. Een daarvan is dat wanneer Afrikaans gepraat word en ʼn woord word gebruik wat die spreker kan uitken as komende van Engels, dit nie toegelaat mag word nie. (Iets soos actually, byvoorbeeld). Dit is taalvermenging en Engels verdring glo hier Afrikaans. As die spreker nou nie die woord as komende van Engels kan uitken nie, dan word dit toegelaat en is dit ʼn leenwoord. (Soos seker parlement, byvoorbeeld.)
Nou word hierdie Jan Rap-taalreël toegepas op Maleis-Portugese invloed op Afrikaans. Woorde soos baadjie, sambreel, tronk, soebat en baklei word nie deur die spreker uitgeken as komende van Maleis-Portugees nie. Dis Afrikaanse woorde. Gevolgtrekking: Maleis-Portugees het geen invloed gehad op Afrikaans of die vorming van Afrikaans nie.
Ek stem nie saam met hierdie drogreëls van Jan Rap nie, en daarom skryf ek: “Die feit dat Afrikaanssprekendes vandag nie weet waar hierdie woorde vandaan kom nie, is nie ʼn bewys dat Maleis-Portugees nie ʼn rol gespeel het in die vorming van Afrikaans nie.”
Afrikaans het sy ontstaan te danke aan gebrekkige onderwys. Daar was nie skole wat die kinders behoorlik in Nederlands kon onderrig nie. Toe daar uiteindelik skole was, Afrikaans verhef is tot amptelike taal, het die “gesuiwerde vorm” daarvan onderrigvak geword. Kinders (ons ouers en grootouers) is geleer dat Anglisismes iets is wat uitgeroei moet word. Grammatici het Afrikaans bestudeer, en die struktuur daarvan ontdek en dit is aan kinders geleer sodat hulle Afrikaans korrek kan skryf en praat. Dis waarom ek beweer dat AB-Afrikaans sy bestaan te danke het aan skoolonderrig, soos ook AB-Duits, AB-Engels, ens. Duitssprekendes in Suid-Afrika se kennis van Hochdeutsch is maar wat hulle hier op skool geleer het, en dit verskil heelwat van dit wat hulle by die huis praat. (In Natal, sowel as in Namibië).
Dan begaan jy die groot fout om taal met wiskunde te vergelyk. Wiskunde is ʼn eksakte vak en taal nie. Nêrens het ek gesê taal is afhanklik van skoolonderrig nie. Ek het gesê AB-Afrikaans is afhanklik van skoolonderrig. As AB-Afrikaans nie doelbewus onderrig word en vertroetel word op skool nie, sal dit ook die pad volg van Kaaps. As ʼn mens mooi daaraan dink, wiskunde is ook maar afhanklik van skoolonderrig. As dit nie as skoolvak en universiteitsvak aangebied word nie, sal ons binnekort niks daarvan weet nie.
Dis maar net ʼn droom van jou dat Franse en Duitsers hulle eie taal “suiwer” sal praat. Sogenaamde “suiwer Frans” bestaan net in die wetboeke. Daar word ʼn warboel van dialekte gepraat. So is daar bv die Germaanse dialekte naby die grens van Duitsland, die Keltiese dialekte, en die Romaanse dialekte. Baie van die dialekte word sover as in België, Duitsland, Switserland en Italië gepraat. Dan laat ek nog buite rekening die Franse dialekte verder weg soos bv in Kanada.
As jy na ʼn suiwer taal wil gaan soek, moet jy ʼn onontdekte eiland soek, waar die inwoners nog nooit ander mense gesien het nie.
Groete,
Angus
Weet jy Jan, daar is mos maar manne wat altyd beter weet. As jy nie 'n taal suiwer praat nie klink dit swak (amper gebruik ek 'n ander woord wat rym). Dit is soos 'n skildery. Vir een is dit mooi en vir ander nie. Dit pla my erg as iemand sy taal meng, veral Afrikaans. Dit klink nie reg nie. Solank die mense nie 'n trots het om iets soos 'n taal te beskerm teen ander invloede nie is dit 'n jammer dag.
Beste Angus
Jy antwoord voor jy mooi verstaan wat jy lees of jy lees half. Ek sê telkens 'wat jý onder Kaaps verstaan' of ek sit 'Kaaps' in aanhalingstekens. Laat ek weer probeer, wat jý as Kaaps definieer is bloot Afrikaans (met hier en daar streeksvariasies soos die gebrek van die infiitief na modale hulpwerkwoorde) wat deurspek is met Engelse woorde (en op ‘n lukrake wyse).
Waar ek nagelaat het om ‘Kaaps’ in aanhalingstekens te sit, of te praat van ‘sogenaamde Kaaps’, of die sinsnede ‘wat jý onder Kaaps verstaan’ te gebruik het, het ek dalk bloot net vergeet. Laat ek dit dan anders stel – wat jý ‘Kaaps’ noem, is bloot slordige Afrikaans. ‘n Fransman kan nie sy Duits deurspek met Franse woorde en, wanneer hy bevraagteken word, beweer hy praat ‘Fruits’ nie.
Jou hele storie oor my kwansuise drogreëls wys weer duidelik dat jy nie die verskil tussen leenwoorde en mengelwoorde verstaan nie. In die begin van ons ‘gekorswel’ soos jy dit noem het jy sogenaamde Kaaps verdedig deur die lukrake Engelse woorde daarin as blote leenwoorde af te maak. Nadat ek die verskil tussen ‘n leenword en die lukrake invoeg van ‘n vreemde woord (Engels in dié geval) verduidelik het, is dit skielik my ‘drogreël’; geen weerlegging nie, geen verduideliking oor hoekom ek volgens jou verkeerd is nie nee, bloot die stelling dat dit ‘n drogreël is.
Jou stelling in jou kommentaar hierbo oor Maleis-Portugees, naamlik die “ ... feit dat Afrikaanssprekendes vandag nie weet waar hierdie woorde vandaan kom nie, is nie ʼn bewys dat Maleis-Portugees nie ʼn rol gespeel het in die vorming van Afrikaans nie” is heeltemal korrek (en ek het ook nooit die teendeel daarvan beweer nie). Jy’t egter (aspris?) nie jou hele stelling herhaal nie want jou oorspronklike stelling het die stertjie “ ... inteendeel dit is juis ʼn bewys dat dit het” aangehad wat geen sin maak nie.
Dat die rol van gebrekkige onderwys wel ‘n invloed op die ontstaan van Afrikaans gehad het is seker nie te betwyfel nie. Die res van jou storie is vir my bietjie duister . . . “Grammatici het Afrikaans bestudeer, en die struktuur daarvan ontdek en dit is aan kinders geleer sodat hulle Afrikaans korrek kan skryf en praat.” Waar het die grammatici vandaan gekom? Holland? Duitsland? As hulle Afrikaanse grammatici was, het húlle Afrikaans korrek geskryf en gepraat? En het die kinders eers korrek Afrikaans gepraat nadat hierdie grammatici die struktuur ontdek het? Maak nie eintlik sin nie.
Ek vergelyk nie taal met wiskunde nie; ek sê onderrig in enige vakgebied, hetsy taal, wiskunde of wat ook al, geskied omdat daar ‘n bestaande kennispoel in die vakgebied is en leerlinge, studente edm word ingelig ten opsigte van die inhoud van hierdie poel. Die vakgebied bestaan reeds en kan verder uitbrei/vergroot deur navorsing NADAT die student goed op hoogte, deur onderrig, met die vakgebied gebring is. Daarom sê ek Afrikaans moes dus bestaan het vir iemand om daarin onderrig te word; so Afrikaans kan nie sy bestaan aan skoolonderrig te danke hê nie (wel sy handhawing).
Ek stem saam met jou Frans en Duits, enige taal seker, het dialekte. Deur enige taal met ‘n ander te meng (soos Engelse woorde in Afrikaans in sogenaamde Kaaps) stel nie ‘n dialek daar nie, dit is bloot slordige taalgebruik. Ek stem ook saam dat min mense hul taal heeltemal suiwer praat maar daar is so iets soos graadverskil. Daar is wel mense wat suiwer Afrikaans praat en daar is mense wat verslonsde Afrikaans praat: Christo van der Rheede nou die oggend op Praatsaam is van eersgenoemde en ene Lloyd, wat ‘n paar Vrydae verslag vanuit die Kaapse vlakte aangebied het, is van laasgenoemde.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan
So 'n paar opmerkings: In die distrik Elsas wat deels Frans en deels Duits is, is Frans en Duits mooi opgemix. Hierdie taal word nou nie Fruits genoem nie, maar Elsässerditsch.
Jy vra waar die grammatici vandaan kom om Afrikaans te bestudeer? Hulle kom van oral oor die wêreld. Die eerste poging tot 'n grammatika vir Afrikaans wat ek van weet is Changuion se "De Nederduitche Taal in Zuid-Afrika Hersteld" (1844). Changuion was 'n Fransman, wat goed onderlê was in die Germaanse, Romaanse en veral die Latynse grammatika. Onthou, 'n grammatikus kan enige taal neem, die struktuur daarvan bestudeer, en 'n grammatika vir daardie taal skryf. Die rede daarvoor is dat die dieptestruktuur van alle tale universeel is.
Nêrens het ek lukraakwoorde verdedig nie. Ek het male sonder tal aan jou verduidelik dat as 'n Engelse woord in Afrikaans gebruik word, dit nie lukraak kan wees nie. Dit is 'n woord met betekenis en daarom uitgekies om in daardie sin te pas. Lukraak, het ek al aan jou verduidelik. As ek 'n toe woordeboek laat oopval op enige plek, en ek druk met my vinger op enige bladsy sonder om te kyk, dan kom ek naby aan 'n woord lukraak kies.
Soos ek reeds telkemale aan jou verduidelik het, grammatika is deskriptief, maar onderwysers het dit preskriptief gebruik. Miskien sal jy nog onthou hoe jou taal-onnie jou struktuurfoute in jou opstelle verbeter het met die rooi pen. Dis maar al rede waarom jy sulke goeie Standaardafrikaans hier op SêNet skryf.
Goeie Afrikaans en verslonsde Afrikaans moet jy linguisties verstaan. Dom of slim, arm of ryk, elke mens het 'n perfekte taalvermoë. Wanneer dit by die bobou van taal kom, tree daar gebreke in wat stremmend kan inwerk op die funksie van taal, nl om te kommunikeer. Elke mens verskil van iemand anders, nie net wat voorkoms betref nie, maar ook wat sy taalgebruik betref. Ons praat hier van idiolek.
Laat my toe om die "inteendeel dit is juis 'n bewys dat dit het" verder te verduidelik. Maleis-Portugees het 'n invloed op die vorming van Afrikaans gehad, tot so 'n mate dat M-P-invloed nie nagespeur kan word nie. Dit vorm 'n inherente deel van Afrikaans. Dit kom presies ooreen met jou uitkenning van leenwoord al dan nie, en daarom bevraagteken ek ook hierdie skrywe van my.
Groete,
Angus
Beste Jan Rap,
Ek merk nou dat ek gesê het Changuion was 'n Fransman. Miskien is dit misleidend. Ek moes gesê het hy was van Franse herkoms. Sy vader was 'n Hugenoot wat Suid-Afrika toe gevlug het. 'n Mens kan dit maklik google.
Groete,
Angus