Nineveh verg konsentrasie en kantaantekeninge

  • 0



Titel: Nineveh
Skrywer: Henrietta Rose-Innes
Uitgewer: Umuzi/Random House Struik
ISBN: 9781415201367
Prys: R180

Klik hier om Nineveh te koop by Kalahari.com.

Met beide die Caine-prys vir Afrika-skryfwerk en die African Pen literêre prys op haar kerfstok het Henrietta Rose-Innes haar status as een van Suid-Afrika se mees gerekende jong skrywers bevestig. Rose-Innes is bekend vir haar twee romans, Shark’s Egg (2000) en The Rock Alphabet (2004), en die kortverhaalbundel Homing (2010). Haar derde roman, Nineveh (2010) is ’n dig-verweefde narratief wat vernuftig die wankelrige balans tussen persoonlike tragedie en wyer sosio-ekonomiese kommentaar behou.

Wanneer ’n swerm raaiselagtige “goggas” dreig om die ontwikkeling van Nineveh, ’n luukse behuisingskompleks in Kaapstad, te belemmer, word die eienaar van Painless Pest Relocations, Katya Grubbs (’n tong-in-die-kies verwysing na haar ambag) genader om die plaag te hervestig. By Nineveh kruis Katya na sewe jaar weer paaie met haar vervreemde pa, Len – ’n onvoorspelbare losbol wat nie juis ’n “wêreld se beste pa”-koffiebeker sou verdien nie. Hierdie herontmoeting dwing Katya om haar verlede, haar karige bestaan in die hede en haar wrewel jeens haar pa te konfronteer.

Alhoewel ons verseker word dat Nineveh slegs ’n naam is (“It’s just a name,” she says. “Sort of a theme. One of the early investors was from the Middle East, I think.”), word die Bybelse stad Nineve hier opgeroep. Volgens die boek Jona in die Bybel het die mense van Nineve hulle bekeer en berou gehad oor hulle sondige dade en is deur God ’n verskriklike ramp gespaar, ten spyte van Jona se ontevredenheid hieroor. Soos Nineve van ouds is die hedendaagse Suid-Afrika ’n plek van transformasie, vergifnis en bevryding. Rose-Innes suggereer egter tereg dat aflossing van hierdie aard nie sonder ’n prys bekom kan word nie.

’n Parallel word getrek tussen die antieke Nineve, ’n stad van groot rykdom en hebsug, en die Kaapse Nineveh, ’n moderne enklawe simbolies van die ekonomiese apartheid wat steeds in Suid-Afrika heers. Rose-Innes se Nineveh is in ’n toestand van verval en word stelselmatig gestroop van haar skatte deur die mense van die aangrensende informele woongebied. Hierdie onafwendbare entropie dui op die kwessies rondom eiendomsreg, grondhervorming en die groeiende gaping tussen rykes en armes in Suid-Afrika.

Nineveh bied ’n speelse herinterpretasie van die traumatiese geskiedenis van gedwonge hervestiging in Kaapstad (’n mens dink dadelik aan Distrik Ses). Dit is egter insekte en ander ongewenste ongediertes wat hier verskuif word om plek te maak vir mense en hulle alewige uitbreidings. In hierdie opsig kan die roman dan ook uit ’n ekologiese oogpunt benader word. Die besit- en bestaansreg van insekte, paddas en knaagdiere word ondersoek. Die idee van ’n steriele omgewing, waar daar streng gewaak word teen die aanslag van die ontembare natuur (die moeras waarop Nineveh gebou word, word gedreineer en daar is aanvanklik nie ’n beduidenis van diere- of voëllewe nie), word as onvolhoubaar uitgebeeld. Trouens, Rose-Innes se protagonis, Katya, se filosofie oor die mens se verhouding met die natuurlike omgewing kan as diep-ekologies bestempel word. “Diep” ekologie, ’n begrip wat in 1972 deur die Noorweegse filosoof Arne Næss neergepen is, neem die standpunt in dat alle elemente van ’n ekosisteem, insluitende mense, fauna en flora, onlosmaaklik verweef is. Hierdie idee van ekologiese interkonneksie word in ’n artikel, “Beyond Ecology”, deur die ekokritikus Neil Evernden verwoord:

Where do we draw the line between one creature and another? Where does one organism stop and another begin? Is there even a boundary between you and the non-living world, or will the atoms on this page be a part of your body tomorrow? How, in short, can you make any sense out of the concept of man as a discrete entity? How can the proper study for man be man if it is impossible to exist out of context?

Ten spyte van die (ondoeltreffende) hoë mure en veiligheidswagte beskou Katya Nineveh as ’n plek waar die grense tussen mense, diere en die natuur oorskry word (“[a zone] where things get mixed up and wander from their positions”). Neem byvoorbeeld hierdie beskrywing van die “verval” van Nineveh se wooneenheid nommer 1, waar Len onwettig woon:

The walls themselves are streaked, their lower margins green with mould: a tide-line. There is mud on the floor, silted in thin ribbons and piled in the corners, as if a secret river has whispered through the apartment and then sunk away. In between are patches of lush moss growing across the wooden floors. Katya can even see small mushrooms – each a parasol of tender flesh – running along the skirting board. It is bizarrely beautiful: a meadow, a glen, a dell. An in-between place, where things overlap, where the vlei steps inside and the indoor world escapes into the wild.

Hierdie eens kliniese woonplek word stelselmatig deur nie net die natuur nie, maar ook die miskende gemeenskap wat buite Nineveh se hekke om oorlewing veg, teruggeëis.  Nineveh word dus uitgebeeld as ’n tussen-in plek waar die idee van eienaarskap en behorendheid bevraagteken word. In ’n uittreksel wat sterk herinner aan Evernden se filosofie van interafhanklikheid, bepeins Katya die diffuse grense tussen die mens en sy omgewing:

Out there, Katya sees many such places: domains of uncertain ownership. Unfinished boulevards, the smoky glitter of settlements still to be named, the nebulae of black between the lights. Everything’s in motion, changed and changing. There is no way to keep the shape of things. One house falls, another rises. Throw a worn brick away and someone down-stream will pick it up and lay it next to others in a new course in a new wall – which sooner or later will fall into ruin, giving spiders a place to anchor their own silken architecture. Even human skin, Katya has read, is porous and infested, every second letting microscopic creatures in and out. Our own bodies are menageries. Short of total sterility, there is no controlling it.

Katya Grubbs bly deurgaans ’n ongegronde randfiguur wat al dobberend meestal oppervlakkige en vlietende menseverhoudings aanknoop. Skynbaar te wyte aan haar onstabiele kinderjare het Katya geen vaste baken in terme van identiteit nie. ’n Proses van identiteitsverskuiwing vind stelselmatig plaas en sy identifiseer al hoe meer met die insekte en ander gediertes waarmee sy werk. Katya, of Katyapillar, soos Len haar noem, vergelyk haarself byvoorbeeld met die plaag insekte wat Nineveh binneval wanneer sy haar verhouding met haar pa in oënskou neem:

For the first time in her life, she wonders: is it her father who plagues her, or is it she who plagues her father? Perhaps all this time she’s been the one: the pest, the infestation, the thing he cannot winkle out or shake off or eradicate. The one that keeps on turning up again, spoiling things.

Hierdie tipe disassosiasie word nie noodwendig as disfunksioneel uitgebeeld nie, maar dui eerder op ’n poging om buite beperkende sosiale norme (wat noodwendig die regte van een bo ’n ander stel) na egte verbintenisse met jou medemens (en dier) te streef.

Nineveh is beslis nie die tipe boek wat jy op ’n lui Sondagoggend in ’n hangmat lees nie, maar eerder ’n regopsit-boek wat jy met potlood in die hand sal wil takel, reg vir kantaantekeninge. Tog sorg Rose-Innes se verstommende talent en meesleurende skryfstyl dat die leser nooit met hande in die hare deur “moeilike” dele hoef te worstel nie. Aanhangers van skrywers soos Ivan Vladislavi? en JM Coetzee (Nineveh herinner veral aan Life & Times of Michael K wat styl en tema betref) wat hou van ’n storielyn wat baie stof tot nadenke bied, sal veral hierdie roman geniet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top