Nog ʼn lesing vir Jan Rap oor Afrikaans

  • 0

Ek sien jy vind dit wat ek gesê het oor Leengoed onvolledig. Ongelukkig is SêNet nie die plek waar ek volledig daaroor kan skryf nie. Kortliks dus, net dit: Leengoed is woorde wat van ander tale afkomstig is en gebruik word. Niks minder nie en niks meer nie. Ek weet dat jy al voorheen allerhande voorskrifte voorgehou het vir sulke woorde, nl dat dit nie ʼn Afrikaanse woord moet verdring nie, maar dit is ʼn tipiese Janrapreël. Indien daar wel ʼn grammatikus is wat sulke bog geskryf het, moet hy sy skoolgeld gaan terugvra. Grammatika is deskriptief, nie preskriptief nie.

Engels word al oor die 300 jaar “in ons kele afgedruk”, en was dit nie daarvoor nie, sou Afrikaans nie gewees het wat dit vandag is nie. Om iets in iemand se keel af te druk, veroorsaak geweldige teenreaksie, en dit is wat met Afrikaans gebeur het. Taalkundiges het begin om Engels uit te roei uit Afrikaans, en dit het van hom ʼn stewige taal gemaak. Afrikaans is so ʼn stewige taal dat hy maar, soos alle ander tale wêreldwyd, sy deure nou  kan oopgooi vir vreemde woorde, van watter kant dit ook al kom. Kyk bv die baie Engels in moderne Nederlands; kyk maar hoe slurp Engels vreemde woorde op waar hy ook al land.

Jy is verniet bevrees dat Afrikaans gaan verander in Engels. So iets is evolusionêr heeltemal onmoontlik. Nog nooit in al die duisende jare wat die mens sy spraakorgane gebruik om te kommunikeer, het ʼn bestaande taal verander in  ʼn ander bestaande taal nie. Afrikaans, met sy tipiese struktuur kan onmoontlik Engels word. Wat wel kan gebeur is dat mense besluit om nou maar nie meer Afrikaans as hulle huistaal te beskou nie, en dan liewer Engels praat. Wat egter gaan gebeur, is dat Afrikaans, soos ook ander tale, ook gaan verander.

Ek kyk nou die dag ʼn program waarin onderhoude gevoer word met ouers en kinders. Die ouers praat Afrikaans, en die kinders Engels. Van alle kante kry Afrikaans teenkanting, maar reaksie daarteen gaan hom net verstewig, soos in die verlede. Ek weet ek kan jou nie op hierdie punt oortuig nie, want jy beskou Afrikaans as ʼn swak ou taaltjie wat sommer onder druk gaan vou en verdwyn. Sou ʼn mens Afrikaans in watte kon toedraai en in ʼn blik verseël, kon dit dalk nog gebeur, maar gelukkig doen ons dit nie; nie meer nie.  

Ek weerspreek myself nie. Daar is ʼn verskil tussen “besluit om Engels te praat” en Engelse woorde te gebruik terwyl jy Afrikaans praat. (Vra iemand om jou daarmee te help as jy nie die verskil kan insien nie.) Die eerste kan lei tot verdwyning van die taal; die tweede lei tot verryking. Ou Engels is verryk deur die inname van Latynse woorde via Frans na 1066, en so kan jy maar elke taal se geskiedenis naspoor en jy sal ander tale se invloed daarin kry. Sou iemand sê: “ek achieve my goal”, dan sê hy dit omdat dit vir HOM beter kommunikeer onder die omstandighede, en met wie hy praat. Vir jou kommunikeer “ek bereik my doel” weer beter, heel waarskynlik spreek jy ʼn direksievergadering toe, of spog jy by jou vrou met jou prestasies.  Verbeel jou ʼn Riemvasmaker sê: “Ek het my doel bereik” as hy sy broekriem so ʼn bietjie losser knoop na ʼn heerlike maaltyd. Die sleutelwoord  vir Afrikaans in Suid-Afrika  is diversiteit.

Jou albasterstorie werk nie vir taal nie, omdat taal nie ʼn tabaksakkie met 100 albasters is nie.  Afgesien daarvan dat taal nie logies is nie, (alhoewel die Logika dit gebruik om te bestaan), is taal aan die een kant ook suinig soos ʼn vrek. Hy gooi nie sommer net weg nie. Ek weet nou sien jy al weer daarin ʼn weerstrydigheid, want nou die dag het ek gesê ʼn taal laat nie sommer volkome antonimie toe nie. Die feit van die saak is baie Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word en die ooreenstemmende Afrikaanse woorde is nie volkome sinonieme nie. “Achieve” en “bereik” is nie volkome sinonieme nie en so ook nie “goal” en “doel” nie. Op die oog af kan ek alreeds gevoelsverskille waarneem.

Jy beweer taal is nie net ʼn kommunikasiemiddel nie, maar dit is ook jou identiteit. ʼn Ou Afrikaanssprekende vriend van my het twintig jaar gelede Amerika toe verhuis, waar hy getroud is met ʼn Amerikaanse skoonheid. Sy huistaal het Engels, of Amerikaans geword. ʼn Paar maande gelede het hulle sy ouers kom besoek. Hy is nog dieselfde ou Willem; ek kan geen verandering aan sy identiteit sien nie.

Of Afrikaans nog Afrikaans gaan bly, sal ons net so oor duisend jaar uitvind, en of dit in ʼn ander taal gaan ontwikkel, soos Afrikaans uit Nederlands, dit weet ek nie. 

Soos 'n bekende krieketkommentator gesê het: “Tyd sal tel.”

Angus

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top